Reën oor die Serengeti. Connie Luyt

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Reën oor die Serengeti - Connie Luyt страница 2

Reën oor die Serengeti - Connie Luyt

Скачать книгу

Hy staan terug, sy gesig uitdrukkingloos. Draai dan om. Nog motors, nog deure wat toeklap, stemme.

      Sit eers die kamera opsy, kyk net.

      Vier mans wat die kis dra. Die man voor saam met John kan ’n broer wees, iets eners aan hulle houding. Die predikant van gister. Die vierde man het ’n gesig waarvan mens moet hou – die oë, die sagtheid om die mond, die effense bles.

      Agter hulle loop ’n paar vroue, die voorste een seker al sewentig, oë stip op die kis voor haar. Sagte grys klere, hare vasgemaak in ’n los bolla, bossie blomme vasgeklem in hande waarop die are blou uitstaan. Links van haar rem ’n middeljarige vrou aan ’n te klein baadjie, en regs loop ’n swartkop in ’n lang sigeunerromp met ’n seuntjie aan die hand en ’n kleuter op die heup.

      John se vrou?

      Nee. Die man met die sagte oë kom staan langs haar, laat rus sy hand ’n oomblik teen haar wang, voordat hy die kleuter in sy arms tel. Die lens wat haar naby bring, wys ’n deurleefde gesig. Hartseer oë.

      Verder terug staan ’n groepie Kikoejoes. Kontrapunt met hulle vaal klere en donker velle. Deur die sterk lens is die trane wat oor Kamau se gesig loop duidelik sigbaar.

      Nog ’n waarom. Kén hy die mense?

      Ek skuif die fokus weer na John, skerper en nader met die telefotolens. Die weemoed op sy gesig is só skreiend dat ek die kamera laat sak, skielik skaam vir die manier waarop ek sy privaatheid betree.

      Ek is nie meer wat ek was nie … Die Gretchen wat onverskrokke met haar kameralens mense se leed en pyn oopgevlek het, bestaan lankal nie meer nie. Die bewerasie in my binneste bevestig dat my vyftigste verjaardag al ’n tydjie gelede was.

      Soveel dood. Soveel begrafnisse. Selfs dié wat ek nie kon bywoon nie, spook by my. Wie gaan volgende wees? Koue bewe deur my lyf.

      Kliek, kliek. John se gesig boei my. Ek lees pyn en stoïsisme in die lyne om sy mond. Nog iets. Woede? ’n Man wat ver kyk en meer raaksien as wat ’n mens besef. Sal dit jou ongemaklik maak?

      Die kis sak stadig in die graf af. Van stof tot stof – só is die weg van die mens.

      Meteens hoor ek onkel Willi se stem helder in my gedagtes. Is ek weer ’n kind onder in die kelder, ruik ek die sweet van te veel mense wat saamleef met die vrees vir die dood, terwyl stof oor ons neersif en bomme in Berlyn se strate ontplof. Die hartseer wat in my opstu, is so skerp as wat dit onverwags is.

      Selfs nadat die stemme om die graf stil geword en die voertuie vertrek het, bly ek in die bos. Onder my vingerpunte trek ek die voue en krake in die skurwe grys boombas na, asof ek daarin my eie pad vorentoe soek. Die verbeelde wete van ou jaarringe en tallose seisoene is onverklaarbaar hartseer.

      Blare verkrummel in my handpalm soos vergange herinneringe, en slegs die stofreuk bly agter. In die wisseling van son en skaduwee tussen die takke deur verskyn grepe van my lewe soos stukke uit ’n rolprent.

      Veruschka, my liefste vriendin wat soms so ’n ver trek in haar oë kry as sy in die toekoms in kyk, se woorde is ’n refrein wat oor en oor deur my kop draai, soos ’n liedjie wat jy nie kan vergeet nie. Jy sal vind waarna jy soek op ’n plek ver van hier. Maar eers moet jy diep in jou eie lewe in kyk en vrede maak met jouself. Dán eers sal jy gelukkig wees.

      Maar ek wil nie kyk nie. Nie nou nie.

      Ek bêre my kamera in sy houer. Stap voetjie vir voetjie na waar die jong man wag. Hy gryp die geld brutaal uit my hand, beduie waar die voertuig is.

      Ek sit eers ’n rukkie voor ek stadig wegtrek. Ek het aanvanklik gedink ek gaan John agtervolg, dalk iewers die geleentheid kry om met hom te gesels, maar ek wil nie meer nie. Daar is iets aan John Barklin wat ek herken as eerbaarheid. Ek is oortuig daarvan dat Gardi die situasie in haar gedagtes oorspeel het, dat sy meer gelees het in sy vriendelikheid as wat werklik daar was.

      Ek moet by die hotel kom. Môre vlieg ek terug Berlyn toe.

      ·2·

      John Barklin kyk af na die graf voor hom. Die man in die kis is sy pa – sy regte pa. Vir vyf jaar kon hy dit regkry om dié wete te onderdruk, om te maak asof niks verander het nie.

      Maar vandag … Vandag op die eerste Vrydag in Julie begrawe hy sy pa. Met al sy geheime, sy bedrog, sy ontkenning.

      Hier staan hy. Verbind aan die familie wat langs hom om die graf is, maar méér alleen as wat hy was voordat hy uitgevind het.

      Hulle is Van Breda’s en hy alleen is ’n Barklin.

      ’n Dowwe dreuning laat hom opkyk. Hoog bo in die blou lug lê die dun dampstreep van ’n spuitvliegtuig. Nader aan die aarde draai twee arende op onsigbare lugstrome.

      Nog nader is die rotsriwwe van die Aberdaregebergte wat bokant digte sederbome uitsteek. Die reuk van kamfer wat deur die windjie aangedra word, meng met die geur van die Afrika-aarde wat hy self oopgegrawe het om die liggaam van sy pa te ontvang.

      As die man in die graf se naam werklik Tom Barklin was, het hy hom laat veras en die as in die Masai Mara gaan strooi, by die samevloeiing van die Mara- en die Talekrivier. In sy hart wéét hy dis waar Tom Barklin sou wou wees.

      Maar toe was Tom Barklin al die tyd Tom van Breda, ’n bedrieër wat sy naam verander het en doelbewus sy vrou en kinders in Suid-Afrika laat glo het hy is dood. Wat ’n leuen geleef het vir bykans dertig jaar. Wat sy eie seun laat glo het hy is sy “neef” se kind.

      En toe alles op die lappe kom, vat sy vrou hom terug! En nou wil sy hom begrawe op die plaas waar sy eens gelukkig was saam met Tom.

      Die plaas se naam laat John wrang glimlag. Tene-na-Tene het nie sy naam gestand gedoen nie – vir-Ewig-en-ewig het nie vir Tom, sy vrou óf sy kinders gehou nie.

      Ruk jou reg, John, praat hy met homself en vryf oor sy brandende oë. Jy is nege-en-dertig jaar oud.

      Oorkant hom staan Maia, Tom se vrou, sereen, haar grys jaspante wapperend om haar bene. Haar voorkoms is jonger as die twee-en-sewentig wat op haar geboortesertifikaat staan. Haar oë bly op die kis rus, haar gesig onleesbaar. Haar kneukels is wit om die bossie blomme wat sy al van vroegoggend vashou.

      Dink sy terug aan daardie dag amper vier dekades gelede toe sy ook langs die graf van Tom van Breda gestaan het? By die kis waarin ’n ander man se liggaam geplaas is – ’n vreemdeling met Tom se klere aan. Tom van Breda was toe nooit dood nie.

      En tog, dink John, het sy gister verklaar dat Tom die man was wat haar, ten spyte van alles, die gelukkigste jare van haar lewe gegee het.

      Langs haar staan Tom se ander seun: Simon van Breda. Kleindorpse prokureur in Suid-Afrika, leier in sy gemeenskap, ouderling in sy kerk, afwaartse kepe langs sy mond. Langs hom vee sy vrou kort-kort oor haar gesig met ’n kantsakdoek.

      John kan nie met Simon van Breda as broer identifiseer nie, al verstaan hy Simon se woede teenoor die pa wat hom nooit kom soek het nie. Maar Simon het nie amper dertig jaar van samesyn met Tom van Breda gehad nie. Simon het hom nie as vaderfiguur, as mentor, as vriend en vertroueling geken nie.

      Simon se pa het minstens nooit gemaak asof hy sy oom is nie. Dáárvoor kan John Tom van Breda nie vergewe nie.

      Sy naels druk in sy handpalms in. Die gesuis van die wind in die seders

Скачать книгу