'n Ver plek vir Zilla. Margaret Bakkes

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Ver plek vir Zilla - Margaret Bakkes страница 4

'n Ver plek vir Zilla - Margaret Bakkes

Скачать книгу

is verlig dat hy eenkant is. So in die huis, voortdurend onder die ou man se oë, sal dinge hom knel. Zilla se pa is anders as sy pa. Jan Basson is ’n wêreldburger; Frans Fourie is net regtig tuis hier tussen die berge. Hy sal nêrens anders aard nie. En Zilla? Sy was uitgesproke: sy wil terug plaas toe kom om te kom boer. Dit is vir hom ondenkbaar. Daar lê oorredingswerk voor, maar gelukkig is daar tyd. Teen die einde van die jaar sal sy gereed wees om saam met hom te gaan. Daar is geen rede waarom sy ’n graad moet hê nie. Sy sal baie meer van die skilderkuns kan leer as sy saam met hom oorsee gaan.

      Vir Zilla is dit salig om by die huis te wees. Haar kamer onder die hoë grasdak is onmiddellik weer ’n hawe, sodat sy half onwillig is om uit te gaan na Piero toe. Sy moes vanaand eintlik op haar eie kon wees, met net haar pa. Môre sal daar tyd genoeg wees om vir Piero die wonders van Kiepersol te wys.

      In die kombuis is tannie Hes en Sofie reeds besig met aandkos.

      “Ek is bly tannie Hes is hier by Pa,” sê Zilla.

      “Ja. Ons het gedink dat ek dalk maar hier moet intrek. Jou pa kan tog nie so sonder sorg wees nie. As my kinders my die keer nodig het, kan ek vir ’n rukkie weggaan. Ek is ook moeg vir die rondkuiery. Kiepersol moet nou maar my huis word.”

      “Dis ’n goeie oplossing, tannie Hes. Ek sal nie so dikwels naweke kan kom as wat ek gedink het nie.”

      “Nee, seker nie noudat jy ’n jongetjie het nie.” Zilla moet lag kry vir tannie Hes se ouderwetse uitdrukking. As Piero dit moes hoor! “Vry hy nou ernstig na jou, kind? Hy lyk dan vir my so half anders.”

      “Hene, tannie Hes, ons sal maar moet sien.”

      “Jou pa sê sy ma kom van anderland. Wat is sy nering, Zilla?”

      “Hy neem ook ’n kunsgraad, tannie Hes. Nes ek.”

      Tannie Hes sit die lepel versigtig langs die kastrol neer en draai haar stadig om tot sy vol na Zilla kyk. “Jy speel.”

      “Ek speel nie. Hy is eintlik ’n beeldhouer. Piero se oupa aan moederskant was voor die oorlog ’n bekende beeldhouer in Italië. Piero het sy talent geërf.”

      “En hoe gaan hy vir jou sorg?”

      “Tannie Hes, daar is nog nie sprake van so iets nie. Sal vir jare ook nie wees nie, indien ooit.”

      “Is ook so. Deesdae is trou mos uit die mode. Maar, Zilla, moenie dat die man jou jeug van jou steel nie.”

      “Natuurlik nie, tannie Hes.” Die gesprek word vir Zilla al vreemder. Tannie Hes praat uit ’n ander wêreld.

      Sy hoor haar pa die woonvertrek binnekom en stap soontoe. Hy wil weet hoe dit met haar toetse gaan.

      “Goed, Pa. Ek bly baie lekker en die werk is interessant. Dit gaan goed met sowel die toetse as die praktiese werk.”

      “Dan is ek bly. En die man?”

      “’n Vriend, Pa.” Kry dit tog maar oor … “’n Beeldhouer. Hy studeer saam met my.”

      “Zilla, hy is nie ons soort mens nie.”

      “Hoe kan Pa dit nou al sê?”

      “Ek is nie blind nie, my kind. Jy moet terugdraai. Nou.”

      Zilla spring op. “Pa en tannie Hes is net dieselfde. Oordeel sommer. En maak daarby sonder rede afleidings.”

      “’n Man ry nie om dowe neute byna seshonderd kilometer vir ’n meisiekind nie.”

      “Vandag se mans is anders as wat Pa-hulle was.”

      “Dis vir my duidelik.”

      Toe Piero die woonvertrek binnestap, merk hy dadelik die spanning tussen Zilla en haar pa. Hy sien die blos op haar wange en die blink, ontstelde oë. Sou dit oor hom gaan? Hy maak asof hy niks agterkom nie.

      Verras kyk hy in die kamer rond. Die hoë balke waarop die rietdak rus, gee ruimte en dimensie aan die vertrek, wat eenvoudig maar smaakvol ingerig is. Geweefde matte op die klipvloer, bokhaargordyne voor die groot vensters en ’n paar swaar, gemaklike stoele. Zilla sien Piero se belangstelling.

      “Ek en my ma het die woonkamer kort voor haar dood saam beplan. Pa het ons Johannesburg toe geneem en ons vrye teuels gegee.”

      “Dis mooi. ’n Vertrek waarin ’n mens rustig kan wees.”

      “So het my ma ook altyd gesê. Sy het veral graag so gesit dat sy na die tuin kon kyk.” Sy is skielik dankbaar vir Piero se aanvoeling. Haar pa moet dit tog ook opmerk.

      Sofie kom in om die tafel te dek. Dis ’n geelhouttafel wat uit ’n vroeëre geslag kom en Zilla voel tuis. Geel lamplig op die geel hout was altyd vir haar die warm essensie van by die huis wees, selfs ná haar ma se dood toe dit sy was wat aan tafel voor die kosskottels moes plaas neem en inskep.

      Sy verlang skielik intens na haar ma. Sy sou hierdie situasie met Piero met begrip kon hanteer het. Nie soos tannie Hes en Pa wat onmiddellik bevooroordeeld is nie. Sy sou vir haar ma kon vertel het van die enkele keer, die vorige aand, toe Piero haar gesoen het. Van sy woorde: Ek het gekom om te bly. Sy sou haar ma kon gevra het: Bedoel hy dit, Ma? En hoekom voel ek soos ek voel, Mamma, so asof ek hom nie weer uit my lewe kan laat gaan nie? Is dit liefde, Mamma?

      Sy weet nie dat haar pa haar hartseer dophou nie. So het hy haar dikwels gesien in die tyd ná sy vrou se dood. En saam met die hartseer is daar die vrees in hom. Wat gaan hierdie vreemde, onaanvaarbare man aan Zilla doen?

      Hy is verlig toe Hes die kos inbring; hy het tog niks vir die man te sê nie. Hy sny die bruingebraaide skaapboud terwyl sy suster die res inskep: tuinvars groenbone, wortels wat soos murg in die mond smelt en vet bruin stampkoring. Piero pak sy bord kos met geesdrif en Zilla dink dat hy tannie Hes se hart beslis so sal vermurwe.

      Die atmosfeer ná ete is egter nie minder styf nie. Tannie Hes gaan vroeg slaap en die gesprek tussen Frans Fourie en Piero bly stram. Dit strek nie veel verder as familie-uitleg en gemeenplasighede oor die boerdery nie. Ondanks sy gebrek aan belangstelling het Piero wel kennis van boerdery.

      “Jy sê jy is al kind?” Piero knik. “Dan gaan jy seker eendag plaas toe?”

      “Beslis nie, oom. En my pa weet dit. My neef sal dit erf.”

      “Maar maak dit nie vir jou saak dat jou erfplaas vervreem nie?”

      “Hoegenaamd nie, oom. Dis ek wat aan my pa voorgestel het dat Dawid Windhoogte moet kry. My pa se broer, Dawid se pa, is ’n prokureur. Dawid wil boer en het landbou studeer.”

      “En jy dan?”

      Piero lag. “Daar sal oorgenoeg vir my wees, oom.”

      “Zilla sal plaas toe kom. Dit is van altyd af wat sy wil doen.” Byna soos ’n troefkaart kom die woorde. Hy sien nie die fyn laggie om Piero se mond nie.

      Zilla voel hoe ’n benouenis in haar opslaan. Sy staan op. “Ek gaan koffie maak.”

      Hulle sal haar uitmekaar pluk, die twee daar binne, dink sy ontsteld. Wat besiel haar pa? Wat het háár besiel om Piero plaas toe te laat kom? Dit was die bedwelming

Скачать книгу