Elita en haar lewe met F.W. de Klerk. M Meiring

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Elita en haar lewe met F.W. de Klerk - M Meiring страница 4

Автор:
Серия:
Издательство:
Elita en haar lewe met F.W. de Klerk - M Meiring

Скачать книгу

’n Griekse stamhoof uit die Peloponnesiese gebied. Sy skouspelagtige en wrede oorwinning in Nauplion het verseker dat die Philike Etairia ’n ereplek in die Griekse geskiedenis gekry het. Of Tony, Elita se toekomstige man uit die Colocotronis-stam, werklik ’n nasaat van Theodore Kolokotronis was, is nie heeltemal seker nie, maar dit het ’n luisterryke naam in Griekeland gebly.

      Ná die Onafhanklikheidstryd het Griekeland in 1930 ’n monargie geword en nasionale eenheid begin nastreef. Dit het bekend gestaan as die Megali Idea (die Groot Idee), en daarvolgens sou die Griekse taal, geskiedenis en veral geloof weer in Griekssprekende gebiede bevorder word. So het baie groepe in die diaspora, soos die Bulgare, Albaniërs, Serwiërs, Jode en ook Turke, hulself in hul etniese tale as Grieks voorgestel en getrou gebly aan die Griekse strewes.

      Elita se grootouers aan moederskant, Menelaos en Martha Zotiadis, was nasate van die Philike wat in Bulgarye gevestig was (Martha se familie het oorspronklik van Anatolië gekom). Hulle het mekaar in Burgas, die Bulgaarse stad aan die Swartsee, ontmoet. Menelaos was ’n gesiene handelaar in onder meer chemikalieë, en Martha, hoog geleerd in die filosofie, was veral lief vir die letterkunde. Hulle was deel van die Griekse elite aan daardie kus, die mense wat die toon aangegee het in die stad se kulturele lewe. Dit word in die familie oorvertel dat Martha ’n gereëlde huwelik met Menelaos moes aanvaar omdat haar ouers nie wou toelaat dat sy met haar geliefde, ’n gebore Bulgaar maar waarskynlik ’n Moslem, moes trou nie. Menelaos, hoewel nie aantreklik nie, was darem Grieks, en volgens die norme van die tyd het Martha ingestem om met dié slim en welvarende man te trou.

      Teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog het Griekeland toegetree aan die kant van die Geallieerde Magte, en met hul hulp kon die Turkse juk uiteindelik afgewerp word. Turkse gebiede is aan Griekeland toegeken, en teen 1920 is begin met ’n reeks opspraakwekkende volksverskuiwings waarin meer as ’n miljoen Grieke in Turkse gebiede, waaronder Bulgarye, gerepatrieer is na Griekeland, terwyl Turke in Griekeland na Turkse gebiede gerepatrieer is.

      ’n Honderd jaar ná die Philike Etairia die revolusie teen die Turkse oorheersing aangestig het, is die jong Zotiadis-paartjie se verblyf in Burgas dus dramaties kortgeknip. Hulle moes ook “teruggaan” na Griekeland, ondanks die feit dat die Zotiadisse al geslagte lank in Bulgarye gewoon en dit as hul vaderland geken het. Soos derduisende ander families is hulle in bote na Thessalonika geneem.

      Dié massaverskuiwing het onmenslike ontwrigting veroorsaak. Menelaos en Martha, gewoond aan ’n luukse lewe in Burgas, kon min van hul besittings saamneem. Hulle het in 1926 in Thessalonika aangekom, tussen sowat een en ’n half miljoen ander Griekse vlugtelinge, in hul onbekende vaderland met sy eie skraal bevolking van vyf miljoen mense.

      Sommige van die terugkerendes kon beswaarlik Grieks praat, en moes met slegs hul klere aan ’n nuwe lewe probeer skep. Te midde van dié verwarring, waar siektes, ontbering en hongersnood hoogty gevier het, het Menelaos nie gras onder sy voete laat groei nie en gou ’n besigheid gevestig. Hul oudste dogter, Niki, is spoedig gebore, en kort daarna Helen, wat hulle dadelik Nitsa genoem het.

      Menelaos, blykbaar altyd kontroversieel in sy opvattinge, was benewens sakeman ook ’n bekende en dikwels omstrede skrywer van politieke artikels. Skaars vyftien jaar ná hul aankoms in Griekeland het sy neiging om polemiese artikels te skryf hom duur te staan gekom. Tydens die Duitse besetting in die Tweede Wêreldoorlog het Menelaos, toe reeds goed gevestig in Thessalonika, die Duitse okkupeerders vreesloos gekritiseer. Toe dié hom wou vervolg, moes die gesin vinnig padgee. In 1941 het hy, Martha en hul twee jong dogters met beperkte bagasie plek gekry op ’n boot na Athene. Die res van hul besittings sou later op ’n ander boot volg.

      Met hul aankoms in die hawestad Piraeus het die Zotiadisse hulle opnuut midde-in ’n verhongerde, versukkelde mensemassa bevind. Hierdie keer het die vlugtelinge uit die noordelike dele van Griekeland gekom om aan die Duitse tirannie te ontsnap. Die wemelende Piraeus het gedien as afspringplek na Athene, waar die vlugtelinge gehoop het om werk en ’n heenkome te vind.

      In Athene het plakkerskampe oral, onder lapskerms of bome, op en langs sypaadjies en in stegies, verrys. Skole is in die strate gevestig, en hongersnood het mense gedryf tot onderhandeling met die Duitse soldate, wat gelei het tot verbitterde onderlinge verhoudings.

      Die twee Zotiadis-dogters moes ook in die straat skoolgaan, maar die gesin kon spoedig by familie in Athene tuisgaan. Niki onthou duidelik hoe kinders uit alle klasse saam in die strate gesit en somme doen het, en hoe arm en ryk grootliks gelyk gestel is deur die ontbering van die oorlogstyd.

      Menelaos met sy onblusbare lewensdrif het gou weer ’n sakebedryf aan die gang gekry, en hy het selfs ’n plek gevind waar sy gesin hulle kon vestig. Toe tref ’n verskriklike slag die Zotiadisse: al hul besittings word verwoes toe die vragskip uit Thessalonika in die hawe van Piraeus in ’n yslike ontploffing die lug ingeskiet word. Al hul aardse besittings was daarmee heen – al die waardevolle antieke meubels, erfgoed, boeke en skilderye.

      Martha, gewoond aan ’n baie formele lewenstyl, het nietemin haar huishouding ingerig volgens die beste standaarde moontlik. Sy het boeke in die hande gekry en gesorg dat haar dogters ’n goeie opvoeding kry, en waar daar nog teaters oop was, het hulle die opvoerings bygewoon. Sy het ook seker gemaak dat die twee dogters elegante maniere sou hê: die tafel moes altyd volledig gedek word, lemoene moes by wyse van spreke reg afgeskil word, en gaste moes korrek voorgestel word. Hoe skraal die middele ook al was, volgens Martha moes die beste standaarde gehandhaaf word.

      Menelaos kon geen tyd aan die verliese van die verlede wy nie, maar moes omsien dat sy vrou en kinders versorg word. En heel voorspelbaar het hy weer begin om politieke artikels te skryf vir enige publikasie wat dit sou plaas.

      Nitsa, ’n fynbesnaarde kind, het ondanks die moeilike omstandighede ’n goeie skoling ontvang, en sy was gou vlot in Grieks, Frans en Engels. Teen die tyd dat sy haar held, George Lanaras, ontmoet het, was sy ’n aantreklike, goed versorgde en modieus geklede jong meisie. En ook baie welaf.

      Drie: ’n Goeie vangs

      Zafiris Lanaras, George se pa, is in 1886 in Naussa gebore, ’n seun uit die reeds bekende Lanaras-linne-en-katoennywerheid. Soos so baie Griekse seuns uit suksesvolle families is hy in 1910 saam met twee broers na Kaïro gestuur om die groeiende Lanaras-sakeryk in die buiteland te vestig.

      Skaars daar, of Zafiris keer in 1912 terug na Griekeland om in die eerste Balkan-oorlog teen die Turke te veg. Ná die oorlog keer hy terug na Kaïro. Gedurende die volgende jare sou hy dié soort heen-en-weer-lewenstyl handhaaf, en sy oujongkêrelstatus het die familie in Naussa toenemend gekwel.

      Toe Zafiris van ’n foto van die 25-jarige Elizabeth Hadjigrigoriadis, die dogter van ’n sjirurg en volgens alle aanduidings erg konserwatief, voorsien word, het die familie asem opgehou. Sou dié 32-jarige vrygesel instem tot ’n gereëlde troue? Maar hy het natuurlik weinig kans gehad om te weier, en in 1918 trou die twee sonder dat hulle mekaar hoegenaamd geken of voorheen in lewende lywe gesien het.

      Hul drie seuns, van wie George die oudste is, word in Kaïro gebore, waar daar reeds ’n gevestigde Griekse gemeenskap is. Die kinders word na die befaamde Abet Gimnasium gestuur, en tuis sorg Elizabeth, erg bewus van die dominante Moslem-geloof in Egipte, nougeset dat haar seuns se godsdienstige opvoeding nie agterweë bly nie. Die Lanaras-broers sou ook dwarsdeur hul lewe die Grieks-Ortodokse geloofsbeginsels toegewyd onderhou. George sou ook ’n skoolmaat van hom uit Kaïro, Minos Colocotronis, jare later weer ontmoet en hulle sou baie nouer bande smee danksy die romanse tussen hul kinders, Elita en Tony – ’n algemene verskynsel in die Griekse sosiale kringe en kultuur.

      Toe George sewentien jaar oud is, sterf Zafiris skielik, en die familiesaak, wat intussen finansieel aansienlik verswak het, word sy verantwoordelikheid. Verder moet hy omsien na sy twee jonger broers sowel as sy moeder, Elizabeth. Die gesin verhuis

Скачать книгу