Bosveldliefde vir Jemma. Amelia Strydom

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Bosveldliefde vir Jemma - Amelia Strydom страница 9

Bosveldliefde vir Jemma - Amelia Strydom

Скачать книгу

opperste charmer, hierdie Reuben Stiller. Die soort ou wat dromers soos sy vir brekfis opvreet. Sy beter pasop om nie haar vingers te verbrand nie. Dáárvoor gaan bruinsuiker niks help nie.

      Ten spyte van haar versigtigheid is die volgende halfuur so lekker dat Jemma wens dit wil nooit eindig nie. Reuben is ’n gemaklike metgesel en gesels onderhoudend oor allerlei dinge. Jemma is beïndruk met sy algemene kennis, met sy vars opinies oor alles van aardverwarming tot kalsiumaanvullings. Sy kan ure lank na hom sit en luister, besef sy onthuts.

      Toe hulle eindelik weer die grou weer trotseer, is hul luim so kameraadskaplik dat Jemma byna vergeet het van arme Kaydee en van haar eie ongemak oor haar onortodokse voorstel.

      Kaydee wag hulle met dikgehuilde oë in, haar wye mond bewerig en broos. Jemma druk haar styf vas, haar eie hart ineengekrimp van jammerte.

      “Nou toe, gaan lê jy op die bank, dan kry ek en Reuben als bymekaar. Hy gaan die baba se hartjie monitor. Nie omdat die moxa self enige risiko inhou nie, maar omdat mens wil verseker dat ’n stuitbaba wat draai nie dalk die naelstring om sy nek vaswoel nie.”

      Kaydee knik. “Die gynie het ook vanoggend met die sonar gemonitor terwyl hy probeer draai het. Hy’t gesê daar’s geen koord naby die nekkie nie.”

      “Dan is daar niks wat hierdie outjie keer om vir ons bollemakiesie te slaan nie,” sê Jemma met veel meer selfversekering as wat sy voel.

      Haar hande bewe effens toe sy twee sigaaragtige stokkies uit die boksie haal. Ai, om Kaydee se onthalwe wil sy só graag hê dit moet werk! En wat van jou eie onthalwe? spot ’n slinkse stemmetjie. Sien jy nie tóg uit na die wildplaas en Reuben se geselskap nie?

      Sy klik haar tong vies. Sy’t nie nou tyd om haar gevoelens uit te pluis nie, sy’t werk om te doen. Toe Reuben langs haar kom staan, verduidelik sy: “Moxa – moxibustion, eintlik – is ’n tegniek wat ek by ’n Brasiliaanse vroedvrou geleer het. Dit word al eeue lank in akupunktuur gebruik om stuitbabas te draai. Moenie my vra hoe dit werk nie, dit het met energiemeridiane of iets dergeliks te doen.” Sy bloos, skielik oorbewus van hoe eienaardig dit vir Reuben moet klink. Heng, dit klink dan vir háár soos ’n klomp mumbo jumbo, glad nie so oortuigend as toe die wyse Maria dit verduidelik het nie!

      Tot haar verligting gedra hy hom onberispelik, sy terglus klaarblyklik heeltemal onder beheer hier onder Kaydee se dak.

      “Waarvan is dit gemaak?” vra hy.

      “Mugwort, wat dit ook al mag wees. Maar die terapeutiese effek lê in die hitte eerder as die samestelling van die plant.”

      “Jy moes vroeër gepraat het. Ons kon by die hekwag ’n sigaret afgebedel het.”

      “Dan’t ek nie van die lekkerste sjokoladekoek in Pretoria gekry nie,” glimlag Jemma. En ook nie ’n gesteelde halfuurtjie saam met jou nie.

      Sy gaan kry ’n piering om te verhoed dat die as mors. “Vra seblief vir Kaydee waar ons vuurhoutjies kan kry,” vra sy vir Reuben wat agter haar aan gestap kom.

      Hy loop na ’n kombuiskas en haal ’n lang aansteker uit – die soort waarmee mens braaivleisvuur maak.

      “Jy’s tuis hier,” sê sy verras.

      “Ek en Adam kom ’n lang pad.”

      “Regtig?”

      “Hmm. Lang storie, dalk sal ek jou eendag vertel.”

      Sy kyk nuuskierig op, maar hy hou net die aansteker nader. Die moxa vat nie dadelik vlam nie. Jemma blaas liggies daarop en trek haar neus op vir die skerp kruiereuk.

      “Ruik soos die een of ander soort wierook,” merk sy op.

      Sy glimlag is sardonies. “Nee, my engel, dit ruik eerder soos dagga. Maar ek verwag nie dat ’n onskuldige nooi soos jy dít moet weet nie.”

      My engel? Jemma kyk vinnig op in sy oë, soek daar na iets wat sy self nie kan verwoord nie. Moenie simpel wees nie, vermaan sy haarself, dis g’n liefdesnaampie nie! Hy sê dit seker vir almal, nes party vroumense almal links en regs “my skat” noem. Maar hy’s nie ’n vroumens nie, stry haar hart, en sy het hom nog nooit so iets hoor sê nie . . .

      “Kom,” verbreek hy haar mymering. “Kom spreek jou toorwoorde voor jou dagga-sigare uitbrand.”

      Sy skud haar kop kastig vies, maar volg hom tog. Kaydee lê grootoog vir hulle en wag op ’n leerbank, haar voete op een van die armleunings. Jemma glimlag gerusstellend.

      “Reuben gaan eers die hartjie beluister sodat ons ’n basislyn het.”

      Kaydee trek haar trui op oor haar boepie. Reuben kry twee komberse uit ’n mandjie wat daar naby staan. Hy drapeer een om Kaydee se bene, die ander om haar bolyf en skouers.

      “Sodat jou kaal pens en pote nie verkluim nie,” glimlag hy. Jemma vergaap haar aan sy bedside manner – veral toe hy boonop die jel vir die Doppler uit ’n beker warm water haal wat op die koffietafel reg staan.

      “Ontspan, hierdie sal nie te ysig wees nie,” stel hy Kaydee gerus.

      “Wie’t jou so mooi geleer van warm jel?” moet Jemma vra. Sy kan die bewondering vir hierdie sorgsame gebaar nie uit haar stem hou nie. “Jy’s dan ’n pediater, nie ’n gynie of ’n radioloog nie.”

      “Jy’s nie al een met ouers in die verloskunde nie,” glimlag hy. “My pa was ’n ginekoloog. Hy het my van kleins af saamgeneem werk toe. Ek was nog ’n tjokkertjie toe kon ek al sonars doen. Koue jel op ’n swanger vrou se maag was vir hom doodsonde.”

      “ ’n Gentleman-gynie,” sê Jemma beïndruk. “Wens ons het nog van hulle gehad.”

      Klip-klop, klip-klop, klip-klop verskyn die fetale hartklop op die monitor. Nes perdepote op ’n teerpad, dink Jemma soos altyd.

      “Klink uitstekend,” verseker Reuben vir Kaydee. “Jemma, ons is reg vir jou. Do your magic.”

      “Orraait, babatjie,” prewel Jemma, “nou moet jy saamwerk, hoor?” Sy trek Kaydee se sokkies uit en bestudeer haar voete. “Hierdie maak nie seer nie, Kaydee. Glad nie soos vanoggend se tegniek nie. Ek gaan nie eens aan jou maag raak nie. Ek gaan die moxa net langs jou kleintoontjies hou. Dit gaan gloei, maar ek belowe ek sal jou nie brand nie.”

      Ag, laat dit asseblief werk, bid sy stil, laat hierdie liewe jong ma haar hartsbegeerte kry.

      Ná ’n paar minute skuif Kaydee ongemaklik rond, haar hand op haar maag.

      “Nóú’s sy wakker!” sê sy. “Dit voel of sy wil uitklim!”

      “Kom ons hoop dan sy – of hy – woel sommer heeltemal onderstebo,” sê Reuben. “Jy besef natuurlik dat jy dikwels praat asof dit ’n dogtertjie is? Is dit maar sommer, of het jy per ongeluk iets met ’n sonar raakgesien? Of liewer, iets nié raakgesien nie?”

      Kaydee lag verleë. “Ek kon van die begin af nog net aan ‘haar’ dink. Ek weet nie hoekom nie. Adam is weer oortuig dis ’n seuntjie.”

      “My geld is op jou,” sê Jemma. “ ’n Ma weet gewoonlik. Net solank jy nie te verknog is aan die idee nie.”

      “O,

Скачать книгу