Elita en haar lewe met F.W. de Klerk. M Meiring

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Elita en haar lewe met F.W. de Klerk - M Meiring страница 7

Автор:
Серия:
Издательство:
Elita en haar lewe met F.W. de Klerk - M Meiring

Скачать книгу

was om met “gewone mense” te doen te kry. Sy het graag gesels met Nada, die huishoudster, en met haar goewernantes, sowel as met die mense wat sy in die strate teëgekom het.

      Met haar fiets het sy meermale na haar pa se tekstielfabriek gery, aangetrek deur die gedruis van die masjiene en die reuk van die chemikalieë. Daar het sy goed bevriend geraak met van die werkers, en veral met die deurwag. Hy het haar vertel van sy lewe in ’n wêreld waarvan sy geen benul gehad het nie, hoewel dit binne trefafstand van haar eie woonplek was.

      Ook die chauffeur, wat haar na haar perdrylesse geneem het, was ’n vriend met wie sy oor koppies koffie by die ryskool gesels het. Sy het opgewonde uitgevra oor sy familie. Wat maak sy kinders op Saterdae? Waar hou hulle vakansie? Wat wil hulle word as hulle eendag groot is?

      Haar nuuskierigheid was ’n aanvaarde feit in die huishouding, en die personeel het graag vir haar stories van “daar buite” vertel. Sy sou by geleentheid plegtig aan haar ouma Martha sê: “Ek hou nie van partytjies nie. Ek hou van gewone goeie mense.”

      Nes die meeste ander tieners het Elita soms die nuk gekry om “weg te breek”. Was hierdie lus om amok te maak of stout te wees te wyte aan die onverkwiklike verhouding met haar ma? sou sy later in haar lewe wonder.

      So het sy en haar vriendin Myrto Paraschis eenkeer tydens ’n vakansie by Anavissos ’n boot gesteel, uit die hawe gevaar en toe enjinprobleme gekry. Dobberend in die uitgaande gety is hulle gelukkig raakgesien en gered, maar ten spyte van haar familie se dankbaarheid en verligting is die twee avonturiers behoorlik geroskam! Elita het dié rebellie egter geniet en sou later weer “uitbreek”.

      Intussen was daar die kwessie van kêrels. Kolonaki-moeders soos Nitsa het van vroeg af alle toekomstige huweliksmoontlikhede vir hul dogters deurgekyk. Hoewel dit nie hardop gesê is nie, was die wete wel daar: ’n huwelik moes tot voordeel van almal wees, en veral van die familiebesighede.

      Boonop was Nitsa dol op romanses – sy was verlief op verliefdheid, soos haar vriendinne van haar gesê het. Sy het dus graag aan “moontlikhede” vir haar twee rebellerende dogters gedink, wat hul ma heerlik kon terg oor al haar romantiese idees en verwagtinge.

      Nico, Myrto se broer, was een van die “moontlikhede” vir Elita. Hoewel hy ’n Morgan-motor besit het wat aan hom ’n besondere luister gegee het, was Elita se kommentaar oor hom as haar toekomstige man ’n heftige: “Met jou? Nooit!”

      Nico, seker nie tot diepe verdriet gedryf nie, het ’n goeie vriend gebly. Toe Yannis Elita eenkeer by ’n partytjie geterg het oor wie haar kêrel kon wees, het sy snipperig geantwoord: “Ek sal eendag die heel beste kêrel ooit kry.”

      Heimlik het sy wel gedroom oor ’n held. Sy het dikwels in haar kamer of tydens vakansies op Anavissos weggekruip om boeke soos Emily Brontë se Wuthering Heights te lees. Háár held sou geheimsinnig wees soos Heathcliff, die held in dié Victoriaanse roman, het sy gedink.

      Sy sou hom ook binnekort ontmoet.

      Ses: ’n Anderse man

      Pas vyftien het Elita vir die eerste keer bewus geword van die onstuimige en wisselvallige aard van die Griekse politiek. In April 1967 het ’n groep kolonels oornag ’n dramatiese staatsgreep uitgevoer. Daar was geen betogings in Kolonaki nie, maar Elita het deur haar ouers verneem van militêre versperrings wat in die strate opgestel is, waar lastige studente aangesê is om terug te keer na hul huise. Ook die Lanaras-huispersoneel het kom vertel van die ontstellende veranderings wat skielik in sommige buurte plaasgevind het, en hoe soldate mense in die strate dreig.

      Mense was óf baie bly óf baie bedruk oor die staatsgreep. Talle Grieke het nog ’n burgeroorlog gevrees; ander was bang dat ’n verdrukkende militêre regime hul voorland was. Die mense uit die werkersklas het meestal geglo dat die kolonels vir hulle ’n beter bedeling sou bring.

      Die staatsgreep is voorafgegaan deur ’n drie jaar lange gesagskrisis, toe ’n botsing tussen koning Konstantyn en die eerste minister, George Papandreou, daartoe gelei het dat Konstantyn geweier het om verkiesings toe te laat. Dié faksieverskille het die groep kolonels onder aanvoering van kolonel George Papadopoulos die kans gegee om blitssnel ’n staatsgreep uit te voer. Papadopoulos het gou diktatoriale magte aangeneem, maar het toegelaat dat Konstantyn aanbly as nominale monarg.

      In Desember 1967 het Konstantyn ’n hopelose poging aangewend om met behulp van ’n paar ou vlootvriende die junta se regime omver te werp, en hy en sy familie moes uiteindelik na Italië vlug. In 1973, kort voor die afsetting van die junta, het Papadopoulos die monargie deur ’n dekreet beëindig en Griekeland tot ’n republiek verklaar. Konstantyn sou nooit weer na Griekeland terugkeer nie.

      Die junta het militêre howe ingestel, siviele regters ontslaan, talle mense vir vermeende opposisie in die tronk gegooi en op nougesette tradisie aangedring. Daar was ’n beletsel op minirokke, lang hare en uitspattighede, en ’n nuwe formaliteit het in die Griekse sosiale lewe geheers. Uniforms en formele aanddrag was aan die orde van die dag by dié stywe, stugge geleenthede, hoewel dit algemeen bekend was dat die kolonels uit ’n laer en grootliks onopgevoede stand was. Persvryheid is ingekort en die sensuur van boeke is tot belaglike uiterstes gedryf. Die junta se pogings om die geskiedenis te herskryf vir voorgeskrewe boeke in skole was deel van die aansienlike ontwrigting.

      Hoewel die land in ’n wurggreep van onstabiliteit was, het die junta se regime aanvanklik nie ernstige rimpelings in sakebedrywighede veroorsaak nie, afgesien van die toeristebedryf. Volgens George Lanaras het die junta goed geweet dat hulle nie die land sou kon regeer sonder ’n suksesvolle sakesektor nie. Gevolglik het die junta met sy streng regulasies soms verrassende vryhede toegelaat in die allerbelangrike sakelewe van Griekeland.

      In Elita se jong lewe sou daar tydens hierdie kwaai woelinge in Athene ’n nuwe opwinding kom. George Lanaras het toenemend betrokke geraak by skeepvaart, en het gou opgang gemaak in dié dinamiese bedryf toe hy verkies is tot president van die Vereniging van Skeepvaarteienaars. Dit was ’n omgewing waarin groot name soos Onassis, John Latsis, Costas Lemos en Stavros Niarchos die wêreldseevaart sou oorheers en fabelagtige rykdomme sou opbou. George het ’n leidende rol daarin gespeel, en Elita onthou met trots hoe sy een van sy groot skepe te water kon laat met die breek van die tradisionele bottel sjampanje teen die romp van die uitvarende skip.

      Hierdie nuwe rigting in George se lewe het gelei tot ’n hereniging met sy ou skoolmaat Minos Colocotronis, wat toe in beheer was van een van die grootste rederye in die bedryf. Toe ’n nuwe skip te water gelaat sou word in Portugal, is die Lanaras-gesin ook na die seremonie genooi. Nitsa en die vyftienjarige Elita het die luisterryke viering bygewoon, waar sy voorgestel is aan die 22-jarige Anthony Georgiadis, ’n student aan Oxford.

      Vassos Georgiadis, Tony se vader, is oorlede toe Tony sewe jaar oud was, en sy moeder, Clio, die suster van Minos Colocotronis, is vervolgens getroud met sir Frederick Crawford, die gewese Britse goewerneur van Uganda en destyds ’n hoë amptenaar in Anglo-American se diamant- en goudbedryf in Zimbabwe. Lady Crawford het wonings in Europa sowel as Salisbury, deesdae Harare, gehad en was bekend en gewild in internasionale sosiale kringe.

      Met hul ontmoeting het sy en Nitsa mekaar reeds geken, maar of hulle van mekaar gehou het, is te betwyfel. Daarvoor was hulle gans te verskillend. Clio, ’n oorheersende persoonlikheid, was uitgesproke en flambojant, terwyl Nitsa veel meer teruggetrokke en korrek was. Al twee het later uitdruklik ontken dat hulle by daardie geleentheid gedink het aan ’n moontlike romanse tussen Tony en Elita.

      Elita het met dié ontmoeting met die Oxfordstudent wel ’n erge toeval van kalwerliefde beleef. Hierdie Georgiadis was nie soos haar vriende in Athene nie. Trouens, sy het nog nooit iemand soos hy ontmoet nie. Só selfversekerd en gesofistikeerd, en boonop

Скачать книгу