Reën oor die Serengeti. Connie Luyt

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Reën oor die Serengeti - Connie Luyt страница 4

Reën oor die Serengeti - Connie Luyt

Скачать книгу

daardie dowwe jaar staan net twee ligpunte uit. Die aand toe hy Marielle se huis in Langata inloop en die skraal donkerkop voor die kaggel sien staan met ’n boek in haar hande, was die eerste een.

      “Waar kom sy vandaan?” vra hy.

      “Haar pa boer met koffie bo naby Limburu. Sy het in Engeland skoolgegaan en was op Oxford. Sy het eers teruggekom toe haar ma siek word.”

      “Stel my voor aan haar.”

      “Nou kom. Pamela, ontmoet John Barklin, en John, dis nou Pamela Rutledge.”

      Die gewone ligsinnighede soos “Waar het jy my lewe lank weggekruip?”, het vasgesteek in sy keel. Daar was iets weerloos aan haar, iets verfynds.

      Hy het haar die hele aand dopgehou. Gesien hoe sy skewekop luister na Timothy Hadden se vervelige stories, hoe sy lag vir Peter Driscoll se flou grappe, hoe James Warden sy bot afsydigheid verloor in haar teenwoordigheid.

      John het gewonder of dit hom pla. Hy was sinies oor enige emosie. Hy glo nie aan die liefde nie.

      Sy is nie ’n loskop wat flankeer met een en almal nie, het hy gou uitgevind, en hy kan haar niks meer as dít bied nie. Toe word hulle maar vriende. Versigtig eers, maar mettertyd al hoe gemakliker.

      En so is hulle verhouding al vier jaar – of is dit vyf? – aan die gang. Sy roekelose drinkdae is verby, en die meisies is nou nie meer ’n aantrekking nie, maar steeds vorder sy verhouding met Pam niks verder as vriendskap nie.

      Hy weet sonder dat hy te diep hoef te delf dat hy eers in homself gesond moet word. Sê nou hy het meer van sy pa se gene as wat hy besef? Sê nou hy sweer ook ewige trou, net om eendag daarvan te vergeet?

      Die tweede ligpunt was toe Pamela hom aan die einde van daardie jaar aan Warrick Hadden voorgestel het. Dié het ’n safaribesigheid wat hoofsaaklik in Tanzanië bedryf word en soek ’n vennoot. “Almal wil mos nou die Out of Africa-ding doen ná die fliek verlede jaar verskyn het. Ek kan nie meer alles behartig nie.”

      Binne minute weet John ’n deur het vir hom oopgegaan en stap hy met vreugde in ’n nuwe fase van sy lewe in.

      “Jy is ’n aanwins vir die maatskappy, John,” het Warrick dikwels gesê. “Waar het jy alles geleer wat jy van die veld weet? Ons kry mense wat weer bespreek op voorwaarde dat jy hulle toergids is.”

      “Ek het die beste skoling gehad. En ek geniet dit.”

      “Veral as die meisies kakiekoors kry?” het Warrick geterg.

      Feitlik op elke safari is daar meisies – selfs ouer vroue – wat die kombinasie van ’n bruingebrande gids in sy bosklere, veldhoed op die kop, geweer aan sy sy, onweerstaanbaar vind. John grinnik. Hy onthou hoe hy nog taamlik onlangs moes bontstaan toe ’n jaloerse Duitser gedink het hy is te vriendelik met Gardi, sy jong vrou.

      Aan die begin was elke dag op safari anders. Om sy Afrika te beskou deur die oë van toeriste wat nog nooit daar was nie, het aan John ’n nuwe visie van die land en van homself gegee. Skielik het dit wat hy al as vanselfsprekend aanvaar het in sy omswerwinge deur Kenia saam met die Ouman en Wangari, ’n aspek van verwondering aangeneem.

      Dit was maklik om sy woede te vergeet terwyl ’n voertuig vol mense aan sy lippe hang. Hulle is van hom alleen afhanklik vir hulle veiligheid; van wat hulle saam met hulle na Amerika of Europa sal terugneem. Sy eer was herstel, sy ego ook.

      Maar ná ’n paar jaar was die gat in sy binneste nog daar. Die opwinding het afgeneem. Die voorspelbaarheid van sy bestaan het alledaags geword.

      Die paar dae tussen safari’s het hy in Nairobi tuisgegaan by Warrick se huis in Langata. Altyd die eerste dag ’n voertuig om te herstel, kop in die enjin gedruk, olie onder die naels. Dan lui die foon.

      “John, ek hoor jy’s terug! Partytjie vanaand.”

      Jeanne of Nina of Marielle of wie ook al. Pamela wat lag as sy die foon antwoord. Sy skuldgevoel. Te veel bier, te veel sigarette, te veel leë woorde en beloftes.

      Die volgende oggend ’n draai by die kantoor van Wilderness Tours in Mama Ngenastraat gaan maak om die logistiek vir die volgende safari reg te kry. Lees die name en agtergrond van die nuwe groep, voordat hy hulle die dag daarna by die lughawe gaan haal. Later lyk almal vir hom dieselfde. Ouerige mans met dik nekke, harde oë, goue horlosies. Vrouens met styfgetrekte gesigte, blonde hare, goue horlosies. Duur reistasse, donkerbrille en skoene – opsigtelike tekens van sukses.

      Hy laai hulle dankbaar by die Norfolk Hotel af vir hulle eerste aand in Afrika. Gaan kuier ’n laaste keer saam met sy vriende in die New Stanley Hotel se kroeg. Dieselfde ou groepie, dieselfde ou grappies.

      Vroeg die volgende oggend op, alles inpak, gaste oplaai. Let the show begin.

      Hulle reaksies was byna woordeliks dieselfde, die vrae eentonig eners. Die roete en roetine van elke dag skrikwekkend eweso.

      En toe, net ná sy ses-en-dertigste verjaardag, kry hy ’n oproep van die prokureur. Hy moet hom kom sien oor die Emily Barklin Trust, waarvan John nog nooit gehoor het nie.

      Aan John Barklin: die volle bedrag wat in die Emily Barklin Trust in Barclays Bank gesetel is. Dit bestaan uit die kontantbedrag plus rente van die verkoop van die plaas in die Aberdares wat aan Emily Barklin behoort het.

      As John aan dié woorde dink, word hy elke keer van voor af kwaad.

      Die dokument wat hy by die bank moes gaan afhaal, was onderteken: Tom Barklin (voog). Dit het bepaal dat die trustgeld dertig jaar moes lê.

      Hy het Suid-Afrika toe gebel. “Ouman, hoekom het jy my nooit vertel van hierdie geld nie?”

      Die telefoonlyn het tydens die lang stilte gesing en gekraak.

      “Jy was te klein, John. En later het ek eintlik daarvan vergeet. En toe, ná alles wat gebeur het, was jy,” hy het gekug, “nie juis bereikbaar nie.”

      Sy pa sit in Suid-Afrika en praat van onbereikbaar! Eenmaal ’n man wat die makliker uitweg kies, altyd so ’n man.

      Hy was van voor af kwaad vir Tom van Breda. Hoekom het hy John nie die waarheid vertel nie? Daar was so ’n sterk band tussen hulle – het hy sy seun nie genoeg vertrou om hom te vertel van sy verlede nie?

      Die trust het ’n aansienlike hoeveelheid geld bevat, wat hom dae en weke lank laat tob het. Dit was die tyd van die lang reëns, die masika – ’n stil tyd vir safari’s.

      Vir hom word dit die reënseisoen van sy siel. Hy bly in die huis in Nairobi, gaan selde uit. In die lang ure op sy bed, sy arms agter sy kop ingevou, volg hy die gang van die druppels teen die venster. Die getrommel van die reën op die sinkdak word deel van sy hartklop.

      Toe John ver onder hom ’n stoffie sien uitslaan agter ’n voertuig wat wegry van Tene-na-Tene, word hy teruggeruk uit sy herinneringe.

      Kamau het tog nie vervoer nie. Was daar dan wel iemand in die bos naby die graf?

      Klippe spat saam met ’n rits skelwoorde soos sy voete bergaf gly. Hy verwens sy nalatigheid. Hy moes gaan kyk het!

      Die deur van sy voertuig klap toe. Kinders en hoenders gee pad met ’n gekekkel en gejil en hy mis die geroeste hekpaal – al wat oorgebly

Скачать книгу