Susanna M Lingua-keur 10. Susanna M. Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Susanna M Lingua-keur 10 - Susanna M. Lingua страница 20

Susanna M Lingua-keur 10 - Susanna M. Lingua

Скачать книгу

glo jou, mevrou Hugo,” laat Natasha met ’n verwese glimlaggie hoor. “Ek sal sorg dat ek ’n goeie middagete eet. Maar sê my, is my man nog nie tuis nie?”

      “Hy het ongeveer vieruur vanoggend hier aangekom en sommer in een van die gastekamers gaan slaap. Hy wou jou bepaald nie steur nie,” meen die ouer vrou.

      Natasha skud haar kop stadig. “Dit is nie die rede nie, mevrou. Ek vermoed hy sal nou elke aand in een van die gastekamers gaan slaap.”

      “Dis waar, daardie flerrie sal hom nou elke aand saam met haar na die jolytplekke toe sleep en hy sal seker nou altyd eers na middernag tuis kom,” laat mevrou Hugo met ’n swaarmoedige sug hoor. Sy weet nie waarom hierdie ding nou juis met die De Meyers moes gebeur het en waarom daar sulke meisies soos Esna moet wees wat nie omgee hoeveel hartseer hulle ander berokken nie.

      “Ek vermoed dat Dewalt my vandag om ’n egskeiding sal vra,” meen Natasha. Sy kan nie glo dat hy, nadat sy hom en Esna so intiem saam in die koffiekroeg gesien het, nog ’n dag sal laat verbygaan sonder om haar oor ’n egskeiding te pols nie.

      “Wel, neem nou my raad aan en moenie aan sy wens toegee nie, mevrou,” doen die ouer vrou aan die hand. “Hulle kan nie al die geluk aan hul kant hê nie.”

      “Ek het reeds besluit om nie in te gee nie, mevrou. My antwoord is en bly nee,” antwoord Natasha ietwat afgetrokke.

      Na ete gaan was Natasha haar hare. Terwyl sy hiermee besig is, stap Dewalt die badkamer binne. Aan sy voorkoms is dit duidelik dat hy ’n baie jolige aand in Durban deurgebring het. Sy oë is bloedbelope en hy lyk bleek en moeg.

      “O, hier is jy,” sê hy kortaf en ongeduldig. “Ek het al die hele huis deur na jou gesoek. Waar is die hoofpynpille?”

      “Ek weet nie. Ek gebruik nooit hoofpynpille nie,” antwoord sy bedaard.

      “Nou gee my asseblief enigiets wat jy wel gebruik – voordat my kop oopbars,” kom dit afgemete en duidelik ongeduldig.

      Natasha draai ’n handdoek om haar kop, tap ’n glas vol water en gee dit aan Dewalt.

      “Ek gebruik gewoonlik hoofpynpoeiers. Dit is in die spieëlkas se laai,” sê sy. “Kom, laat ek vir jou een gee …”

      “Nee, gee my sommer ’n paar.”

      Sy neem die dosie uit die laai en gee dit vir hom aan.

      “Neem maar almal,” sê sy sag. “Ek sukkel nie juis met hoofpyn nie.”

      Hy neem die dosie by haar, haal een poeier uit en sluk dit met die water af. Toe, sonder om na haar te kyk, sê hy: “Jy moet asseblief na my studeerkamer toe kom, Natasha. Ek wil met jou praat.”

      “Toemaar, Dewalt, ek weet jy wil my om ’n egskeiding vra,” laat sy met ’n vreemde kalmte hoor terwyl sy die spieëlkas se laai toestoot. Sy weet nie waar sy die krag vandaan haal om so kalm met hom te praat terwyl haar hart voel of dit wil breek nie.

      Hy kyk haar vlugtig, sydelings aan en sit die leë glas op die bedtafeltjie neer. “Jy het gelyk, dit is presies wat ek met jou wil bespreek,” sê hy gespanne. “En ook –”

      “Ek is bevrees daar is niks om te bespreek nie, Dewalt,” val sy hom sag in die rede. “Sedert gisteroggend het ek baie tyd gehad om oor hierdie saak na te dink. Na vele oorwegings het ek eindelik besluit om nie van jou te skei nie.”

      ’n Dreigende, ergerlike frons verskyn meteens op Dewalt se voorkop. “Wat sê jy? Jy weier om van my te skei?” roep hy bars uit. “Ek sal jou nie aanraai om onredelik te wees nie, noudat Esna gewillig is om met my te trou. Trouens, jy het van die begin af geweet ek het Esna lief –”

      “Presies,” val sy hom sag in die rede, “jy het dit ook geweet; maar jy het nogtans besluit om met my te trou. Ons was ook heeltemal gelukkig, totdat jou gewese minnares besluit het dat jou bankrekening nou aantrekliker is as haar verloofde s’n – dié man vir wie sy jou die trekpas gegee het toe sy bankrekening joune ver oortref het.”

      Dewalt se staalblou oë is nou so hard soos metaal en so koud soos die Suidpool.

      “Moenie dat sy jou bluf nie, Dewalt. Esna het jou nie lief nie. Sy is net lief vir die weelde wat jou geld haar kan bied. Sy sal jou uitroei en jou daarna weer net so laat staan soos verlede keer. Esna het geen man lief nie, Dewalt, sy het net geld –”

      “Bly stil!” val hy haar woedend in die rede. “Jy weet nie waarvan jy praat nie! Dit is nie Esna wat met my ter wille van my geld wil trou nie; dit is jý wat met my om daardie rede getrou het.”

      “Dit is nie waar nie,” sê sy, magteloos omdat sy hom nie in haar hart kan toelaat nie. Hy mag nooit die ware rede weet waarom sy bereid was om met hom te trou nie. “Jy was ’n doodgewone skrywer toe ek met jou getrou het – nie ’n amper-miljoenêr nie.”

      Natasha het sedert gisteroggend soveel skokke en vernederings ervaar dat dit vir haar voel of sy reeds breekpunt bereik het – en nou weer hierdie ongevoelige beskuldiging van Dewalt om haar verder te verkleineer. Sy veg verbete teen die trane wat warm agter haar ooglede brand. Sy mag nie voor Dewalt huil nie.

      “Nou waarom het jy met my getrou – as dit dan nie vir my geld was nie?” vra hy smalend.

      Sy draai haar rug op hom en verlaat die kamer sonder om op sy vraag te antwoord.

      Natasha het skaars in die sitkamertjie gekom, toe hoor sy hoe Dewalt se kragtige motor die bergpad vat.

      Hy is seker nou op pad na Esna om haar te vertel dat ek weier om van hom te skei, maal dit deur Natasha se gedagtes terwyl sy na die slaapkamer gaan om haar hare droog te maak.

      Toe mevrou Hugo die vertrek na ’n rukkie met Natasha se tee binnekom, nooi sy haar om te sit. Dan vertel sy die ouer vrou van haar en Dewalt se gesprek vroeër die oggend. Sy sê egter niks van Dewalt se beskuldiging dat sy met hom ter wille van sy geld getrou het nie. Net sy en Dewalt weet waarom hulle met mekaar getrou het.

      “Ek wonder wat Esna nou gaan maak – noudat sy weet dit is vir haar onmoontlik om met Dewalt te trou,” wonder Natasha hardop.

      “Haar soort steur hulle nie aan ’n huwelik nie, mevrou,” sê mevrou Hugo bedaard. “As hy nie wettig met haar kan trou nie, sal sy sommer by hom bly – en hom wegsmyt sodra hy nie meer genoeg geld het om haar met duur pelse en juwele te behang nie.”

      Hulle gesels totdat Natasha se hare droog is. Daarna stap die ouer vrou eetkamer toe om te kyk of die huishulp al die tafel vir middagete gedek het.

      Na ete neem Natasha haar breiwerk en gaan sit agter die huis in ’n hoekie wat teen die snerpend koue wind beskut is en waar die son mildelik skyn. Sy voel nie juis lus vir brei nie, maar dit is iets waarmee sy haar kan besig hou sodat sy nie te veel aan Dewalt dink nie. Sy geniet egter nie lank die privaatheid en die sonskyn van daardie hoekie nie.

      Sy het nog skaars vyf rye gebrei, of mevrou Hugo maak haar verskyning om te sê dat daar ’n besoeker in die sitkamer op haar wag.

      “ ’n Dame om my te sien?” vra die jong vrou met ’n ligte frons.

      “Nee, nie ’n dame nie, mevrou, sommer net ’n goedkoop fortuinsoekster … Esna le Clus,” sê die ouer vrou met bitterheid in haar stem. “Wil

Скачать книгу