Afstande. Dan Sleigh

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Afstande - Dan Sleigh страница 15

Afstande - Dan Sleigh

Скачать книгу

?”

      “In die kruik.” Xenophon beduie met die pluim. “Ek het genoeg gehad.”

      Proxenos stort wyn oor sy beker, oor sy hand, oor die tafel. “Ou Kuros kry vannag ’n nagereg om sy hart sag te maak,” gesels hy. “Baie slim uitgereken, dink ek. Teen die tyd dat ons in Kilikië kom, is hy moeg van haar, dan gee hy haar weer terug.” Hy lag luidrugtig, sit sy leë beker neer, sluk uit die kruik en steier nader, sonder om die tentpaal te los. “En wat skryf jy hier, Neef ?”

      “Jou regiment se joernaal.”

      “Wat het gebeur? Het jy geskryf Epaksie? Epaksia.” Maar hy kry dit nie reg gesê nie. Hy hang aan die paal, kruik in die hand. “Kon aan haar raak,” mompel hy, sak neer op sy kooi, drink die kruik leeg en sit dit versigtig-versigtig op die grond, kantel om, trek sy velkombers oor hom, laat ’n langdurige wind en slaap dadelik.

      Die volgende middag laat die prins drie maande se gasie uitdeel. Elke geldstuk is skitternuut gemunt met ’n ou man se kaal kop en sy naam: Sineses. Die soldate dra dit dadelik dorp toe om te dobbel, en wyn, gebraaide kastaiings en droë vrugte met vlieëmis op te koop en weer ’n slag behoorlik te suip.

      Hier op die Kaistervlakte word die optog teruggeplaas op die koninklike hoofweg wat breed, deels geplavei en goed onderhou duisend myl uit Babilon in ’n reguit lyn loop, met honderd-en-elf uitspannings by water deur die woestynlandskappe van Medië en Assurië tot waar die stad Sardis se marmersuile opwys voor die bergspits Tmolus. Elke soldaat in Kuros se leër draai op die dag van vertrek sy gesig reguit in Babilon se rigting, reguit teen koning ArtaXerxes se troon, maar die prins vertel nog nie sy generaals waarvoor hy hulle wil gebruik nie en hulle vra hom ook nie. Is dit nie hoe dit hoort nie? ’n Pion vra nie “waarom?” van die hand wat hom skuif nie, want hy is ’n redelose speelding en besef nie dat hy deel van ’n spel is nie.

      Xenophon ry beurtelings saam met verskillende afdelings van Proxenos se regiment. Hy val soms terug om te kyk hoe die leër van ’n afstand lyk. Hy besoek kookvure om die mense te leer ken wat teen die koning opruk en te sien hoe hulle leef en die rantsoenkos gebruik.

      Die regiment se weeskinders hurk skaftye naby elke kookvuur, hulle skouers teen die wêreld opgetrek en hulle kaal koppe benerig soos aasvoëls s’n. Hulle hou die kok dop om sy potte uit te krap en dit daarna met nat sand te skuur. Hy laat vir hulle vet en sous onderin en gooi al die orige brood by. As hy niks het nie, hou hy van die troepe se rantsoenkos agter. Hulle moet met die kinders deel sodat hy water en brandhout vir sy vuur sal hê.

      Xenophon besoek ook die voetsoldate by hulle vure. Hulle stemme laat hom lae boerehutte van klip en klei onthou, warm met die reuk van groentesop, strooi, lammers en kinders. Hulle verwed geleende geld op dambord of op stoeiers, werk in hulle lapsakke, skeur ou klere tot windsels en verbande, rol dun repe en vleg dit tot stroppe, dop amandels uit, rol riempies op die bobeen, slyp ’n els op ’n skerf fynsteen, kerf lepels uit doringhout en stopnaalde uit been, en praat oor niks besonders nie.

      ’n Soldaat met ’n bokser se diggekrulde ore, skewe neus en kneukels knopperig van breuke, vertel sonder om van sy naaldwerk op te kyk, asof hy met homself praat: “My oom was so twintig jaar, toe loop hy om sy pa se esels te soek. Hulle sê hom van die heks wat by Kumae in ’n glasfles hang. Hy kom skemeraand daar. Kom uit, Moeder, sê hy. Toe word sy wakker, sy loer tussen haar kniekoppe uit. Wat wil jy hê? vra sy. Waar loop my pa se esels, Moeder, waar moet ek soek na hulle spoor? vra hy. Sal jy my gee wat ek vra? Ja, sê hy, wat wil jy hê? Toe sê sy: Ek wil sterf.”

      ’n Onderoffisier in Proxenos se regiment vertel glimlaggend aan enigeen wat wil hoor: “As ek nou saans by die huis kom, sê my vrou mooi: ‘Hoe lekker ruik jy na soetwyn, Panos. Het jy vir my gebring?’ Nie soos ou Fotis se gillende wyf oorkant die vallei nie: ‘Jy is al weer dronk gesuip, verdomde vark!’ dat die wêreld tot anderkant die swart boom sy verleentheid verneem. Sien sy skemeraand ek hang aan die wynsak, sê sy vir my: ‘Kom sit hier, Panos. Ek het die liewe dag na jou verlang.’ Dan vergeet ek die wynsak asof Dionusos self dit uit my hande haal en ek word daglig wakker, welgesind soos ’n priester.”

      As perde kon praat, sou dit oor sulke bog wees, dink Xenophon. Die man suig onsin uit sy duim. Van watter nut is dit? Soek Proxenos sulke praatjies van hom?

      Kaptein Agasios sit tussen sy voetvolk en lag, en terwyl iemand se wynsak rondgaan, vertel hy iets wat in Aias se stoeiskool in Stimfalië gebeur het. “Daar was kiste met deksels al langs die mure om op te sit, só.” Hy wys in die vierkant, hulle oë volg sy hande. “Die deksels kon jy oplig om jou goed binne-in te bêre. Eendag kom oefen die kampioen van ’n vorige Korintiese Spele daar, ’n reus met ’n slegte humeur en al lank verby sy beste. Vir sulkes moet jy pasop. Niemand wou hom vat nie, toe moet Aias hom self vat. Toe gaan sit ons om te kyk. Toe die man sy klere afgooi, toe wonder ek, waarom duik almal skielik weg in hulle kiste asof hulle iets nodig het? Ek sit nog en wonder waarom almal skielik iets in hulle kiste nodig het, toe moet ek ook induik, want ek sien die reus se ou dingetjie is so klein, ag, nog kleiner as hierdie pinkie se kop. En daar sit ons, al die jong stoeiers, gekniel met ons koppe in die kiste en huil soos ons lag. Ons moet maak of ons daar na die een of ander ding soek, en ons lag dat die kiste skud, want die vent was lelik en gróót, en elke keer as ons opkyk, dáár sien ons dit weer, dan moet almal onder die deksels in. Naam van die liewe Aphrodite, soos ons daardie dag gelag het.” Agasios lag met sy oë styf toegeknyp, vee trane aan sy mou af en lag weer saam met sy soldate. Dit doen die soldaat se gemoed goed om bulderend te lag oor wat naaste aan die hart lê.

      Xenophon besoek ook die verkenners se kamp. Hulle gekniehalterde perde wei naby, maar daar is geen tente te sien nie, net die as van ’n vuurtjie in ’n kring swart klippe op die kaal veld. Die seuns is wild, ongeletterd, verbrand deur wind en son, almal uitlanders sonder lojaliteit, hier en daar opgetel. Die meeste lyk sestien, geeneen is ouer as agttien nie en hulle name hoor jy nooit. Hulle het ’n skerp gehoor, hulle toets met die tongpunt vir donderweer of rook, hulle kan in die donker sien en kan ruik of ’n man of ’n vrou aankom. Hulle ruik vrees en ontdek mense wat skuil. Hulle offisiertjie praat net met die prins. En hulle het ’n spaarsamigheid met woorde. Xenophon jag saam met hulle. Hulle agtervolg ’n wildsbok sonder honde, en praat van “die ram”.

      “Hoe weet julle dis ’n ram?” vra Xenophon.

      “Laas spoor? Ram water voor die spoor. Ooi agter.”

      Sononders is moeilik, onrustig, dan sien jy die onaangenaamhede en werklikhede van mense op trek. Almal is moeg, jy hoor families skel, verwyt, dreig. Mans soek die wynsak. Vrouens en jong dogters, een met ’n kind in die maag en een aan die hand, die ander met ’n kind op die heup, kom uit die draers se kamp met klere wat reggemaak en gewas is. Hulle kam luise uit, kou ou brood om ’n warm pap op ’n versweerde voet te bind, maak ’n gapende soom in ’n kleresak heel en loop terug met meer wasgoed en bietjies kos. ’n Vrou uit Makedon was haar man se voete en vryf hulle met hardevet in en lê by hom onder sy mantel in die tentjie wat hy snags met vier of vyf deel. As hulle klaar is, trek sy haar klere reg en loop met die ander terug na die draers se kamp. Daarheen gaan ook die erg gewondes, iemand wat van sy verstand geraak het en een met ’n boodskap aan ’n kameraad se vrou.

      Kilikië se silwer het die regiment in ’n ruimhartige luim gebring. Xenophon hoor dat wanneer Kuros koning word daar belonings en vername poste gaan wees; as Kuros koning is, gaan dít en dát gebeur, dan kan almal die swaard neerlê. Maar terwyl hy van hulle vure af na sy tafeltjie en skryfgoed terugloop, dink hy: Jy kan nie op Kuros se beloftes staatmaak nie, want as ’n koningin op die altaar van sy ambisie neergelê moet word voor hy huurlinge betaal, wat kan ’n arme voetsoldaat van hom verwag? Die kwaad rus nie, die swaard spring vanself uit die skede terwyl vredemakers droom.

      Xenophon vind volop om aan te teken. Die kaal vlakte van Frigië tot Tiraeon, met die laaste sneeu nog wit in die klowe

Скачать книгу