Arendsnes. Dirk Jordaan

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Arendsnes - Dirk Jordaan страница 9

Автор:
Серия:
Издательство:
Arendsnes - Dirk Jordaan

Скачать книгу

paneelbord en die stukkende voorruit. Hy draai om en stap terug na die ander drie. Die eerste twee se arms en bene lê onnatuurlik geknak in verskillende rigtings, in onbeheerde doodsposisies. Hy draai na die derde misdadiger, wat in die sy gewond is en wat kreunend probeer regop kom. Botha druk sy tekkie onder die man in en draai hom met sy voet tot op sy rug. Sy linkersy en maag is vol donker bloed wat blink in die skel BMW-ligte. Die man steun, ’n geluid wat van iewers diep af kom, ’n dowwe kermgeluid. Botha gaan staan langs sy kop, mik met die rewolwer se lang loop na sy voorkop, net bokant die plek waar sy wenkbroue bymekaarkom. Sy eie asem jaag nou. “Hoe voel dit?” vra hy in Engels.

      Die man se witgesperde oë probeer op sy gesig fokus. Hulle soek na sy oë iewers in die masker.

      Botha trek die hamer weer met sy duim terug. “Hoe voel dit?”

      Die mond beweeg, probeer iets sê.

      “Ek vra: Hoe voel dit om gekaap te word?”

      Die lippe vorm die een of ander pleidooi.

      “Nie lekker nie? Ek het so gedink.” Botha druk die sneller.

      Sy hoor hom voordat sy hom sien. Toe sy met die sleutel in die dorpshuis se voordeurslot girts, kom sy stemmetjie soos ’n klein sirene van binnekant af: “Mammaaaaa!” Lydia weet hy kom van die sitkamer se kant af om die draai aangehardloop. Sy vrees elke keer as hy dit doen dat sy kop die kombuistoonbank gaan tref.

      Sy maak die deur oop. “Hallo, Mamma se bokkiewolkoppie! Hoe gaan dit?”

      Hy is in haar arms en sy sukkel vervaard om haar handsak en sleutels na haar linkerhand te verskuif voordat dit op die grond val.

      “Dit gaan lekke!”

      Sy tel hom tot op haar regterheup. “Jis, jy word al amper te groot om op te tel. Wag, laat ek my goed eers neersit.”

      Anton kyk om van die bank voor die televisie in die oopplanwoonvertrek. “Hallo.”

      “Haai, ek’s jammer ek’s so laat. Dit was hectic by die werk vandag.”

      “Mamma is laat,” beskuldig die mannetjie op haar heup.

      “Ek weet, Bokkie, ek weet. Het jy al geëet?”

      Hy knik. “Ja. Vissie.”

      “Wag, ek wil ook gou eet, ek wil al omval van die honger.” Sy sit hom neer en stap na die sitkamer, leun oor die armleuning van die stoel en soen Anton.

      “Jou kos is in die micro,” sê hy, afstandbeheer in die regterhand, voordat hy weer vorentoe kyk na die televisie, waarop ’n rugbywedstryd te sien is. Hierdie tyd van die aand moet dit ’n hoogtepunt-uitsending van een van die naweek se wedstryde wees, dink sy. Wat hy reeds gesien het.

      In die kombuis draai sy die mikrogolfoond se knop en wag vir die klingelgeluid voordat sy die bord uithaal. Inderdaad: stokvis met ’n krummelkors, kapokaartappels wat bolangs al geel verhard het en ertjies. Sy trek ’n stoel by die kombuistoonbank uit en gaan sit, terwyl Johan op die stoel langsaan haar klouter.

      “Dankie vir die kos, Pappa,” sê sy na die sitkamer se kant toe voordat sy vra: “En wat het jy alles vandag gedoen?”

      “Ek het met Tumi gefaait,” kondig Johan aan en pof sy wangetjies op.

      “Hoekom? Julle is dan beste maatjies …” Sy loer weer na Anton, maar hy’s oënskynlik verdiep in die spel op televisie.

      “Hy wou nie lat ek saamspeel innie sand nie.”

      “Het julle weer vrede gemaak?”

      “Hû?”

      “Is julle nou weer maatjies?”

      “Wetie.”

      “Dan moet jy môre weer met hom speel, oukei? Dan sal julle weer maatjies wees. ’n Mens moet probeer om nie vies te bly vir mekaar nie, oukei?” sê sy, dalk effe te hard sodat Anton dit ook moet hoor.

      Johan stem teësinnig in. “Oukei.”

      Sy kyk op na die kombuishorlosie. “Jy moet gaan slaap. Dis môre weer skool.”

      “Neeee!”

      “Ja, toe. Dan kan jy weer lekker leer en met Tumi speel.”

      “Mamma moet eers vir my ’n storie lees,” pers hy haar af.

      “Natuurlik, maar net ’n korte. Kom, sê nag vir Pappa.”

      Ná die driehonderd-vier-en-dertigste keer wat sy moes voorlees hoe die Woerlawoemp nie wil hê die kinders moet oor die brug stap nie, is sy terug in die huis se leefarea. Sy maak die yskas oop en haal die vorige aand se halwe bottel rooiwyn uit die deur, vul ’n glas, gaan lê op die bank langs Anton en skop haar skoene uit.

      “Hoe gaan dit by die werk?” vra sy.

      “Oukei.”

      “Ek het ’n ongelooflike dag gehad. Jy’t die ryk ou gesien wat gisteraand vermoor is? Die sakeman, Mackie?” Daar is opwinding in haar stem.

      Hy kyk na haar kant toe. “Ja?”

      “Ek is op die saak, en het ’n groot deurbraak gemaak.”

      “Dis goed.”

      “Jip, dit hou dalk verband met ’n ou saak van my. Ek het jou daarvan vertel, dis ’n polisieman wat so drie weke gelede vermoor is?”

      “Nee, sorrie, ek kan nie onthou nie.” Sy let op dat die plooi tussen sy oë nie weggaan nie. En dis nie daar omdat hy probeer onthou wat sy hom vroeër vertel het nie, daarvoor ken sy hom te goed. “Wat’s fout, Anton?”

      “Niks nie.”

      “Toe nou, jy kan nie iets vir ’n speurder wegsteek nie,” sê sy en probeer hard glimlag. “Praat met my.”

      Hy sug, sit die afstandbeheer neer en draai na haar toe. “Beteken dit jy gaan elke aand so laat by die huis kom?”

      Sy voel effe verslae. Sy was dan so opgewonde oor haar suksesse van die dag. “Soms, hoekom?”

      “Dis great dat jy nou ’n speurder is, deel van die Valke is, maar dis nie wat ons in gedagte gehad het nie. Ons het gedink dit sal beter gaan. Jy kom al later hier aan en die werk sluk jou in. En dis omtrent al waaroor jy kan praat …” Hy kry dit nie reg om die klank van beskuldiging in sy stem te verbloem nie.

      “Hierdie is my groot kans, Anton. Dis waarvoor ek gewag het, waarvoor ek opgelei is. Ons het tog geweet dit kan ook gebeur. Dit kom saam met die territory.”

      “Ek weet, ja, maar … Toemaar, los dit.”

      “Net hierdie een, dan sal dit rustiger gaan. Ek kan met hierdie saak my merk maak.”

      “Oukei.” Hy kyk weg. “Ek gaan slaap, dis ’n skooldag môre.” Hy staan op en sit die televisie af.

      “Ek kom nou, ek wil net eers gaan bad.”

      Hy

Скачать книгу