Wals met Matilda. Dan Sleigh

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Wals met Matilda - Dan Sleigh страница 10

Автор:
Серия:
Издательство:
Wals met Matilda - Dan Sleigh

Скачать книгу

wag op die skemer wanneer die son oor die wit jag ondergaan. Hy haal whisky uit sy kombuiskas, stort sy glas halfvol, tap kraanwater by, skroef die bottel toe en stoot dit weer weg tot ver agter in die kas. Dit is die uur vir nostalgie, sentiment, selfsensuur en matige dronkverdriet. Die uitgewer het ’n afspraak gemaak. Oormôre kom die Direkteur: Finansies, ’n soort verheerlikte boekhouer, op besoek; dit is tyd vir onderhandelings met die vyand, of anders is daar oorlog. Hy weet wie sy teenstander is en waarteen hy hom moet verdedig: persoonlike aanvalle, terrorisme teen sy integriteit. Dit is nie hy wat oorlog gesoek het nie. Hy erken sy aandeel aan die toestand waarin hy hom bevind, maar aanvaar nie skuld daarvoor nie. Dit is verkeerd. Kan hy hieroor huil?

      “Ons kan vir jou daagliks ’n koerant laat aflewer,” het die HGB aangebied.

      “’n Donkie sal dit meer waardeer.”

      “Dit is nie nodig nie, Koos. Werklik, dit is nie nodig om gedurig snedig te wees nie. Jy bereik niks daarmee nie. Aanvaar dit net.”

      “Ek kan nie deur ’n vergrootglas tik nie.”

      “Daar was blinde skrywers. Homeros, Milton het dikteer, het hulle nie?”

      Die HGB het ’n vaderlike vinger gewys: “Jou probleem is skrywersblok. Totaal. Dig soos potklei.”

      Hy sluk diep uit die glas en staar uit sy stoel na die verdonkerende horison terwyl hy wag dat die alkohol aan hom begin werk. In die huidige ekonomiese en geestelike omstandighede benodig hy, waarskynlik ander ook, slim strepies en letters soos braille agterop elke bottel gedruk, soos die wit Plimsoll-lyn op ’n vragskip se romp wat oor lading waarsku, strepies wat sê: P vir proe, S is slukkie vir die smaak, MS is een metrieke sopie vir die amptelike geleentheid, OD vir outydse dop vir somber sononder, ¼, ⅓ of ½ vir die kwart, die derde en helfte van jou bottel, LD is een loopdop, SD is ’n slaapdop, PVW is Padvervoerwet se perk, MF jou mediese fonds se toegelate kwota vir lewerprobleme. So weet jy waar jy staan met Bank en Gesondheid, openbare vyande nommer een en twee.

      Hy sluk twee maal van die lou, liggeel mengsel in sy glas. Vroeër het hy die ruimte en tye van sy lewe met iemand gedeel, nou het hy hier van alles te veel. Te veel leë ruimte, te veel tyd, hy kry nie sy nagte om nie en weet nie wat om met sy dag te maak nie. Werk, eet, slaap, die prosesse van bestaan, het nie meer sin nie. Hy het geen lus om ’n nuwe manuskrip te begin nie, sy verstand is leeg soos sy versmorende, doellose lewe in hierdie onnodig lang dae. Die whisky begin fluister en sing in sy kop, die inersie voel soos ’n positiewe krag, ’n bevryding uit die liggaam se tronk; iets goeds soos ’n tydelike selfmoord.

      Aandete, dan. Wat, in die naam van die Vader? In die kombuis sit hy ’n eier en ’n aartappel in ’n pot en kook hulle terwyl hy na sy stoel teruggaan en ingedagte voor die venster sy whisky en water drink tot die pot droog gekook het: een oneetbaar sag en die ander onsmaaklik hard. Dit gaan baie werk kos om die pot te skuur, makliker om dit weg te gooi. Hy laat val sy pot en kooksel in die vullisblik, sny brood, sny nog een vir môre, skep grondboontjiebotter met sy vinger uit ’n fles en smeer dit oop, gooi die orige skimmel brood weg en eet staande by die opwasbak in die kombuis. Roosterbrood en Skots, notre pain de chaque jour. Hy skink nog ’n halfglas, tap water by, stoot elke keer die bottel weg tot diep agter in die kas, en verafsku sy ete.

      Buitetoe. Uit op die balkon om na die stand van die sterre te kyk. Stuurman! Hoe staan die nag? Hy het dié plek, hierdie wye horison werklik nodig, hy voel hy verdien dit. Hy was by San Giustino, tussen Città di Castello en Sansepolcro om die seesand tussen sy tone te voel waaroor die jonger Plinius geskryf het: Die see en strand hier is ’n sterk inspirasie. Wanneer ek by my Laurentium skryf, gebeur dit altyd … Dit is ’n setel van die Muse; hier praat hulle met my.

      Sy muse het hom verlaat, jonk oorlede.

      Op die elektries verligte plaveisel, vier verdiepings onder, is die blou omlyning wat hom herinner aan die afgietsels van slagoffers in die strate van Pompeji, almal só gevang in die patetiese houdings van hulle sterwe. Wat, as hy self daar onder lê as ’n buitelyn met al sy probleme opgelos? Hy draai weg van die dounat balkonreling af. Lewend sal hulle hom nie vang nie. Hy is bang om te slaap, die nag word te lank. Hy sal versigtig wees om nie die lig te vroeg af te skakel nie.

      Op die tafel langs sy bed is sy leeslamp, die vorige nag se glas water met stof op, sy bril, twee bundels kortverhale (Met beste wense aan Cornelia van Bart Zaayman) waaruit boekmerke steek, papier en potlood. Want hy sal wakker word, in die donker miskien een of ander vreemde gedagte neerkrap, en môreoggend wonder wát so belangrik was aan ’n frase wat hy dan skaars kan ontsyfer. Hy gaan lê. Die selfverwyt begin dadelik: Dis my skuld dat hulle almal weg is, ek het hulle almal verongeluk. Dit is ek wat hulle weggestuur het, ek het hulle aan boord genooi, op hierdie seiljag, in daardie vliegtuig, in hierdie gehuurde motor, oor dié horison, oor daardie see, na daardie woestyn of na dáárdie maan. Ek was hulle loods, skipper, drywer, laksman.

      In die nag skrik hy skreeuend wakker. Hy lê met sy vuiste teen sy bors, knyp sy oë toe tot sy gedagtes en wilde hartslag bedaar, dan maak hy hulle oop en haal asem met sy tande opmekaar gebyt. Sy oë word aan die donker gewoond. Dáár is die venster se reghoek, die stoel, die klerekas. Hy staan op en loop badkamer toe. Hy dwaal in die donker, van bed tot venster tot stoel, van leë kamer tot leë kamer.

      2 Middelburg, Karoo, 1897

      Die pes het uit die Noorde gekom. Die boere hoor van runderpes in Rood zeer, soos hulle die nuwe rooi vlek op die gesig van Afrika, noord van die ZAR op die kaart, noem voordat Rhodes in poskantore laat opplak die uitspraak is “Rhodéésiër” asseblief. Hoe die siekte daar bo gekom het, het hulle nie aangegaan nie. Kruger se goewerment het nie gedink om die driwwe te sluit nie, transportwaens het dit suid oor die Limpopo gebring, toe oor die Vaal. In Maart daardie jaar was dit skielik oor die Oranje.

      Die boere het by hulle kraalhekke gestaan en kyk; jy sien wanneer jou bees se neusvel droog word en die oë glasig en hulle nie meer hulle vlieë wegjaag nie. Daarna gaan die dier se hare staan, sy kop voel warm en die vliese in die neus en bek en oë word rooi van inflammasie, môreoggend loop geel snot uit die neusgate en die vierde dag lê jou bees opgeblaas en styf. In die Transvaal en Vrystaat is al tweemiljoen stuks grofvee dood. Wat is hul goewerment se plan, wat gaan hy maak met hulle?

      Japie se pa het hom met die kapkar by die skool gehaal die dag toe die boere dorp toe gekom het om na hulle magistraat te luister. Daar was amper soveel oudste seuns as boere, daarom dat die ding in die kerk gehou is en nie in die hofsaaltjie nie. Die jong magistraat het Hollands probeer praat en partymaal het sy hoftolk hom gehelp. Die boere het gesien begrip en samewerking word hier verwag. Alle diere met gesplete hoewe is draers van runderpes en daar is geen genesing nie, sê die man. Hulle moet skiet en dan begrawe of verbrand, en daarna ook die trekbokke wat nou uit die Oos-Karoo na Namakwaland op pad is, sodat die pes nie Kaap toe draai nie. Moet niks van die vleis, velle of bene gebruik nie, skiet net en begrawe. Daarna mag daar vier maande lank geen vee op die weiding kom nie. Ammunisie sal uitgereik word, waarvoor hulle moet teken. Die winkels is verplig om krediet te gee teen ’n verband op die plaas en die goewerment sal help met die afbetaal van die rente. Die magistraat het afgesluit met strawwe vir pligsversuim en na hulle oor sy bril gekyk: Geen vrae.

      Die predikant het daarna gelees uit Job wat soveel skade gely het. Die predikant was ’n ou man, heel moontlik armer as hulle, en hy het hulle probeer gerusstel: Job kon weer opstaan, sy welvaart is nie met kruiwaens by sy hek afgelaai nie, want die genade kom uit die hemel maar die mens moet dit deur die sweet van sy aangesig verdien. Die verskil was, sover hulle kon sien, wanneer hy hier klaar is gaan hy huis toe na sy erf met die uitkeervoor, die koel agterstoep en vrugtebome, en na sy lessenaar met boeke en olielamp, en hulle moet na hulle veekrale toe. Gaan hy ook vandag hier sluit met dreigemente van straf en hulle na die brandstapels toe wegstuur? Maar hy het nie, hy het vir hulle gebid.

Скачать книгу