DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme. Lindie Koorts

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme - Lindie Koorts страница 17

DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme - Lindie Koorts

Скачать книгу

Optog van 60 of 70 perdekarre het Malan die dorp in vergesel. Daar was verwelkomingstoesprake deur byna elke vereniging binne die kerk, ’n ontvangs, ’n onthaal en ’n inwydingsdiens. Die kerkgebou was só vol gepak vir die inwydingsdiens dat die kerkraad aangedring het dat slegs diegene ouer as 15 dit bywoon. Nogtans het ongeveer 1 100 lywe dit reggekry om hulle op die kerkbanke, wat maar vir tussen 700 en 800 mense gemaak is, in te prop.[30]

      Malan se eerste uitdaging as herder van sy eie kudde was ’n versoek wat hy met sy aankoms ontvang het. Dit was ’n petisie van Montagu se Engelssprekende gemeenskap wat gevra het dat hy die gebruik voortsit om een Sondagaand per maand ’n diens in Engels te lewer. Malan en sy nuwe kerkraad moes die petisie oorweeg – wat ook die handtekeninge bevat het van persone wat Afrikaans was, sowel as ander wat Nederlands kon verstaan. By die vergadering het Malan dit duidelik gestel dat hy in beginsel gekant is teen Engelse dienste vir die kerk se Hollandssprekende lidmate, maar dat hy aparte Engelse dienste, in ’n aparte gebou, vir Engelssprekendes ondersteun.[31]

      Na aanleiding van die bespreking het Malan twee briewe opgestel: een vir die Engelssprekende ondertekenaars en die ander vir hul Afrikaanse simpatiseerders. Die Engelse brief het die versoek hoflik van die hand gewys in die lig van die behoeftes van die dorp se armblankegemeenskap wat weens hul armoede eerder die aanddienste bygewoon het en nie Engels kon verstaan nie.[32] Die tweede brief is in Nederlands geskryf en was ook hoflik, maar het Malan se nasionalisme weerspieël en was daarom effens bytend. Die brief het die argument herhaal dat die armblanke-Afrikaners se behoeftes uiters belangrik is. Maar Malan het bygevoeg die volk se taal is Hollands en die gebruik daarvan in sy godsdiens is nou verbind met sy sin vir eiewaarde en onafhanklikheid.

      Vir die lidmate van Montagu se NG gemeente was daar voortaan nie meer Engelse eredienste nie.[33] In die oë van Montagu se nuwe predikant was taal, godsdiens en nasionalisme onafskeidbaar.

      Malan het sy intrek geneem in die pastorie, waar sy nuwe meubels deur die enorme vertrekke verswelg is. Sy ouers, wat die heuglike geleentheid bygewoon het, het ’n rukkie by hom gebly, maar toe hulle – en daarmee saam sy stiefma se kookkos – vertrek, het die jong, ongetroude predikant begin wonder waar sy volgende maaltyd vandaan sal kom. Gelukkig kon hy reël om maaltye te nuttig by ’n vrou wat naby die pastorie gewoon het.[34]

      Die vroue van Montagu het gou ontdek hul jong predikant was ’n man met ’n bomenslike konsentrasievermoë, maar ook uiters verstrooid. Sy maaltye is vir hom voorberei en soms is ’n jong meisie gestuur om dit netjies in ’n mandjie verpak by hom af te lewer. Sy het hom gewoonlik agter sy lessenaar aangetref, hard aan die werk en daarom onbewus van haar kloppe aan die deur. Uiteindelik het sy op haar tone nadergesluip, die mandjie op die tafel langs hom neergesit en weer uitgesluip sonder dat haar teenwoordigheid opgemerk is.[35] In dié jare het Malan nie veel geëet nie. Sy smake was eenvoudig en vir hom was ’n hardgekookte eier en moskonfyt, waarmee sy moeder hom as kind bederf het, die lekkerste. Sy gemeentelede het ook opgemerk dat hy groot hoeveelhede koffie gedrink het wanneer hy hulle besoek het.[36]

      Sy huisbesoeke het hom byna oorweldig. Teen Augustus 1906 het hy aan Nettie geskryf sy kop draai “van mense en vergaderings, van vergaderings en mense”. Daar was altyd nog mense aan wie hy voorgestel moes word en sy besoeke aan die dorp se 230 gesinne het al sy tyd en energie opgeslurp. Toe dit uit die weg geruim is, moes hy die gesinne wat oor die distrik heen gesaai was, begin besoek. Vir dié doeleindes het hy ’n perdekar en twee flink perde besit en gelukkig ook die dienste van ’n staljonge, want hy was seker die perde en sy vyf hoenders sou uitteer as hulle net in sy sorg gelaat sou word.[37]

      Wanneer hy op huisbesoek gegaan het, moes Malan dae lank met sy perdekar deur die verlate landskap reis – soms tot 90 uur op ’n keer.[38] Dit het hom na alle uithoeke van die distrik geneem, waar hy noue kontak met sy kudde en hul daaglikse lewe kon hê. Hy het sy nuwe omgewing in ’n brief aan Nettie beskryf as “egte Karoo: as jy ’n hond wil gooi, kan jy altyd ’n klip vind en as jy iemand wil steek, kan jy altyd ’n doring vind”.[39]

      Malan het sy besoeke aan die mense van die droë maar vrugbare wêreld met erns benader. Hy het verkies om tyd en energie in elkeen te belê, pleks van om soos sy kollegas in die buurdistrikte van huis tot huis te jaag. In ’n notaboekie het hy besonderhede van elke gemeentelid aangeteken. Toe die onderskeie gemeentes op ’n vergadering oor hul werk verslag moes doen, was Malan al predikant wat nie al sy gemeentelede binne ’n jaar besoek het nie – waarop hy droogweg opgemerk het hy het dééglike werk gedoen.[40]

      Jare later het hy ’n pleidooi aan sy medepredikante gerig om dié besoeke nie te beskou as ’n roetine wat hul amptelike gewetes moes sus nie, maar as ’n geleentheid om voldoende tyd saam met twyfelaars deur te bring en hulle na die Lig te lei. Gejaagde besoeke het die indruk van ’n jaarlikse geestelike inspeksietog gewek, en van die predikant as ’n geestelike belastinggaarder of polisieman vir wie sy slagoffers hul sondes moes wegsteek. Malan het ’n ware behoefte gehad om verligting en genade aan die geestelik onkundiges te bring, en die beste manier om dit te doen was om tyd by elk deur te bring. Dit was vir hom bevredigend as hy iemand se worstelvrae kon beantwoord of ’n ingewikkelde Bybelvers kon verduidelik.[41]

      Sy kudde het hom as ’n intellektueel beskou. Sy preke was vir hulle dikwels te moeilik en gekompliseerd om te volg, maar sy luisteraars het sy vermoëns nogtans bewonder. Malan het bly boeke koop wat hy tot laat in die nag bestudeer het. Hy wou hom so goed as moontlik vir sy taak toerus en het daarom veral sielkundeboeke gelees. In latere jare was sy insig in die menslike natuur en sy vermoë om vlambare persoonlikhede te hanteer alombekend – dit was heel moontlik te danke aan sy laatnagstudie.[42] In dié jare het Malan nie veel geskryf of gepubliseer nie – hy het ingeneem en dit wat hy gelees het, toegepas.

      Vir waarnemers was Malan ’n jong man met groot potensiaal. Teen einde Oktober en begin November 1906 het hy sy eerste sinodesitting in Kaapstad bygewoon. Sy nasionalistiese benadering tot sake soos taal en godsdiens het aandag getrek en byval gevind. Sy eerste openbare optrede was in ’n debat oor die ligging van die kerk se onderwyskollege: Die vraag is gestel of die kollege van Kaapstad na Stellenbosch moes verskuif. Volgens Malan was daar ’n groter saak ter sprake: nasionale beginsels, wat die kerk se eerste oorweging moes wees waar Afrikanerkinders vir hul roeping in die kerk en staat toegerus word. Daarom het hy aangevoer Stellenbosch is vir die ontwikkeling van dié beginsels ’n beter omgewing as die Engels-oorheerste Kaapstad. Hy het ook die noodsaaklikheid van moedertaalonderrig ter wille van Afrikaners se nasionale selfrespek en voortbestaan beklemtoon.[43]

      In antwoord op Malan se toespraak het die kerk se aktuaris sy trots op die NG Kerk met die ander gedeel – veral omdat die kerk op die dienste van so ’n geleerde jong man kon roem. Hy het ook opgemerk die jong predikante wat onlangs uit Europa teruggekeer het, meen Afrikaners moet hulself op opvoedings- en politieke terrein van die Engelse skei. Dit was volgens die aktuaris ’n nuwe verskynsel wat ernstige oorweging deur die kerk en volksleiers verdien het.[44]

      Terwyl die sinodesitting aan die gang was, het die Tweede Afrikaanse Taalbeweging wat Gustav Preller in Transvaal van stapel gestuur het die Kaapkolonie bereik. Die fakkeldraers was die jong J.H.H. (Jannie) de Waal, wat later ’n belangrike Afrikaanse skrywer en dramaturg geword het,[45] en D.F. Malherbe, wat eweneens bestem was om ’n vooraanstaande digter en akademikus te word.[46] Die Afrikaanse Taal Vereniging (ATV) is op 3 November 1906 in Kaapstad gestig. Malherbe is as eerste voorsitter en De Waal as ondervoorsitter gekies en Malan, wat ook die vergadering bygewoon het, is ook tot die bestuur verkies.[47]

      In teenstelling met hul kollegas in Transvaal moes die jong manne wat die ATV in die Kaap gestig het rekening hou met ’n gevestigde pro-Hollandse belangegroep in die gestalte van die Taalbond. Die Taalbond het die ouer geslag se steun gehad en invloedryke Afrikanerleiers en -intellektuele in sy geledere gehad, onder andere Onze Jan Hofmeyr en Malan se kweekskoolprofessor P.J.G. de Vos.[48] Die nuweling-organisasie was bedag op die ouer geslag se weerstand en het daarom klem gelê op die voordele van ’n deeglike kennis van Nederlands. Daar is ook onderneem om met pro-Hollandse organisasies,

Скачать книгу