Daan Dreyer se blou geranium. Derick B van der Walt

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Daan Dreyer se blou geranium - Derick B van der Walt страница 6

Daan Dreyer se blou geranium - Derick B van der Walt

Скачать книгу

hy sy onderbroeke en kouse in die kas pak, sien hy sy trouring onder die sakdoeke uitsteek.

      Hy haal dit uit, weeg dit in sy hand. “Jy moenie te lekker lê nie. Een van die dae moet jy weer jou werk doen.”

      Hy sit op die swembad se trappie en roer die water met sy voete. Moes hy nie maar ja gesê het vir die opera-storie nie? Hy sou tog seker nie daarvan doodgegaan het om vir ’n uur of twee met ’n das in die Staatsteater na ’n gekattemaai te luister nie.

      Hy staar na die paar dowwe sterre in die vuil stadslug. Daar is ’n stukkie maan agter ’n wolk. Napoleon kyk op na hom. Hy waai sy stert onseker.

      Hy verwag tog nie Karen moet saam met hom Loftus toe gaan nie. Sy hou nie van rugby nie en hy is fine daarmee.

      Dis asof sy vir hom vaag raak . . . Asof hy sukkel om haar buitelyne raak te sien. Net die oë wat uitdrukkingloos na hom kyk, kan hy nie mis nie.

      Hoofstuk 3

      Hoofstuk 3

      Daan is soos gewoonlik kwart oor sewe by Millie se plek. Hy weet sy begin reeds saam met die hoenders bak en die plek is oop. Nog nie vir regte kliënte nie, maar wel vir hom.

      Die klokkie by die deur rinkel toe hy die deur oopstoot. Hy sal met haar moet praat oor die oop deur dié tyd van die môre. Dis nie veilig nie.

      Millie se plek ruik na sy ma se kombuis. Nee, kan nie wees nie. Sy ma het brood by Spar gekoop. Dalk sy ouma. Nee, hy het nooit eintlik sy oumas geken nie. Een het Alzheimers gehad en een het aanbeweeg toe hy nog baie klein was.

      Maar iewers het iets so nice geruik. Iewers waar dit kalm en rustig was. Jy is nou by die huis, sê dit. Jy kan maar jou kouse en skoene uittrek. Hy dink nie Millie sou omgee as hy dit sou doen nie.

      Dis eintlik ’n bakkery, maar daar is vyf tafeltjies agter ’n groot blou skerm met twee geborduurde kraanvoëls op. ’n Mens kan iets ligs by Millie eet, hoewel dit nie ’n regte restaurant is nie.

      Hy eet elke oggend hier voordat hy die kantoor pak. Drink koffie en lees die koerant. Skep moed vir die sake van die dag.

      Hy gaan sit oudergewoonte by sy tafeltjie by die venster en vou die koerant oop.

      Millie kom in, sit sy koffie langs hom neer. “Hoe was jou naweek?”

      “So-so. En joune?”

      Hy vat ’n sluk van sy koffie. Vars gemaal. Millie weet van.

      “So-so. Ek gaan maak gou vir jou iets om te eet.” Sy verdwyn agter die skerm.

      Hy bestel lankal nie meer nie. Millie maak sommer wat sy dink.

      Hy lees oor die ellendes van die vorige dag. Zuma se dinge. Die stakings. ’n Bekende Amerikaanse rolprentregisseur is oorlede. Hy kan nie onthou dat hy al ooit van die man gehoor het nie.

      Millie sit ’n stomende bord voor hom neer. Hy is honger. Hy vat ’n paar happe terwyl sy met gevoude arms na hom staan en kyk.

      “Jy weet van, Millie,” sê hy met ’n mond vol kos. “Was kos nog altyd jou ding?”

      Sy glimlag verleë, maar ingenome. “Ja wat, dis lekker as iemand jou kos geniet. Dis lekker om iets te maak met al die bestanddele . . . iets wat nog nie daar was nie. Iets wat niemand nog geproe het nie.”

      Hy kyk na haar terwyl hy kou. Fyn en valerig. Blonde haartjies teruggekam in ’n bondeltjie agter haar kop. Sy dra nooit grimering nie. Bietjie somber, soos sy woonstel. Dalk skugter.

      Hy weet nie veel van haar af nie. Net dat haar man in die polisie was en ’n paar jaar gelede in ’n rooftog doodgeskiet is. Hy dink nie daar is kinders nie. Met die polisgeld het sy die bakkery gekoop.

      Millie verdwyn agter die skerm.

      “Jy moet jou deur sluit so vroeg in die oggend. Dis gevaarlik!” roep hy agter haar aan.

      Sy reageer nie en hy blaai kouend na die sportbladsye.

      Net ná agt skakel Daan sy rekenaar aan. Hy lees verveeld deur die spul e-posse. Kennisgewings van ander departemente, ’n paar junk mails wat hy uitvee sonder om dit oop te maak. Die gebruiklike grappies van Jabu en Neels wat hy net nou en dan lees.

      En die e-pos dat hy Saterdag gasheer by Windmill se losie op Loftus moet wees. Hy sug. Hy weet nie eers wie speel nie. Maar dit kan nie ’n belangrike wedstryd wees nie, want dan sou hulle hom nie gevra het nie.

      Die losie. Simbool van die korporatiewe wêreld. ’n Mens sou ’n verhandeling oor die korporatiewe losie kon skryf, vermoed hy.

      Hy lees die lysie van wie daar moet wees. Die mannetjie met die perm wat in die kafeteria werk, gaan kroegman wees. Die res is van die jong meisietjies in die firma wat net daar moet wees vir garnering. Om met groot tieties en klein glimlaggies of klein tieties en groot glimlaggies ’n bydrae te lewer tot die welsyn van die firma.

      Die groot gatkruip. Dis deel van die besigheid.

      En hy weet skuldig dat die rankrosies sal moet bontstaan om uit die kloue van die semi-gesuipte garingballe te bly. Want die semi-gesuipte garingballe probeer freneties die meeste maak van die paar ure onder mammie se oë uit. Hulle kliënte. Hulle brood en botter.

      Hy sien verras Vanessa se naam is ook op die lys. Maar dan sien hy die gastelys. Bennett. Natuurlik sal Vanessa daar wees. Sy is besig met haar goed beplande soft-soap-storie.

      “Ons gaan nog baie ponde uit Bennett-hulle wurm. Hou my dop.”

      Hy twyfel nie vir ’n oomblik dat sy dit gaan regkry nie.

      En dan die e-pos van Jennifer namens die direksie dat die nuwe hoofbestuurder uiteindelik aangestel is. Teetyd moet almal in die personeelkamer bymekaarkom om kennis te maak.

      Die aanstelling sloer reeds ’n paar maande nadat John Walters ná twintig jaar uiteindelik die tuig neergelê het. Mediese redes.

      Móés neerlê, vermoed Daan, want John was nie meer goed vir die firma se nuwe beeld nie. Hy het gedink Jabu, die adjunkhoofbestuurder, sou die pos kry, maar dit was gou duidelik dat die aanstelling van buite sou kom. Die direksie het aangedring op nuwe bloed.

      Daar was gerugte oor moontlike kandidate van ander kommunikasiefirmas wat genader is, maar ná soveel jare in hierdie wêreld weet Daan dat ’n mens jou nie veel aan gerugte moet steur nie. En hy gee eintlik ook nie om nie. Almal verwag dat die aanstelling “korrek” sal wees en dat kundigheid waarskynlik nie die belangrikste oorweging sou wees nie.

      Die nuwe meisie by promosies loer om sy deur en klop sag. Tembi of Tombi of so iets. Hy kan nie onthou nie. Dis die vierde nuwe gesiggie by dié afdeling sedert Januarie, en dis nou eers April.

      Job-hopping, word dit genoem. Maar hy neem hulle nie kwalik nie. Daar is baie geleenthede daar buite, en as hulle hier weggaan, is hulle goed opgelei.

      “Kan ek pla?” vra sy.

      “Kom sit.”

      Sy lyk verleë. “Ek het te min begroot vir die mediafunksie by die St. George Hotel. Daar gaan meer mense wees as waarvoor die kliënt aanvanklik begroot het. Ek

Скачать книгу