Schalkie van Wyk Keur 9. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 9 - Schalkie van Wyk страница 22

Schalkie van Wyk Keur 9 - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

sy verskonend.

      “Oom hoef nie die drie rand terug te gee nie,” sê Gerrie vinnig. “Sien, ons moes iets vir Bismarck voer terwyl ons hom daar in die buitekamer geskeer het, en toe vat ons die bak maalvleis in die yskas. Gelukkig het oom-hulle tee gedrink en toe het Peet gou-gou die maalvleis kom haal.”

      “En Bismarck het daardie hele bak vleis geëet?” vra tant Dassie en staar die poedel op haar skoot verbysterd aan.

      “En drie van my lekkerste toffies,” lig Peet haar in en kyk kwaai na Bismarck. “Maar hy is so ’n vraat dat hy sommer die toffies heel ingesluk het. En toe ruk hy los en hardloop huis toe.”

      “Dalk kan oom sommer sy stert met oom se elektriese skeermes kaal skeer, want ons sal nou vinnig moet deurdraf skool toe en die haarknipper vir Naas gee. Of sal Bismarck se bietjie hare nie vir oom hooikoors gee nie?” vra Gerrie belangstellend.

      “Hooikoors,” sê oom Lukas en skud sy kop asof die woord hom verbyster. “Los maar my hooikoors, seuns, en hoop maar die ou gemmerbrakkie kry nie verkoue en longontsteking noudat hy so poedelnakend deur die lewe moet gaan nie …” Hy merk die breë, ingenome glimlagte op die seuns se gesigte en bulder onverwags: “Draf, julle onnutte! Nee-a, ek sal nie toelaat dat julle dros nie!”

      Die tweeling vlieg die vertrek uit asof oom Lukas se woorde vuur onder hulle voete gemaak het, en Sanet luister na die geklap van hulle skoene op die geplaveide tuinpaadjie en die metaalgeklingel van die tuinhekkie wat oopgeruk en toegeslaan word.

      “Miskien moet ek hulle liewer met die motor skool toe vat en aan die skoolhoof verduidelik wat presies gebeur het,” sê Sanet bekommerd.

      “Ek sal gaan, want hulle het Naas van Tonder se haarknipper vergeet. Ek sal sommer die knipper saamneem en aan Louw du Plessis verduidelik dat die seuns se oortreding ter wille van my hooikoors was,” sê oom Lukas en staan op.

      “Ek wonder tog oor daardie hooikoorsstorie, Lukas,” kom dit agterdogtig van tant Dassie. “Toe jy jonk was, het jy nooit hooikoors van dierhare gekry nie.”

      “Toe ons jonk was, Dassie, het jy ook nie van soggens vroeg tot saans laat met ’n orige poedel op jou skoot gesit nie. Ek kan my so vervies vir ’n oujongnooi met ’n skoothondjie … daar is mos genoeg mense in die huis om lief te hê sonder om jou tyd op ’n liederlike brak te mors!” sê hy kwasterig.

      “Daar is ’n besondere band tussen my en Bismarck, Lukas, want hy is al tien jaar lank soos ’n kind in my huis … Miskien het ’n man dit nie nodig nie, maar as ’n vrou alleen woon, is dit goed om te weet daar is darem nog ’n asempie in die huis om die eensaamheid buite te hou.”

      “Natuurlik kan ek dit verstaan, maar ek praat van nou. Hier is ’n huis vol mense en dit is seker nie nodig dat jy nog so oor die brak tekere gaan nie. Laat hom op die grond lê – die mat is sag genoeg – en moenie hom alewig vashou asof jy bang is hy sal val nie. Honde hoort in elk geval buite,” snou oom Lukas en begin wegstap.

      “Jou siel is ongetwyfeld kleiner as dié van ’n mier, Lukas Grové,” verklaar tant Dassie met kille waardigheid, onbewus daarvan dat oom Lukas breed glimlag en vir Sanet knipoog voordat hy uitstap.

      Sanet vee Bismarck se bruin poedelhare wat oor die vloer van een van die buitekamers versprei lê bymekaar en gooi dit in die vullishouer voor die agterdeur.

      “Haai, wag vir my, Sanet!” roep ’n meisiestem skuins agter haar. Sy kyk om en sien Marie-Louise deur die boord aangehardloop kom.

      “Dis ’n verrassing.” Sanet glimlag bly en weet sy voel getroos oor Marie-Louise se besoek omdat sy Jean-Pierre se suster is. “Is jy lus vir ’n koppie tee?”

      “Dis te warm, dankie, en ek het nou net koeldrank gedrink.” Marie-Louise kyk na die agterdeur en dan na ’n groen tuinbank onder ’n peperbessieboom in die agterplaas. “Sal ons daar gaan sit? Dis koeler hier buite,” stel sy voor.

      “Seker,” willig Sanet in en stap saam met haar besoeker na die tuinbank. “Ek wou jou reeds iets gevra het,” vervolg sy terwyl sy op die bank gaan sit.

      “Nie voordat jy my vraag beantwoord het nie,” sê Marie-Louise glimlaggend en vervolg nuuskierig: “Wat het jy met my broer aangevang? Hy het in die dierbaarste stemming denkbaar tuis gekom, oor die ringmuur geklouter om jou te kom groet en ’n halfuur later teruggekeer en gedreig om moord en selfmoord te pleeg. Is Jean-Pierre verlief op jou, Sanet?”

      “Hoe moet ek weet?” vra Sanet oorbluf en voel hoe sy bloos. “Ek bedoel, ons weet almal hy gaan met Elrina trou.”

      “Dis wat Elrina en tant Ellie en ’n paar ander oningeligtes glo, maar ek twyfel lankal al daardie storie. Jean-Pierre was reeds vyf-en-dertig en daar is niks wat keer dat hy vandag nog trou nie. Elrina het haar studies ’n jaar gelede reeds voltooi, maar hulle is nog nie eens verloof nie. Lyk Jean-Pierre soos ’n man wat sal toelaat dat ’n meisie hom aan ’n lyntjie hou?” vra Marie-Louise nugter.

      “As ’n man ’n meisie werklik liefhet …” Sanet huiwer en praat dan vinnig: “Jean-Pierre het gesê Elrina glo sy is ’n geëmansipeerde vrou wat haar vryheid bo ’n gelukkige huwelik stel. Ek kan verkeerd wees, maar ek glo Jean-Pierre flankeer met my omdat hy Elrina in ’n haastige huwelik wil dwing.”

      “Dit is natuurlik moontlik, maar waarom het hy dan aan my gesê dat hy met jou gaan trou?”

      Sanet se oë rek wyd van ongeloof. “Het hy dit … sowaar gesê?” Sy sluk droog en byt hard op haar onderlip, byt totdat sy seerkry, asof sy hoop dat die werklikheid van haar pyn haar van haar droom sal laat vergeet.

      “Ja, maar ek weet nie meer wat om te glo nie. Hy het my daardie eerste dag, toe jy en die tweeling hier aangekom het, vertel hy gaan met jou trou, maar tot dusver het hy jou nog nooit uitgeneem nie en nou was hy vier dae lank saam met Elrina en tant Ellie in die Kaap. Jou tant Dassie vertel my julle verwag jou vriend van Johannesburg, daarom het ek gewonder … Gaan jy met Tertius trou, of hou jy maar net van hom?”

      Sanet staar voor haar uit en wonder watter antwoord sy aan Marie-Louise moet gee. Sy soek met rustelose oë na ’n oplossing tussen die bome van die boord skuins agter haar. Sy sien ’n beweging en sy snak na haar asem en spring vinnig op.

      “Jean-Pierre?” roep sy en loop stadig om die bank na die dik stam van ’n stokou pruimboom.

      “Ja, Sanet?” Jean-Pierre kom agter die stam te voorskyn en eet smaaklik aan ’n pruim en betrag haar met vriendelike belangstelling.

      “Jean-Pierre, jy is ook ’n aap!” bars Marie-Louise uit. “Ek doen al die moeite om Sanet oor haar gevoel vir Tertius uit te vra, en jy kom luister ons soos ’n stout kind af.”

      “Ek is ’n haastige man, want daardie meneertjie van Gauteng kan nou enige oomblik hier opdaag en intussen loop ek met my meisie se ring in my sak rond. Komaan, Sanet, raak verloof aan my,” pleit hy en haal die ringdosie uit sy sak. “Ek verwaarloos my slaap, my etes, my praktyk en my boerdery … en dis alles jou skuld. Toe, meisie met die droomoë, gee vir my ook ’n droom,” versoek hy met speelse erns.

      “Haai, wanneer het jy die ring gekoop, Jean-Pierre?” vra Marie-Louise nuuskierig.

      “Hy en Elrina het dit saam gekoop, maar sy wou dit nie hê nie en daarom probeer hy dit aan my vinger kry,” spot Sanet.

      “Dis nie Elrina se ring nie,” sê Marie-Louise

Скачать книгу