Hart vir 'n heler. Hetta Kotze

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hart vir 'n heler - Hetta Kotze страница 7

Hart vir 'n heler - Hetta Kotze

Скачать книгу

ongeduldig. “My diensbeurte is vrywillig; hulle kan my nie verplig nie.”

      “Ek dink jy’s laf,” sê Ellen toe sy gaan sit en haar bene kruis sodat die romp se spleet haar mooi knieë vertoon. “Jy kan soveel meer geld maak as jy jou op sjirurgie toelê, en jy kan steeds hier werk as jy graag wil. Daai middestadspreekkamer van jou beduiwel alles.”

      Behalwe dat voltydse sjirurgie my te veel aan my lewe saam met Irma sal herinner, kon Brink geantwoord het, en hierdie praktyk sit die konfyt by my brood en botter. Maar hy swyg eerder en drink sy koffie.

      “Hoe het dit met die straatkind afgeloop?” verander Beer die onderwerp.

      “Lelike meswonde,” sê Brink, “hy loop met ’n hele paar steke rond.”

      Hy leun vorentoe en plaas sy leë beker terug op die skinkbord. Beer se spreekkamer is gesellig en die stoel gemaklik. Sonlig val agter hom deur die venster en maak ’n warm kolletjie op sy rug. Hy wonder hoe Johnnie se rug vandag voel.

      “Interessante vroumens ontmoet gisteraand.” Hy kyk na Beer. “Ek het haar al in die middestad by ’n kafee gesien en toe by ’n tweedehandsemeubelwinkel. Sy het om die straatkind gekloek soos ’n moeder hen. My in die spreekkamer ook gehelp toe ek steke ingesit het, en die kinders daarna na haar woonstel geneem. Ene Liana Louw.”

      “Seker suster Louw.” Ellen trek ’n gesig. “Bietjie snaakserig, as jy my vra. Sy is in beheer van die sjirurgiese saal by Kemkliniek. Gawie hier by die apteek ken haar goed, hulle het saam gestudeer. Haar pa is een van dié sakemanne in die stad, en ek het nou die dag aan haar ma se tafel by die Vroue-Landbou-unie se funksie gesit. Hulle is gesiene mense en ons almal wonder wat sy daar in die middestad soek.”

      “Manus en Anri Louw,” knik Beer. “Ordentlike ou, speel ’n goeie pot gholf ook.”

      Brink staar na hulle. “Vir wat bly sy dan daar?”

      “Goeie vraag. Sommige mense het maar daardie streep weg, lyk dit my.” Beer vee sy glimlag met sy hand af. “Sy het tot ’n winkel en ’n woonstel daar gekoop, vertel Manus my. Vreemd, nè? Kom,” hy trek ’n vel papier nader, “ons moet begin, die pasiënte is netnou hier.”

      Toe Brink die middag na die gemeenskapskliniek toe ry, word hy by ’n padblokkade voorgekeer. Geen motor word ontsien nie en sy kattebak word deursoek. Daar word tot onder sy enjin gelig en gekyk.

      “Ry maar,” beduie die polisieman dan en staan terug. Brink kyk verwonderd na die samedromming van mense in klein groepies in die strate toe hy verder ry. Hy sien Jorgie buite voor sy kafee staan en draai op die ingewing van die oomblik by die sentrum in om sy voorraad droplekkers aan te vul.

      “Wat gaan in die middestad aan?” vra hy toe hy uitklim.

      Jorgie glimlag breed. “Die polisie het so elfuur vanoggend hier toegeslaan, dok, en ’n hele spul van die belhamels geboei weggevat. Daar is ook ’n klomp sakke goed gekonfiskeer. ’n Straatkind is gisteraand in ’n dwelmvoorval beseer, hoor ek.”

      “Ek sien.”

      Brink betaal vir sy lekkers en stap ingedagte terug motor toe. Lyk of suster Liana Louw toe haar appeltjie met ene Luiz geskil het. Hy draai weer terug na Jorgie, wat hom staan en dophou.

      “Waar bly suster Louw?” vra hy. “Ek het gisteraand vir die straatkind steke ingesit en wil gaan hoor hoe hy vorder.”

      Jorgie skud sy kop. “Jy moet haar maar self vra, dok, sy kan vir jou die adres gee as sy wil. Vandag sal jy haar in elk geval nie daar kry nie, sy het vroegoggend vir Johnnie en Mandla kom eetgoed koop toe hulle gery het.”

      “Dankie.”

      Brink voel ’n gek toe hy sy motor aanskakel. Hy het hom deeglik misgis met die vroumens. ’n Hoëklasprostituut!

      Hy lag hardop toe hy spreekkamer toe ry. Suster Liana Louw het lekker vir hom in haar mou gelag, maar twee kan hierdie speletjie speel. Hy begin fluit.

      In Modimolle op haar kleinhoewe steek Liana die vars verband netjies met ’n speldjie vas en skuif die kussings agter Johnnie se kop gemaklik. “Beter?” vra sy.

      Hy knik. “Siyabonga. Waar is Mandla?”

      “Toe ek hom laas gesien het, was hy besig om die donkie te probeer ry.” Liana maak haar goed bymekaar.

      Johnnie glimlag effens en sluit sy oë moeg. Dan sê hy: “There is a dam … Mandla cannot swim.”

      “Don’t worry. Jonas will watch him.”

      Liana neem die bakkie met ontsmettingsmiddel en vuil verband badkamer toe. Sy kom sit op ’n stoel langs die bed toe sy terugkom. “Jonas was een van die middestad se boemies,” gesels sy. “Toe ek hom uiteindelik van die brandspiritus gespeen kry, word hy so ’n betroubare werker dat ek hom permanent hier aangestel het. Hy pas die plek vir my op as ek nie hier is nie.”

      Johnnie knik sy kop, maar maak nie sy oë oop nie.

      Liana raak aan die maer bruin hand. “Waarheen gaan ons van hier af, Johnnie? Jy moet in ’n skool kom, Mandla ook. Wil julle nie maar terugggaan na die skuiling vir straatkinders nie?”

      Johnnie se oë vlieg oop en sy kan die waaksaamheid saam met die moegheid sien. “Nie as Moona nog daar huisvader is nie. Hy het Mandla afgeknou, en van die kos gesteel.”

      Liana knik. “Ek verstaan. As ek uitvind … en dis beter, sal jy teruggaan? Ek sal ’n oog oor julle hou.”

      “Jy’s al een wat nog ooit met ons gebodder het.” Die lomerigheid slaan in sy stem deur.

      “En hoekom? Julle is ’n erge lot barbare as julle die kans kry!” protesteer Liana. “Dis net omdat ek so hardekwas is dat ek aangehou het om vriende te probeer maak.”

      Vir ’n oomblik glimlag hy, sy tande wit teen sy donker vel. “Is so. Luiz sal my in die skuiling kom soek.”

      “Luiz sit in die tronk.” Liana staan op en glimlag tevrede. “Jorgie het my laat weet. Die polisie het vanoggend in die middestad toegeslaan. Hy’s met ’n klomp dwelms betrap, hy gaan lank sit.”

      Johnnie grinnik. “Jy het dit reggekry.”

      “Word jy net gesond.” Liana stap deur toe. “Ek ry môreoggend vroeg weer terug, ek werk oggendskof by die gemeenskapskliniek. Ek sal volgende naweek weer kom.”

      Sy ruim die badkamer op en gaan maak vir haar koffie, wat sy op die groot, koel voorstoep uitdra. Die erf is netjies omhein en Jonas se woonstelletjie vorm deel van die erf. Die twee boerboele lê onder ’n doringboom en slaap en by die dam raas die eende. Sy sal vir Jonas moet sê dat Mandla nie kan swem nie, dink Liana. Hy sal die hek na die dam gesluit moet hou terwyl die kinders hier kuier.

      Haar blik dwaal tevrede oor die toneel voor haar. Hierdie kleinhoewe was van haar kinderjare af haar toevlugsoord. Die spesiale plek waarheen sy en Oupa en Ouma gekom het. En Oupa het dit aan haar nagelaat, soos hy belowe het.

      Liana vryf oor die rand van haar beker en glimlag effens. Sy twyfel of hy met Johnnie en Mandla se besoek genoeë sou neem. Sy en oupa Abel het dikwels gestry oor politiek, hulle was albei ewe hardkoppig.

      Miskien is dit waarom Brink

Скачать книгу