Elita en haar lewe met F.W. de Klerk. M Meiring

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Elita en haar lewe met F.W. de Klerk - M Meiring страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Elita en haar lewe met F.W. de Klerk - M Meiring

Скачать книгу

word hy – lank, donker, charismaties en baie ambisieus – ’n gesogte jong man by Kolonaki se sosiale geleenthede, en hoewel hy ietwat terughoudend was, was hy baie gewild, veral onder die jonger vroue. En George, hoewel stillerig, het self geen geheim gemaak van sy voorliefde vir mooi vroue nie. In dié klein dampkring van Kolonaki was daar dan ook ná die oorlog volop geleenthede vir jong mans en meisies om te ontmoet – baie ouers het trouens sulke ontmoetings gereël.

      Toe George as Nitsa se toekomstige man aanvaar word, het hy sy vriende se tergery dat hy ’n “goeie vangs” gemaak het goedig aanvaar, want hy het geweet dat hy self nog sy fortuin sou verdien. Nitsa was beslis, danksy Menelaos se rykdom, ’n goeie vangs, maar haar fyn opvoeding en skugter geaardheid was ook besonder aantreklik. Verder het sy ’n amper verterende liefde vir George gekoester.

      Menelaos, wat selfs gedurende die burgeroorlog daarin geslaag het om sy sakebelange aan die gang te hou en uit te bou, het ’n finansiële ineenstorting beleef net voor Nitsa se troue. Met sy tiperende vernuf het hy egter steeds vir sy dogter ’n elegante bruilof gegee, en hy het sy sakeryk mettertyd herbou. Elita onthou haar oupa Menelaos as ’n streng man, iemand wat altyd besig was om aan werk en sake te dink.

      George en Nitsa sou ’n gewilde paartjie in Kolonaki word, maar idillies was die huwelik nie.

      Vier: ’n Eenkantkind

      George het ’n fyn smaak gehad en hy was nougeset, amper vitterig, oor die gehalte van kos, klere, meubels, motors en so meer. Nitsa het sy hoë standaarde toegepas met toewyding en ’n tuiste geskep wat vir hom in alle opsigte sou bevredig.

      Maar reeds as klein kind het Elita wel bewus geword van die vurige en soms bittere onderonsies in haar ouers se slaapkamer. Nitsa het nie altyd haar tranebuie kon wegsteek nie, en Elita was gou onder die indruk dat haar ma se allesoorheersende liefde vir haar pa nie heeltemal beantwoord word nie.

      Tog het Nitsa stoïsyns ’n streng huishouding gevestig in die tradisie van haar ma, Martha. Reëls is vir die personeel neergelê oor elke klein detail. Waar en hoe gaste ontvang en aangekondig moes word, was uiters belangrik; die tafel is presies gedek met die presiese gerei; voedsel moes net só bedien word; die korrekte etiket moes te alle tye gehandhaaf word.

      Die dogtertjies moes beleefd groet en veral reg eet – Nitsa het van kleins af ’n vrees vir vet word by hulle ingeprent. Hoewel glad nie so intellektueel soos haar moeder nie, was dit by Nitsa amper ’n obsessie dat haar kinders al die vaardighede en geleerdheid moes bekom wat destyds beskikbaar was vir meisies van Kolonaki.

      Stelselmatig, soos George se rykdom gegroei het, het Nitsa groter en ruimer woonstelle gekies. Sy was ’n onvermoeide gasvrou, en die jong Lanaras-egpaar was gou hoog gereken. Nitsa se sosiale aansien en smaak was aansienlik, en sy was bekend vir die keurige dinees wat sy aangebied het, die groot etenstafel ryklik gedek met kristal, blomme en die fynste geregte.

      Die kinders in Kolonaki het ’n eie sosiale lewe gehad met eindelose kinderpartytjies, altyd met verbeeldingryke koeke, koeldranke en veral mooi klere. Die meisietjies in frille en valle, dikwels in Parys of Milaan gekoop, en die seuntjies in hofknapiepakke. Getrou is daar van alles foto’s geneem en in die albums geplak. Dikwels is daar ’n figuurtjie aan die een kant van die tafel te sien: Elita. Groot ogies wat oor die rand van ’n koeldrankglas na die ander kinders loer. Was dié eenkant-staan ’n gewoonte of slegs ’n spesiale manier om dinge eers te takseer? Later sou sy juis bekend word vir haar besondere waarnemingsvermoë en mensekennis. En vir haar skugterheid wanneer aandag op haar gevestig word.

      Reeds in hul vroegste kinderjare is Elita en Martha bewus gemaak van hul sosiale klas. Vriendskappe onder die kinders van Kolonaki het vroeg begin – selfs as peuters is hulle aan maatjies “voorgestel”, sommige van hulle mense wat hulle dwarsdeur hul lewe sou ken.

      ’n Gewilde ontmoetingsplek vir die kinders van Kolonaki was die groot Nasionale Park aan die besige Vasissilis Sofia-laan. Dié wêreldberoemde park is oorspronklik aangelê vir die eerste koning van Griekeland, koning Othon, die seun van koning Ludwig van Beiere, wat in 1834 geroep is om ’n Griekse monargie te stig. Othon het sy Duitse verloofde, prinses Amalia, na Athene laat kom. Hoewel Amalia as koningin nie juis gewild onder die Grieke was nie, het sy dié indrukwekkende tuin ter ere van haar man laat aanlê. Mettertyd het dit die Nasionale Park geword, en vir die inwoners van Kolonaki is dit amper ’n eie eiendom. Dit bevat plante van oor die wêreld in skouspelagtige tuine geplant, uitsonderlike diere wat in pragtige kampe aangehou word, en daar is baie standbeelde, ook een van die Britse Romantiese digter lord Byron, wat in die Griekse Onafhanklikheidstryd geveg en in Griekeland aan ’n longkwaal gesterf het.

      Hierheen het die kinderoppassers van Kolonaki die kleintjies op daaglikse uitstappies gebring, en ’n klein volkere-apartheid het geheers: die Engelse oppassers het hul eie klein Engeland geskep, die Franse hulle s’n, en die Duitse oppassers het ook ’n eie gebied afgepen!

      Elita se oppasser, Paulette, was Switsers en Franssprekend. Elita was drie jaar oud toe sy haar lewenslange vriendin, Maria Geurtsos, in die Nasionale Park ontmoet het. Beide dogtertjies moes toe al, op hul ouers se aandrang, Frans leer. Later sou Elita dit as die rede sien waarom sy nie as sesjarige in ’n Griekse skool aanvaar is nie. “Ek kon al heeltemal goed Grieks lees en selfs ’n bietjie skryf, maar ek kon nie ’n enkele Griekse liedjie sing of ’n versie opsê nie! Toe word ek nie gekeur nie.”

      Benewens die Franse lesse was daar ook die gehate balletlesse. Elita en haar maatjie Irene Doxiadis – wat later die gerekende Irene Lemos in Griekse skeeps- en sakekringe sou word – het saam die lesse bygewoon. Elita het verkies om soos ’n hasie te spring eerder as om op haar tone te dans en het volstrek geweier om ’n “goeie” balletdanser te word.

      Sy en Irene was egter versot op die betowerende stories wat hul voorskoolse juffrou vir hulle vertel het – onder meer die versekering dat húlle ook soos saad wat in die grond gestrooi is tot mooi blommetjies sal groei. Elita het dié storie altyd onthou, en sy meen dis dalk waar haar intense liefde vir blomme en tuinerye ontstaan het!

      Maar Nitsa se aandrang op ’n Franse opvoeding het gebly, en in die somer moes Elita en Martha na ’n skool in die Franssprekende deel van Switserland gaan. Dit was juis tydens so ’n somer dat George Lanaras sou agterkom dat sy dogtertjie van sewe beslis ’n eie wil het. So skryf sy – in Grieks – in antwoord op ’n brief van haar pa: Liewe Papa, ek is nie gesond nie. Ek is verveeld. Laat my asseblief hier wegkom. Later skryf sy: Liewe Papa, ek het jou brief met groot vreugde gelees. Ek wil nie hê jy moet my liefhê nie, of foto’s stuur nie. Ek wil hier wegkom. Jou dogter Elita.

      Maar daar was geen sprake van wegkom voor die termyn verby was nie.

      Soms is Elita en Martha saam met Paulette na die vakansie-eiland Corfu gestuur vir ’n kort vakansie. Die sussies het toe al geweet dié “vakansies” was wanneer die spanning in hul ouers se huwelik ernstig was.

      Elita het van kleins af gevoel dat haar ma haar nie verstaan nie, en ’n sterk belewing van eensaamheid het haar dikwels na haar kamer laat vlug. Die vroeë besef dat sy geneig is om neerslagtig te raak, het stellig gelei tot haar blywende gewoonte om dagboek te skryf. Ook om stilletjies weg te sluip om alleen te wees.

      Sy het haar toevlug tot stories geneem, en daarvoor was Monique, haar en Martha se Franse goewernante, ’n inspirasie. Monique het die dogtertjies vroeg al ingewy in die wêreld van Victor Hugo, die Russiese skrywer Gogol, die skrywer Mallarmé, en selfs Baudelaire. Dat laasgenoemde hoegenaamd vir die twee erg beskermde dogtertjies voorgelees is, dui sekerlik op Nitsa se eis dat haar kinders net aan die beste blootgestel moes word al sou dit ook die rebelse Baudelaire insluit.

      Hul verhouding met hul pa was veel prettiger as die verhouding met hul ma, want George het

Скачать книгу