Eksklusief uit Eden. Marida Fitzpatrick

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eksklusief uit Eden - Marida Fitzpatrick страница 9

Eksklusief uit Eden - Marida Fitzpatrick

Скачать книгу

het dit gesien gebeur.”

      Dankbaarheid en hoop vul al die plekke waar moedeloosheid die afgelope twee dae gate in haar gevreet het. Dit syg deur haar soos room deur ’n warm gerysde poeding. “Hoe?” vra sy.

      “Ek was hier, by die hawe. Die boot het skaars ’n kilometer en ’n half buite die hawe ontplof. Daar.” Hy strek sy voorarm uit om vir haar te wys in watter rigting die rampboot was toe dit ontplof het.

      “Wag,” sê Mia, skoon uitasem van opwinding. “Ek wil net gou my notaboek uit my handsak kry.”

      Hy lig sy hand op om haar te keer. “Nee.”

      Fronsend kyk sy op na hom. Daar het ’n skadu oor sy gesig gesak.

      “Maar ek wil dit neerskryf sodat jy nie weer hoef te verduidelik nie.”

      “Jy kan my nie aanhaal nie.”

      Nee, nee, nee! skreeu dit in haar. Plan B kan nie ook grond toe duik nie. Maar sy kry die vraag doodkalm uit: “Hoekom nie?”

      Hy draai weg, vou sy arms en kyk af na die water. “Ek wil glad nie betrokke raak nie.”

      “Ons hoef nie jou naam te gebruik nie. Ek kan net sê ’n ooggetuie.”

      “Almal sal weet dis ek wat met jou gepraat het.”

      “Waarvoor is jy bang?”

      “Ek is nie bang nie.”

      “Nou wat dan, Eric?” Sy naam lê gemaklik in haar mond, asof sy dit al oor en oor gesê, geskreeu, gefluister het.

      Hy draai weer na haar en sy oë is bewolk toe hy sê: “Dis gekompliseerd. Ek kan dit nie vir jou verduidelik nie.”

      “Probeer. Dalk kan ek aan ’n oplossing dink.”

      Sy mond vertrek in ’n bitter glimlag. Hy draai weer weg. Een van die blonde krulle val oor sy voorkop. “Nee, ek’s jammer, ek kan jou nie help nie.”

      “Maar Eric, ek –”

      “Ek wil nie betrokke raak nie. En jy behoort ook nie. Los dit nou.”

      Toe sy wegstap, staan hy nog daar, half gebukkend met sy arms oor die reling. Daar is ’n sorgeloosheid in sy lang, lenige lyf. Iets ligs. Asof hy kan opstyg. Maar ook ’n donkerte. ’n Swaar somberheid wat hom só aftrek dat selfs sy vlerke hom nie kan oplig nie.

      Haar engel kan homself nie red nie. Hoe moet hy háár red?

      Misdaad is seker net ’n gerug in Bahrein. By Manama se polisiestasie is dit so stil soos in ’n kerkgalery tweeuur op ’n Dinsdagmiddag. By iets soos ’n waghuisie buite by die ingang draai drie mans lui in die laatoggendson rond. Hulle het wit klede aan en rooi-en-wit geruite kopdoeke op, wat met dik swart bande op hul koppe gehou word.

      Die kopdoeke lyk nes vadoeke, dink Mia. Toe sy klein was, wou sy vreeslik graag lang hare hê. Sy het altyd vadoeke oor haar kop gegooi en dit met ’n pet vasgedruk, dan het haar ma haar Jasser Arafat genoem. Selfs in matriek het sy nog dié bynaam gehad.

      Nou verlang sy sommer huis toe. Sy’s nog nie eens ’n volle drie dae hier nie en dit voel klaar soos ’n ander tydsdimensie dat sy laas in Johannesburg was. Om nie eens te praat van Potchefstroom nie. Potchefstroom? Op watter planeet is dit? Daar waar mans broeke dra en vroue hul gesigte mag wys, maar nie hul harte nie?

      “Ek wil met iemand praat oor die bomontploffing,” sê sy vir een van die mans.

      Hy staar haar uitdrukkingloos aan. As sy haar ’n emosie op sy gesig kan verbeel, is dit afkeuring. Met uitpeuloë staar hy na haar kaal arms. Bahreinse mans is nie gewoond aan die ontblote vel van ’n vreemde vrou nie.

      Sy herhaal die sin met die nodige byklanke en handgebare. Hemel tog, hoeveel keer gaan sy nog die gordyntjies moet ooptrek om hierdie konsert op te voer? Op ’n manier kry hulle mekaar verstaan. Die man verduidelik sy moet met die kaptein praat.

      Dit verg ’n hele uitasem toer van die polisiestasie, trappe op en trappe af, om vas te stel die kaptein is met ete. Sy kan seker ’n uur of wat wag, besluit sy. Buitendien is ’n halfuur klaar om. Hy behoort dus seker enige tyd hier in te stap.

      Maar sy ken nog nie die Midde-Oosterse manier van doen nie. Met dié dat dit in die somer helwarm word, is dit praktyk om nie oor die warmste middagure te werk nie, selfs al is dit nog nie somer nie.

      Drie uur later wag sy nog steeds op die kaptein. Haar romp en bloes is deurweek en kleef aan haar lyf soos ’n tweede vel. Sy is seker sy gaan nou enige tyd begin hallusineer van hitte-uitputting, maar wag sal sy wag. Plan C moet minstens volbring word voordat daardie vuurpyl ook in vlamme opgaan.

      Uiteindelik daag die kaptein op, ’n nors man met ’n welige swart snor. Ook in ’n wit kleed en vadoek op die kop. Maar sit hom in ’n Suid-Afrikaanse polisie-uniform en hy kon net sowel ’n bombastiese Pretoriase speurder gewees het, dink Mia.

      “What you want?” blaf hy toe hulle in sy warm, stowwerige kantoor gaan sit.

      Sy wil hierdie wit sand in hulle almal se gesigte skop en skreeu totdat haar stem weg is. Sy wil vir Malan Retief in die turkoois water van die Marina-hawe verdrink. Sy wil in Eric se arms gaan opkrul en huil totdat haar trane in die blou wolke van sy oë verdamp. Sy wil ’n hele pak Woolies-kolwyntjies verorber. Dís wat sy wil hê, wil sy vir die kaptein skreeu. Maar natuurlik doen sy dit nie.

      Van ver, uit ’n ander sterrestelsel, hoor sy haar stem en die geoefende rympie: “Ek sal dit waardeer as u my in kontak kan plaas met van die oorlewendes of familie van die oorledenes van die bootramp, meneer.” Op haar mooiste Engels. Haar soetste stemtoon. Soos Oliver Twist wat vir die onmenslike man vra: “Please, sir, I want some more.”

      Hy grawe in sy laai tussen papiere rond.

      Snaaks hoe staatsgeboue oral in die wêreld dieselfde neerdrukkende vergeelde-papier-sukkelende-waaier-stowwerige-laai-gevoel het, dink Mia. Sy kon nou net sowel in die Potchefstroomse landdroshof gesit en staar het na grys kolle teen die muur waar ou, taai Prestik stukke pleister afgetrek het.

      Sy harige hand kom met ’n wit papier uit die laai te voorskyn, asof dit ’n drenkeling is wat hy met ’n noodhelikopter uit die see gaan oppik het. Die manier waarop hy daarna kyk, sê vir haar dis belangrik.

      “Hier is die lys met al die nommers.”

      Die vuurpyl styg op. Al die omstanders juig. Ruimtereis word ’n moontlikheid.

      Sy’s lus en pluk die vadoek af en soen hom op die voorkop. “Fantasties. O, ek is u innig dankbaar.”

      “Jy verstaan nie. Ek kan dit nie vir jou gee nie.”

      Die vuurpyl maak ’n U-draai grond toe.

      “Hoekom nie?” vra sy.

      “Dis in kode rooi gemerk. Dit beteken dis inligting wat net binne die polisie mag bly.”

      Hoe gou kan sy ’n polisielid word? wil sy vir hom vra. Wanneer kan sy die polisiekollege se eksamen aflê? Waar kan sy ’n mediumgrootte wit kleed en ’n rooi-en-wit vadoek kry?

      “Daar

Скачать книгу