Eksklusief uit Eden. Marida Fitzpatrick

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Eksklusief uit Eden - Marida Fitzpatrick страница 8

Eksklusief uit Eden - Marida Fitzpatrick

Скачать книгу

skep dit die gevoel van heerlike, uitlokkende uitheemsheid. Alles om haar is skitterblink. Van die vloere en die lang marmertoonbank tot die mure en selfs die hotelpersoneel. Goud, vuilpienk en swart vorm verskillende patrone in graniet, marmer, hout en ander natblink teksture.

      Teen een muur hang ’n manjifieke Persiese mat. Dis die grootste mat wat sy nog ooit gesien het. Sy laat gly haar hand oor die sysagtheid daarvan. Dis so fyn soos die draad van sywurms geweef, in die rykste kleure en patrone.

      Die meisies wat in die hotel werk, lyk of hulle hoofsaaklik van Asiatiese afkoms is. Seker van Suid-Oos-Asië. Hulle is almal pragtig en fyn met plankdun lyfies, soel velle en uniforms van ryk materiale. Op hul koppe dra hulle klein, ronde hoedjies waaraan daar aan die een kant ’n stuk chiffon vasgemaak is wat in ’n los, vloeiende lus met die baadjies van hul uniforms verbind is.

      Pienk matte met helderkleurige patrone suig Mia se voete in die hysbak in. Sy sug toe sy haar weerkaatsing in die spieël sien: sy lyk iets verskrikliks. Die hysbak beweeg glad, vinnig en geruisloos tot op die tiende vloer. Toe sy uitklim en haar kamernommer begin soek, ruik sy dadelik weer daardie heerlike, skoon hotelreuk. Dit ruik soos belofte. Soos vakansie en oorvloed. Soos rus en vrede.

      Maar toe sy in haar groot, luukse kamer die deur agter haar toetrek, verdwyn haar grootoog-verwondering van al die prag en praal en neem moedeloosheid besit van haar. Sy kry niks uitgerig nie. Nuusweek bestee derduisende rande om haar hier te kry en sy misluk in haar taak.

      Sy los haar bagasie net daar waar die portier dit geparkeer het en gooi haar op die enorme wit bed neer. Die bed is breër as wat haar bed by die huis lank is. Sy lê oor die breedte, maar haar voete hang nie oor die kant nie. Die hotelvars lakens voel salig koel teen haar vel. Sy gryp een van die kussings en druk haar kop daarin. ’n Kloppende hoofpyn het intussen aan haar slape begin hamer.

      Die kussing beloof ’n nag van wonderlike slaap, maar sy kan nie nou slaap nie. Sy verdien nie om te slaap nie. Nie voor sy iets reggekry het nie. Dis omdat dit 3 Mei is dat die ellende haar so aankleef! Sy moes geweet het haar missie sal soos ’n mislukte vuurpyl in die grond vasduik. Nou het drie sy finale tol geëis: haar laaste kans op loopbaansukses.

      Die veragtelike Malan Retief het natuurlik ook ’n aandeel gehad. Sy sal nie verbaas wees as hy op 3 Maart 1983 gebore is nie. Nee wag, hy is nie jonk genoeg vir 1983 nie. Nogtans, net soos die getal drie is die rede vir sy bestaan blykbaar om hare hel te maak.

      Sy weet sommer hy het daardie blinkstefaans Patrick Beling in sy sak gehad nog voordat hy in Bahrein aangekom het. Die afstootlike Amerikaner het natuurlik vir sy slimpraatjies geval en allerhande eksklusiewe onthullings aan hom belowe. Sy moet maar solank vir Mondi laat weet om nog ’n goue beeldjie vir Malan Retief te begin poets.

      Ag tog, Patrick Beling was haar enigste hoop. Noudat hy haar nie wil help nie, weet sy nie waar om te begin om ’n storie te kry nie. Al die Suid-Afrikaners wat op daardie boot was, het iets met McMillans te doen gehad. Daar’s geen manier dat sy sonder hul samewerking met enige van die oorlewendes of familie van die oorledenes kontak kan maak nie. En dis die enigste invalshoek waarin Grethe belangstel.

      Dalk moet sy weer na meneer Beling se hotel gaan en hom opnuut probeer ompraat om haar te help. Dalk moet sy Malan bevriend en sy simpatie wen. Nee, nou skraap sy dieper as die bodem. Skrap die laaste opsie.

      Daar móét ’n ander uitweg wees. Sy sal môre na die polisiestasie toe gaan. Dalk kan die polisie vir haar name en nommers van oorlewendes gee. Dit help nie sy breek nou haar kop daaroor nie, dis al sesuur. Sy sal vroeg gaan slaap. En môre sal sy nuwe moed hê.

      Die turkoois water van die Persiese Golf klots rustig teen die rompe van die tientalle bote wat vasgemeer in die hawe lê. Dit ruik na sout en see. Mia stap al langs die dobberende bote na die Marina-hawe. Die plan om die hawe haar volgende bestemming te maak, het haar vanoggend in die bad te binne geskiet.

      Dit was maklik om uit te vind waar die hawe is waarvandaan die veerboot vertrek het. Toe neem sy ’n taxi en hier stap sy nou in die hawe van Manama, Bahrein se hoofstad. Dis weer ’n swoel dag en die son glinster op die water. Sulke helder turkoois water het sy nog nooit gesien nie. Sy voel sommer soos ’n nuwe mens. Die blote feit dat dit 4 Mei is, gee haar hoop.

      “Ek wil graag met iemand praat oor die bomontploffing op die boot,” sê sy vir die ontvangsdame, wat onbelangstellend na haar kyk en dan verveeld iemand op Arabies roep. Sy verstaan blykbaar nie Engels nie.

      ’n Man kom te voorskyn wat min of meer elke derde woord verstaan wat Mia sê. Sy verduidelik deur haar hande in die lug te gooi en ontploffingsgeluide soos boem! te maak. Hy verstaan blykbaar, want dis asof ’n gordyn voor sy gesig lig. Hy skarrel weg.

      Vader van genade, as sy elke keer haar versoeke in gebaretaal moet verduidelik, gaan sy nooit regkom nie. Hoe verduidelik sy sy soek Suid-Afrikaanse oorlewendes en familie van die oorledenes?

      Sy plof op ’n stoel in die ingangsportaal neer. Met haar kop in haar hande probeer sy aan ’n Plan C dink. Plan A was meneer Beling – Malan het daai ballonnetjie laat bars. Die Marina-hawe is Plan B, en dit gaan duidelik ook nie werk nie.

      “Can I help you?” vra ’n stem digby haar met ’n Britse aksent. Naas die geluid van ’n pak Woolies-kolwyntjies waarvan sy die verpakking afskeur, is dit die mooiste ding wat sy al ooit gehoor het. Hulp in ’n taal wat sy kan verstaan.

      Toe sy haar kop oplig, sien sy vir engel Gabriël. Dit lyk of sy hele gestalte in Clinique Light Reflecting Serum gedompel is – dis asof hy skyn. Sy sonblonde hare val in los, sagte krulle om sy skraal gesig. Waar sy oë moet wees, is twee blou damme van verlange.

      “I’m Eric Peterson.” Engel Gabriël steek sy hand na haar toe uit.

      Sy neem dit soos Nagmaal. “I’m Mia,” hoor sy haarself sê. Sy handdruk is ferm maar teer. Dis omdat hy vlerke het, dink sy.

      “Kan ek jou help?” vra hy weer op die mooiste Engels. Sy ís in die Tuin van Eden, en hier is die volmaakte Adam uit wie se ribbebeen sy geskape is.

      Deur die genade kom sy tot verhaal en staan op. Sonder die byklanke en dramatiese gebare van vroeër verduidelik sy dat sy ’n joernalis van Suid-Afrika is wat oor die bomontploffing kom berig het.

      “Kom ons gaan gesels buite. Dis so ’n mooi dag,” sê hy. Fyn spreek hy sy woorde uit, asof dit kosbare draad is wat kan breek as hy dit te rof behandel.

      Toe hulle uitstap, staan hy terug om haar eerste by die deur te laat uitgaan. Sy hand rus vlugtig in die holte van haar rug. Dis so vinnig en so lig dat dit in ’n ander tyd, op ’n ander plek, ongemerk verby sou gaan. Maar vanoggend, hier by die Marina-hawe, laat sak dit iets deur Mia se lyf.

      Toe sy na hom draai en sien hoe sy blik haar opsom, is sy bitter spyt oor wat sy vanoggend aangetrek het. Sy het net ’n wye, kuitlengte romp en top uit haar tas gepluk en is sonder ’n greintjie grimering by haar kamer uit. Ook haar hare het sy net so laat droog word.

      Hulle gaan staan teenaan ’n reling met die water klotsend by hul voete, die bote dobberend voor hulle. Dit ruik en klink soos Sondae toe sy ’n kind was en hulle met die motorboot uitgegaan het dam toe om te gaan ski.

      Hy vou sy arms oor die reling en draai sy kop skeef sodat hy na haar kan kyk. “Hoekom wil jy oor die bomontploffing skryf? Dis so negatief. Hier is tog talle pragtige artikels in Bahrein wat wag om geskryf te word.”

      “Ongelukkig kan ek nie my opdragte kies nie.”

      “ ’n Mens het altyd ’n keuse,” sê hy en kyk haar indringend

Скачать книгу