Tryna du Toit-omnibus 3. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit страница 16

Tryna du Toit-omnibus 3 - Tryna du Toit

Скачать книгу

is weer stil en teruggetrokke en sy wil hom nie pla nie. Sy voel self ook moeg en lomerig en dis lekker om net so stil langs hom in die groeiende donkerte te sit terwyl die motor vinnig oor die pad gly.

      Toe hy voor die hotel stilhou, klim Hugo saam met haar uit.

      “Dankie,” sê sy. “Dit was gaaf van jou om my saam te neem.”

      “In die toekoms sal jy self jou pad moet vind.”

      “Ek weet. Ek is seker dit sal nou makliker gaan. Nogmaals dankie, ook vir Elsie.”

      “Ek weet tannie Annie help graag. Tot siens, dokter De Wet.”

      Sy stem is koel en ewe koel antwoord sy: “Tot siens, dokter Slabbert.”

      Hoofstuk 8

      Karin was van die begin af nie baie gelukkig in die hotel nie. Haar kamer was gerieflik en die diens redelik goed, maar sy het nie tuis gevoel in die hotelatmosfeer nie. Haar ongereelde ure het meegebring dat sy dikwels laatgekom het vir ete en die koue of opgewarmde kos was nie smaaklik nie. Die gedurige kom en gaan van mense en lawaai uit die kroeg het haar ook gepla, en sy het besluit om so gou moontlik ander blyplek te soek. Die hotellewe mag dalk goed genoeg wees vir ’n man, maar vir ’n alleenlopende vrou is dit beslis nie aangenaam nie.

      Maar waar en hoe? Ná ’n besonder lawaaierige naweek het Karin Maandagoggend met die intrapslag vir Mien bygedam.

      “Mien, ek soek ander losies,” val sy sommer met die deur in die huis toe Mien die lysie met haar pasiënte se name inbring. “’n Paar kamers by mense – êrens waar ek rus vir my siel kan kry. As dit daarop aankom, sal ek self vir my etes sorg. Weet jy nie van ’n gawe weduwee wat haar oor ’n arme, eensame ou doktertjie sal ontferm nie?”

      Mien kyk in die mooi, glimlaggende oë en skud haar kop. “Nee, nie op die oomblik nie, maar gee my kans om so ’n bietjie daaroor te dink. Wil die hotellewe nie meer vlot nie?”

      “Nee, ek hou nie daarvan nie. Daar was die naweek ’n rugbyspan in die hotel en die lawaai het nooit opgehou nie. Een van die spelers het toe nog ’n spier in sy been ook beseer en ek is in my professionele hoedanigheid na sy kamer ontbied.”

      Mien se oë rek.“En toe? Wat het gebeur?”

      Karin glimlag ondeund.

      “Ek het die pasiënt ondersoek, behandeling voorgeskryf, hom belet om die volgende paar weke rugby te speel, my fooi ingesamel en geloop. Daar was geen ander ongevalle nie!”

      Mien lag.

      “Mooi so. Jammer ek was nie by nie.”

      Karin neem die lysie by haar en bestudeer dit ’n oomblik.

      “My pasiënte groei aan,” sê sy. “Dis vandag almal nuwes. Maar ek het ’n sterk vermoede baie van hulle kom nog bloot uit nuuskierigheid.”

      “Solank hulle maar net kom,” sê Mien toe sy wegstap.

      Terwyl sy vir haar eerste pasiënt wag, dink Karin aan die veertien dae wat verby is. Veertien besonder besige en interessante dae wat haar kennis en vernuf dikwels kwaai op die proef gestel het.

      Maar dit was juis die veelsydigheid van die werk wat sy so interessant gevind het – selfs die lang, dikwels vermoeiende plaasritte was nog ’n nuwigheid – en as sy die vooruitsig gehad het dat sy later self ’n paar kleiner operasies kon doen, sou haar beker oorgeloop het. Maar sy het ’n gevoel gehad sy sou nie die kans kry nie – nie as dit van Hugo afhang nie.

      Ná veertien dae het sy Hugo Slabbert nog niks beter geken as wat sy hom die eerste dag geken het nie.

      Is dit omdat hy nie van haar as mens hou nie dat hy nog altyd so koel en ongeërg teenoor haar is? wonder sy nou weer. Of is sy houding teenoor haar maar net deel van sy misnoeë met die ganse vrouegeslag?

      Sy stoot die gedagte aan Hugo Slabbert ongeduldig van haar af weg. Selfs hy kan nie haar geesdrif demp of die bevrediging wat sy uit haar werk put, bederf nie.

      Haar eerste pasiënt is ’n aantreklike jong meisie. Sy het kastaiingbruin hare, lewendige bruin oë en ’n mooi gelaatskleur, en lyk blakend gesond. Karin wonder wat haar dokter toe laat kom het. Tot haar verbasing hoor sy dat Sarie Gous al byna ’n jaar getroud is en dink dat sy reeds vier maande swanger is.

      “Ek moes natuurlik lankal gekom het,” glimlag Sarie verontskuldigend. “Maar ek was so gesond dat ek dit elke week uitgestel het – totdat my man nou uiteindelik sy voet neergesit het. Buitendien was ek ook skaam vir die mansdokters – ek was my hele lewe lank nog so gesond dat ek maar min ondervinding van dokters het.”

      Karin glimlag. Sy hou dadelik van die mooi, spontane jong vrou.

      “Dis darem die een keer wanneer ’n vrou nie moet wag om dokter toe te gaan nie.”

      “Ek weet,” erken Sarie. “Dis hoekom ek so bly is jy sal die bevalling kan waarneem.”

      “Ek is jammer,” sê Karin, opreg teleurgesteld. “Ek sou baie graag wou, maar ek is net vir drie maande hier op Doringlaagte – net totdat dokter Truter terugkom.”

      Sarie Gous kyk verslae na haar.

      “Ag nee,” sê sy. “Hoekom? Dokter Truter is dan vir nege maande weg.”

      “Nege maande!” Fronsend staar Karin op haar beurt na Sarie. Omdat dokter Truter haar gevra het om vir drie maande as locum Doringlaagte toe te kom, het sy aanvaar hy is net vir drie maande oorsee. Sy is so verras dat sy haar pasiënt byna begin uitvra, maar bedwing haarself gelukkig. “In elk geval,” vervolg sy ná ’n rukkie, “ek het voorlopig net vir drie maande gekom. Miskien sal dit beter wees as jy in die omstandighede liewer na dokter Slabbert of dokter Roux toe gaan.”

      Maar Sarie weier beslis.

      “Nee,” sê sy. “Ek wil nie na een van hulle toe gaan nie. As jy dan regtig moet weggaan voor my baba gebore is, kan ons altyd later ’n ander plan maak.”

      Die ondersoek verloop voorspoedig, maar die aanstaande moeder se bekken is heelwat kleiner as wat Karin van haar mooi sterk liggaamsbou verwag het.

      Sarie het dadelik die klein fronsie tussen die dokter se donker wenkbroue raakgesien.

      “Is daar iets verkeerd?” vra sy effens verontrus.

      “Nee, glad nie,” sê Karin gerusstellend. “Behalwe dat die bekken ’n bietjie kleiner is as wat ek verwag het.”

      “En wat beteken dit?”

      “Dat ons die baba nie mag toelaat om te groot te word nie.” As dit later blyk ’n keisersnee is wenslik of noodsaaklik, is daar genoeg tyd om haar te sê, dink Karin. Daar is geen rede om Sarie nou al met die vooruitsig van ’n operasie te ontstel nie – veral nie terwyl sy met ’n bietjie voorsorg heel moontlik natuurlik geboorte sal kan gee nie.

      Hulle gesels ’n rukkie oor dieet en oefening en Sarie belowe om Karin se voorskrifte getrou na te kom en haar elke twee weke te kom sien of dadelik te laat weet as sy nie gesond voel nie.

      Sy groet Sarie glimlaggend en daar is ’n trotse gevoel in haar binneste. Sarie kon na enigeen

Скачать книгу