Schalkie van Wyk Keur 9. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 9 - Schalkie van Wyk страница 18

Schalkie van Wyk Keur 9 - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

sê,” antwoord Sanet beheers en wens sy het bly sit en liewer lelik gepraat wanneer Jean-Pierre uitbars van die lag terwyl sy die sitkamer uitstap.

      Sanet hou tant Dassie dop terwyl sy ’n goudbruin gebraaide skaapboud en aartappels uit die oond haal en in die lou-oond bêre.

      “So ja, nou is die vleis ook klaar,” sê tant Dassie geesdriftig, haal haar vrolike voorskoot af en glimlag vir Sanet, wat haar aangluur met ’n uitdrukking van koppige onvergenoegdheid.

      “Moenie frons nie, Sanet, dit gee jou plooie,” waarsku tant Dassie en hou haar kop skeef toe die tweeling se luide geroep en die geblaf van ’n hond hoorbaar word. “Die seuns is terug. Ag, ek hoop net hulle ontstel nie die liewe Bismarck nie.”

      “Goeistetjie, tannie het tog nie tannie se poedel saamgebring nie?” vra Sanet.

      “Vanselfsprekend. Ek het Jean-Pierre gevra of hy veilig in die voortuin sou wees en hom toe buite gelaat. Arme hond. Hy geniet dit só buite, want hy is sy lewe lank nog ’n woonsteldiertjie. Ek self geniet die ruimte van Lukas se groot huis en …”

      “Tant Dassie! Tant Dassie!” jubel die tweeling uitgelate, gryp haar arms vas en druk soene op haar mond en wange. “Hallo, tant Dassie! Hallo, tant Dassie!” groet hulle asof hulle heeltemal seker wil maak dat sy hulle hoor.

      “Dis nou genoeg, Peet,” sê Gerrie. “Ons het nou klaar gegroet en nou kan ons maar vra of tannie vir ons lekkers saamgebring het?”

      “Tog net nie weer sjokolade vir ou babatjies nie, tant Dassie. Ek hou van taai toffies, want hulle hou langer,” pleit Peet en wag hoopvol op ’n antwoord.

      “Waf-waf!” blaf ’n groot, sjokoladebruin poedel en Sanet sien hoe Bismarck omswaai na die gangdeur en dan teen oom Lukas se spierwit tennisbroek opspring.

      “Voertsek, jou vervloekte …!” Oom Lukas laat sy sin onvoltooid en steek in sy spore vas toe hy opkyk en tant Dassie met die seuns weerskante van haar in die middel van die ruim kombuis sien staan.

      “Middag, Lukas. Ek is dankbaar om te sien jy het intussen ook ’n ou man geword,” groet tant Dassie en bekyk hom krities.

      “Oud?” Oom Lukas se helderblou oë vernou tot strepies ergernis. “Ja, Dorothea, oud is ek wel, maar ons mans word mos aantrekliker met die jare, terwyl daar niks leliker as ’n ou vrou is nie.”

      “Oom Lukas …” verwyt Sanet en tree vinnig nader aan hom. “Tant Dassie is tog my eie ma se suster. Mag sy dan nie by my kom kuier nie?”

      “Jy het my niks van die slim professor-vroumens vertel nie, Sanet. En daardie kuierstorie glo ek nie, want ou Ellie van hier langsaan het my klaar ingelig dat die geleerde doktor genoeg bagasie vir ’n weeshuis saamgebring het en dat sy van Jean-Pierre verneem het dat ek nou ’n huishoudster met ’n doktorsgraad in geskiedenis gekry het,” antwoord oom Lukas en kyk vyandig in tant Dassie se rigting.

      “Waf-waf!” blaf Bismarck en spring weer teen oom Lukas se bene op.

      “Voertsek, jou …!” bulder oom Lukas, sien hoe Peet die poedel vang en vashou en beduie met ’n swaai van sy arm na die agterdeur. “Gaan sluit daardie onwelriekende gedrog in die buitekamer toe, seun. As hy weer in my huis kom, sit ek hom deur die vleismeule!”

      “ ’n Mens kan nie van ’n hond wors maak nie, oom,” wys Gerrie hom vies tereg. “Boonop is Bismarck nie ’n hond nie, maar ’n kind. Of het oom nie geweet oujongnooiens se kinders lyk almal soos katte en honde nie?”

      “Vat nou maar vir Bismarck agterplaas toe, Gerrie, anders kry die arme oom Lukas dalk ’n aanval van apopleksie,” versoek tant Dassie en stoot die seuns in die rigting van die agterdeur.

      “Apo-wat, Tannie?” vra Gerrie nuuskierig.

      “Beroerte, Gerrie,” sê Sanet ongeduldig en hoor die kombuisdeur agter haar toegaan. Sy kyk moedeloos na oom Lukas. “Sal oom ’n koppie tee of ’n glas lemoensap drink?” probeer sy die gesprek in ’n ander rigting dwing.

      “Waarom glo vroumense altyd ’n man wat briesend is, vergaan van die dors? Nee, ek is nie dors of honger nie en ek wil ook nie sit nie. Ek bly net hier staan en wag totdat doktor Dassie aan my verduidelik waarom sy skielik besluit het om haar geleerde siel oor my te ontferm. Of het jy al jou geld op die perde verloor, Dassie?” knor oom Lukas.

      “Jy kon my nog nooit vergewe omdat ek my studies voortgesit en my doktorsgraad verwerf het nie, nè, Lukas? Twaalf jaar gelede, op oorlede Daleen se begrafnis, het jy ook smalend daarna verwys. Jy kon mos ook verder geleer het?” vra tant Dassie rustig.

      “Dit gaan nie oor jou geleerdheid nie, maar oor jóú, Dassie. Net omdat my broer met jou suster getroud was, beteken dit nie dat ons familie en boesemvriende is nie,” grom hy.

      “Gelukkig nie, Lukas, maar Sanet is toevallig my susterskind en daarom gaan ek nie toelaat dat jy van haar ’n oujongnooi maak nie. Die gawe prokureur het my klaar ingelig oor hoe hard die arme Sanet moes werk om jou vuil huis skoon te kry. Drie weke lank, en sy was nog nie een dag saam met ’n jongman uit nie. Dit kan nie so voortduur nie, Lukas, want een oujongnooi in ’n familie is meer as genoeg,” sê tant Dassie.

      Oom Lukas kyk haar wantrouig aan en vra ongelowig: “Dan probeer jy sê jy het nie jou oujongnooiskap geniet nie?”

      “My lewe was niks eensamer as joune nie, Lukas,” antwoord tant Dassie. “Ek was altyd bedrywig, het altyd nuwe belangstellings bygekry, maar vandat ek afgetree het … dalk bly die mens ’n halwe mens as jy nooit trou nie.”

      “So, nè?” Oom Lukas lyk agterdogtig. “Jy het nie dalk self ’n man kom soek nie, Dassie?”

      “Ek hoef nie te soek nie, Lukas, want ek ken ’n eerbare man met wie ek sal trou as hy my sou vra. Maar nou moet …”

      “Nogal ’n ou flerrie ook, en dit op nege-en-sestig! Wie is hy? Hoekom het jy hom nie saamgebring nie? Of kom jy hier in my huis wegkruip sodat die ou man jaloers kan word en jou gouer kan vra om met hom te trou?” neem hy haar in kruisverhoor.

      “Lukassie …! Joe-hoe! Meester Lukas, waar kruip jy weg?” roep tant Ellie se skel stemmetjie in die gang agter oom Lukas.

      “Nou wat de joos …?” bars die onvoltooide vraag met ’n diep gegrom uit oom Lukas se keel, terwyl ’n donker gloed van ergernis oor sy gelaat sprei.

      “Dis tant Ellie, oom Lukas se dierbare buurvroutjie, tant Dassie,” sê Sanet gedemp en grinnik soos ’n stout kind toe oom Lukas haar boosaardig aangluur.

      “O, hier is jy, Lukassie,” koer tant Ellie en vat-vat aan haar hare om te voel of elke krulletjie nog op sy plek is. Sy loer met flikkerende wimpers na oom Lukas wat oor haar troon. “Ek het gekom om jou nuwe huishoudster te ontmoet, Lukas. Is dit nou sý?” vra tant Ellie en beskou tant Dassie onbeskroomd nuuskierig.

      “Ellie, moenie my Lukassie noem nie, want dit laat my onbeskryflik naar voel,” versoek oom Lukas.

      “Dis jou gal wat jou so naar maak, Lukas. Jy drink te veel koffie. As ek nou jou huishoudster was, sou ek jou niks anders as rooibostee laat drink het nie,” gesels tant Ellie sonder om haar oë van tant Dassie af te neem. “Jy is doktor Dassie de Bruyn, nè? Ja, ’n mens kan sommer sien jy is ’n slim vrou, maar weet jy darem iets van huishou? Jean-Pierre vertel my jy is ’n oujongmeisie wat jou lewe lank skoolgehou het.

Скачать книгу