Elita en haar lewe met F.W. de Klerk. M Meiring

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Elita en haar lewe met F.W. de Klerk - M Meiring страница 6

Автор:
Серия:
Издательство:
Elita en haar lewe met F.W. de Klerk - M Meiring

Скачать книгу

soos kokoretsi, soortgelyk aan ons skilpadjies, met die sous wat uit die lewertjies en uie op hul klere drup. Dit was beslis nie die soort kos wat Nitsa se huishoudster tuis voorberei het nie, en waar die verpligte glas geelwortelsap soggens met die wakker word ’n beproewing was.

      Op sulke uitstappies kon Elita en Martha skater van uitbundigheid, en Elita se borrelende pret as hulle “dinge” aangevang het, het George aangespoor om hulle meermale op dié avontuurtjies te neem. Hy het hulle die motor laat “bestuur”, en hulle na cowboy-flieks geneem. Hy was ’n John Wayne-fanatikus, en hoewel Elita gretig saamgegaan het, het sy verklaar dat sy bly is dat sy nie ’n man gebore is en dalk ’n cowboy sou moes word nie. Ook het sy vasgeskop teen Mickey Mouse-prente: die katte was darem te kwaai, en buitendien het sy nie van Minnie se skoene gehou nie.

      George het ’n vakansiehuis laat bou op Anavissos aan die Sounion-kus, waar die gevierde tempel van die seegod Poseidon is. Die vakansies hier het die twee sussies aanvanklik meer geniet as die vele oorsese reise waarop hulle geneem is.

      Die opbou van Griekeland in die 1950’s het op die kinders van Kolonaki geen wesenlike invloed gehad nie. Bevoorreg, en tot groot hoogte ook bederf, was dit net in hul intieme familieverband dat die werklikhede soms donker was. Dat George sy dogters se guns so maklik gewen en behou het, het die afstand tussen Elita en haar ma miskien meer beklemtoon as wat sy toe kon besef.

      Vyf: Baie mooi, maar o, so konserwatief

      In die tydperk van koorsagtige Griekse ekonomiese opbloei het die Lanaras-familie, soos feitlik al hul vriende, internasionale sakebelange opgebou en gevolglik gou wêreldreisigers geword.

      Hulle het ook gery op die golf van wat Griekeland in die moderne tyd weer aantreklik gemaak het, soos die sangeres Nana Mouskouri met haar gewilde lied oor die wit rose van Griekeland, die aktrise Melina Mercouri, wat wêreldberoemd sou raak, en die jong, opkomende sopraan Maria Callas. Daarby het die verstommende rykdom wat skeepseienaars begin versamel het die wêreld se aandag op Griekeland se heropbou gevestig.

      Die Lanaras-dogters was kort voor lank tuis in Londen, Parys, Rome en Milaan, stede waar Nitsa graag inkopies gaan doen het. Wanneer dit by klere uitsoek gekom het, was Elita veral geen maklike kind nie. Koppige onderonsies het dikwels in spogwinkels plaasgevind, met Elita wat op perverse wyse nie haar ma se onbetwiste goeie smaak wou aanvaar nie.

      Nogtans onthou die dogters dat Nitsa altyd ’n heerlike ontspannenheid getoon het tydens sulke inkopietogte. Sy was baie bewus van modeneigings, en beide haar dogters het vroeg in hul lewe al hul gunstelingontwerpers gehad. Elita het gou ’n getroue aanhanger van die ontwerper Courreges geword, en haar kleresmaak sou ontwikkel tot ’n aandrang op klassieke snitte in gedempte kleure.

      In Athene was die Lanaras-egpaar gereken in die sosiale sowel as politieke kringe. George en Nitsa het, soos almal in hul vriendekring, groot respek gehad vir die koninklike egpaar, Paul en Frederika. Hoewel die koningsgesin die toon aangegee het in Athene se sosiale omgang, waar die rustige en sportiewe koning Paul baie gewild was, was die verhouding tussen die paleis en die parlement dikwels gespanne. Koningin Frederika, ’n kleindogter van die afgesette Duitse keiser Wilhelm, het as die bitter jong prinses Friederike van Hanover met die veel ouer Paul van Griekeland getrou. Sy was ’n omstrede en uitgesproke vrou, en hoewel sy nie by die Griekse hoëlui so gewild soos haar man was nie, het sy uitdagende welsynsprojekte aangepak en ’n groot aanhang onder die gewone mense geniet.

      Volgens oorlewering het die flambojante en eiesinnige Frederika kaal geswem langs Griekeland se afgesonderde strande, ’n storie wat moontlik sy oorsprong gehad het in die koningsgesin, wat geesdrifte seiljagvaarders was, se talle see-uitstappies. Aantreklik, uitdagend en dikwels onortodoks is sy selfs in koningsgesinde kringe beskinder, maar dit was veral die kommunistiese en sosialistiese groepe wat haar gehaat het.

      Frederika was ook bekend in Suid-Afrika, aangesien sy in 1942, toe nog as kroonprinses, uit die oorloggeteisterde Griekeland hierheen gestuur is vir veiligheid. Sy het ’n besondere en lewenslange vriendskap met generaal Jan Smuts en sy vrou, alom bekend as ouma Issie, geniet. Generaal Smuts het tot aan die einde van sy lewe met die Griekse koningin gekorrespondeer, en sy het altyd na hom verwys as haar mentor. Haar en Paul se jongste dogter, prinses Irene, is in Suid-Afrika gebore en is in die Grieks-Ortodokse kerk in Kaapstad gedoop, met generaal Smuts as haar peetvader. Irene was ook die naam van Smuts se plasie in Doornkloof.

      Toe koning Paul in 1964 oorlede is, is hy opgevolg deur sy 23-jarige seun, Konstantyn, en Elita onthou haar deelname as twaalfjarige aan die skouspelagtige kroningsvieringe. Sy en die koning en sy Deensgebore vrou, Anne-Marie, sou later goeie vriende word. Dié vriendskap sou veel later sorg dat die verbanne koning Suid-Afrika dikwels besoek het.

      Tuis in Kolonaki het die afstandelike verhouding tussen Nitsa en Elita vir albei moeilik geword. Nitsa, wie se onbevredigende huwelik algemene kennis was onder nabye vriendinne, het nogtans haar lewe as gasvrou en gesogte gas voortgesit, en sy het steeds ’n baie sigbare aandeel in George se sosiale lewe gehad.

      Elita het egter gevoel dat sy nie kon deurdring tot haar ma nie, wat dikwels afgetrokke voorgekom het. In haar jong gemoed het sy meermale opstandig gemor teen wat sy reeds as tiener as “sosiale nonsens” beskryf het. “Daar was ’n ewige rondte van skemerpartytjies. Ek en my pa het nie daarvan gehou nie, maar dit was ’n groot deel van ons lewe.”

      Willens en wetens het sy dus ’n nouer band met haar oumas ontwikkel, en ’n goeie verhouding met ouer vroue sou dikwels in die toekoms haar vriendskappe kenmerk. Haar nuuskierige geaardheid het beide haar oumas plesier verskaf, en sy het graag by ouma Martha gaan kuier “vir die lekker stories en gesprekke”, en by ouma Elizabeth “omdat sy sulke lekker regte kos kook”. Dié ouma, ’n plomp, streng vroutjie, was meer huislik as die slim ouma Martha. Sy was ’n groot opera-aanhanger, veral, verbasend, van Rossini, wat as “ligte” komponis beskou is, maar as ’n baie godsdienstige mens het sy ’n groot afkeer van partytjies gehad en sy het dikwels daarteen gewaarsku. Haar Aleksandrynse koekies, ’n resep uit Egipte, was vir Elita die beste onthoukos uit haar kinderdae.

      Ouma Martha, daarenteen, waardig en altyd omring deur boeke, het graag gepraat oor die sin van die lewe. Sy was ook ’n gretige luisteraar as dit kom by probleme met seuns en kêrels. Haar kwelling dat haar ma haar nie verstaan nie, het Elita dikwels by ouma Martha uitgestort. Sy het gevoel dat haar ma net altyd “die regte dinge” wil doen en onthale wil hou, maar dat sy nie belang stel in haar dogter se drome nie. Ouma Martha het getroos dat Nitsa ’n baie komplekse en teruggetrokke mens is, en dat sy dinge eerder sou wegsteek as om daarmee op haar mou te loop. Elita sou haarself jare later ernstig verwyt dat sy nie meer begrip getoon het met haar ma se afsydigheid nie. ’n Besonder innige verhouding sou tussen hulle ontstaan “toe dit al amper te laat was”.

      Vanuit hul veel dieper verhouding het haar ouma Martha in 1996, net voor haar dood, vir Elita ’n komboloi (’n gebedesnoer wat hoofsaaklik deur mans gebruik word) gegee. Dit was moontlik ’n geskenk van ’n vroeëre minnaar (die Bulgaar met wie Martha nie mag getrou het nie?). Dié komboki bly as ’n talisman altyd by Elita.

      Haar tienerjare in die vroeë 1960’s was die tyd van rock & roll, films, modes en musiek uit Amerika. Hamburgers en melkskommels het verskyn, Cliff Richard het ’n kultusaanhang geniet en vanuit Londen het Carnaby Street invloed uitgeoefen. Die jongklomp van Kolonaki het gretig meegedoen aan “the Sixties”. Baie partytjies is gehou, en daar is plate versamel en slengtaal gepraat.

      ’n Skoolvriend, Yannis Economides, onthou Elita as “baie mooi, maar o so konserwatief”. Volgens hom was sy nie een wat sommer maklik in die bondel ’n uitgelate partytjie sou bywoon nie – iets wat deur die ander as snobisme beskou is. Tog kon sy ’n borrelende sin vir pret toon wat almal om haar soms verras het.

      Hierdie jong tieners se lewe

Скачать книгу