Susanna M Lingua-keur 10. Susanna M. Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Susanna M Lingua-keur 10 - Susanna M. Lingua страница 18

Susanna M Lingua-keur 10 - Susanna M. Lingua

Скачать книгу

engel,” voeg Dewalt haar met ’n warm glimlaggie toe. “Natasha se motor is nie hier nie en sy is nog nie tuis nie.”

      Mevrou Hugo, wat deur haar sitkamervenster sien hoe Dewalt en Esna uit sy motor klim en voordeur toe stap, is meteens doodsbleek van skok. Sy dink aan vanoggend se voorval toe Dewalt en Natasha die huis kort na mekaar verlaat het – hy doodsbleek en Natasha bitter hartseer en ongelukkig. Sy wonder of daardie flerrie van ’n Esna die oorsaak van Natasha se hartseer is.

      ’n Ongekende woede styg meteens in die huishoudster op. Sy dink daaraan hoe harteloos Esna destyds vir Dewalt behandel het toe sy met daardie ryk Pieter Marais kennis gemaak het. Sy het Dewalt soos ’n warm patat gelos en agter die ryker man aangehardloop.

      Die feeks het natuurlik in die koerante gelees dat meneer De Meyer oornag feitlik ’n miljoenêr geword het, dink mevrou Hugo, en nou doen sy haar bes om weer in sy guns te kom sodat sy in sy rykdom kan deel. Wel, ek hoop meneer De Meyer sit haar op haar plek. Dit sal ’n ramp wees as sy onmin tussen hom en sy vrou veroorsaak. Maar ’n man kan soms net so toe wees soos ’n oester, veral as dit by ’n mooi gesiggie kom …

      Die geklap van die voordeur bring meteens ’n einde aan haar opstandige gedagtes. Sy wonder of sy vir hulle moet gaan tee maak. Sy hoop nie haar werkgewer verwag dat sy daardie goedkoop flerrie in sy vrou se afwesigheid moet onthaal nie. Sy sal weier om dit te doen. As hy ontrou aan sy vrou wil wees, gaan hy haar, Rina Hugo, nie saam met hom in die verderf sleep nie.

      Terwyl mevrou Hugo nog besig is om oor die saak na te dink, hoor sy die voordeur weer toeklap. Na ’n rukkie sien sy hoe haar werkgewer, met ’n tas in sy hand, die motordeur vir Esna oopmaak. Dit laat haar dadelik wonder wat in die tas is.

      Wel, dit sal my niks baat om hier te sit en wonder nie, vermaan sy haarself. Ek moet liewer gaan kyk of dit klere is. Nie dat ek weet wat hy met klere wil maak nie, tensy hy vir ’n paar dae weggaan … Maar waarheen sal hy wil gaan? Hulle het dan maar pas van Sonskynbaai af teruggekeer.

      Daar is ’n verwarde frons tussen mevrou Hugo se wenkbroue toe sy na Dewalt en Natasha se slaapkamer toe stap om ’n antwoord op al haar vrae te probeer vind.

      Sy vind die vertrek egter nog net so netjies soos wat dit was nadat die huishulp dit die oggend aan die kant gemaak het. Sy weet nie of hul kleedkamer iets sal oplewer nie, maar sy besluit tog om ondersoek in te stel.

      Sy stap die vertrek binne en haar blik dwaal stadig oor Dewalt se klere wat in ’n netjiese ry teen die een muur hang. Toe tref dit haar skielik dat sy aandpak weg is.

      So, dan gaan hy vanaand êrens jolyt hou! flits dit deur haar gedagtes. Wel, dit lyk nie of hy die aand saam met sy vrou gaan geniet nie, want dan sou hy hom hier by die huis kom verklee het … Nee, dit lyk beslis na ’n baie skelm besigheid. Hy is besig om sy vrou te verkul … Ja, dit is nooit anders nie. Hy gaan die aand saam met daardie flerrie geniet … Ek wonder of mevrou De Meyer hiervan weet? Maar noudat ek so daaraan dink, waar is sy? Weet sy dat daar weer ’n verhouding tussen haar man en daardie … daardie satanskind is? Is dit waarom sy vanoggend so hartseer gelyk het?

      Dit voel vir mevrou Hugo of sy skoon in ’n dwaal is van al die vrae waarop sy geen antwoorde ken nie. Sy besef sy sal moet wag totdat Natasha tuis is. Dan sal sy kyk wat gebeur. Wie weet, miskien kom sy ook netnou hier aan om ’n aandrok te kom haal!

      Die huishoudster het heeldag vrugteloos op haar werkgewer se vrou gewag, want nadat sy die koffiekroeg daardie oggend verlaat het, het sy nie in ’n ander restaurant gaan tee drink, soos sy aan Dewalt en Esna te kenne gegee het nie. Sy het in haar motor geklim en sommer net ’n rigting ingeslaan in die hoop om van die pyn en hartseer in haar ontslae te raak.

      Eers toe sy Pietermaritzburg nader, kom sy weer tot verhaal en merk dat haar motor se petroltenk byna leeg is.

      Soos ’n outomaat draai sy van die snelweg af op soek na die naaste motorhawe. Sy merk dat dit haas tyd is vir middagete, maar in haar toestand van skok en teleurstelling het sy geen behoefte aan kos nie. Daarom ry sy dan ook dadelik verder nadat sy by ’n motorhawe ingedraai het, petrol in die tenk laat gooi en daarvoor betaal het.

      Terwyl sy op pad huis toe is, besef sy dat sy die een of ander tyd tot stilstand sal moet kom. Sy sal hierdie ramp wat hul huwelik getref het behoorlik in oënskou moet neem. Sy sal haarself eers behoorlik moet vind voordat sy Dewalt sal vra om sy ontrouheid te verduidelik.

      Dis waar, besluit sy, sy mag hom nie veroordeel voordat sy hom nie ’n kans gegee het om alles te verduidelik nie. Vir al wat sy weet, lê die skuld nog by Esna. Maar wat van hul telefoongesprek? En waarom het hy Esna in Polfyntjies gaan ontmoet? Die knus koffiekroeg is bekend vir sy gesellige atmosfeer en is die gewildste bymekaarkomplek op Leliesvlei.

      Natasha besef dat sy geen antwoorde op haar vrae sal vind voordat sy nie eers met Dewalt gesels het nie.

      Sy weet Dewalt het haar nie lief nie, maar dit is geen verskoning vir hom om met ander meisies te flankeer nie. Niemand het hom immers gedwing om met haar te trou nie – die keuse was uitsluitlik sy eie.

      Toe Natasha nog oor al hierdie dinge peins, sien sy ’n bekende, donkergrys motor in die teenoorgestelde rigting aankom. Die gelukbringer, in die vorm van ’n arend voor op die motor se buffer gemonteer, sal sy op enige plek herken. Net Dewalt se motor het so ’n versiering.

      Natasha is doodsbleek toe Dewalt se motor hare nader. Sy merk dadelik op dat hy nie alleen is nie, maar sy wil nie glo dat dit Esna is wat langs hom sit nie. Haar liefde vir hom probeer nog heeltyd verskonings vir sy gedrag van vanoggend vind, maar hierdie keer kan daar geen verskoning wees nie. Selfs so in die ry kan sy duidelik die twee tasse, skynbaar haastig langs mekaar agter in die motor neergegooi, gewaar. Dit sal hy ook nie maklik kan verduidelik sonder om sy ontrouheid aan die lig te laat kom nie.

      Daar is ’n groot seer en ’n eindelose verlatenheid in Natasha se hart toe Dewalt by haar verbyry sonder om haar eens raak te sien. Esna vang sy aandag so vas dat hy nie eens Natasha se motor herken nie. Nou is sy darem van een ding heeltemal oortuig: Dewalt het sy verhouding met Esna hervat.

      Hierdie wete laat die lewe vir Natasha meteens vaal en doelloos lyk. Sy het Dewalt baie lief, maar daarvan weet hy natuurlik niks. Wat hom betref, het sy net met hom getrou om haar van ’n veilige en kommerlose toekoms te verseker.

      ’n Swaar sug ontsnap uit Natasha se bors. Sy wens sy was al tuis. Sy wil al hierdie verwikkelinge rustig deurdink en oorweeg. Dan sal sy besluit wat sy moet doen. Dalk het Dewalt saam met Esna weggeloop. Hieroor sal sy egter eers duidelikheid kry sodra sy tuis is. Sy sal dadelik gaan kyk of hy dalk van sy klere ingepak het om saam te neem. Mevrou Hugo sal hopelik weet wat aan die gang is. Dewalt sal tog nie iets ongewoons kan aanvang sonder dat sy daarvan weet nie.

      5

      Natasha is bleek en geestelik uitgeput toe sy die middag laat tuis kom. Mevrou Hugo, wat haar motor voor die deur sien stilhou, gaan maak self die voordeur vir haar oop.

      “Mevrou lyk so … so bleek en moeg. Wat van ’n koppie tee?” vra sy met deernis in haar stem toe sy Natasha byna verwese voor haar sien staan.

      “Dit is lief van jou om so begaan oor my te wees, mevrou Hugo,” sê Natasha met ’n glimlaggie waarin al die pyn en weemoed van die wêreld opgesluit lê. “ ’n Koppie tee sal baie welkom wees, dankie. Ek sal dit in die sitkamertjie kom drink.”

      Natasha neem haar handsak kamer toe en trek haar jas uit. Hierna stoot sy die kleedkamer se deur oop – volkome oortuig dat die muur waarteen Dewalt se klere hang heeltemal leeg sal wees.

      Verligting

Скачать книгу