Uit die Beek 2013. Attie van Wijk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk страница 15

Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk Uit die Beek

Скачать книгу

elke dag vir hulle tot daardie gebed verhoor word.

      GEBED: “Here, gee my die kans om iemand vandag van U te vertel.”

      Lees vanaand in Psalm 89:1–11 hoe verbondskinders die Here moet leer ken en sy boodskap moet aangee.

      MAANDAG 25 FEBRUARIE 2013

      Lees eers Genesis 41:45–57

      Uitkoms

      “En toe die hongersnood straf word in die ander lande, het die mense van die hele wêreld Egipte toe gekom om koring te koop by Josef” (Gen 41:57).

      GESELSVRAAG: Wat het ons wat ander mense nie het nie?

      “Die gevolg van die regering se dom besluite was dat daar glad nie meer kos in die winkels beskikbaar was nie,” vertel iemand uit Zimbabwe. “Boonop was ons geld niks werd nie. Ons het buitelandse geld nodig gehad om kos oorkant die grens te gaan koop.” Dit was ’n tyd van hongersnood en swaarkry vir almal wat nie geld uit die buiteland kon kry nie. Sommige mense is van honger dood.

      Soortgelyke toestande het in die grootste deel van die Midde-Ooste geheers. Die droogte het aangehou en daar was nie oeste nie. Mense het gehoor dat daar wel kos in Egipte beskikbaar was en het van heinde en ver gekom om kos te koop. Josef se wyse voorbereidings het gesorg dat daar genoeg kos in die skure was om nie alleen die Egiptenare nie, maar ook die besoekers uit ander lande te help.

      Ons het dieselfde ervaring gehad toe mense uit baie ander lande van Afrika na Suid-Afrika gestroom het om kos en geld te soek. Hier het dit beter gegaan as in ander Afrika-lande. Almal wou kom geld maak, en was gewillig om vir min te werk, net om te oorleef. Het hulle ook die evangelie in ons land gekry?

      GEBED: “Gee dat elkeen wat ons land besoek, U sal leer ken, Here.”

      Lees vanaand in Genesis 42:1–11 hoe die broers onwetend kos gaan soek by die broer wat hulle as slaaf verkoop het.

      DINSDAG 26 FEBRUARIE 2013

      Lees eers Genesis 42:12–22

      Boemerang

      “Dit het ons nou van alles wat ons destyds ons broer aangedoen het” (Gen 42:21).

      GESELSVRAAG: Vertel van iets in jou lewe wat geboemerang het.

      “Ek het my ou boemerang probeer weggooi, maar hy het elke keer weer teruggekom.”

      “Wat noem ’n mens ’n boemerang wat nie terugkom nie? ’n Stok.” Hierdie grappies herinner ons dat alles wat ons doen, gevolge het. Uiteindelik kom ons optrede weer na ons toe terug. Wat jy saai, dit sal jy ook oes (Gal 6:7). Dit het Josef se broers ook nou begin ondervind.

      Hulle was jaloers op Josef en wou hom sommer doodmaak. Uiteindelik het hulle hom as slaaf verkoop, en hy het lange jare as slaaf en gevangene in Egipte deurgebring. Nou was hy die eerste minister van Egipte en sy broers moes by hom om hulp kom smeek. Hy het natuurlik soos ’n Egiptenaar gelyk en geklink en deur ’n tolk met hulle gepraat. Hulle het nie besef dat hy alles verstaan wat hulle sê nie (Gen 42:23).

      Alles wat ons doen, het gevolge. “Die sondes van my jeug het nou weer na my toe teruggekom. Ek het straf gerook en nou is my longe daarmee heen,” vertel ’n swaer wat besig was om aan emfiseem te sterf. Die manier waarop apartheid toegepas is, het vandag nog baie bitter gevoelens agtergelaat. Jongmense en kinders ly nou weens die optrede van hul voorsate, al is hulle self heeltemal onskuldig.

      GEBED: “Help my om elke dag reg te lewe, Here, om U te eer.”

      Lees vanaand in Genesis 42:23–28 hoe al hoe meer dinge vir die broers verkeerd gegaan het.

      WOENSDAG 27 FEBRUARIE 2013

      Lees eers Genesis 42:29–38

      Tel jou seëninge

      “Hy is al wat vir my oor is” (Gen 42:38).

      GESELSVRAAG: Watter seëninge neem ons as vanselfsprekend aan?

      “Ons een dogter het ons heeltemal verwerp. Sy sê ons het die ander kinders bo haar voorgetrek. In werklikheid het ek meer aandag aan haar as aan die ander gegee,” kla ons gasvrou in Amerika. So baie van ons sit met jaloesie teenoor ander mense wat bo ons bevoorreg word. Ons begeer hul lewenstyl. As ons net ons seëninge begin tel, sal ons besef hoe bevoorreg ons in werklikheid is.

      Jakob het vasgeklou aan sy “oorlede” seun, Josef. Dit het gemaak dat hy Josef se kleinboet voorgetrek het, soos hy met Josef gedoen het. Die ander tien seuns en hul gesinne het glad nie getel nie. Sy geliefde Rebekka het gesterf tydens Benjamin se geboorte. Nou herinner die kind hom elke dag aan haar. Die ander kinders kan maar verlore gaan, soos Simeon in die Egiptiese tronk. Hy tel nie.

      Kyk mooi na die dinge wat jou ongelukkig maak. Is dit uit afguns gebore? Die Here sê ons moet tevrede wees met wat ons het, want Hy sal ons nooit verlaat of in die steek laat nie (Heb 13:5). Tevredenheid is die geheim tot geluk. Waaroor kan jy die Here dank by die werk, of by die huis, of in die skool, of in die kerk? Ons tel waarskynlik onder die 10% rykste mense op aarde. Daar is miljoene wat enigiets sou gee om in ons skoene te staan. Moet jou dus nie kwel oor wat jy nie het nie. Dank die Here vir wat jy het!

      GEBED: “Dankie vir al die duisende seëninge wat U so onverdiend oor ons uitstort, Here.”

      Lees vanaand in Genesis 43:1–14 hoe Jakob die Here leer vertrou het vir die veiligheid van sy seuns.

      DONDERDAG 28 FEBRUARIE 2013

      Lees eers Genesis 43:15–23

      Stresvolle tye

      “Wees gerus! Moenie bekommerd wees nie” (Gen 43:23).

      GESELSVRAAG: Waaroor is jy tans bekommerd?

      “Toets jou geheue. Waaroor het jy jou presies ’n jaar gelede lê en bekommer?” vra Joseph Cossman. Vandag is die môre waaroor jy gister bekommerd was. “’n Bekommernis wat te klein is om oor te bid, is te klein om vir jou ’n las te word,” het Corrie ten Boom geskryf. Iemand anders het aangeraai: “Moenie jou oor jou hart bekommer voor hy opgehou klop het nie.” “Moenie bang wees vir môre nie – God is reeds daar,” het iemand anders gesê.

      Maar Josef se broers het genoeg gehad om hulle oor te bekommer. By die huis was die familie besig om van honger dood te gaan. Hulle was nou in ’n vreemde land, met ’n baie aggressiewe regeerder aan wie hulle moes rekenskap gee. Hul een broer was reeds in die tronk en hul geld was weer terug in hul sakke. En nou word hulle na die vreemde heerser se huis geneem. Hulle het die ergste verwag.

      “Elke aand gee ek al my bekommernisse aan God oor. Hy gaan in elk geval die hele nag wakker wees,” skryf Mary Crowley. Dale Carnegie het aangeraai: “As jy in die nag nie kan slaap nie, staan dan op en doen iets. Dis die bekommernisse wat jou onderkry, nie die slapeloosheid nie.”

      “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle,” skryf Petrus in 1 Petrus 5:7. “Werp” beteken om dit daar te los, en nie weer terug te neem nie.

      GEBED: “Hemelvader, ek gee vandag my bekommernisse aan U oor.”

      Lees vanaand in Genesis 43:24–34 hoe sy broers se besoek vir Josef emosioneel geraak het.

      Maart

Скачать книгу