Brand Pretorius - aan die stuur. Brand Pretorius

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Brand Pretorius - aan die stuur - Brand Pretorius страница 2

Brand Pretorius - aan die stuur - Brand Pretorius

Скачать книгу

stappe aan wat sakeleiers kan doen om te help bou aan ’n beter toekoms vir alle Suid-Afrikaners. Ek voel baie sterk oor die aanvaarding van medeverantwoordelikheid, sowel as die breër rol wat die sakesektor behoort te speel in die samelewing. Ons jong demokrasie is in ’n brose stadium van ontwikkeling en ons kan nie bekostig om passief te wees nie.

      In die laaste hoofstuk deel ek my siening oor belangrike veranderings in die leierskapsomgewing en die uitdagings wat gevolglik voorlê. Ek bied ’n paar slotgedagtes aan oor leierskap en sukses, asook hoe om ’n leier van betekenis te word.

      Ek deel my menings en advies met verantwoordelikheid en in beskeidenheid. Dit is ’n opregte poging om iets terug te gee. Ek vertrou dat die leser hierdie reis saam met my deur die fassinerende landskap van besigheid en leierskap sal geniet. Dit is my hoop en gebede dat iets van waarde langs die pad gevind sal word.

      Brand Pretorius

      23 Junie 2012

      MY REIS IN KORT

      1

      My grootwordjare: Van Bultfontein

      na die sakewêreld

      “Daar is altyd een oomblik in ’n mens se kinderjare wanneer

      die deur oopgaan en die toekoms binnegelaat word.”

      Graham Greene, skrywer van The power and the glory

      Een van my ma se henne het opgehou om eiers te lê – onverklaarbaar. Die hen het by die dag vetter en swaarder geword. Die mense het gesê dat daar iewers ’n verstopping moet wees!

      Ons was vreeslik opgewonde toe my ma uiteindelik teësinnig die hennetjie aan ons drie Pretorius-boeties gegee het, sodat ons dit vir sakgeld kon verkoop. Maar ons opgewondenheid was van korte duur. My twee broers, Hennie en Koos, toe elf en nege jaar oud, was te skaam om die buitengewoon swaar hen te gaan verkoop. Op vyfjarige ouderdom, en op daardie stadium die jongste van ons kinders, was ek seker nog te klein om skaam te wees. Sonder om te huiwer het ek die hen in ’n mandjie gesit en die twee blokke gestap na die slaghuis. Onverskrokke het ek die slagter oortuig om die hen vir twee sjielings by my te koop. Baie selfvoldaan het ek teruggestap huis toe met die geklingel van die muntstukke in my broeksak.

      Die gevoel van genoegdoening wat ek daardie dag beleef het, het dalk die saadjie geplant vir my toekomstige belangstelling in besigheid doen. Miskien was dit daar in die stofstrate van Bultfontein waar die bemarkingsgogga my die eerste keer gebyt het – maar ek sou dit eers baie later in my lewe besef. Was dit dalk onwetend die ontluiking van ’n inherente ambisie om te lei?

      1953

      Bultfontein, Vrystaat

      Alhoewel ek op die Oos-Vrystaatse dorpie Steynsrus gebore is, is my eerste herinneringe aan my kinderdae die duidelike beeld van ons kliphuis langs die Hoërskool Bultfontein. My pa, na wie ek vernoem is, is in 1952 daar as skoolhoof aangestel. Bultfontein was destyds ’n tipiese dorpie op die Vrystaatse platteland, sowat 100 km noordwes van Bloemfontein en omring deur soortgelyke dorpies soos Hoopstad, Hertzogville, Dealesville en Brandfort. Die plaaslike gemeenskap was slegs ’n paar honderd sterk en die mielieboere in die omliggende gebiede het ’n prominente rol gespeel. Die paar ondernemings op die dorp is hoofsaaklik deur “Boere-Jode” soos die Gritzman- en Berelowitz-familie besit. As my geheue my nie in die steek laat nie, was daar net een teerpad, en dit was die hoofstraat. Dit was ook waar Central Garage, die General Motors-handelaar was. Ek het dikwels voor die vertoonvenster gestaan en my aan die splinternuwe, blink Chevrolets vergaap, en gedroom dat ek eendag een van my eie sou besit.

      Motors was my passie as kind. Ek is grootliks hierin deur my oudste broer, Hennie, beïnvloed. Van jongs af was hy die geesdriftige (alhoewel nie noodwendig die gemagtigde) bestuurder van my pa se De Soto, en later ook van sy tweekleurige grys-en-blou 1956-Chevrolet. Ek kan nou nog die opgewondenheid onthou waarmee ons, ná maande van afwagting, op die nuwe motor se koms gewag het. Ek het op die stoeptrappie gesit en wag, my asem opgehou, en nie een keer my oë van die pad geneem nie. Uiteindelik, ná wat soos ure gevoel het, het ’n motor in die verte verskyn, en stadig al hoe nader gekom. Ek het opgespring en na die hek gehardloop. Die motor waaroor ek so lank gedroom het, was uiteindelik hier! Ek was agt jaar oud.

      My toekomsplanne was reeds duidelik – ek wou eendag motors ontwerp. Hoewel ek nie juis enige kunstalent gehad het nie, het dit my nie gekeer om ure aaneen my droommotors te teken nie. Teen die tyd dat ek elf was, het ek reeds ’n plakboek van my gunstelingmotors saamgestel. Ek kon skaars wag vir Saterdagmiddae, wanneer ek Hennie kon help om my pa se Chev te was, maar die hoogtepunt was die dag toe ons die enjin se verskillende komponente elk ’n ander kleur geverf het. In ag genome hoe streng my pa was, was dit ’n wonderwerk dat hy ons maar laat begaan het!

      Toe ek elf was, het ons Bultfontein se stofstrate agtergelaat en na Bloemfontein verhuis, waar my pa as hoof van Laerskool Wilgehof aangestel is. Enorme opwinding het die oorhand gekry toe my ma haar eerste motor, ’n 1959-Renault Dauphine, gekry het. Vir my was dit die begin van ’n nuwe era as fanatiese Renault-entoesias. Hierdie eiesoortige Franse motors het my van die begin gefassineer met hulle unieke voorkoms en sportiewe werkverrigting. Baie middae ná skool sou ek met my fiets heelpad na die Renault-handelaar, Drakenstein Motors, toe ry. Die eienaar, oom Jan van Niekerk, het my passie vir motors verstaan en my toegelaat om in die nuutste modelle te klim, waar ek sou sit en dagdroom. Die reuk van nuwe leer het vir my ’n spesiale aantrekkingskrag gehad. Min het ek toe geweet in watter mate my verbintenis met Renault my loopbaan in die motorbedryf sou bepaal.

      In dieselfde tyd dat my liefde vir Renault begin het, het my belangstelling in motorsport begin vlam vat. Ek en my vriend Albert Weideman het renbane in ons agterplaas gebou, en dan ons Dinky Toyspeelgoedkarretjies teen mekaar laat jaag in ’n groot gees van mededinging. Snags het ek van die groot renjaerlegendes van daardie tyd gedroom – van Juan Manuel Fangio, Stirling Moss en Graham Hill.

      Toe ek vyftien was, is my pa bevorder tot skoolinspekteur en ons het na Bethlehem verhuis, waar twee opwindende dinge gebeur het. My nuwe vriende Theo Harris en James Keulder was amper net so gek oor motors soos ek. Saam het ons ure lank gedroom oor hoe ons eendag bekende renjaers gaan word. Toe gaan daar vir ons ’n lig op: ’n Knortjor sou die ideale manier wees om ons renloopbane te begin. Geen moeite is ontsien om ons eie droom-knortjor te ontwerp nie. Ons het al ons sakgeld spandeer aan ’n tweedehandse grassnyer-enjin, en begin toe om die raam in Theo se pa se garage aanmekaar te sweis. Ons het weke lank probeer om die ratkas en die aandrywingstelsel uit te werk, maar op die ou end het ons tegniese vaardighede ons in die steek gelaat. Uiteindelik het ’n gebrek aan fondse gekeer dat ons hierdie ambisieuse projek voltooi.

      Die tweede opwindende gebeurtenis was dat ek my broer Koos se ou grys Ovilam 50 cc-motorfiets geërf het. Niemand sou dit juis ’n topklas-masjien kon noem nie, maar dit was nietemin die begin van my lewenslange liefde vir motorfietse. Die ratkas het in daardie stadium slegs een rat – derde rat – gehad wat werk. Om die motorfiets se enjin aan die gang te kry moes ek dit teen ’n steil afdraande laat afhardloop. Om dan in Eurekastraat af te jaag met die wind in my hare het die adrenalien laat pomp. Vir sy sestiende verjaardag het Theo ’n splinternuwe donkerblou Honda 50 Sport, met sy uitlaatpyp teen ’n 45°-hoek, gekry. Dit het ’n vierslag-enjin gehad wat vrylik tot 8 000 r.p.m. kon toer – dit was ongelooflik! Toe ek die blou motorfiets vir die eerste keer sien, kon ek myself in my geestesoog op ’n rooie sien.

      Ek het my laaste twee skooljare op Kroonstad spandeer, toe my pa soontoe verplaas is. Dit was twee wonderlike jare by die Hoërskool Kroonstad, of die Blou Skool, soos wat dit destyds bekend gestaan het. Hennie was nou ’n onderwyser in Welkom, en danksy sy vrygewigheid was ek die eienaar van ’n tweedehandse 50 cc-Kreidler Florette, met al drie ratte in ’n werkende toestand. Die rit skool toe het

Скачать книгу