Uit die Beek 2013. Attie van Wijk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk страница 18

Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk Uit die Beek

Скачать книгу

Ou Testament om te wys hoe die profesieë in Christus vervul is. Hy wil Jode help om in Christus te glo en om boodskappers van Christus te wees.

      HOOFTREKKE:

      • Die koms van die Koning (1–4).

      • Die standaarde van die Koning (5–7).

      • Die krag van die Koning (8–10).

      • Die verwerping van die Koning (11–16).

      • Die toerusting van die Koning se dissipels (17–20).

      • Die teregstelling van die Koning (21–27).

      • Die opstanding en opdrag van die Koning (28).

      LET OP NA:

      • Die baie verwysings na vervulde profesieë.

      • Die rol van nie-Jode in Christus se afkoms en bediening.

      • Die baie aanhalings van wat Jesus Self gesê het.

      CHRISTUS IN MATTEUS:

      • Die hele boek gaan oor Christus, en veral oor Hom as Koning van die Jode.

      • Matteus haal amper 130 keer uit die Ou Testament aan – meer as enige ander boek in die Nuwe Testament.

      SATERDAG 9 MAART 2013

      Lees eers Matteus 1:1–17

      Die profesieë word vervul

      GESELSVRAAG: Waar kom ons familie oorspronklik vandaan?

      “Dit was interessant om te ontdek dat ons voorvader, Adriaan, in 1620 in die dorp Wijk by Duurstede gebore is. Daarom het hy die ‘van Wijk’ agteraan sy naam gelas toe hy na Amsterdam verhuis het.” (Die meeste Hollanders is eers amper twee eeue later deur Napoleon verplig om vanne aan te neem. Hulle wou glo nie, vandaar die sommige interessante vanne wat hul nageslag nog (ver)dra!)

      Die geslagsregister wat ons vandag gelees het, is egter baie meer as net iets vir interessantheidshalwe. Matteus wil vir ons bewys dat Jesus die vervulling van die beloftes in die Ou Testament is. Daarom haal hy vir Dawid en Abraham in die opskrif aan. Verder in sy Evangelie haal hy dikwels gedeeltes in die Ou Testament aan “sodat vervul sou word ...”. Hy wil ons help om te verstaan dat Jesus die beloofde Messias is vir wie hulle al soveel eeue gewag het (vgl Hand 3:25).

      Jesus het nie toevallig op die toneel verskyn nie. Sy koms was al beplan nog voor die wêreld geskep is, vertel Paulus (Ef 1:4–5). God is nie aan tyd gebonde nie – Hy is buite die tyd en weet alles van die verlede, hede en toekoms. Elke gelowige kan dus weet dat hy of sy deur God uitverkies is om lid van God se familie te wees. Ons Vader is in bevel!

      GEBED: “Dankie Hemelvader, dat U alles weet en vooruit beplan het.”

      Lees vanaand in Matteus 1:18–25 hoe die geboorte van Jesus aan Josef aangekondig is, en wat hy toe gedoen het.

      SONDAG 10 MAART 2013

      Lees eers Psalm 89:29–38

      Die ewige Koning

      “Ek, die Heilige, het ’n eed afgelê, en my woord aan Dawid sal Ek nie verbreek nie: daar sal altyd nakomelinge van hom wees, sodat sy troon so blywend soos die son sal wees” (Ps 89:36–37).

      GESELSVRAAG: Hoe sou ons voorberei om ’n koning te ontmoet?

      “Het u dalk vir my ’n bietjie water om te drink?” vra die vreemdeling. Koning George het gedurende sy besoek aan ons land besluit om langs die spoor te gaan stap terwyl die wit trein op ’n Karoo-stasie moes wag. Langs die spoor kry hy ’n tannie op ’n stoeltjie en vra haar toe vir water. “Jy kan self daar anderkant in my huis gaan water skep. Ek kan nie nou weggaan nie; die koning se trein kom nou-nou hier verby en ek wil dit nie misloop nie,” was haar antwoord. Sy het glad nie besef sy praat met die koning nie!

      Vandag gaan ons ook die Koning ontmoet: die Koning van die konings. Besef ons met wie ons te doen gaan kry? Dit is Hy wat die heelal gemaak het soos dit nou is. Hy het die mens ontwerp en gemaak. Hy wil ons vandag ontmoet om te hoor hoe dit met ons gaan en om ons meer van Homself te vertel. Hy verlang na ’n liefdesverhouding met ons soos tussen ’n pa en sy kind. Hy is die ewige Koning.

      Hy wil ons ook toerus en bemoedig vir die week wat voorlê. Hy is nie meer ’n babatjie in ’n krip nie. Hy bestuur die heelal, maar maak tyd vir ons. Gaan ons ook tyd maak vir Hom om met ons te werk en ons te seën?

      GEBED: “Here, vandag wil ek U persoonlik ontmoet. Praat met my.”

      Lees vanaand in Psalm 89:39–53 hoe die psalmdigter aan God se beloftes vashou, al lyk die omstandighede anders.

      MAANDAG 11 MAART 2013

      Lees eers Matteus 2:1–12

      Soek die ware Koning

      “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is?” (Matt 2:2).

      GESELSVRAAG: Waar verwag ’n mens om ’n koning te kry?

      “Ek het nog nooit enige bewyse gekry dat God bestaan nie,” sê die Duitse dame op die vliegtuig. “Nou waar het jy na jou bewyse gesoek?” vra die Nigeriese leraar wat langs haar sit. Dit is tog interessant dat die mense wat veronderstel is om te weet, dikwels so onkundig is, terwyl mense van wie jy dit nooit sou verwag nie, jou met hul geloof en toewyding beskaam.

      In Jesus se tyd was dit ook so. Die Skrifgeleerdes het alles geweet, maar nie daarvolgens opgetree nie. Die sterrekykers het egter die moeite gedoen om ’n reis van baie maande aan te pak op soek na die koning wat gebore is. Daar is besonder interessante navorsing gedoen na hoe hulle kon weet dat daar ’n koning vir die Jode gebore is (www.bethlehemstar.com). Indien daardie navorsing korrek is, was die ster van Betlehem presies bokant Betlehem op 25 Desember van die jaar 2 vC indien jy in Jerusalem gestaan het. Dit beteken nie dat Jesus op daardie datum gebore is nie, want Hy was toe al minstens ’n jaar oud. Hy was nie meer ’n baba nie. Hulle het in ’n huis gewoon. Volgens die sterrekundiges getuig die sterre dat Hy waarskynlik in September van die jaar 3 vC gebore is.

      Vandag hoef ons nie nagte om te sit om die Koning te leer ken nie. Hy openbaar Homself in die Bybel. Hy doen dit ook deur sy Gees in ons hart. “Ek weet Hy leef in my.”

      GEBED: “Here Jesus, U is my Koning. Ek aanbid U.”

      Lees vanaand in Matteus 2:13–23 hoe die klein Jesus die kindermoord van Herodes vrygespring het.

      DINSDAG 12 MAART 2013

      Lees eers Matteus 3:1–12

      Aan die brand

      “Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop” (Matt 3:11).

      GESELSVRAAG: Wie ken ons wat aan die brand is vir die Here?

      “Ek wil liewer uitbrand vir die Here as om op te roes,” antwoord ’n bekende prediker toe hy gemaan word om briek aan te draai.

      Johannes was ook so iemand. Hy was vreesloos en het selfs vir die kerkleiers van sy tyd die waarheid vertel. As jy vandag so iets

Скачать книгу