Reën oor die Serengeti. Connie Luyt

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Reën oor die Serengeti - Connie Luyt страница 5

Reën oor die Serengeti - Connie Luyt

Скачать книгу

die Thomson’s Falls Hotel.

      Om ’n draai moet hy vinnig rem om ’n aankomende viertrek te vermy. Uit die stofwolk toe die twee voertuie tot stilstand kom, verskyn Pamela, haar gesig rooi, haar swart hare windverwaai.

      “John Barklin! Wat besiel jou?”

      Hy maak sy vingers van die stuurwiel los, vee die sweet aan sy broek af en klim uit.

      “Skuus, Pammy, ek het nie besef ek ry so vinnig nie. Is jy oukei?”

      Sy skud haar hare uit haar gesig. “As jy wil weet of ek seergekry het, is die antwoord nee. Ék weet ten minste hoe om op hierdie paaie te ry. Dêm jou, John!”

      “Dêm myself, Pammy. Ek is so jammer.”

      Hy druk haar teen hom vas, haar sitrusgeur in sy neus. Sy hand vee oor haar wang, sy lippe lig op haar voorkop.

      “Jammer, Pammy,” fluister hy weer, en dit moet vir veel meer as die amperse ongeluk om verskoning vra. “Wat maak jy in elk geval hier?”

      “Christine het my genooi om saam met julle by die hotel te gaan eet. Ek het kom kyk waar bly jy so lank. Ek dag jy is dalk ontsteld, of dat daar fout is met jou kar of iets.” Daar blink trane in haar oë.

      “Ek het net ’n bietjie tyd nodig gehad op my –”

      “Op jou eie,” sug sy.

      Sy buk om haar hoed wat in die pad geval het op te tel en druk haar hare onder die bol in. “Sjoe, my hart klop nou nog soos ’n resiesperd s’n. Hoekom het jy so gejaag?”

      “Ek dink daar was iemand op die plaas, iemand wat ons afgeloer het.”

      “Ek het haar gesien! Verby haar gery. Bruin hare, swart klere, lippe opmekaar gepers. ’n Gehuurde kar – daar was ’n Avis-plakker op die voorruit.”

      Sy wenkbroue lig. “Jy’s oplettend.”

      “Wie is die vrou?” Sy vermy sy blik.

      “Ek het nie ’n benul nie. Maar ek sal graag wil uitvind.”

      Nog een van Tom van Breda se geheime? Dan skud hy die gevoel van onheil van hom af.

      “Kom, Pammy, ons gaan Thomson’s Falls toe. Dankie dat jy my kom soek het.”

      Hy ry besadig agter haar aan en sluk hard aan die knop in sy keel. Wens hy kan weer ’n houvas kry op die woede wat hom al vyf jaar lank dra, want dis makliker om kwaad te wees as hartseer.

      Die ete in die effe vervalle hotel is ’n sukses danksy Craig en Christine se kinders. Sonder ’n bewustheid van wat die dag beteken, speel hulle onbevange rondom die grootmense aan tafel.

      John het nooit geweet kinders kan so oulik wees nie. Christine praat met hulle Afrikaans, en tussen Craig se Amerikaanse Engels en al die nuwe Swahiliwoorde deur wat hulle geleer het vandat hulle in Oos-Afrika aangekom het, is elke gesprek ’n avontuur.

      Hy hou Pamela dop terwyl sy met die twee kinders gesels. Sy sal ’n goeie ma wees, onthou hy Christine se woorde nadat sy Pamela maar kort geken het. Maar sal hy ’n goeie pa wees? Hy wat niemand vertrou nie. Selfs nie eens vir Pamela nie.

      Dat sy hom ook nie heeltemal vertrou nie, het hy besef toe hy by Christine moes hoor Pamela is ’n aangenome kind – sy het dit eers ná haar ma se dood uitgevind. Dit het hom uitermate ontstel. Hoekom het sy dit nie met hom gedeel nie? Dan is hulle nie eens die goeie vriende wat hy gemeen het hulle is nie, wat nog te sê moontlik iets meer.

      En wat steek sy nóg vir hom weg? Beskou sy hom ook, soos sy pa, as iemand wat nie vertrou kan word met geheime nie?

      Nadat Christine hom dit vertel het, het hy weggebly van Pam. Tot een nag toe hy iewers in ’n safaritent wakker gelê het terwyl ’n olifanttrop verbybeweeg. Hy het gehoor hoe die ma’s se rammelende gerusstelling aan die kalfies op die nagstilte aangedra word en gewonder oor die verantwoordelikheid van ouerskap. Hy het gewonder of die weerloosheid wat hy daardie eerste aand in Pamela gesien het, dieselfde weerloosheid is wat in hom is. Terug in Nairobi het hy haar weer gebel en hulle vriendskap het voortgegaan.

      Eers lank daarna het hy haar oor haar ma uitgevra – nadat hy besef het hulle loop dieselfde paadjie. Want het hy nie dieselfde ontnugtering ervaar toe hy agterkom hy is ook nie wie hy gedink het hy is nie? Het hy nie ook ’n skans om hom gebou om te sorg dat niemand te naby kom nie?

      “Hoekom het jy my nie vertel nie?”

      “Want ek weet nie wie ek is nie.”

      Hy het haar lank vasgehou. “Kom ons soek haar. Daar moet rekords wees.”

      “Ek het aan die hospitaal geskryf, maar hulle het nie meer die verslae nie. Ek sal nooit weet hoe ’n mens my regte ma was nie.”

      “Toemaar, ek ook nie.”

      Maia se stem bring hom terug na die hotel se eetkamer. “John? Jy is so ver weg?”

      Dis net hulle twee aan die etenstafel oor. En Tom van Breda, wie se teenwoordigheid soos ’n onsigbare klipmuur tussen hulle staan.

      Buite op die stoep sit Christine en Craig met Simon en gesels, koffiekoppies in hulle hande. Pamela en die kinders speel op die gras.

      “Ek wil graag met jou praat,” sê Maia, “oor jou ma.”

      Hy skrik; dis asof sy sy gedagtes kon lees. “Wat van haar?’

      “Ek het vir jou ’n foto gebring wat ek destyds geneem het. Ek het dit laat vergroot.”

      Lank kyk hy na die outydse sepiafoto van die vrou. Sy staan by ’n trekker, die wind in haar hare. In die langbroek en hemp wat sy aanhet, lyk sy lank en skraal, hoekig gebou, amper soos hy.

      Wat vertel haar effense glimlag? Het sy toe al ’n verhouding met Tom van Breda gehad? Is dit skuldgevoel wat maak dat sy haar oë met haar een hand versluier, of is dit maar net om die son uit te hou?

      Hy voel geen verbintenis met haar nie.

      “Toe die Mau-Mau haar man en drie kinders so wreed vermoor het, het ons almal verwag sy sou teruggaan Engeland toe. Maar sy het gebly. Geboer. Soos ’n man op die trekker gery, skape gedip, lande geploeg. Ek is seker sy was bang in daardie huis. Al het ons almal ingespring en dit nuut uitgeverf, moes die fluisterstemme van haar kinders haar snags soms wakker gehou het. Maar sy het nooit iets gewys nie. Sy het besluit om ’n sukses te maak van die plaas, en sy het ook.”

      Maia draai haar kop weg, maar haar sagte laventelgeur bly in die lug hang. Buite lag klein Gracie, en in die kombuis klater skottelgoed. John weet nie of hy kans sien om verder hierna te luister nie.

      “Agterna het Tom my vertel dat Emily die sterkste mens was wat hy ooit geken het. Sy het die ergste wat met ’n vrou kan gebeur aan haar lyf gevoel en dit oorleef, en daarna het sy vir niks geskrik nie. Hy kon met haar praat oor die verskriklike dinge wat hy in daardie tyd beleef het. ‘Ek kon dit nie met jou bespreek nie, Maia,’ het hy gesê, ‘en iewers moes ek praat.’ Dis hoe die ding tussen hulle begin het.”

      “Ek weet nie of ek wil weet nie.”

      Haar oë kyk skerp. “Jy

Скачать книгу