Afstande. Dan Sleigh

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Afstande - Dan Sleigh страница 10

Afstande - Dan Sleigh

Скачать книгу

sagte skoene, sagte musse. Almal spreek die ‘s’ uit met ’n sisgeluid. Dié vreemde klank in ’n onverstaanbare taal laat Xenophon onrustig voel; hy dink aan groot afstande en ’n reis waarvoor hy nie behoorlik voorberei is nie.

      “As Kuros sy broer gaan aanval,” sê Proxenos toe hulle verby die paradegrond na die perdekraal loop om vir Xenophon twee perde uit te soek, “moet hierdie soldate binnekort vir lewe of dood kies. Kies hulle vir Kuros, verraai hul die koning. Kies hulle vir die koning, verraai hulle die prins. Ontrou aan enige kant is verraad, verraad beteken die dood, en in dié koninkryk is die dood leliker as op ander plekke, die sterwe kan vier dae duur.”

      “Vermoed hulle wat kom?”

      “Hulle weet. Maar hulle mag nie ’n tong roer tot Kuros hulle voor daardie vurk in die pad bring nie. Ek glo hy sal dit so lank as moontlik uitstel. Hou dit agter die tande-heining.”

      Hulle stap verder. Daar is twee perdekampe, een vir kavallerieperde en een vir die vet, wit gekastreerde hingste wat deur Perse aan hulle gode geoffer word, dié word daagliks met hawer gevoer. Hulle sluit aan by ’n groep offisiere wat die Persiese ruitery dophou. Dertig ruiters ry in ’n dreunende, stowwerige kavalkade om ’n paal waarop ’n vasgebinde vark lê en skreeu. Mooi is die gespierde afgerigte perde, die ruiters se swierige harnas, die plat pyltas aan ’n gekleurde band oor die bors. In die linkervuis hou hulle vyf pyle en die boog met sy vreemde dubbele kromming. Hulle los die teuels, staan in die stiebeuels, leun ver oor die perd se nek, gee rigting met die knieë en spoed met die hakke. Met die oë op die teiken trek hul met die regterhand ’n pyl, haak dit, span die boog en jaag die pyl in die teiken in.

      “Ons Grieke kan nie dié styl bekostig nie,” sê Proxenos, toe hulle in die kraal tussen die perde loop. “Skiet jy mis, tref jy miskien ’n makker oorkant. Ons het nie die getalle nie.”

      “Die vark veg ook nie terug nie,” fluister Xenophon. “Hoe gaan hierdie mense kies?”

      Proxenos laat sak sy stem. “Sy lyfwag, glo ek, vír Kuros. Hy behandel hulle uitstekend. Die ander waarskynlik vir die koning.”

      “En ons?”

      “Ek weet nie. Sien jy Kuros se totale mag, Neef ? Ons totale onkunde?”

      So, in totale onkunde, sluit Xenophon by die leër aan, in vertroue op ’n Oosterse prins. En dit is nie Proxenos se skuld nie, nie een van die gehuurde Grieke is vertel dat dit teen die koning is wat hulle gaan optrek nie, maar hulle vermoed tog dat dit teen die ver hoofstad Babilon gaan wees, die gedugte, half-mitiese stad van ’n duisend gerugte, ver verby Pisidië, oor sneeubedekte berge en magtige riviere, anderkant ’n brandende woestyn, verder as enigiets wat enigeen tot nog toe met soldate gewaag het.

      Wanneer die wagvure soos ’n bidsnoer om die kamp blink, begin die nag. Die eerste aand sit Xenophon en Proxenos na die aandparade voor die tent en drink die streek se persbruin wyn met water gemeng. Dit is ’n stil, warm aand. Die fakkel se rook, wat na dennehars ruik, trek lui en regop tussen die bome op.

      “Dit is goed om jou weer te sien, Neef,” sê Proxenos. “Ek is bly jy kom saam. Ons het baie om oor te gesels.”

      “Baie het verander.”

      “Ek ken jou skaars,” sê Proxenos. “Maar niemand ken jou nie.”

      “Dit is nie ’n slegte ding nie.”

      Proxenos lig die wynsak, hou dit skuins, bied dit aan. “Nog van dié? Hou jou beker. Hoe kan jy lief wees vir iemand as jy hom nie ken nie? Jy het nooit na meisies gekyk soos ons ander nie. Te hooghartig, het hulle gesê. Nie genoeg knaters nie, het ons gedink.”

      Dit was hoofsaaklik uit armoede, dink Xenophon, maar hy glimlag net, sê niks nie. Laat sy neef praat.

      “Jy praat, maar gesels nie, Neef. Ek onthou in die stadswag se kampe het jy by die vuur gestaan, mantel toegevat en nie ’n enkele woord gesê nie. Jy het altyd ’n vreemdeling gebly, selfs vir my.”

      Ja, hy het die ou mantel toegehou omdat sy klere afgesteek het by ander jong offisiere s’n. Sy borsspeld van yster het hy toegevat omdat ander silwer- en goue spelde gedra het. Hy het hom daarop toegespits om nie een van hulle te word nie, met hulle lawwe grappe en seunsagtige tradisies soos die blus van die wagvuur deur rekrute wat in ’n kring staan en daarop urineer. Hy het gevoel dat hulle te jonk is vir sy geselskap. Hy voel dit nou nog. Hulle het nie verander nie. Hy ook nie.

      “Jy het nie eens met jou meeloper gepraat nie. Die gedagte is tog dat jy leer by jou paidagogos. En jy het ’n goeie ou gehad, propvol wysheid. Ek onthou hom. Wat het van hom geword? Nog van die wyn?”

      Hy sien by die fakkellig die wit littekens op Proxenos se bruin arms en op die hande wat wyn in sy beker skink. ’n Goeie man, sy neef, betroubaar en eerlik, maar te lief om alledaagshede en familiariteite te wissel vir plesier. Gesels, noem hy dit. “Hy is by die huis,” antwoord Xenophon.

      “Mense weet niks van jou nie, Neef,” sê Proxenos. “Ek bedoel, hulle ken jou nie. Dit is goed as mense jou ken en van jou weet. Nuttig vir bevordering en so.”

      “Ek het altyd geglo bevordering is in die gode se hande.”

      “Ons sal ou Xenophon nooit ken nie. Daarvoor gaan hy self sorg. Nog van dié bruin?”

      Die leër

      Die werksdag begin wanneer die herout sy lied, helder soos ’n trompet, in die rye tussen die tente sing: “Dit is rooidag. Staan op, staan op.” Dan ruk die onderoffisiere tentpenne uit en skop na die bondels op die grond. “Op! Op!” Xenophon ken dit van hy sestien is. Pikette word ingeroep en die buitewag afgelos, dan oggendparade, vroeëkos en opleiding.

      Die tweede oggend stel Proxenos hom voor aan die tien kapteins van sy regiment. Een van hulle – kort, breed en donker met diggekrulde hare – weet hoe om dié om hom welgesind te maak. Hy is met rekrute besig, sy gereedskap lê op ’n bank agter hom, sy stem is diep, hees en stowwerig soos ’n uitgetrapte paradegrond.

      Proxenos trek vir Xenophon aan sy arm. “Staan. Luister.”

      Die kaptein hou ’n helm voor hom, buikhoog. “Die kam van perdehaar is ’n kussing wat jou kop teen slae beskerm. En dit laat jou hoër lyk. Nie groter nie, langer. Jou vyand misgis hom: Kan hy oor jou skild reik? Dit gee jou die kans met die swaard van onder af op. Julle kamme loop van voor tot agter. Word jy onderoffisier, dra jy dit van kant tot kant. Offisiere s’n is oorkruis. So herken ons mekaar. Binne-in jou helm, altyd ’n goeie wolmus, nie ’n taai velmus nie. En hou dit skoon en jou hare kort. Luise.”

      Hy loop op en af soos ’n ploegperd in ’n voor. Plaasgesigte staar na hom, jy verwag om hawerstrooi in hulle hare te sien. Hy wys hulle ’n vegspies, die skag is op verskeie plekke met diggenaaide leer gespalk. “Ons noem hóm die weduweemaker. Jy mag ’n huis hê en ’n vrou, maar hier,” hy beduie na die grond, “hier het jy net jou naam en ’n wapen. Kies wapens wat jou nie gaan verraai nie. Jou spies is twee en ’n halwe tree lank. Dit is ook die afstand tussen geledere. Skat jou spasie daaraan wanneer julle aantree. Hier is die handgreep, meesterlik gevleg van twaalf nat riempies, al sê ek dit self. Leer om te vleg, behoorlik en dig, nie so-so nie, vir ’n voetsoldaat is niks so-so of amper goed genoeg nie. Gebruik jou spies soos jou manlikheid – hou dit skoon, gebruik dit net waarvoor dit bedoel is en moenie dat dit roes nie.”

      Hy lê die spies op die bank, haak sy arm deur die lusse van ’n swaar skild en lig dit oor sy kop. “Dit is jou hoplon. Hiervan is die

Скачать книгу