Bosveldliefde vir Jemma. Amelia Strydom

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Bosveldliefde vir Jemma - Amelia Strydom страница 8

Bosveldliefde vir Jemma - Amelia Strydom

Скачать книгу

gehad?”

      Die swangerskaphormone maak baie vroue buierig, veral teen die einde, maar dis die eerste keer dat Jemma Kaydee hoor huil.

      “Nee,” kom dit tussen die snikke deur. Skielik onthou Jemma dat Kaydee vroegoggend ’n afspraak by haar ginekoloog gehad het.

      “Wat sê dokter Campbell? Als reg?”

      Nog snikke, harder dié keer.

      “Kaydee, práát asseblief!” Die bevel klink strenger as wat Jemma bedoel het, maar ’n ferm benadering is nou al raad.

      “Dokter sê . . . hy sê die baba lê stuit, Jemma!”

      “Agge nee.” Jemma vryf hard oor haar oë. Sy’s dankbaar dis niks ernstigers nie, maar die implikasies van die nuus is steeds sleg. ’n Baba wat stuit lê, met die boudjies ondertoe, maak ’n keisersnit noodsaaklik. Nie net sal Kaydee nie op die wildplaas kan kraam nie, sy sal nie eens natuurlik geboorte kan gee nie.

      “Dalk sal dokter Campbell die baba probeer draai?”

      “Hy hét,” snuif Kaydee. “Dit was vrek ongemaklik, maar die kleintjie wou nie roer nie.”

      “Ai, jong . . .”

      “Ek’s so teleurgesteld! Ek kan nie glo dit gaan nie uitwerk soos ek en Adam gedroom het nie. En as dit hierdie keer ’n keiser is, sal ek nooit weer ’n tuisgeboorte kan hê nie.”

      “Daar’s darem nog ’n paar truuks wat ons kan probeer,” troos Jemma.

      “Regtig?” Kaydee sluk hard.

      “Regtig. Jy moet twee keer per dag vir vyftien minute met jou boude in die lug lê. Ek sal jou nou-nou kom wys hoe. En ek wonder . . .”

      “Wat?” snuif Kaydee gretig. “Is daar nog iets? Ek sal enigiets probeer, regtig!”

      “Wel, daar is ’n ander tegniek ook. Dis onkonvensioneel, maar ons het niks om te verloor nie. My enigste voorwaarde is dat jy dit eers met Reuben uitklaar.”

      Tien minute later lui haar foon weer. Reuben se naam flits op die skermpie.

      “Jemma Lindeque,” antwoord sy in haar beste nabootsing van selfversekerde professionaliteit. Sy’s amper te bang om te hoor wat Reuben van haar voorstel dink. Gelukkig hou hy haar nie lank in die duister nie.

      “Môre, is dit die sangoma?” Terglus bruis soos vonkelwyn in sy stem. Jemma wil die foon deur die venster smyt.

      “Het jy miskien ’n beter voorstel?” vra sy skerp. “Het jy enige voorstel wat nie ’n spinaal en ’n skalpel behels nie?”

      “Ongelukkig nie,” sê hy vroom. “Maar ek’s ’n regte dokter, nie ’n kwaksalwer nie. ’n MBChB, nes jy my anderdag herinner het. My opsies is beperk tot, uhm, wetenskaplike ingrepe. Gelukkig is jy daar om meer . . . holisties te werk te gaan.”

      “Jy dink dis ’n stupid idee,” snou sy, boos dat sy soveel omgee wat Reuben Stiller dink. Sy háát dit om te wonder of hy die seerkry in haar stem kan hoor.

      Asof hy haar gedagtes kan lees, vervolg hy ernstiger. “Ek dink dit kan nie kwaad doen nie. Ek gaan nie vir jou jok nie, ek twyfel of dit sal werk. Maar ek dink Kaydee kort die gemoedsrus dat sy alles probeer het. Ek sal saam met jou gaan, vir morele ondersteuning en om die hartklop te monitor. Kan ek jou oor ’n uur kom oplaai?”

      “Oukei,” brom Jemma. “Ons sal by dokter Wu moet langs ry om moxa te kry. Hy’s al akupunkturis wat ek ken.”

      “Akkoord.” Hy probeer hoorbaar sy lag sluk. “En Jemma?”

      “Wat?”

      “Moet ek jou met die Jeep kom haal, of sal ons albei op jou besemstok pas?”

      Sy druk die rooi knoppie op haar foon voordat sy hardop swets. Besemstok, inderdaad!

      Jemma wag op haar rooi stoep toe die Jeep voor die hek stilhou. Die wind sny deur haar jeans. Gelukkig het sy ’n snoesige rolnektrui aan, en ’n wolmus om haar ore warm te hou. Reuben wip uit die viertrek en sy stap hom tegemoet.

      “Vir wat staan jy hier buite en bibber?” raas hy. “Dis ’n helse koue front dié.” Wasem stroom met elke woord by sy mond uit. Jemma probeer die hek oopsluit, maar haar vingers is dom van die koue. Reuben steek sy arm deur die tralies en vat die sleutels by haar. Toe hy die hek oopmaak, trek hy haar onverwags teen hom vas.

      “Jou neus gloei van die koue,” fluister hy in haar nek. “Kom hier dat ek jou warm maak.”

      Voor Jemma kan keer, is sy lippe op hare. Haar ore zoei. Haar binnegoed smelt soos sjokolade oor ’n vlam. Toe hy haar skouers los en terugtree, voel dit asof sy van ’n mallemeule afklim. Sy staan stil, maar die bekende mure en kaal jakarandas van haar straat bly draai . . . en draai . . .

      “Vir wat het jy dit gedoen?” vra sy toe die aarde oplaas stadiger draai.

      “Drie redes,” terg hy. “Een, om jou warm te maak. Twee, want jy lyk sexy in jou jeans en bootse.” Sy oë gly waarderend langs haar bene af. “En drie,” vervolg hy, ietwat ernstiger, “om askies te vra dat ek netnou jou been getrek het. Netnou be-skuldig jy my weer dat ek nie jou beroep respekteer nie.”

      Jemma rol haar oë, maar drink tog sy woorde gretig in. Miskien is hy tog nie sonder agting vir haar en haar lewens-taak nie? Dalk is hy een van die min dokters wat nie sy neus vir ’n vroedvrou optrek nie. Of miskien, dink sy, soen hy net so lekker dat sy nie meer logies wil – of kan – dink nie.

      Hulle ry deur die vaalgrys strate na dokter Wu se spreekkamer. Tot hul verbasing lyk die Chinese dokter se kantoor maar nes ’n Westerse arts s’n. Selfs die ontvangsdame is ’n goed versorgde blondine in haar veertigs. Sy gee vir Jemma ’n langwerpige geel boksie. Hulle kry die dokter self glad nie te siene nie.

      Oorkant die spreekkamer is ’n Duitse bakkery met vrolike rooi stoepsambrele. Reuben gryp Jemma se hand spontaan en sleep haar soontoe.

      “En nou?” lag sy, uitasem omdat sy lyf al weer so naby hare is. “Is jou koffielus só onhoudbaar? Jy weet ons gaan weer by Kaydee iets moet drink, nè?”

      “Dis nie die koffielus wat my onderkry nie.” Hy stuur haar hand op die rug by die eetplek in, tot by ’n tafel voor die kaggel. “Dis die lus om jou ’n paar minute net vir myself te hê.”

      Jemma laat sak haar oë. Sy vroetel met die spyskaart om sy blik te ontwyk. Wat gaan met haar aan? Sodra sy naby Reuben kom, voel dit kompleet of aliens haar weggedra en ’n hoër-skoolmeisie met puisies en draadjies in haar plek agtergelaat het. Hoekom het die man so ’n effek op haar? Ja, hy’s verdomp aantreklik, maar sy kan haarself darem gewoonlik handhaaf in die teenwoordigheid van testosteroon. Van wanneer af bring ’n paar blougroen oë haar só van stryk?

      Toe Reuben weer praat, is sy stemtoon lig en tergend. “Om van my sjokoladelus nie te praat nie! Het jy al ooit die brownies in hierdie plek geëet? Of die tjoklitmousse-koek? Reguit uit die hemel uit, ek belowe.”

      Jemma skud haar kop dronkerig. Ewe skielik klink hy so onskuldig dat botter nie in sy soenbare mond sal smelt nie. Sy wonder amper asof sy geflirt nie alles in haar muisnes-deurtrekte kop was nie.

Скачать книгу