Eksklusief uit Eden. Marida Fitzpatrick

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eksklusief uit Eden - Marida Fitzpatrick страница 7

Eksklusief uit Eden - Marida Fitzpatrick

Скачать книгу

Malan gisteroggend douvoordag die nuus van die ontploffing op Sky News in die Virgin Active in Cresta gesien het, het hy die internetfunksie op sy selfoon gebruik om die selnommer van McMillans se skakelbeampte op te spoor. Nog voor seweuur het hy Patrick Beling se nommer in die hande gekry. Teen agtuur het hy ’n eksklusiewe onderhoud met Beling gereël gehad, of minstens eksklusief in Suid-Afrika.

      Malan se grootste bekommernis was Beeld en Nuusweek, die twee ander groot Afrikaanse nuuspublikasies. En dan natuurlik ook die Engelse pers, hoofsaaklik The Star en The Sunday Times. Hoewel hy toe nog nie geweet het Mia gaan die storie vir Nuusweek doen nie, het hy Beling spesifiek gevra om nie met Nuusweek of Beeld te praat nie. Nou is hy baie dankbaar hy het so vroeg gespring.

      “Hier was nou-nou ’n meisie van Nuusweek by my,” sê Patrick asof hy sy gedagtes kan lees.

      “Ja, ek weet, ek het haar hier buite raakgeloop. Ek dog jy praat eksklusief met my.”

      Malan weet Beling het nie met Mia gepraat nie, maar hy hou hom dom net om seker te maak Beling verstaan wat “eksklusief” beteken.

      “Ek het geen inligting vir haar gegee nie. Ek het bloot uit hoflikheid ingestem om haar te sien, sodat ek vir haar kon verduidelik dat ek haar nie kan help nie.”

      “Jy moet pasop. Die joernaliste van Nuusweek weet wat hulle doen. As hulle eers saam met jou aan ’n tafel sit, kry hulle jou aan die praat.”

      Hy lag. “Ja, sy was knaend. Ek moes later blatant onbeskof wees om van haar ontslae te raak.”

      Hul whiskeys daag op. Die ys klingel toe Malan sy hand om die gladde koue vou.

      “Ek kry dus steeds die eksklusiewe onderhoud?” vra hy en vat ’n sluk.

      “Ja, dit was mos ons ooreenkoms. Onthou net jou deel: jy sal die berig voor publikasie vir my stuur sodat ek dit vir feitelike korrektheid kan nagaan.”

      “Natuurlik. Soos ek vir jou gesê het, is dit in ons albei se belang om die regte feite by die publiek te kry.” Hy het al baiemaal dié oorredingstegniek gebruik om eksklusiewe onderhoude te reël. Mense is heeltemal bereid om eksklusief met jou te praat as jy hulle die versekering en gemoedsrus gee dat hul boodskap korrek aan die lesers oorgedra sal word.

      “Ek moet toegee dat ek die meisie jammer kry. Sy is so jonk en alleen hier in die Midde-Ooste.”

      Gevaarligte flikker in Malan se kop. Dis presies hoekom joernaliste soos Mia dodelike kompetisie uitmaak. Hulle lyk so skadeloos, maar met hul onskuldige gesiggies en bokkie-oë oorreed hulle mense maklik om te praat. En Mia is nou eenmaal ’n mooi meisie. Selfs hý sal sy fokus kan verloor as hy lank genoeg in haar geselskap is.

      Nee, hy kan nie bekostig dat iemand soos Mia sy storie kry nie. Dit kan sy kanse om nuusredakteur te word heeltemal in die wiele ry.

      Die hoofredakteur het hom juis voor sy vertrek ingeroep. “Alle oë is nou op jou, Malan,” het hy gesê. “Onthou, die nuusredakteurspos gaan middel vanjaar oop. Jy moet met hierdie Bahrein-storie regtig wys wat in jou steek.”

      Die hoofredakteur hou van hom. Malan weet hy wil hom graag in die nuusredakteurstoel sien, maar die besluit hang af van die hele hoofredaksie. En dis hulle almal wie se oë nou op hom is. Hy kan nie dat Mia dit vir hom beduiwel nie.

      “Ja, ek voel ook jammer vir haar,” sê Malan. Hy moet nou versigtig trap. “Maar sy sal wel iemand kry om haar te help. Moet jou nie oor haar bekommer nie.”

      “Kan ek nie net vir haar die breë trekke gee nie?”

      “Nee,” sê Malan ferm. Hy sit sy whiskeyglas hard neer. “Asseblief, dit kan nie. Dit sal my sake baie bemoeilik. Joune ook. Jy weet nie wat Nuusweek met ’n storie kan doen nie.”

      “Goed, goed.” Beling lig al twee sy hande asof hy oorgee. “Dis reg so. Ek verkies dit buitendien om met net een publikasie per land te praat. Die hele wêreld se pers is hier. Ek kan nie heeldag in personderhoude sit nie.”

      Malan sug verlig. Dit was amper. “Is hier enige ander Suid-Afrikaanse media?”

      “Ja, ek hoor The Sunday Times is ook hier. Maar hulle het my nog nie gekontak nie.”

      Die dagblaaie het seker besluit om die storie telefonies te doen of dit by die internasionale nuusdienste soos Sapa of Reuters te kry, dink Malan. Dit beteken hy hoef nie nog met hulle ook te kompeteer nie.

      “Goed, ek is bly om te hoor ons ooreenkoms staan nog,” sê hy en skud Beling se hand. “Dan sien ek jou môreoggend tienuur.”

      “Selfde plek?”

      Hy knik. “En nie ’n woord vir Nuusweek nie?” Hy maak net dubbeld seker. Wie weet met watter planne Mia vorendag kan kom?

      Beling maak ’n ritsbeweging oor sy lippe. “Nie ’n woord nie.”

      Palmbome staan in rye tussen die hoofpaaie geplant, sien Mia uit die taxi op pad na haar hotel. Die regering voer dit in, plant dit en ry dan water aan om dit in die woestyn aan die lewe te hou, verduidelik die Arabiese taxibestuurder.

      Die palmbome gooi lang, groen esse in die andersins vaal, kleurlose landskap. Soos ’n slang, dink sy. Soos ’n kleurvolle tropiese slang wat uit sy habitat ontsnap het en nou selfbewus en te opsigtelik deur ’n vreemde plek kronkel. Die slang in die Tuin van Eden, dink sy.

      Hulle kom by haar hotel aan en sy betaal die taxibestuurder drie dinar – sowat vyftig rand. Die Bahreinse dinar is ’n baie sterk geldeenheid, selfs sterker as die Amerikaanse dollar en die Britse pond. Die land is só ryk dat sy inwoners nie belasting hoef te betaal nie. Danksy die pêrels wat vroeër jare hier uitgeduik is en die olie wat meer onlangs ontdek is, het die regering genoeg skatte.

      Bahrein het die snelgroeiendste en vryste ekonomie in die Arabiese wêreld. Dis hoekom uitlanders na die eilandjie stroom: om hier te kom geld maak. Oral waar jy kom, sien jy mense van alle kleure en geure. Mia het vroeër gelees net sowat twee derdes van Bahrein se bevolking bestaan uit Arabiere. Die res is hoofsaaklik van Iranese afkoms en immigrante uit Suid- en Suid-Oos-Asië. Hier is ook baie Indiërs, Turke en Persiërs.

      Toe sy uitklim, voel sy opnuut die kontras tussen die verkoelde taxi en die oond buite. Dis al amper aand en die hitte tref jou nog steeds soos ’n muur. Sy voel hoe sweet in die holte van haar rug begin afloop.

      Die Gulf Hotel toring bo haar uit. Net soos die Sheraton is dit ’n hoë, blink paleis van ’n plek. Maar ten minste het dit baie Arabiese flair – op die dak staan Gulf aan die een kant in die Westerse alfabet en aan die ander kant in Arabiese skrif. Die letters is sag en vloeiend met hul krulle, punte en draaie. Daarteen lyk die Westerse letters hard en rigied en ongenaakbaar, dink Mia. Sy wens sy kon Arabies skryf en praat.

      Voor die hotelingang sien sy vyf swart sterre teen ’n goue bord. Grethe het besluit sy moet in ’n vyfsterhotel bly, want sy het gehoor die meeste driester-hotelle in die Midde-Ooste is bordele. Sy wou nie ’n kans vat met ’n vierster nie en Nuusweek dok dus op dat Mia ordentlik kan bly – bevry van sedelose prostitute terwyl sy die scoop der scoops jag.

      In die hotel is dit heerlik koel en die interieur skreeu Midde-Oosterse oordadigheid. Mia ry met ’n roltrap op tot in die ontvangsarea, waar ’n duiselingwekkende kandelaar met drie vlakke van triljoene klein liggies uit die dak hang. Dit lyk soos ’n ontsaglike onderstebo drielaagtroukoek.

      Spore

Скачать книгу