Hart vir 'n heler. Hetta Kotze

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hart vir 'n heler - Hetta Kotze страница 4

Hart vir 'n heler - Hetta Kotze

Скачать книгу

stap verby ’n pandjieswinkel wat ook tweedehandse meubels verkoop en steek vas. Daar staan ’n bedkassie by die deur wat identies is aan die een wat hy en Irma nog saam gekoop het. Hy was ’n platsakstudent en te trots om by professor De Jonghe geld te leen om nuwe meubels vir sy eenmanwoonstelletjie te koop.

      Hy hurk by die bruin kassie en laat gly sy hand liefkosend daaroor. Die laai kom maklik oop toe hy daaraan trek en die binnekant is skoon en nog stewig.

      “Kan ek help?”

      ’n Koel stem bring hom terug na die hede. Hy kyk verbaas op – dis die meisie wat hy by die kafee gesien het.

      “Werk jy hiér?” vra hy ietwat van stryk gebring en kom regop.

      Sy trek haar skouers op. “Jy kan so sê. Daardie kassie trek nogal baie aandag, so as jy dit wil hê, moet ons dit merk. Jy kan dit afbetaal as jy wil.”

      Hy kyk na die pryskaartjie en knik. “Julle prys is redelik. Kan ek daaroor dink?”

      “Nes jy wil.” Sy glimlag hoflik en beweeg weg.

      Brink wil homself skop dat hy so ongeërg teenoor haar opgetree het by Jorgie se kafee. Noudat hy haar van naderby sien, wil hy meteens, en teen sy sin, meer oor haar weet. Maar haar houding moedig nie juis gesprek aan nie.

      “Ek soek nog ’n paar stoele en tafeltjies vir my spreekkamer,” roep hy haar terug. “Dis in die straat hier agter, langs die kliniek. Miskien kan jy my laat weet wanneer julle iets inkry?”

      Sy stap weer nader en Brink bespeur ’n tikkie sinisme in haar blik. Hy frons.

      “Gee vir ons ’n lys van jou benodighede,” sê sy met ’n professionele stem. “As jy haastig is, kan ek gaan soek wat jy nodig het, maar dit sal die prys opjaag.”

      Hy verander van taktiek en laat sy blik waarderend oor haar gly. “Lekker om iemand teë te kom wat so hulpvaardig is,” sê hy vriendelik.

      Die meisie reageer nie op sy kompliment nie en kyk hom waterpas aan met diepblou oë. Haar skouerlengte hare is blond, ligter as heuning, dink hy. Hy wonder of dit sag teen sy vingers sal wees.

      “Dit klink of julle goeie besigheid doen?” probeer hy die gesprek aan die lewe hou.

      “Ons kla nie. Verskoon my, asseblief, my foon lui. Goeiedag.”

      Hy blaas geamuseerd die aftog. Sy is glad nie beïndruk met hom nie, dis duidelik. Hy wonder waarom sy haar in dié winkeltjie tussen ou meubels begrawe. Haar taalgebruik is die taal van die voorstede en haar klere is skoon, maar nie van die duurste nie. Om die waarheid te sê, daardie stywe denim wat sy aanhet, lyk al ietwat gehawend. Tog is haar gesig en hare netjies versorg.

      Brink diep die droplekkers uit sy sak. Hy sal weer ’n draai by die winkel kom maak, besluit hy, en intussen sal hy vir Jorgie bietjie pols as hy by die kafee kom. In die middestad het elkeen sy storie.

      Dis nie eintlik sy besigheid nie, dink hy, maar iets aan haar trek hom aan. Miskien die spot in haar oë, asof sy aan sy motiewe twyfel. Hy gaan beslis meer uitvind oor hierdie meisie met die verslete denim, wie se ma glo skougehalte gemmerkonfyt maak.

      2

      Pierre Bosman draai weg van sy swembadlapa se kroeg en hou Liana se martini met limonade na haar uit. “Soos jy daarvan hou,” glimlag hy en leun vorentoe om die glas op die tafeltjie langs haar stoel neer te sit, “met ys en ’n stukkie suurlemoen in.”

      Hy kom nie weer regop nie, maar soen haar langsaam en gaan sit dan langs haar. “Ek het jou gemis. Jy antwoord nooit jou selfoon as jy daar in die middestad rondloop nie. Beter ook, netnou gryp iemand dit by jou.”

      Liana versluier haar oë en wonder hoekom sy liefkosing nie vanaand die gewone opwinding in haar wakker maak nie.

      “Dis darem nie só erg nie, Pierre,” maak sy kapsie. “Ek dra in elk geval altyd iets bo-oor as ek my foon aan my gordel knip, so dis heel veilig daar. My selfoonbattery het die gees gegee, ek moes ’n nuwe een koop. Jammer vir die ongerief.”

      Sy lig haar glas en proe aan die drankie. “Hm, dis heerlik, dankie.”

      Hy knik en frons. “Dis nie die ongerief wat my pla nie, Liana.” Hy bestudeer haar en skud dan sy kop. “Kyk net na jou vanaand … jy lyk pragtig. Goed versorg en gesofistikeerd, soos die loopbaangerigte vrou wat jy is. Jy is my droomvrou, en ek sal nooit skaam wees om jou en jou mense as my familie voor te stel nie … Ek kan net nie jou beheptheid met die middestad en sy armsaliges begryp nie! Wat hou jou daar?”

      “Eintlik is jy ’n snob, dokter Pierre Bosman,” beskuldig sy en tik hom speels op die bors. “Miskien is my prioriteite as ervare verpleegkundige net ’n bietjie anders as dié van die droomverlore skooldogter met wie jy destyds gekys geraak het.”

      Sy mond trek in ’n grimas en hy lig haar hand na sy lippe. “Dit kan jy weer sê! Dis veral vandat jy in die gemeenskapskliniek begin uithelp het dat jy so van koers af geraak het. As ons eers getroud is, sal jy nie meer tyd vir sulke lawwighede hê nie.” Hy beduie na die luuksgemeubileerde huis en die asemrowende tuin. “Hierdie plek het ’n vrou se voltydse aandag nodig.”

      Liana lag. “Het dit? Met ’n huishoudster en inwonende tuinier betwyfel ek dit sterk.”

      Hy trek haar in sy arms in. “Jy weet wat ek bedoel.”

      Sy keer hom met haar hand teen sy bors toe hy haar weer wil soen. “Pierre …” Sy kyk pleitend op na hom. “Probeer asseblief verstaan … Miskien het dit begin toe ek as selfversekerde stadsmens vir die eerste keer raakgesien het hoe mense in die skemer tussen die geboue, en in die lang gras langs besige paaie, ’n bestaan probeer maak. Hulle bly in gate en bou skuilings van karton. Toe ek besef het daar ís mense wat geen ander heenkome het nie. Hoe veroordeel jy ’n kind omdat hy die straatlewe bo erge mishandeling tuis verkies?”

      Hy skud sy kop. “Jy romantiseer hulle.”

      Haar selfoon begin lui en Pierre verstewig sy greep. “Los dit,” prewel hy by haar oor, “vanaand is ons s’n.”

      Sy druk hom verskonend weg. “Laat ek net kyk wie dit is.”

      Sy haal die foon uit haar sak. “Dis Kemkliniek se noodgevalle,” sê sy dan. “Hulle sal my nie pla as dit nie dringend is nie, die gemeenskapskliniek is nie vanaand oop nie.”

      Pierre kom regop toe sy die oproep beantwoord en draai weg swembad toe.

      “Ek is jammer,” maak Liana verskoning toe sy klaar gepraat het. “Daar was ’n bakleiery in die dorp. Johnnie is met ’n mes gesteek en hy vra na my.” Sy druk die selfoon terug in haar sak. “Ek moet gaan help, Pierre.” Sy kyk smekend na hom. “Suster Roux sê hy sal moet steke kry en ek wil saamgaan hospitaal toe. Jy weet hoe dit by die staatshospitale gaan.”

      Hy swaai met ’n donderweergesig terug. “Wat sal jý daaraan kan doen?”

      Ergerlikheid bou in Liana op. Sy trek haar motorsleutels uit haar handsak. “Ek kan seker maak hy kry goeie sorg,” sê sy gelykmatig, “jy weet hoe besig hulle is. As dit nodig is, moet ek maar ’n privaatdokter inkry. Wil jy nie saamkom nie?”

      Hy lag kortaf. “Nee, dankie.” Hy skud sy kop weer en

Скачать книгу