Bosveldliefde vir Jemma. Amelia Strydom

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Bosveldliefde vir Jemma - Amelia Strydom страница 6

Bosveldliefde vir Jemma - Amelia Strydom

Скачать книгу

’n rilling en voel hoe haar tande teen mekaar wil-wil kletter.

      “Jy kry koud. Hoe onbedagsaam van my.” Hy skakel die verwarmer aan.

      “Dankie,” mompel sy onwillig. “Maar ek klappertand altyd so as ek die hel in is. Van kleins af. Dis flippen embarrassing.”

      “Adrenalien,” sê hy droog, sy oë stip op die pad. “Ek’s jammer om ’n pes te wees, Jemma. Jammer dat ek hierdie . . . onkonvensionele metodes gebruik om jou te probeer oortuig. Ek is regtig nie gewoonlik so opdringerig nie. In hierdie geval voel ek net dat, wel, dat die doel die middele heilig.”

      “En wat is die doel miskien? Is dit die lekker vet tjekkie wat jou onkonvensionele metodes motiveer, of die heimlike begeerte om daai handsome bakkies van jou op ’n paar koerantvoorblaaie te kry?”

      Sy swye ná haar beskuldiging is so koel dat Jemma haar baadjie stywer om haar skouers trek. Dikbek kyk sy hoe die straatligte verbyflits. Hulle lê ’n hele paar kilometer in stilte af voor hy eindelik weer praat.

      “Ons is hier. Probeer net een ding onthou. Agter al die geld, al die roem en die blink is Kaydee en Adam net twee opgewonde, onseker jong mense wat ondersteuning nodig het deur ’n groot nuwe ervaring.”

      Jemma maak haar mond oop om ’n antwoord terug te slinger, maar besef dan dat sy regtig niks het om te sê nie.

      3

      Sy’s nie seker wat sy verwag het van ’n huis wat ’n glansakteur sal huur terwyl hy ’n fliek verfilm nie, maar hierdie stylvolle woning in ’n stil Groenkloofstraat strook nie met die vae prentjie in haar kop nie. Daar waak wel ’n bonkige sekerheidswag by die hek, maar selfs dié stel haar teleur toe hy hulle nie eens voorkeer nie.

      “Lyk my Rambo verwag ons,” merk sy op. “Seker volle vertroue gehad dat jou ontvoering sou slaag.”

      Reuben sê niks, kom maak net vir haar die deur oop sodra hulle geparkeer het en probeer haar arm neem. Sy ruk weg. “Los! Stockhölmsindroom is vir sissies. Ek hang g’n aan ontvoerders nie.”

      Hy proeslag. “Kyk waar jy loop, die paadjie is bietjie ongelyk.”

      Die tuin is behang met feetjieliggies en strelende klaviermusiek kom op die naglug aangedryf. Jemma mik stuurs voordeur toe met Reuben kort op haar hakke. Sy blik brand soos gloeiende kole op haar rug.

      Jemma is stomgeslaan toe Kaydee self die voordeur oopmaak en haar met ’n gilletjie om die nek val. Onwillekeurig deins sy effens terug. Sy’s gemaklik met fisieke kontak – ’n vroedvrou moet wees – maar dis nie die verwelkoming wat sy van ’n celebrity verwag het nie.

      “Jemma! Jy’s hier! O dankie, dankie, dankie dat jy gekom het!”

      Toe die wurggreep om haar nek skiet gee, kry Jemma kans om die lewende legende behoorlik te beskou. Kastaiingbruin hare val in sagte golwe om ’n fyn hartvormige gesiggie. Groot bokkiebruin oë laat die meisie selfs jonger as drie-en-twintig lyk – bitter onskuldig vir iemand wat reeds sedert haar tienerjare in die kollig leef. ’n Ligpienk truitjie drapeer wolksag om haar vroulike rondings en netjiese boepie.

      Kaydee druk Reuben net so warm teen haar vas. “Hoe kan ek dankie sê dat jy haar oorreed het om te kom? Jy’s ’n engel, Reuben.”

      Dis op die punt van Jemma se tong om Kaydee te vertel hoe die “engel” haar soos ’n wafferse Mafioso bedrieg en ontvoer het, maar sy bedink haar toe ’n mansfiguur agter die popster verskyn.

      Adam Jordan met sy surferblonde hare was nog nooit Jemma se tipe nie. Tall, dark and handsome vir haar, dankie. Tog besef sy dadelik waarom dié man gehore laat kwyl. Dis in die oë: groot, neutbruin, weerloos en omraam deur welige wimpers. Wel, grinnik Jemma innerlik, as hierdie baba nie soos ’n reïnkarnasie van Bambi lyk nie, moet Adam laat vaderskaptoetse doen. Met sulke gene het die kind geen kans op blou of groen oë nie.

      “Hi, Jemma, ek’s Adam.” Adam se Amerikaanse aksent is minder opmerklik as Kaydee s’n. Jemma wonder of hy daaraan moes werk om meer Suid-Afrikaans te klink vir sy huidige rol. Sy handdruk is ferm, sy blik reguit. “Welkom hier by ons. Wat kan ek vir jou kry om te drink?”

      “Hallo, Adam. Wel, wat het julle?”

      “Dit sal meer gepas wees om te vra wat hulle nié het nie.” Reuben klink geamuseer. “Sê net waarvoor jy lus het – Adam sal dit wel uit sy indrukwekkende kroeg kan optower.”

      Jemma se wange smeul. Sy’t al weer vergeet met wie sy hier te make het. Vanaand sal die twee seker lekker giggel oor die versukkelde vroedvroutjie wat niks gewoond is nie!

      Kaydee kom tot haar redding. Sy haak by Jemma in en stuur haar na ’n ruim leefvertrek waar ’n kaggelvuur knetter.

      “Jy’s seker lus vir iets warms op so ’n koue aand. Hoe klink ’n spiced chai latte? Dit sal jou nie wakker hou as jy nou-nou wil slaap nie. Dis my drankie van keuse noudat koffie verbode is.” Sy streel oor haar boepie.

      “Dit klink heerlik, dankie.”

      Jemma gaan sit op die punt van ’n rusbank. Sy gluur dreigend na Reuben toe hy vir die plek langs haar mik, maar hy sien dit kamma nie raak nie. Hy vly hom neffens haar neer, so naby dat sy bobeen effens teen hare rus. Ongemerk probeer sy wegskuif, maar hy laat sy lang been net ál verder na haar kant toe kantel. Sy frons boosaardig. Hy trek sy vingers ongeërg deur sy kuif.

      Ergernis vermeng met onbekende opwinding laat Jemma se hart jaag. Dit klop so wild in haar borskas dat sy wonder of Reuben dit nie dalk hoor nie. Wat ís dit met haar? Sy kyk anderpad na Kaydee wat haar op die oorkantste bank tuis gemaak het. Die meisie het haar skoene uitgeskop en haar voete, in snoesige gestreepte sokkies, onder haar ingetrek. Sy sit so sereen soos ’n kruisbeen Boeddha na Jemma en kyk.

      “So,” verbreek Jemma die stilte, “is dit ’n seuntjie of ’n dogtertjie?”

      “Dis ’n verrassing,” straal Kaydee, haar wange bloesend in die gloed van die kaggelvuur. “Dis meer pret om te wag, dink jy nie?”

      “Ek dink dis vreeslik opwindend om met die geboorte eers uit te vind. Maar deesdae is dit raar om mense te ontmoet wat geduld het.”

      “Weet ek dit nie,” lag Kaydee. “Jy kan nie glo hoe almal ons verpes om tog maar uit te vind nie. Mense is só nuuskierig. Weet kastig nie wat om te koop as die geslag ’n geheim is nie. Mens sou sweer blou en pienk is die enigste twee kleure onder die son!”

      “Hmm,” stem Jemma saam. “Ons lewe in ’n samelewing van instant gratification.”

      Kaydee skuif vorentoe in haar stoel, haar gesig lewendig van belangstelling. “Is dit hoekom hier so ’n hoë keisersnitsyfer is, dink jy? Ek bedoel, die VSA se syfer is ook hoog, maar nie naastenby soos hier nie. Is dit waar dat tot negentig persent van vroue in privaat hospitale keisersnitte kry?”

      “Dis waar, ja,” knik Jemma. “Ongeduld speel ’n groot rol – in die ma’s, die pa’s en die dokters. Party vrouens kies keisers omdat hulle wil beplan. ‘Ek het Donderdag daai bestuursvergadering. Ons doen Vrydag die snit, dan kan manlief rustig oor die naweek kom kuier.’ Dis hartseer hoe so ’n grootse gebeurtenis gereduseer word tot ’n chirurgiese prosedure.”

      “Dis hoekom ons ’n vroedvrou soek,” knik Kaydee. “Om ons die beste moontlike kans te gee op natuurlike geboorte. Ons weet jy kan

Скачать книгу