Eksklusief uit Eden. Marida Fitzpatrick

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eksklusief uit Eden - Marida Fitzpatrick страница 6

Eksklusief uit Eden - Marida Fitzpatrick

Скачать книгу

omvou die Midde-Oosterse hitte en bedompigheid haar. Die tydjie in die hotel met sy lugversorging, marmer en graniet het haar van koue laat ril. Sy verwelkom die hitte wat soos ’n kombers op haar hoendervleisvel neersak.

      Maar dis ook net vir ’n oomblik lekker, dan begin die sweet haar weer aftap. Meimaand is dit klaar ontsettend warm in Bahrein. Die toeristeseisoen is van November tot Februarie, die res van die tyd is dit te warm. In die middel van die somer brand die woestynson warmer as vyftig grade Celsius te midde van honderd persent humiditeit.

      Sy kyk oor die straat hoe die wit van die sand en die huise in die laatmiddagson glinster. Dis pragtig hier, moet sy toegee, ’n besonderse skoonheid. Nie Suid-Afrika se welige kleurvolheid nie, maar mooi op ’n ander manier.

      Die lug ruik warm en sout. Amper verstikkend as ’n mens te diep inasem. Terwyl sy voor die hotel vir die taxi staan en wag, bekyk sy die mense. Arabiere in lang, wit jurke en kopdoeke. Vroue in bhurkas – die swart klede wat hulle van kop tot toon bedek met net hul oë wat deur ’n skrefie in die materiaal uitsteek.

      Mia wonder hoe die vroue dit in daardie swart tente uithou. Dit moet ondraaglik wees in hierdie hitte. Gelukkig hoef sy nie self ’n kopdoek te dra nie; Bahrein is een van die meer liberale Arabiese lande. In Saoedi-Arabië sou sy dit byvoorbeeld nie kon waag nie.

      Die mense hier praat meestal Arabies, maar ook Hindi en Urdu, het sy op die internet gelees. Die tale klink sag en rond om haar, asof die sprekers die woorde soos suiglekkers in hul monde rol. En die sinne klim en val soos musiek; soos vreemde, eksotiese gesange.

      ’n Moslemgesin met ’n spul kindertjies kom met die trappe opgestap en sy probeer met ’n groot gesukkel haar bagasie uit hul pad verwyder. Haar tas stort by ’n trappie af en sy buk om dit op te tel.

      Toe sy uitasem tot verhaal kom en opkyk, kan sy nie glo wie voor haar staan nie: Malan Retief! Hy het nou seker haar hele lompe gespook aanskou. Hoeveel vernederings gaan sy nog vandag moet verduur?

      “Kan ek jou help?” bied hy aan. Dit sou opreg geklink het as hy nie so geamuseerd geglimlag het nie.

      “Nee, dankie,” antwoord Mia kil. “Ek kom reg.”

      Sy wonder waar hy nou vandaan kom. Beslis nie van ’n vliegtuig waar hy, soos sy, ’n tien uur lange slapelose nag moes deurbring tussen ’n skreeuende kind en ’n snorkende vet man nie. Daarvoor lyk hy heeltemal te vars en uitgerus.

      Op Malan Retief se planeet is daar seker ’n geheime tonnel waardeur vliegtuigpassasiers kruip wat hulle binne enkele sekondes van hul vlugvoosheid verlos. Dit stryk sommer ook hul klere en sit nuwe jel in hul hare, sodat hulle soos akteurs in ’n Nivea for Men-advertensie daar uitstap. Dis hoe Malan vanoggend lyk: sy swart hare is op so ’n manier gestileer dat dit glad nie gestileer lyk nie, asof hy bloot sjiek gebore is.

      Verder is hy ’n advertensiebord vir ontwerpersname: Carducci-baadjie, Pringle-hemp, Levi-jeans wat net reg aan sy lenige lyf pas en pragtige bruin leerskoene wat waarskynlik ’n ontwerpersnaam dra wat sy nie sal kan uitspreek nie.

      “Wat maak jý hier? Skiet hulle ’n toneel van 7de Laan of Egoli in Bahrein?”

      Hy vou sy arms en leun teen een van die hotel se pilare. Glimlag steeds geamuseerd. Sy wens haar hart het nie so wild geklop nie. Wat gaan aan met haar? Sal Malan Retief dan nou so ’n uitwerking op haar hê?

      Maar sy hou haar koel. “Ja,” antwoord sy gemaak ernstig. “Egoli wil hoor of hulle jou as ’n ekstra kan gebruik. Hulle sukkel glo om gehoorsame kamele te kry.”

      Hy lag met sy kop agteroor. “Hulle kan my nie bekostig nie.”

      “En ek kan nie bekostig om hier te staan en geselsies maak nie. Ek weet nie van jou nie, maar ek het ’n storie om te doen.”

      “Lyk my jy’t my voorgespring.”

      “Hoe so?”

      Hy knik na die binnekant van die hotel. “Met Beling.”

      “O, ja. Maar hy wou niks sê nie. McMillans gaan glad nie met die pers praat nie.”

      “Nie met die pers nie of nie met jou nie?” Weer ’n geamuseerde grinnik op sy gesig.

      Hy het haar nou skoon van haar wysie af. Kan dit wees dat meneer Beling wel met ander joernaliste praat en net besluit het om nie met háár te praat nie?

      “Wat bedoel jy?” Sy probeer koel en kalm klink, maar sy voel soos ’n idioot.

      “Wel, Mia, jy ís van Nuusweek.” Hy sit sy hand gemaak simpatiek op haar skouer. “Julle is nou nie juis bekend vir gesaghebbende politieke joernalistiek nie.”

      Sy ruk haar skouer weg. “O, en Verslag is die toonbeeld van politieke erns. Wie was nou weer Sondag op julle voorblad? Was dit Patricia Lewis of Amor?”

      Hy lag weer. “Nie nodig vir sarkasme nie. Ek sê maar net.”

      “Ek sê ook maar net.”

      Sy lag nie meer saam nie. Sy is moeg en wil by die hotel kom. Die laaste van haar kragte kan sy nie nou inspan om Malan Retief se pittighede en gekamoefleerde beledigings te trotseer nie. En sy weet nie wat met haar aangaan dat sy skoon die ritteltits het net omdat hy met haar praat nie.

      “Die punt is dis ’n koerantstorie, Mia. Die tipe artikel wat Nuusweek wil hê, gaan jy nie hier kry nie.”

      “Moet jou nie bekommer oor die tipe artikel wat ek moet kry nie.”

      “Ek bekommer my glad nie.” Weer daardie glimlag, asof hy heimlik vir haar lag.

      “Ek’s bly vir jou.” Sy kan nie meer haar irritasie wegsteek nie.

      “Van wanneer af doen jy nuus? Laas toe ek met jou gepraat het, het jy nog TV-gidse geskryf.”

      “Wel, dinge verander,” sê sy styf.

      Hy kyk op sy horlosie en mik na die draaideur. “Jy sal my nou moet verskoon,” sê hy formeel. “Ek het ’n afspraak.”

      “Dis reg so. Ek besef jy’s baie besig en belangrik,” sê sy net voor hy in die draaideur verdwyn. Hy antwoord haar nie. Sy wens die deur wil hom vaskeer en in ’n vakuum afsluit, sodat iets uit die dak hom kan opsuig en laat disintegreer.

      Sy kan die man nie verdra nie! Maak nie saak hoe hard sy probeer om selfversekerd en koel in sy teenwoordigheid te wees nie, hy kry dit altyd reg om haar soos ’n idioot te laat lyk, klink en voel. En terselfdertyd keer hy alles in haar lyf om.

      Vergeet van hom en geniet die avontuur, beveel sy haarself. Dis ’n lieflike dag en jy’s in Bahrein.

      Maar sy kry dit nie reg om innerlike kalmte te bewerkstellig deur op die omgewing te fokus nie. Sy hou heeltyd vir Malan deur die hotel se glasfasade dop om te kyk of meneer Beling met hom gaan praat.

      Haar taxi daag op en die bestuurder laai haar bagasie in die kattebak. Net voordat sy in die taxi klim, sien sy hoe meneer Beling Malan se hand hartlik skud asof hulle ou vriende is. Hoe het hy dit reggekry? dink sy platgeslaan. Dis ’n ramp.

      3

      Patrick Beling is langer as wat

Скачать книгу