Wals met Matilda. Dan Sleigh

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Wals met Matilda - Dan Sleigh страница 8

Автор:
Серия:
Издательство:
Wals met Matilda - Dan Sleigh

Скачать книгу

negatiewe gedagtes gedruk: Voorland. Hy het net ’n oomblik gemymer, ’n rukwind, skipbreuk. Daarná was dit verdriet oor die arme eiland, die regerende politici se daaglikse prostituut, wat hom geïrriteer het. Hy gee nie om nie. Die afspraak met die Direkteur: Finansies is gemaak vir oormôre, namiddag, tot dan sal hy ’n soort verdediging voorberei en soos ’n rooikat in ’n slagyster wag op die koeël. Hy moet in geen opsig toegee en geen verpligting of afhanklikheid aanvaar nie. Byt terug.

      Hy sit in sy leunstoel met sy verkyker op sy skoot. Hy het verkeerd gedoen, te ver gegaan. Soos die vorige keer, by daardie Woordfees. By sommige akademici ontbreek dit aan ervaring. Nie geleer swem nie, en boekgeleerd bly klou hulle aan die reddingsgordel, die geërfde resep, soos huisvrouens hul mans in hul graf in kook uit Kook en geniet. Hy was verkeerd. Om met resensente te argumenteer is soos om met prostitute oor hulle gedrag te praat. Maar die ene destyds, met In oop water – ’n deeltydse dosent nogal, het hy verneem, die gode behoed sy arme studente – sy resensie was ’n web van veralgemenings en verkeerde afleidings, totaal subjektief, egosentries, ’n daad van openbare selfbevrediging waarvoor ander sou skaam wees.

      Verwag dit soms, Koos, sou sy vrou sê. Jy weet al, nie alle grond is vrugbaar nie, en jy ken die verhaal: ’n Saaier het uitgegaan om te saai … ’n deel het op klip geval en gesterf. Die een met die stemme wou die tweegeveg voortsit, met sý wapens, op sý tyd en gekose terrein. Die aanslag was uit ’n donkerder, verskuilde en totaal onverwagte hoek: In oop water was ’n historiese roman en vervelig. Sy resensie het soos ander misdaad uit drie fases bestaan: bekruip, val aan, verdwyn in die agtergrond. Moedswillig en berekenend het die man begin deur te vertel wat hy op Google oor die onderwerp van In oop water kon vind en voorgegee dit was eie kennis, al het die reuk van Google se wegneem-kitskombuis daaraan gekleef. In die tweede deel het hy die boek opgesom (nou hoef niemand dit te koop nie) en waardelose tematiese vergelykings gemaak met meer as driekwart van sy vorige boeke. In die derde deel het hy toegeslaan: In oop water is gekategoriseer: Historiese roman, was die diagnose. J. van der Merwe is moontlik beter bekend by lesers van jeugverhale, sy bydrae tot die letterkunde bestaan slegs uit twee byna onleesbare historiese romans. En nie vir hóm nie, dankie, hy moes op skóól sulkes léés, en hulle vervéél hom tog só. Van der Merwe se veelvoudige afwykings van die genre historiese roman is uitgewys as veelvuldige tekortkomings. Maar die vervéling, o die vervéling, nee, nie vir hóm nie, dánkie. Hy het sy resensie aan die dagblad vir tweehonderd rand, miskien twee-vyftig verkoop. Die goedkoopste prostituut gee moontlik meer waarde vir minder geld.

      Die aanval het lank seergemaak, want dit was aanranding deur ’n onbekende en onnosele mindere. Uit watter krake in die keldervloer kruip sulkes met die kakkerlakke saam boontoe? Die onkundige uitlatings in die openbare pers was neerhalend, maar bowenal beledigend was die skok van persoonlike aantasting deur ’n mindere. Verveling! Is dit nie genoeg om te vergewe, te lag en sê dít was dan die deel wat op klip geval het nie? Hy kan nie vergewe nie omdat hy nie weet hoe nie, maar hy kan verstaan. Wanneer daar ’n gusmaandkat op sy dak kom sit en kerm, kan hy verstaan. Sy kan dit nie help nie.

      In die namiddag kom die Niksnut uit die lae branding met haar plank onder haar arm; ’n mooi kind, agtien of twintig jaar oud. Hy hou haar deur sy verkyker dop. Niksnut, het die Heel Groot Baas haar genoem toe hy die eerste keer hier op sy sending was. Die HGB staan die dag hier op die balkon met sy sigaret, hy kyk oor die see, sien die swart strepie daar ver, tel die verkyker op en stel dit voor sy oë.

      “Die niksnut lê waaragtig heelmiddag op dieselfde plek. Te veel geld. Ons het weer ’n oorlog nodig.”

      Het jy jouself gehoor, meneer Opperman? Weg met Stalins, Mao’s, Hitlers, hulle volgelinge en obsene nagedagtenis.

      “Ons het nie oorlog nodig nie.”

      “Beskawing het behoefte aan soldate, Koos, ’n gedissiplineerde garde om ons te beskerm teen die aspirasies van despote en die mensdom se erflike swakhede soos eiebelang en gierigheid.” Die HGB lyk tevrede met homself, hy rook en praat oor oorlog. Besef hy dat hy ’n staatsgreep goedpraat?

      “Ek het nie daardie probleem nie.”

      Die HGB soek om hom vir ’n asbak, druk die sigaret op die stoepmuur dood, skiet sy stompie met sy middelvinger van hom af weg die ruimte in, en vermaan, kavalierstyl: “Jy bestaan in die verlede, Koos. Jy sonder jou af in ’n huis bevolk met gestorwenes. ’n Man kan nie sonder ’n vrou nie, jy maak ’n klug van die lewe. Jou gees kwyn. As daar met sonsak nie ’n vrou binne die drumpel is nie, is dit nie ’n huis nie. Erger: jy kort ’n dokter. En as jy nie liggaamlik siek is nie, kort jy ’n sielkundige.”

      O gesalfde Salomo, u is herrese.

      “Jy moet ’n vrou vat.”

      Wie s’n sal ek vat? Sal ek op sy kussing met haar lipstiffie skryf, Lochinvar was hier?

      Die HGB soek sy sigarette, skud een uit, steek dit aan (hy het ’n kunsie om alles net met sy regterhand te doen, asof hy moedig, argeloos selfs, met ’n ou oorlogswond omgaan), en hervat sy preek. “Miskien is jou probleem eenvoudig ouderdom. Eers was jy ’n ster, vandag is jy meer soos ’n komeet: Jy kom heel selde. Hahaha. Jammer, dit is natuurlik nie ’n grap nie.”

      So is slegte maniere, bemoeiing met ander se sake, besoedeling. Opperman het hierdie kamer blou gerook, die stank was dae lank hierin. Iemand ná Cornelia; verwag die man dat dit dieselfde gaan wees? Jy word geheg aan ’n gesig en ’n persoonlikheid. Wie anders kan blomme in seesand laat groei, wie sou wil probeer?

      “Of vat meer as een, soos jou buurman, die man met die Mustang. Daardie kêrel is so gereeld soos die twaalfuur-kanon. Goeie Hoop se steunpilaar.”

      Hy tel weer sy verkyker op. Sy is lank, slank, jonk en los, die naamlose Niksnut, sy skud water uit haar kort bruin hare, haar nat neoprene-pak blink van son. Sy loop op kaal voete strandop met haar blou-en-wit plank onder die arm. Tussen geboue draai sy in die skaduwee weg; daar agter is dalk ’n motor en iemand sal haar oplaai en huis toe neem, iemand wat daglank verlang het om haar te sien terwyl sy op haar plank wag op wind en deining sodat sy saam met die brander kan opstaan en die wilde wit perd strand toe ry. Sy is elke oggend hier, sy wag geduldig die somerdae om. Maar die klimaat is aan verander, daar is deesdae selde genoeg sterk wind om vir haar groot branders te maak. En dan, wanneer die klimaat verander het en sonskyn soos die reën ook giftig geword het, sal sy nie meer kom nie. Ook weg.

      Hy kyk haar agterna. Leef sy soos die lewe behoort te wees? Want die aardbol is groot gemaak, en meesal see. Sy doen niks, gaan waar sy wil, vra waarskynlik niks, die posbode het geen adres vir haar behalwe Tafelbaai nie, die Ontvanger van Inkomste ken haar nie, geen familie hou tuis die horlosie dop nie, sy lê stil en wag op die goue kans terwyl sy haar skippie gereed hou vir elke verandering van wind en gety wat haar in blydskap vorentoe sal dra, soos Shakespeare beloof het. ‘Niksnut’ is ’n kru, paternalistiese beskuldiging, heel moontlik uit afguns. Miskien dink ons HGB dat sy te onafhanklik is, veels te vry, miskien heeltemal vry van enige werkgewer, pa, man of kêrel. Geen gesagsfiguur in sig nie, en dít pla die HGB,’n mens uit herwinde karton geknip en afgewit. Sy is daglig, sy is hoop. Miskien is hy self nog romanties. Onder die koue rommel en puin van sy hart is miskien iets oor soos die spoor van ’n tuin, soos donker vlekke in woestynsand waar vroeër vreedsame en vrugbare oases was.

      Miskien is haar naam Elisabeth, dink hy, soos sy dogter s’n was. Hy hou die verkyker op sy skoot met sy oë toe teen die flikkering van die see, terwyl vele assosiasies deur sy kop fladder en tuimel soos malgasse oor ’n skool sardyn. Eli-s’a-beth: God regeer die huis. Heilige Elisabeth, moeder van die Doper, beskermheilige van bakkers. Die Elisabethsvloed van 1302 (vier dae van storms en wind wat die see oor duine en dyke jaag, Noord-Holland verdrink en die Suidersee skep). Elizabeth Tudor wie se klinkerryke naam soos ’n uithangbord die boustyl en letterkunde van haar tyd benoem. Hoe kry jy dié sierlike naam ooit manlik gemaak? Elisabeth Kübler-Ross,

Скачать книгу