Daan Dreyer se blou geranium. Derick B van der Walt

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Daan Dreyer se blou geranium - Derick B van der Walt страница 9

Daan Dreyer se blou geranium - Derick B van der Walt

Скачать книгу

rympie af wat hy al baie moes sê en nog baie gaan sê.

      “Eerstens: kardio.” Hy beduie na die fietse en trapmeule en nog ’n paar ander vreemde goed.

      “Dis die plek waar julle menere die meeste tyd sal deurbring. Dit maak die hart en die longe sterk en help om die ou lyf nog vol vuur te hou.”

      Die laaste word met ’n oogknip gesê. Daan is lus en gee die donnertjie ’n klap. Tollie, my seun, jy gaan nooit so ’n klein stront word nie, daarvoor sal jou pa sorg.

      “Hulle is ouer as ons!” fluister Neels en beduie na ’n bejaarde man en vrou op die fietse.

      Daan loer onderlangs. Die vrou lyk nogal na sy ma se buurvrou op Bethulie. Hy moet dalk ’n slag sy ma bel. Maar hy is nie lus vir sy ma se stories oor wie almal op die dorp intussen dood is nie. Onthou jy vir oom Herkie? Hy onthou gewoonlik nie een van die oorlede oom Herkies nie.

      Daan kyk om hom rond. Hy sien al meer mense van sy en Neels se ouderdom, selfs ouer. ’n Vreeslike vet man stap tydsaam op ’n trapmeul.

      Mettertyd begin Daan ontspan. Hy sien Neels kyk ook met meer belangstelling na die apparate en minder na die jong goedjies.

      Ná die rondte deur die verskillende afdelings is dit die kleedkamer en storte. Alles lyk skoon en netjies, sien Daan.

      Die knapie lei hulle met ’n trap op na die administratiewe gedeelte bo, wat op die res van die gym afkyk.

      “Soos ek sê, met ons promotion probeer ons . . . eh . . . meer mature clients aan die wonder world of the gym bekendstel,” rympie hy terwyl hy oor sy deurmekaar lessenaar leun.

      “Hier is julle entry cards vir die maand, en ek is seker ná die maand gaan ons vir julle permanent cards gee. Ons het natuurlik ’n special aan as julle vir drie jaar aansluit. En julle gaan góéd voel. Alles gaan beter werk as in jare.” Hy knipoog weer en glimlag selfversekerd.

      Daan kyk deur die snotkop se oë na die twee middeljarige mans wat voor hom sit. Een met ’n moerse boepens, en een wat na sy vrou verlang. Hy sien Neels lyk darem beïndruk.

      “Kom môre so halfvyf,” sê die mannetjie. “Dan evaluate ons julle en ons werk vir julle ’n programme uit. Daarna kan julle bietjie die equipment test, net om die litte los te maak.”

      Sy selfoon lui. “Howzit, Bro,” groet hy en wuif tot siens vir die twee ouballies.

      “Ons sal maar moet sien,” sê Neels toe hulle uitstap. “Hier is darem nie nét yuppies nie. En wie weet, dalk werk als beter.”

      Daan dwaal tydsaam met ’n mandjie tussen Woolworths se rakke deur, probeer bepaal wat hy nog nie beproef het nie. Die plek is vol mense wat soos hy goed soek wat hopelik na iets proe, maar in ’n mikrogolf sal pas.

      Hy ry stadig terug woonstel toe. Hy verjaar Vrydag en hy bedink al lank planne om hulle almal weer vir ’n slag om ’n tafel te kry. Hy, sy vrou, sy seun en sy dogter. Soos in die ou dae. Voor die groei begin het.

      As Karen bel om hom geluk te wens, sal hy terloops sê hy dink dis ’n goeie plan dat hulle soms saam tyd met die kinders deurbring om te wys hulle stel die kinders se belange eerste. Wat van ietsie by Romero’s? Sy sal nie kan nee sê nie. Hel, hulle is darem nie kwaad vir mekaar nie.

      Dalk moet hy vir ’n verandering ’n ander restaurant voorstel. Dit sal wys hy is nie so verstok in sy weë soos sy blykbaar dink nie. Hy kan ook groei as dit moet.

      Tuis pak hy die kospakkies in die vrieskas en besluit op die Thai-kerrie vir die aand. Hy verstaan steeds nie hoe om die gaarmaaktyd op die verpakking vir die mikrogolfoond aan te pas nie, maar hy weet dit moet minder tyd as laas wees, anders is dit te droog. Hy moet tog vir Millie vra. Sy sal weet van dié goed.

      Hy skink whisky en sit die televisie aan. Die kerrie werk. Hy sal dit weer koop.

      Toe hy in sy bed lê en rondrol, besluit hy om tog maar ’n tafel vir Vrydagaand te bespreek. Hy sal sy dinge mooi moet beplan. Hy dink hy kan.

      Karen mag dalk dink hy is nie meer goed genoeg vir haar nie, maar hy weet hoe haar kop werk. Die groeiding sal oorgaan, soos die meditasie en die kruie. Hy moet net kophou en goed beplan. Voor sy haar oë uitvee, is hy terug waar hy hoort. By sy huis.

      Daan en Neels staan verleë en wag in die kniebroeke en T-hemde en tekkies wat hulle oor middagete gaan koop het. Dis so bedrywig soos ’n miernes in die gym.

      Corné kom glimlaggend aangestap en sê hy is vir eers klaar met hulle, Henry neem van hier af oor. Hy sal vir hulle verduidelik hoe die program werk en die apparate demonstreer.

      Henry is minder entoesiasties oor die nuwe aankomelinge. Hy verduidelik lusteloos hoe die fietse werk waarop hulle vir tien minute moet opwarm.

      Daan kan sien Neels pluk hom.

      “Weet jy wie is ék? Ek is Neels Nolte en ek doen dispatch en admin vir ’n moerse groot plek. En dié ou,” hy beduie na Daan, “weet alles van geldsake af en hy het baie contacts. Jy help ons nou mooi of ons knip jou draadjie kort. Jy wil mos nog lánk by hierdie plek werk.”

      “Sorry, oom,” sê die outjie verbouereerd.

      “Ek’s nie met jou blerrie antie getroud nie. Ek’s menéér vir jou,” vat Neels vlam.

      Maar hulle is aan die trap en die inspanning ná al die jare van niksdoen blus die vlamme gou. Die tien minute voel soos ’n ewigheid. Henry staan nader toe hulle natgesweet en uitasem van die fietse klim.

      “Sjoe,” steun Neels, “ ’n mens raak gou sleg. Ek het nou die dag nog vir Adelaars stut gespeel.”

      Daan vermoed nou die dag is al ’n hele paar dekades gelede, maar hy verstaan. Dis nogal vir hom ook ’n skok om te besef dit voel nie meer so maklik soos toe hy nog lag-lag om Bethulie se rugbyveld kon draf nie.

      Henry beduie hulle na die eerste van die reeks apparate waar hulle al hulle spiere gaan oefen. Hy verduidelik en Daan en Neels doen. Dis ’n gesteun en ’n gekreun, maar hulle druk deur.

      Halfpad deur brom die meisietjie by ontvangs iets onhoorbaars in haar nasale stem oor die interkom. Henry verstaan blykbaar, want hy maak verskoning om gou ’n oproep te neem.

      Daan en Neels staan onseker na die volgende apparaat en kyk. Vir Daan lyk dit gevaarlik baie na iets waarop ’n slagter ’n varkboud kan ontbeen.

      “Kwit,” sê Neels terwyl hulle die ding bekyk. “Dis ’n sitplek. ’n Mens moet seker . . . daarop sit.” Hy sak steunend op die sitplek neer. “Dan moet jy seker dié ding vat.”

      Neels voer ’n beweging uit. Dit lyk nie vir Daan reg nie.

      “Ek voel nie iets nie. Dis te maklik. Of dalk moet dit so wees, dis dalk die rusplek langs die pad. Kwit, ons verdien dit,” steun Neels.

      Henry kom vinnig nader. “Oom, jy moet omdraai,” sê hy ongeduldig.

      “Man, oom en omdraai se gat!” blaf Neels, rooi in die gesig. “Kom, Daan, ek het nou genoeg gehad van hierdie kak.”

      Ten minste werk die storte soos by die huis.

      “Ons sal maar moet sien,” sê Neels

Скачать книгу