Susanna M Lingua-keur 10. Susanna M. Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Susanna M Lingua-keur 10 - Susanna M. Lingua страница 21

Susanna M Lingua-keur 10 - Susanna M. Lingua

Скачать книгу

dit is in verband met die egskeiding wat Dewalt so graag wil hê.”

      “Nou goed, as jy haar dan nou móét spreek,” kom dit van die ouer vrou. “Maar onthou, ek sal binne hoorafstand wees. As sy hiernatoe gekom het om jou leed aan te doen …”

      “Dankie, dit is lief van jou om so besorg oor my te wees,” laat Natasha dankbaar hoor terwyl sy traag haar breiwerk neersit.

      “Jy kan maar vir my tannie Rina sê as jy wil,” stel die ouer vrou vriendelik voor.

      “Dis waar, na al jou hulp, raad en besorgdheid hoef ons seker nie meer so formeel te wees nie, tannie Rina,” stem Natasha saam. “Jy kan my gerus ook maar op my naam noem.”

      Daar is ’n smalende, meerderwaardige glimlaggie om Esna se rooi mond toe sy Natasha groet.

      Natasha bly half in die middel van die vertrek staan terwyl sy kil en uit die hoogte na Esna kyk. Toe vra sy met opgetrekte wenkbroue, sonder om Esna se groet te beantwoord: “Ek weet nie waaraan ek hierdie besoek van jou te danke het nie, juffrou Le Clus, maar wat my betref, het ons niks vir mekaar te sê nie – altans, ek het niks vir jou te sê nie –”

      “Jy mag miskien niks vir my te sê hê nie, mevrou De Meyer,” val sy Natasha vinnig in die rede, “maar ek het baie vir jóú te sê.”

      “Jammer om jou teleur te stel, maar ek stel hoegenaamd nie belang in wat jy te sê het nie,” sê Natasha koelweg. Maar Esna is vasbeslote om die doel van haar besoek te verduidelik.

      “Dit sal jou niks baat om daardie hooghartige houding aan te neem nie. Ek gaan met jou praat,” hou Esna vol. “Ek gaan môre vir twee dae saam met Dewalt Johannesburg toe. En hy het my genooi om die naweek vir hom hier in sy huis te kom kuier. So, jy gaan nie ver kom met jou hardkoppigheid nie. As jy volstrek weier om van Dewalt te skei –”

      “Verskoon my, maar ek is nie bereid om ons huwelik met jou te bespreek nie, juffrou Le Clus,” val Natasha haar trots en bedaard in die rede. “Ek sal dit waardeer as jy liewer nou wil gaan. Ek stel hoegenaamd nie in jou bewegings belang nie.”

      “Jou trotse hooghartigheid sal Dewalt nie na jou toe laat terugkom nie,” lag Esna spottend terwyl sy met die grasie van ’n jagluiperd orent kom. “Ook die feit dat jy weier om van hom te skei, maak geen verskil aan my nie. Jy sal wel sy van deel, maar dit sal ook al wees. Sy liefde en sy rykdom behoort aan my …”

      “Jy moet my asseblief nou verskoon. Ek weier om langer na so ’n onsmaaklike gesprek te luister. Mevrou Hugo sal jou na die voordeur toe neem.”

      Dan draai Natasha om en verlaat die sitkamer. Sy wag ook nie om te sien wat tussen Esna en mevrou Hugo gebeur nie. Wat haar betref, kan die huishoudster die vermetele vroumens met plesier by die voordeur uitsmyt.

      Toe Natasha na ’n rukkie weer buite in die son sit, kom sy die eerste keer agter dat haar hande liggies van verontwaardiging bewe. Sy kan nie begryp hoe dit moontlik is dat Dewalt verlief kan wees op so ’n onsmaaklike skepsel wat geen trots of selfrespek besit nie.

      “Ek het vir jou iets te drink gebring om jou senuwees ’n bietjie reg te ruk, my kind,” sê mevrou Hugo onverwags agter haar. “Ek kan sien dat die ellendige vroumens jou geweldig ontstel het. Jy lyk so bleek.”

      “Dankie, tannie Rina,” glimlag Natasha hartseer toe sy die glasie neem. “Sulke vermetele mense slaag gewoonlik daarin om ’n mens te ontstel. Ek hoop sy was nie teenoor jou ook so beledigend nie.”

      “Nee, sy was nie,” stel die ouer vrou haar dadelik gerus. “Esna weet jy is te fyn opgevoed om haar aan die nek te vat en by die deur uit te smyt. Daarom was sy so beledigend teenoor jou. En dan hoop sy natuurlik ook dat jy so kwaad sal word dat jy dadelik om ’n egskeiding aansoek sal doen.”

      “Wel, ek weet nie wat ek sal doen as hy haar elke naweek hier na die huis toe bring nie,” praat Natasha ietwat afgetrokke terwyl sy aan die ouer vrou beduie om langs haar op die tuinbankie te kom sit. “Sulke tirades en onsmaaklikhede elke naweek sal die lewe vir ’n mens onmoontlik en ondraaglik in die huis maak.”

      “Dit is presies wat hulle beoog, kindjie. Maar ek gaan ’n stok in hul wiel steek,” sê mevrou Hugo ernstig en gaan sit met ’n diep sug op die bankie. “Ek sal nie toelaat dat daardie flerrie hier in jou huis kom pronk asof dit haar huis is nie. Ek gaan nie toelaat dat sy jou op so ’n gemene manier verkleineer nie.”

      “Wat gaan jy doen, tannie Rina?” vra Natasha met ’n sweem van ’n glimlaggie. Wat sal sy tog aanvang sonder hierdie moederlike vrou wat so ’n getroue vriendin en kampvegter vir haar is!

      “Ek weet nog glad nie, my kindjie, maar ek belowe jou dat dit die gewenste uitwerking sal hê,” sê mevrou Hugo verontskuldigend terwyl sy haar kop skud.

      “Jy maak my nou regtig nuuskierig, tannie Rina,” sê Natasha en plaas haar een hand liefdevol op die ouer vrou s’n.

      Mevrou Hugo sit nog ’n paar minute lank by Natasha en gesels voordat sy weer terugkeer na die werkies waarmee sy in die huis besig was.

      Later die middag kom sê mevrou Hugo vir Natasha dat Dewalt haar in sy studeerkamer wil spreek. Die swartkop neem haar breiwerk en stap na die studeerkamer toe. Sy het geen benul waarom hy met haar wil praat nie. Wat haar betref, is daar niks meer wat hulle aan mekaar kan sê nie.

      Dewalt staan voor die venster met sy rug na die deur toe Natasha die vertrek binnekom. Eers toe sy die deur op knip stoot, draai hy om en nooi haar om te sit.

      Daar is duidelik ’n moeë trek op sy aantreklike gesig toe hy aan die ander kant van die lessenaar gaan sit. Natasha se hart gaan uit na hom, maar sy weet ook dat sy niks tot sy geluk kan bydra solank hy agter Esna aanhardloop nie.

      “Ek het vanoggend voorsorg vir jou toekoms getref, want ek weet nie waar ek oor ’n maand of oor ’n jaar sal wees nie,” sê Dewalt. Hy hou ’n inlegstrokie van die bank na haar uit en vervolg saaklik: “Ek het hierdie bedrag in jou rekening betaal. Dit behoort jou in staat te stel om gerieflik te lewe.”

      Natasha kyk na die bedrag wat uit ses syfers bestaan en wonder of sy nie maar liewer die geld moet weier nie. Met Esna as minnares sal sy bankrekening nie baie lank gesond bly nie.

      “Ek dink jy moet hierdie geld liewer hou, Dewalt,” sê sy bedaard. “Ek het ’n gevoel dat jy dit een van die dae nodig gaan kry –”

      “Toemaar, ek weet wat jy bedoel,” val hy haar gesteurd in die rede. “Ek sal jou aanraai om jou sarkasme vir jouself te hou. Ek het glad nie lus om weer daarna te luister nie. Die geld wat ek in jou rekening betaal het, is om die veilige en kommerlose toekoms wat ek jou voor ons huwelik belowe het, te waarborg.” Hy kom regop, kyk haar deurdringend aan en vra met ’n moeë stem: “Is jy nog van plan om nie van my te skei nie, of het jy darem al intussen van besluit verander?”

      Natasha staan van die stoel af op. “Ek sal daardie geld veilig belê en net die rente gebruik. Die kapitaal sal onaangeraak bly totdat die dag aanbreek dat jy dit nodig kry,” sê sy bedaard sonder om sy vraag te beantwoord.

      Dewalt trek sy oë op skrefies en vra afgemete: “Presies waarom het jy met my getrou, Natasha – as dit dan nie vir my geld was nie?”

      Natasha swyg lank en Dewalt dink dat sy hom nie gaan antwoord nie. Toe sê sy eindelik: “Om dieselfde rede waarom jy met Esna wil trou, Dewalt.”

      Dewalt verbleek merkbaar.

Скачать книгу