Reën oor die Serengeti. Connie Luyt

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Reën oor die Serengeti - Connie Luyt страница 3

Reën oor die Serengeti - Connie Luyt

Скачать книгу

die graf merk hy die vraag in Christine se oë; sy vra na sy pyn. Verstaan sy hoe hy voel? Volgens haar koester sy nie meer enige verwyte teenoor haar pa nie.

      Die predikant lees die formulier. ’n Dun windjie, so eie aan die Aberdares, waai Tom van Breda se gees ver oor sy geliefde Kenia uit.

      John kyk op. ’n Beweging, iets wat blink, trek sy aandag. Skuil daar iemand in die bos?

      Die jong predikant gee die teken. Hulle laat sak die kis met toue in die graf af, sodat Tom van Breda weer deel word van die aarde. Die Kikoejoes staan nader vir die laaste eerbetoon.

      “Slaap sag, my man,” prewel Maia. Sy laat die bossie rose op die kis val.

      “Pa.” Christine vee met die rugkant van haar hand trane weg. “Ek sal jou nooit vergeet nie. Tene-na-Tene.”

      “John?” vra die predikant.

      “Totsiens, Ouman.” Hy kyk hoe die sand tussen sy vingers deurgly en oor Maia se rose val.

      Hy bly saam met Maia wag terwyl die graf toegegooi word en die ander aanstap na die voertuie. Sy buk effens asof sy die grondkombers oor Tom wil trek, tel dan een van die rose op wat vroeër uit haar hande geval het.

      “Dankie, my man,” sê sy saggies, “vir ’n tweede kans.” Sy verkrummel die roosblare een vir een.

      Asof sy deur die hoop grond kan sien tot binne-in die kis, word haar oë so sag soos haar glimlag. “Jy was my groot liefde, my enigste liefde. Jy weet dit, nè? Slaap sag …”

      Toe sy opkyk na John, lê die seer naak oor haar gesig. Hierdie hartseer sal haar nooit verlaat nie, besef hy.

      Hulle stap stadig na die voertuie. Groet vlugtig voor sy by Simon in die bakkie klim.

      John se blik volg die gang van die voertuie oor die slegte pad. Hy sal later by hulle aansluit. Hy wil nog eers afskeid neem.

      Hy hou met lang treë verby die graf, sy oë op die grond. Teen ’n oop gedeelte van die berg klim hy uit. Verjaag ’n dikkop van haar nes af, sodat sy klaend op lang geel bene wegskarrel.

      Bo in die lug draal daar nou net een arend. ’n Aquila rapax. Was dit hier waar Tom van Breda vyf-en-dertig jaar gelede gestaan het toe sy wêreld uitmekaargeval het?

      Ek het afgekyk op my plaas en dit was verlate. In die shamba het net ’n enkele vuurtjie gebrand, en ek het geweet my familie het weggegaan omdat hulle geglo het ek is dood.

      Dié woorde spook nog al die jare by John. Vir die hoeveelste maal probeer hy verstaan. Hy herinner homself aan wat Tom van Breda deurgemaak het nadat hy in die Aberdarebosse gaan soek het na generaal Kali, die legende uit die tyd van die Mau-Mau. Tom was eers ná baie maande weer by sy volle verstand. Maande waarin John se ma, Emily, hom versorg het ten spyte van haar eie siekte.

      Ja, goed en wel. Toe hy uiteindelik weer op die been is, lyk hy nie meer na Tom van Breda nie. Ná sy aanhouding deur die Mau-Mau kon hy nooit weer loop sonder om te hink nie. Sy bruin hare het spierwit geword, sy baard ook. Sy rug krom en sy stem hees.

      Net aan sy oë kon jy Tom van Breda nog herken, het Wangari vertel. “Jy, John, het hom Mzee – die Ouman – genoem, want hy het soos ’n oupa gelyk.”

      Tom het by John en Emily gebly en háár van aangeneem. Vir die jong John was hy die plaasvervanger van ’n pa. Dertig jaar lank glo hy dat Tom Barklin sy ma se neef is. Nooit weet hy dat hy in werklikheid Tom se eie seun by Emily is nie.

      John was skaars drie jaar oud toe Emily sterf, en van toe af was dit net hy en Tom. Was dit vir Tom ’n troos om so ’n jong kind te versorg? Hy was in alle opsigte vir John soos ’n eie pa. Behalwe in die opsig wat die heel belangrikste is: hy het nie sy vaderskap erken nie.

      Het hy dan nooit verstaan hoe groot die seun se behoefte was om aan iemand te behoort nie?

      Vandat John kan onthou, was dit net hy en die Ouman.

      Van sy ma is daar net ’n vae herinnering as die wind die reuk van laventelbos uit die veld aandra. Croton gratissimus, laventelkoorsbessie. Die naam kom outomaties, soos als wat hy by die Ouman geleer het vandat hy kon saamstap in die veld.

      Sy vroegste herinnering is van ’n man met ’n wit baard en ’n hees stem wat hom wys hoe om ’n mierleeu uit sy gat te lok; wat vir hom beduie hoe om Kenia se bataleurarend uit te ken aan sy silwer vlerke en rooi stertvere.

      Eers op kosskool aan die Prince of Wales buite Nairobi het John regtig die gemis aan ’n ma gevoel. Vriende se ma’s het vir hom ook eetgoed aangedra, hom soms drukkies gegee en vir naweke genooi, maar dit het sy verlange net erger gemaak.

      Eenkeer bly ’n vroueserp van deurskynende lap agter in hulle koshuiskamer. Maande lank raak hy saans aan die slaap met die sagtheid daarvan in sy hand, word weemoed deel van sy wese. Toe raak die blou serp een skoolvakansie weg, en daarmee saam sy sentimentaliteit. Hy word ’n tiener met baard en ’n stem wat breek, en sluit sy verlies in sy hart toe.

      Net soms wonder hy nog of ’n man ooit ’n hele mens kan wees sonder dat hy sy ma geken het.

      Hy soek ’n klip om op te gaan sit. Skuif tot hy gemaklik is, vou sy arms oor sy bors en kyk af na die uitgestrekte veld. Só het hy en Wangari, die Ouman se Kikoejoevriend, ure om gesit. Luister, sou Wangari sê, luister mooi, dan hoor jy die hartklop van die veld.

      John sien in die sand by sy voete die fyn spore van ’n rooikoplewerik – Calandrella cinerea – wat windmakerig rondgestap het. En ’n paar nagte terug het ’n fungo, ’n sivetkat, hier geloop. ’n Wyfie aan die diepte van die spoor, raai hy, en merk ’n stukkie pels wat aan ’n bossie gehaak het. Die ligte wind wat die tipiese kerriegeur van St John’s wort dra, waai al geruime tyd uit die ooste – dit weet hy aan die amper onsigbare riffelpatroon van die sand.

      Sy blik skuif na onder op die werf, waar ’n paar kinders met ’n bal speel. Hulle het dit sekerlik uit koerantpapier en rekkies gemaak, soos Wangari hom ook geleer het toe hy klein was.

      Snaaks, hier in die veld is die onderdrukte gramskap wat al amper deel van hom is, minder. Asof die wind sy kop skoon waai en hy oplos in die blou lug om hom en oor hom.

      Toe Wangari dood is – nie lank nadat Tom sy familie teruggekry het nie – was dit asof ’n deel uit John geruk is. Alles het verander in daardie jaar.

      Ná hulle herenig is, het Tom en Maia gaan vakansie hou naby Mombasa. Christine en Craig het daar op die strand gerou tussen frangipaniblomme en lang wit kerse, en ’n paar dae later New York toe gevlieg. Toe Tom en Maia besluit om ’n tyd lank na Suid-Afrika te gaan om haar plaas te versorg of te verkoop, het Wangari valer en kleiner geword.

      In die week voor die Ouman en Maia weg is, het hy weggekrimp en sy laaste asem uitgeblaas. Hulle het hom in die Mara begrawe, met spesiale toestemming van Richard Leakey.

      Toe was daar vir John niemand oor nie. Hy het alleen agtergebly. Regtig alleen, vir die eerste maal in sy lewe.

      In hom het die aardplate geskuif en ’n skeur agtergelaat wat dwarsoor sy innerlike landskap strek. Dit skei die John Barklin wat was van die nuwe John Barklin – ’n man wat geen plesier daaruit put om langer ’n veldwagter in die Masai Mara te wees nie. Wat agter ’n muur van onverskilligheid wegkruip en in sy dertigerjare rebelse tienerstreke begin uithaal. In Nairobi vergryp hy hom roekeloos aan drank

Скачать книгу