Wals met Matilda. Dan Sleigh

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Wals met Matilda - Dan Sleigh страница 11

Автор:
Серия:
Издательство:
Wals met Matilda - Dan Sleigh

Скачать книгу

aan elkeen volgens die grootte van sy veetrop, vir Martini, Mauser, Enfield, Webley, Smith & Wesson, en hulle het by die nagmaaltafel daarvoor geteken. Toe het Japie sy pa se karperde onder die peperboom losgemaak en ingespan, en hulle het na die losieshuis gery om sy trommel op te laai. “Dan groet jy jou meesters,” het sy pa gesê. Hy was toe sewentien jaar en in die agste standerd en nie jammer om van die skool weg te kom nie. Hy het die skoolgaan moeilik gevind oor die Engels, Latyn en Hollands waarvoor die meneer so lief is, veral die onverstaanbare grammatika, met lang sinne gevleg en gedraai soos kreupelhout, alles dinge wat net in die meneer se boek bestaan, en die meeste met ’n vreemde naam wat vir hom niks beteken nie. Daar was een met die naam lidwoord; dit het hom altyd hulpeloos na sy hande en vingers laat kyk. Dan het sy gedagtes by die venster uitgevlug plaas toe.

      “Wat gaan ons maak, Pa?”

      “Ek het daaroor gedink. Nie in die kraal nie, dis te na aan die werf. Ons jaag hulle in die donga.”

      “En as daar reën kom dié somer?”

      “Ons pak ’n dwarsmuur bo om die water te sprei; Hertog en Hans en die kleintjies. Ná ons geskiet het, pak ons bossies oor en gooi lampolie. Diere brand tot as in hulle eie vet. Ons moet kyk of ons ses of ag blikke olie kan kry.”

      “Goed, Pa.”

      “Jy moet maar skiet, Japie. Ek bewe al te veel.”

      “Is pa nie bang vir krediet en die verband nie?”

      Sy pa kyk na die kerk en die straat en die dorpshuise met hulle rooi of groen sinkdakke soos hulle ry. “Dit is die wet. Hoe kom ons anders hier uit? Oorlede Pa het al gesê Klipvlei is nie meer ’n beesplaas nie, die wêreld het verdroë, ons het verkeerd getrek hier. Ek het gereken ek kan dit doen, maar kyk nou: Ons moet tog weer van voor af begin. Alles verander agteruit. Die volstruisveer was eentyd goed op prys. Mense het vir hulle wonderlike huise laat bou en vandag sukkel hulle om dit van die hand te sit.” Sy pa haal sy tabaksak en pyp uit. “Rook jy?”

      “Nee, Pa.”

      “Ons moet dit koop by die Jood, jy gaan vuurslag nodig hê. Wag tot die bokke effens nader kom, tot ons stof aan die oostekant sien. Dit sal oor ’n week wees. Ek hoor daar is omtrent tagtigduisend. Jy weet nooit wat hulle koers is nie, miskien slaan hulle ons heeltemal oor. Anders vat jy liewerster vir Hans, dan saal julle op en ry hulle tegemoet. Vat die Enfield en laat hy my Mauser gebruik. Dis ’n ligter wapen en sy koeël trek platter en verder. Skiet net en laat lê. Ry langs die trop en skiet uit die saal, die jakkalse en aasvoëls sal hulle gou genoeg optel. Later sleep ons die ander op ’n hoop.”

      “Ek het al geskiet. Pa weet mos. Laas trek, drie jaar gelede.”

      “Toe was dit ’n paar dosyn vir vleis. Nou mag ons nie eens velle hou nie. Nou ja, dan weet jy. Twee met een, as jy kan. Die Enfield is sterk genoeg as jy naasaan ry.”

      Daar staan ander karre voor die handelshuis, en solank as wat Japie die perde aan die reling vasmaak, gaan sy pa binne. Sy pa haal hoed af en gaan by die ander staan. Die meeste boere vra ses blik lampolie, almal vra vir krediet, dan bied die winkelier agt of tien aan.

      “Of meer ook, jy kan kry soveel jy vra. Ek het baie uit Port Elizabeth laat haal. Vier wavrag.”

      “So jy het die ding sien kom, mister Cohen?”

      “Ek het gehoor uit Transvaal. Toe maak ek reg.”

      “Tien blik asseblief, meneer Cohen,” sê sy pa. “As jy dit vir my op die boek kan gee. Asseblief.”

      “Jy het nie kontant nie?”

      “Wat ek het, moet hou vir nood. Daarom vra ek krediet, as jy dit wil gee.”

      “Wanneer om te betaal, mister Van der Merwe? Ek moet nou die risiko dra van al my klandisie. Ons kry almal swaar.”

      “Ek weet nie wanneer nie. Maar daar is ’n wet gemaak in die Kaap. Die magistraat sê ons moet jou ’n verband aanbied.”

      “Jy sal beter weet as ek, mister Van der Merwe. Ek hoor sê Klipvlei is nie vir bees nie, hy is vir skaap. Al die plase hier is vir skaap ná die droogte.”

      “En ek hoor sê die Engelse het runderpes gestuur dat ons moet oorslaan na wol. Hulle wil wol hê. Engeland sal altyd wen, ons sien dit lankal.”

      “Mister Van der Merwe, ek sit tien blik vir jou reg, dan praat jy met jou prokureur. Jy kan nou met hom praat, ek sien sy deur staan oop.”

      Japie was nog nie in die prokureur se kantoor nie. Sy pa ken vir prokureur Rose-Innes, al sy papiere is daar in ’n swaar brandkas. Agter die deur hang ’n swart kleed soos ’n predikant s’n en ’n gehekelde borslap en ’n pruikie van wit wol, en teen die mure is geraamde papiere en kaste met glasdeure, vol boeke van allerhande kleure.

      Die prokureur skud hand met hulle. Hy sê vir Japie se pa: “Kom, sit asseblief. Ek is spyt oor die ramp wat julle getref het. Ek raai jou aan om alle moontlike voorsorg te tref. Jou seun gaan dalk die familieplaas verloor.”

      Japie se pa trek sy broekspype effens op, sit sy hoed op sy knie en vra versigtig: “Hoe vir voorsorg, meneer Rose-Innes? Gee asseblief advies.”

      “Hou hom op skool so lank as wat jy kan. As jy nie kan nie, laat hom ’n ambag leer. ’n Boer kan so hard werk as hy wil, maar as die geluk teen hom draai – ek praat van veesiektes, droogte, sprinkaan, oorlog, pryse wat val – moet hy sy brood met ’n ambag kan verdien.”

      “Baie waar,” sê sy pa.

      “Nee, asseblief tog, Pa. Ek wil boer.”

      “Wag, Japie. Ons praat later. Ons het gekom om ’n kontrak met Cohen te laat optrek, en ons moet meneer Rose-Innes se advies hoor.”

      Die prokureur haal die plaas se papiere uit ’n laai van sy vet, swart brandkas. “Hier is gedrukte vorms vir die eerste verbandkontrak. Dit is in Engels en dit sal omtrent ’n uur neem. Ek sal dit punt vir punt verduidelik en invul vir jou handtekening. Ek weet nie of Japie wil bysit nie. Maar daar is iets anders wat hy kan hoor. As ek mag adviseer.”

      “Ek het gevra.”

      Rose-Innes haal sy bril af, vou dit toe, vleg sy vingers saam en praat met sy oë op sy twee hande. “Ek lees in koerante uit Engeland dat wol hoog op prys is, soos volstruisvere eenmaal was. Maar dit was ’n mode, ’n gier wat verbygetrek het toe vrouens daarvoor moeg was. Alle mense het goeie warm klere nodig, veral in koue dele van die wêreld, en wol is die warmste en duursaamste vesel. Nou het die wolmark skielik groot uitgebrei, jy kan praat van ’n ontploffing. Engeland sit die wêreld vol in oorloë vasgevang. Ons is in Indië en in die Soedan, en dit lyk of die regering vir ander dele van die wêreld ook lus het, waarby honderde duisende soldate betrokke gaan wees. Elke man moet twee volle uitrustings, ’n oorjas en twee komberse hê. Groot fabrieke is met die modernste masjiene ingerig vir massaproduksie en uitvoer na Britse kolonies en ook na Amerika, wat weer sy eie oorloë oorsee voer; kyk waar is hy nou oorsee besig in Kuba en in Manila, die liewe Vader weet. Engeland is gereed om miljoene tonne wol en katoen te ontvang, mense praat daar al van nywerheidstede. Manchester se fabrieke verwerk katoen; dames vra by ’n winkeltoonbank net dié naam, manchester, wanneer hul katoengoed soek. In Birmingham staan al sewentig fabrieke wat wol was, kam, spin, kleur en weef. Vir die suidelike halfrond is wol die nuwe ding. Australië het laas jaar twaalfmiljoen pond wol uitgevoer. So lyk die toekoms.”

      “Ons

Скачать книгу