DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme. Lindie Koorts

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme - Lindie Koorts страница 13

DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme - Lindie Koorts

Скачать книгу

bestempel word. Hy sou nie kon raai hoe profeties sy woorde was nie. Jare later, toe hy geworstel het met ’n keuse tussen die kerk en die politiek, het Valeton se Agab en Elia weer by hom gespook.

      Malan se bewondering vir Elia het by sy geaardheid gepas. Al het hy duidelike leierseienskappe gehad, was hy altyd stil, ernstig en effens eenkant. Toe al die Afrikanerstudente op ’n keer in Utrecht bymekaar was, en, soos studente maar maak, hul professors se deugde bespreek het, het Malan stilgebly terwyl sy vriende meegevoer geraak het oor hul geleerde meesters se briljantheid. Hy het gewag tot hulle min of meer die hoogtepunt van hul bewondering bereik het voordat hy kommentaar gelewer het: ’n Goeie professor is eenvoudig ’n goeie student. As hy nie self ’n goeie student is nie, kan hy ook nie ’n goeie professor wees nie. Sy woorde het nugterheid gebring, waarna die bespreking stoom verloor het.[82]

      Malan se professors het hom egter ook maar senuweeagtig gemaak wanneer eksamentyd aangebreek het. Aan Nettie het hy geskryf: “Vir Oubaas Valeton is ek nie bang nie – hy is ’n te jolly ou om die moeilikste dinge vir my te bêre. Vir Lamers ook nie te erg nie. Maar vir Van Veen en veral vir Baljon met sy kaal kop sidder ek.”[83]

      As Valeton se loseerder het Malan goed geweet presies hoe “jolly” hy was. Malan het Valeton aan sy suster beskryf as “baie gesellig en kinderlik, en stel net soveel belang in die vraag van hoeveel eiers sy hoenders gelê het as in die vraag of die boek Jesaja deur één of deur twee profete geskryf is”.[84]

      Malan se belangrikste teologiese vorming het in Valeton se sitkamer plaasgevind. Hier het die twee hul “gebruiklike drie koppies tee” gedrink en gesels.[85] Malan het Valeton as die universiteit se knapste teoloog beskou[86] en het sy menings oor Etiese teologie en Hoër Kritiek opgeslurp.

      Valeton se benadering tot die teologie het gewentel om sy begrip van openbaring. Alle kennis van God is op openbaring gegrond, hetsy deur die “algemene openbaring”, wat deur die natuur en die geskiedenis geopenbaar word, of deur die “besondere openbaring”, wat in Israel se geskiedenis en die figuur van Jesus Christus manifesteer. In daardie opsig is die Bybel ’n wyse waarop God Hom openbaar. Valeton het die gedagte dat die Christelike geloof van kerklike dogma of die historiese akkuraatheid van die Bybel afhanklik is, verwerp. Geloof is op die individu se persoonlike ervaring daarvan gegrond en nie op akademiese argumente nie. Dié persoonlike ervaring is van God afkomstig en kan daarom nie van Hom verwyderd wees nie. Daarom het Valeton ook geglo teologiese kennis is slegs vir gelowiges toeganklik.[87]

      Aangesien sy eie geloof in die ervaring van God gewortel was, kon Valeton die bevindinge van die histories-kritiese metode, wat in dié tyd omstredenheid in teologiese kringe veroorsaak het, aanvaar sonder dat dit die grondslag van sy geloof bedreig het. Hoewel dit nie die fokus van sy navorsing was nie, het hy dit as ’n metode gebruik om God se openbaring in die geskiedenis van Israel te bestudeer.[88]

      Die histories-kritiese metode, wat ook Hoër Kritiek genoem is, het die Bybel nie as ’n bron van bonatuurlike openbaring benader nie, maar as ’n dokument wat binne ’n bepaalde konteks geskep is en daarom ook kritiese studie regverdig. Dit het beteken die studie van die argeologie, linguistiek, mitologie en soortgelyke vakgebiede het belangrike hulpmiddels vir die bestudering van Antieke Israel se godsdiens gebied.[89]

      Dié sienswyse het Valeton met Abraham Kuyper laat bots. Kuyper was Nederland se voorste verteenwoordiger van die Gereformeerde teologie (ook bekend as die Neo-Calvinisme) en hy het Hoër Kritiek verwerp. Hy het die Bybel se historiese akkuraatheid onkrities aanvaar – alles in die Bybel is waar en akkuraat gewoon “omdat dit daarin staan”.[90] Dit was sy verergde verweer teen Valeton en ander se vrae oor die meer problematiese aspekte van Bybelse interpretasie. As gevolg van Valeton se prominensie as teoloog en sy rol in die formulering van Etiese teologie het hy ’n teiken vir Kuyper se aanvalle in die pers geword. Dié aanvalle was deel van Kuyper se breër veldtog teen alle gevestigde teoloë omdat hy die Vrye Universiteit van Amsterdam aan die oprig was en die polemiek wou gebruik om voornemende teologiestudente te lok.[91]

      Waar Valeton politiek en godsdiens as twee onversoenbare pole uitgebeeld het, het Kuyper, wat in 1901 eerste minister van Nederland geword het, die teenoorgestelde gedoen. As teoloog, koerantredakteur en politikus het hy die twee dwarsdeur sy kleurryke loopbaan lustig gekombineer.[92] Hy kon dit regverdig deur die beginsel van “soewereiniteit in eie kring”, wat aanvoer die samelewing bestaan uit onafhanklike sfere, maar elk is aan God se gesag onderworpe. Dus is die sfere van die staat en die politiek ook aan godsdienstige beginsels onderhewig.[93]

      In dié stadium van sy lewe het Malan sy mentor se kant gekies. In latere jare het hy, al het hy ’n kopie van Kuyper se Het Calvinisme en ’n paar ander standaardwerke oor die teologie besit, nooit veel geesdrif vir Kuyper se teologie getoon nie. Malan het ook nie veel simpatie met die Doppers, wat Kuyper se teologie ywerig nagevolg het, gehad nie. Onder Valeton se leiding het Malan Hoër Kritiek beoefen, wat hom onderskei het van Kuyper en sy Dopper-volgelinge.[94] In Suid-Afrika het die spanning tussen Neo-Calvinisme en Hoër Kritiek in die vroeë 1930’s tot uitbarsting kom in die vorm van die Johannes du Plessis-saak, wat ’n letsel op die NG Kerk en Stellenbosch se kweekskool gelaat het.[95]

      Valeton se stelling dat alle kennis van God die produk van sy openbaring is, het neerslag gevind in die onderwerp wat Malan vir sy doktorale proefskrif gekies het. In April 1903 kon Malan aan sy ouers skryf hy is sy doktorale eksamens met vlieënde vaandels deur en hy is nou ’n “doctorandus”. Die tweede deel van die woord beteken hy was nog nie ’n doktor nie, maar dat hy goed op pad was daarheen.[96]

      Met sy oë altyd op Suid-Afrika gerig, wou Malan graag ’n tesis oor die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis skryf, maar dit was onmoontlik omdat soortgelyke werk reeds in Suid-Afrika aan die gang was. Voorts was die argiewe wat hy daarvoor sou moes raadpleeg ook in Suid-Afrika. Malan het toe maar ’n filosofiese onderwerp gekies: biskop George Berkeley se filosofie van Idealisme. Al het hy die filosofie nog altyd geniet, het die vooruitsig om ’n doktorale proefskrif oor so ’n abstrakte onderwerp te skryf hom effens afgeskrik. Hy was benoud oor die taak wat voorgelê het,[97] maar het nietemin aan die werk gespring. Sy eerste stap was om Londen te besoek, waar hy materiaal versamel het. Die stad en sy mense was vir hom weersinwekkend:

      Die stad is groot en woelig, maar vuil. Ek wil nie hier woon nie … Verder was daar genoeg om te sien wat ’n Afrikaner bloedig sal vererg. Groter skaamteloosheid het ek nog nooit gesien nie, en dit van ’n volk wat ’n roeping het om die wêreld te regeer, te beskaaf en te verchristelik. So het hulle onder meer ’n museum waar hulle hul buit ten toon stel. Daar is ook ’n S.A. versameling. ’n Groot deel hiervan bestaan uit familiebybels wat hulle uit ons huise gesteel het … in die Crystal Palace staan daar nog afskuwelike afbeeldings, Steyn, Kruger en mev. Kruger as “South African knock-them-downs”, mikpunte vir liederlike Engelse. Inderdaad, hulle vergewe en vergeet.[98]

      Dit was in strakke teenstelling met die Nederlanders se euforiese verering van die Boere. Vir Malan het Britse imperialisme alles wat haatlik was, verteenwoordig. Dit was die teenoorgestelde van kulturele verskeidenheid, wat vir hom die ideaal was. Dié ideaal is nog dieper by hom ingeprent deur die Wêreld­konferensie van Christelike Studenteverenigings, wat hy in Augustus 1902 in Denemarke as verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse tak bygewoon het.[99] Die konferensie het ’n blywende indruk op hom gemaak, en hy het dit aan sy suster probeer beskryf:

      Dit is hier, wat volke en tale betref, ’n ware Babel, maar nie ’n Babel wat skei en uiteendryf nie, maar wat weer saamvoeg onder die banier van Christus. Die Chinees en Japannees het halfpad om die wêreld gereis om die konferensie by te woon. Onder andere het ons hier ook sulke eksemplare van die mensdom as Hongare, Portugese, Russe, Noorweërs, Swede, Italianers, ’n Siriër, ’n Bulgaar, ’n paar Finne en selfs ’n Yslander. Die tale wat meestal hier gepraat word is Engels, Duits, Frans, Deens en Sweeds. Hierdie vergadering is vir my so ’n skone belofte vir die mensdom se toekoms. Iedere volk word hier toegelaat en dit word verwag dat hy sy eie metodes sal volg, sy eie nasionale eienskappe

Скачать книгу