Susanna M Lingua-keur 10. Susanna M. Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Susanna M Lingua-keur 10 - Susanna M. Lingua страница 17

Susanna M Lingua-keur 10 - Susanna M. Lingua

Скачать книгу

in die rede. Die verwyt in haar oë laat hom pynlik skuldig voel.

      Natasha is egter nog glad nie gereed om huis toe te gaan nie. Daar is te veel dinge waarmee sy haar eers sal moet vereenselwig voordat sy huiswaarts kan keer. Daarom sê sy sag, met ’n vreemde verlatenheid in haar stem: “Ek is bevrees dis nie net ’n kwessie van huis toe gaan nie, Dewalt. So eenvoudig is dinge darem nie.”

      Dan draai sy stil om en verlaat die koffiekroeg. Dewalt kyk haar vererg agterna en kan nie dadelik besluit wat om te doen nie.

      “Was dit jou vrou, my skat?” vra Esna langs hom.

      Hy knik en gaan dan weer langs haar sit. “Ja, dit was my vrou. Die duiwel het haar natuurlik hiernatoe gestuur.”

      “Wel, ek is bly dat sy ons saam gesien het,” sê Esna ingenome. Sy haak haar arm deur Dewalt s’n, leun weer lieftallig teen sy skouer aan en vervolg dan met genoegdoening: “Jy kan nie stry nie, my skat. Noudat sy van ons weet, behoort dit vir jou makliker te wees om van haar ontslae te raak. Maar wie weet, dalk doen sy nog self aan die hand dat julle moet skei. Dan kan ons sommer dadelik trou.”

      Hy kyk na Esna se pragtige, opgewonde gesig teen syne. Dis waar, flits dit deur sy gedagtes, ek sal haar graag as vrou wil hê. Maar soos Natasha pas gesê het: dinge is darem nie so eenvoudig nie. Daar is ook meer op die spel as wat dit vir Esna mag lyk … Ja-nee, dit is nie sommer net vir skei nie. Ek het geen grond om van Natasha te skei nie. Sy is die een wat van my sal moet skei …

      “Waaraan dink jy so ernstig, Dewalt?” wil Esna doodonskuldig weet. Sy soen hom saggies in die nek en besef dat dit nie ’n maklike taak gaan wees om Dewalt van sy vrou af te rokkel nie. Maar die gedagte aan al sy geld en wat sy alles daarmee kan doen, spoor haar aan om nie moed op te gee nie. Sy sal veg vir wat sy wil hê.

      “Ek dink sommer aan wat Natasha nou net gesê het. Dinge is beslis nie so eenvoudig soos wat dit vir jou lyk nie, my lief,” sê hy ietwat afgetrokke, en drink sy koppie leeg. “Ek dink ek en jy moet mekaar liewer nie weer sien nie –”

      “Ek weier om na só ’n voorstel te luister,” val sy hom vinnig in die rede. “Noudat ons mekaar weer gevind het, is jou voorstel ongehoord. Ek wil jou elke aand sien, Dewalt. As dit miskien vir jou soms onmoontlik is om my te besoek, sal ek na jou toe kom.”

      Dewalt sug. ’n Man kan soms groot probleme hê. Hy het Esna so hartstogtelik lief en hy sal haar graag elke dag wil sien, maar wat dan van Natasha? Hy kan onmoontlik ’n ernstige verhouding met Esna aanknoop terwyl hy nog met Natasha getroud is! Hy sal baie beslis tussen Esna en Natasha moet kies, en baie gou ook, besluit hy.

      “Ek wil nie hier met jou stry nie, Esna. Laat ons liewer na ’n plek gaan waar dit meer privaat is,” stel Dewalt voor.

      “Ons kan na my hotelkamer toe gaan. Maar ek waarsku jou: jy gaan my nie oorhaal om van jou af te sien nie,” sê sy ernstig. “Dit is buitendien vir mý wat jy liefhet; dus kan sý nie juis vir jou belangrik wees nie. Ek kan nie begryp waarom jy so aan haar vasklou nie. Jy sal tog nooit saam met haar gelukkig kan wees nie. Ek dink –”

      “Asseblief, ek het jou vroeër vanoggend al oor die telefoon gesê dat ek nie bereid is om my vrou óf my huwelik met jou te bespreek nie, Esna,” val hy haar in die rede. “Kom, laat ons liewer gaan.”

      Onderweg na die hotel is albei vreemd stil. Esna bedink nuwe planne om Dewalt vir haarself te wen. Dewalt wens homself heimlik geluk omdat hy tot nou toe nog nie sy beginsels of sy huweliksbeloftes ter wille van sy ongeoorloofde liefde vir Esna prysgegee het nie.

      Dewalt het homself egter te gou gelukgewens. Hy het vergeet hoe vurig Esna in haar liefdesbetuiging kan wees; nog minder het hy met haar listigheid rekening gehou.

      Toe Dewalt na ’n rukkie voor die hotel stilhou, het Esna reeds besluit dat sy haar aandag aan Natasha sal moet wy as sy haar sin nie met Dewalt kan kry nie. Sy sal darem nog ’n laaste poging aanwend en op Dewalt se gevoel speel. Die feit dat hy haar steeds liefhet, tel darem in haar guns.

      Toe Dewalt die kamerdeur agter hulle toemaak, nooi Esna hom met ’n verleidelike glimlaggie om langs haar op die bed te kom sit. Hy lyk duidelik huiwerig, want hy weet hoeveel wilskrag dit van hom sal verg om haar sjarme te weerstaan. Maar Esna is vasberade om ’n einde aan sy pynlike eerbaarheid te maak.

      “Jy lyk so huiwerig om by my te kom sit, my skat. Is jy miskien bang vir my?” spot sy. “Ek sal jou nie byt nie, weet jy.”

      “Ek is nie bang nie, my liefling; ek is net versigtig,” sê hy met ’n sweem van ’n glimlaggie terwyl hy in die middel van die vertrek bly staan.

      “O, Dewalt!” roep sy laggend uit, vlieg van die bed af op en gooi haar arms om sy nek. Sy druk haarself styf teen hom vas en soen hom met soveel hartstog dat hy dadelik van al sy goeie voornemens vergeet.

      Dewalt besef meteens dat sy verstand die stryd teen sy hart verloor. Hy begeer Esna nog steeds met ’n hartstog wat enige ander oorweging onbenullig laat lyk. Selfs Natasha en sy huweliksbelofte het geen betekenis meer vir hom nie. Dit is Esna na wie sy hart smag en dit is vir Esna wat hy graag altyd so in sy arms wil hou.

      “O, Dewalt,” spin Esna in sy nek, “dis wonderlik om weer jou arms om my te voel. Soen my weer, my skat.”

      Hy glimlag warm en liefdevol in haar groen oë en voldoen gewillig aan haar wens. Die volgende oomblik is hulle weer in ’n vurige omhelsing gewikkel. Esna glimlag heimlik. Sy weet nou dat sy finaal teen Natasha gewen het. Maar tog besluit sy om Dewalt se gevoel op die proef te stel.

      “Hoe lief het jy my, my liefling?” vra sy en haar lippe is warm teen syne.

      “Liewer as enigiets op aarde, my skat,” antwoord hy en soen haar op die punt van haar neus. “Is jy nou tevrede, my meisie?”

      “Nee,” sê sy en wikkel haar stywer teen hom aan, “ek sal eers werklik tevrede wees wanneer ons getroud is … Wanneer sal dit wees, my skat?”

      “Net sodra ek en Natasha geskei is,” sê hy met ’n warm glimlag. “Ek sal haar eers om ’n egskeiding moet vra.”

      “En as sy weier om van jou te skei, wat dan?” Esna kyk hom bekommerd aan.

      “Wag, moenie so pessimisties wees nie,” probeer hy haar kommer weglag. “Jy moet leer om positief te dink. Ons gaan ook nie nou oor sulke onaangename dinge soos egskeidings en goed gesels nie. Vertel liewer vir my wat jy graag vanmiddag en vanaand wil doen.”

      Esna se oë blink meteens van opgewondenheid. Dit is vir haar baie duidelik dat Dewalt se vrou hom vandag glad nie gaan sien nie. Sy hoop nou net dat daar nie probleme met die egskeiding gaan wees nie.

      “Ek stel voor dat ons Durban toe ry en aandete in ’n vyfsterhotel gaan eet. Daarna kan ons in die een of ander nagklub gaan dans,” doen Esna opgewonde aan die hand.

      “Gaaf, dan sal ek net eers huis toe moet ry om my aandpak te gaan haal,” stem Dewalt geredelik in. “Jy kan saamkom as jy wil, my skat.”

      “Sal jou vrou nie my oë uitkrap nie?” vra sy.

      Dewalt skud sy kop en sê bedaard: “Natasha is te fyn opgevoed om so onelegant op te tree. Om ’n kabaal op te skop, is benede haar … Kom, laat ons ry.”

      Toe Dewalt ’n halfuur later voor sy huis stilhou, merk hy dadelik dat Natasha se motor nie op sy gewone plek staan nie.

      “Jy

Скачать книгу