Ware verhale van geloof. Helana Olivier

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ware verhale van geloof - Helana Olivier страница 5

Автор:
Серия:
Издательство:
Ware verhale van geloof - Helana Olivier

Скачать книгу

dag van die week die hele dag lank gedrink het. My verslawing was heeltemal buite my beheer. Ek was vasgewikkel in die ontkenning dat ek my obsessie met kos vervang het met die drang om te drink. Baie jare lank het ek staatgemaak op ’n middel wat my denke verander het om my beter te laat voel. Ek was heeltemal onbewus van wat besig was om met my te gebeur. Ek het nie besef wat ek doen nie. My familie en hegte vriende het probeer ingryp, maar ek het my weer eens onttrek. Elke keer het ek verhuis onder die vals indruk dat ek net ’n nuwe begin op ’n ander plek nodig het. Ek het glad nie besef eksélf was die probleem wat telkens saam getrek het nie.

      Ek kon glad nie verantwoordelikheid aanvaar nie. Ek het nooit helder genoeg gedink nie. Ek het nie oor genoeg eerlikheid beskik om my situasie te erken nie. Dit alles was die gevolg van my swak keuses.

      My lewe het só voortgeduur … tot op een uitsonderlike dag. ’n Kennis, wat ek nou graag my aardse engel wil noem, het tot my redding gekom. Sy het lank toegekyk hoe ek in die diepste wanhoop wegsink, maar op ’n dag het sy na my uitgereik. Sy het my onvoorwaardelik liefgehad en my aanvaar.

      Die eerste ruk het sy net haar tyd opgeoffer om by my te wees. Sy het niks van my verwag in ruil hiervoor nie. Mettertyd kon ek dit waag om haar te vertrou. Ek het my diepste vrese en geheime met haar begin deel. Dit was iets wat ek nog nooit voorheen kon doen nie. Ek kon eenvoudig nie myself vir iemand anders oopstel nie. Ek het altyd gedink om hulp te soek is ’n swakheid. Deur my probleme met iemand anders te deel, het daar egter vir my ’n lig opgegaan. My las was skielik ligter. Ek was so siek soos my geheime, en ek het ’n ongelooflike gevoel van vryheid ervaar die oomblik toe ek dit kon deel met iemand wat ek vertrou het.

      Ek was lank so onafhanklik dat ek gedink het my wilskrag is sterk genoeg om vir my beheer oor my lewe te gee. Maar selfbeheptheid sal die een of ander tyd handuit ruk. Ek kon nie verder nie, en in my wanhoop het ek my oorgegee aan die vertroue dat daar iets moet wees wat groter as ek is en wat my kan help. Ek het alle vertroue in myself verloor. In my wanhoop was ek bereid om enigiets te doen. Ek het gesteun op my nuwe vriendin met haar kalmte van gees, want ek wou hê wat sy gehad het.

      Op ’n dag het sy onomwonde vir my vertel dat God vir haar gedoen het wat sy nie vir haarself kon doen nie. Haar wil as mens het haar in die steek gelaat.

      My hele lewe lank het die woord God ’n weersin by my gewek. Die sinspeling dat daar dalk ’n persoonlike God vir my is, het hierdie gevoel net laat verskerp.

      “Hoekom kies jy nie jou eie beeld van God nie?” het sy voorgestel.

      Al wat ek moes doen, was om bereid te wees om te glo in ’n krag wat groter as ek is. Dit was al wat van my kant af nodig was om ’n nuwe begin te maak. Dalk kon ek bou op die volkome bereidheid wat ek in my vriendin gesien het. Aanvaarding was regtig moeilik vir so ’n hardkoppige, selfsugtige jong vrou soos ek, iemand wat altyd alles op “haar manier” gedoen het.

      Ná ’n lang worsteling met die bekende gedagte van “Laat los en laat God,” het ek my uiteindelik aan Hom oorgegee. Uiteindelik het ek in die sonlig gestaan. ’n Nuwe wêreld het voor my ontvou. Hoe blind was ek nie!

      Ek het ’n ongelooflike gevoel van vryheid ervaar. My obsessies en my selfsug het afgeneem. My vrees vir mense en die lewe het vervaag, en my selfbeheptheid is vervang met die behoefte om na ander uit te reik en my insig met hulle te deel. Ek het my tekortkomings vreesloos in die oë gekyk, en ingestem dat my nuutgevonde God dit uit my lewe kon wegneem.

      Ek moes leer om nederig en eerlik oor myself te wees. Ek moes myself ten volle aanvaar en my foute erken. Dit was ’n lang en taai, maar tog ook ’n eenvoudige proses. Dit het aan my die vryheid gegee om aan te gaan met my lewe, om die verlede agter my te sit, om nie vooruit te dink aan die toekoms nie, maar om te leer om vandag te leef.

      Dit is nie altyd maklik om die regte keuse te maak nie – veral nie wanneer jy volgens geestelike beginsels in ’n materialistiese wêreld wil leef nie. Ek betrap my dikwels dat ek die beheer oor my lewe wil terugneem. Maar my bewustelike kontak met die Here hou my op die grond. Hy hou my nederig, eerlik en gewillig om die beheer oor my lewe uit liefde en met dankbaarheid in sy hande terug te gee.

      Hierdie “nuwe ek” is besig om te ontwikkel in die mens wat ek van geboorte af bedoel is om te wees. Liefde is ’n nuwe grens wat ek besig is om oor te steek. Ek leer nog om myself lief te hê, en om die liefde wat ek ontvang vrylik aan ander uit te deel.

      My verhouding met God is heg en persoonlik. Hy vergesel my deur die goeie en die slegte tye. Ek vra gereeld sy beskerming en versorging voordat ek uitgaan met die verwagting dat daar nog ’n fantastiese dag op my wag. Hoe die dag ook al verloop, ek sê vir die Here dankie daarvoor. Ek leer al hoe meer wie ek regtig is, en ek aanvaar myself met al my foute. Ek streef liewer na vordering as na volmaaktheid. Daar is tog net Een wat volmaak is.

      Ek het vandag baie om voor dankbaar te wees.

      Eerstens sê ek vir God dankie. Hy het my geestelik herstel en vir my vrede gegee.

      Tweedens sê ek vir my man en my twee dogters dankie. Hulle lewe het in tye van wanhoop net so onbeheerbaar soos myne geword. Ek het julle baie lief.

      Ek is onbeskryflik dankbaar teenoor die wonderlike mense wat my liefgehad het toe dit vir my onmoontlik was om myself lief te hê, en wat vir my die pad na God toe aangewys het.

      Deesdae leef ek elke dag volgens God se plan. Ek hou my lewe eenvoudig en leef van dag tot dag. Ek sal God ewig dankbaar wees vir my radikaal nuwe gesindheid, vir sy Gees wat voortdurend in my lewe werk en my altyd herinner om nie die deur na my verlede – toe ek ’n lewe van vernietiging en duisternis geleef het – gesluit te hou nie.

      Geloof sonder dade is immers dood. Ek het ’n passie om my verhaal van hoop met ander mense te deel. Ek wil graag ander mense wat met verslawings worstel, help om die oorwinning te behaal.

      Vandag bestaan ek nie net nie. Ek lééf!

      Aan God al die eer!

      3

      Asseblief

      Ria Mills

      As jy God jou éérste keuse maak, is al die ander keuses baie makliker. Dan kom die meeste ander dinge vanself.

      Wanneer ’n mens deur ’n groot beproewing gegaan het, wanneer iets ongelooflik hartseer in jou lewe gebeur het, of wanneer jy ’n buitengewoon traumatiese ervaring beleef het, vra mense dikwels vir jou een of meer van die volgende vrae:

       Watter keuse(s) het jy gemaak toe dit met jou gebeur het?

       Hoe het hierdie keuse(s) jou lewe tot dusver beïnvloed?

       Watter uitdaging(s) moes jy oorkom nadat jy jou keuse(s) gemaak het?

       Wat sou, na jou mening, die gevolge gewees het as jy ’n teenoorgestelde rigting ingeslaan het?

      Op die meeste van hierdie vrae is my antwoord eenvoudig: Ek weet nie regtig nie, want die meeste van hierdie keuses is waarskynlik vír my gemaak deur my Skepper wat weet wat die beste vir my is. Hý het oorgeneem en namens my besluite geneem toe ek heeltemal te verbyster en ontsteld was om self enige keuses te maak.

      Die gevolge as ek ’n ander koers ingeslaan het? Ek sou gesink het. Ek sou vergaan het. Ek sou in wanhoop verdrink het.

      Hierdie verhaal is nie werklik my verhaal nie. Ek is nie die hoofkarakter in hierdie storie nie. Die hoofkarakters is my seun, ja, veral hy, en my

Скачать книгу