DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme. Lindie Koorts

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme - Lindie Koorts страница 10

DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme - Lindie Koorts

Скачать книгу

safety.”[33]

      Sy frustrasie was nie heeltemal tot sy eie gevoelens van magteloosheid beperk nie. Hy is ook ontnugter deur die Nederlandse staat se gelatenheid oor sy onmag op die wêreldverhoog. Malan het gou agtergekom die ywerige openbare steun vir die Boere was niks meer as net dit nie. Nederland se buitelandse beleid het onveranderd gebly. Die beleid het op drie beginsels berus: Nederland moes wegbly van die groter Europese moondhede se magspel, hy wou neutraal bly in internasionale konflikte en hy wou vrye handel bevorder.[34]

      Kortom het die Nederlanders hulle daarop toegespits om hul eie nis in internasionale betrekkinge uit te kerf, naamlik as die bewakers van vrede en internasionale reg. Dié ingesteldheid was ver verwyder van hul gloriedae as ’n internasionale moondheid. In die nadraai van die stormloop vir Afrika – waaraan Nederland nie deelgeneem het nie – het ’n era gevolg waarin internasionale status deur koloniale besittings bepaal is. In dié tyd was Nederland se laaste aanspraak op nasionale trots en internasionale status sy Indonesiese kolonies.[35]

      Militêre betrokkenheid by die Anglo-Boereoorlog was vir die Nederlanders nooit ’n opsie nie, want as hulle Brittanje sou vervreem, sou Nederland se Oos-Indiese kolonies in die gedrang kom omdat Brittanje die internasionale skeepsroetes beheer het. Boonop het die algemene opvatting geheers dat Brittanje se militêre mag as afskrikmiddel teen Duitse en Franse uitbreiding in die rigting van die Noordsee gedien het. Brittanje, as ’n maritieme moondheid, sou sy kontinentale mededingers nooit toelaat om die strategies belangrike Lae Lande te beheer nie. Die Nederlanders het dus ’n diplomatieke liefde-haat-verhouding met die Britte gehad: Aan die een kant was Brittanje ’n natuurlike bondgenoot; aan die ander kant was die land ’n supermoondheid waarmee nie gespeel kon word nie.[36]

      Gegewe die publiek se vurige ondersteuning vir die Boere moes die Nederlandse regering lig loop en ’n konfrontasie met Brittanje vermy en terselfdertyd verhoed dat die openbare mening teen hom draai.[37] Hy het hierin geslaag deur middel van ’n “publisiteitsmeesterstuk”.[38] Die regering het aangebied om Kruger te help om Transvaal te verlaat en het vir dié doel ’n skip, die Gelderland, beskikbaar gestel om hom na Europa te vervoer. Kruger se seereis en toer deur Europa het geweldig baie publisiteit ontvang en hy het skares gelok waar hy ook al was.[39]

      Die skares en die publisiteit het Kruger se diplomatieke mislukking verdoesel. Hy wou by Duitsland om hulp aanklop, maar keiser Wilhelm II het geweier om hom te ontvang. Ongelukkig vir Kruger het Duitsland en Brittanje reeds in die somer van 1898 geheime samesprekings gevoer. Hulle het ooreengekom om die Portugese kolonies in Afrika onder mekaar te verdeel omdat daar in dié tyd ’n moontlikheid was dat die Portugese staat bankrot sou speel. As deel van die nuwe vriendskap het hulle ooreengekom dat hulle nie sou toelaat dat die Suid-Afrikaanse vraagstuk hulle in konflik met mekaar bring nie.[40] In plaas daarvan om na Berlyn te gaan, is Kruger dus gedwing om na Nederland te reis, waar hy onderweg na Den Haag in Desember 1900, Utrecht aangedoen het.

      Malan is na die stasie om hom te sien. “Daar was so ’n ontsettende groot en opgewonde massa mense, dat ek byna deur die Hollanders plat gedruk is,” het hy aan sy ouers geskryf. “Die geroep van ‘Leve Kruger, Leve de Boeren’ was so aanhoudend dat die toesprake selfs vir die sprekers onhoorbaar was.”[41]

      Malan was sinies oor die publiek se geesdrif. Ná ’n skamele twee maande in Nederland het hy genoeg gesien om aan sy ouers te skryf: “… van die Europese moondhede kan niks verwag word nie. Die selfsug voer hier die botoon. Bowendien wantrou hulle mekaar onderling te veel om saam te werk. Ons moet nou maar self doen wat ons verwag ander vir ons sal doen.”[42] In sy dagboek het hy opgemerk: “Die heil van Suid-Afrika lê in en moet kom vanuit Suid-Afrika.”[43]

      Ondanks Malan se beheptheid met die politiek moes hy ook fokus op die eintlike rede vir sy verblyf in Nederland: sy studie. Hy het sommer uit die staanspoor die jare en maande begin aftel voor hy huis toe kon gaan – teen Desember 1900 het hy uitgewerk hy het nog twee jaar en nege maande oorgehad.[44] Hy sou nie kon raai sy verblyf sou uiteindelik veel langer wees nie.

      Die eerste struikelblok wat hy moes oorkom, was dat die Universiteit van Utrecht nie sy vorige kwalifikasies erken het nie. Malan het hom solank verdiep in sy voorbereiding vir die eksamens wat hy weer moes aflê. Die werk was meestal ’n herhaling, maar hy het daarmee vrede gemaak. Dit het hom ten minste die geleentheid gegee om sy toekomsplanne te oorweeg. Hy was steeds onseker oor of hy doktorale studie moes onderneem.[45] Dit laat ’n mens wonder waarom hy dan in die eerste plek Nederland toe is, wou hy dan nie juis vir ’n doktorsgraad inskryf nie? Die dokumente wat behoue gebly het, antwoord nie dié vraag nie, maar ’n mens kan spekuleer dat hy na Europa is omdat hy ná die voltooiing van sy teologiese studie steeds te onseker van homself was om ’n gemeente te lei.

      Malan het nogtans besluit om vir die doktorale toelatingseksamens voor te berei. Intussen wou hy die geleentheid ten volle benut om nuwe dinge te leer wat vir Suid-Afrika van waarde kon wees. Hy het besluit hy het nie veel erg aan besienswaardighede nie – tensy hy iets daaruit kon leer. Hy is uit die staanspoor getref deur die omvang van liefdadigheidswerk in Nederland en hy was seker Suid-Afrika sou ná die oorlog soortgelyke instellings benodig. Malan het onderneem om tydens sy langer vakansies ’n spesiale studie hiervan te maak.[46] Hy het sodoende ’n samelewing ontdek wie se benadering tot armoedeverligting aan die verander was.

      Die laaste kwart van die 19de eeu en die eerste dekade van die 20ste eeu was ’n tydperk van omvattende sosiaal-ekonomiese verandering in Nederland. Die land het begin industrialiseer en wegbeweeg van handelskapitalisme na ’n breër, moderne kapitalisme. Die uitbreiding van stede en die oprigting van fabrieke het die armes nóg sigbaarder as tevore gemaak. Dit het tot nuwe persepsies oor armoede gelei. Armoede is nie aan liefdadigheidsorganisasies oorgelaat nie, maar as ’n breër maatskaplike kwessie beskou wat deur regeringsbeleid en wetgewing aandag moes kry.

      Opvoeding is as die sleutel tot ’n oplossing gesien, veral ook omdat Nederland se demokrasie aan die moderniseer was, wat aan die werkersklas ’n groter politieke stem gegee het. Terselfdertyd het die middelklas se toenemende mag beteken die samelewing is deur burgerlike waardes oorheers. Opvoeding is beskou as ’n belangrike middel om dié waardes aan die massas oor te dra.[47] Dié stand van sake toon treffende ooreenkomste met en wys reeds vooruit na Malan se (en die algemene Afrikaner-nasionalistiese) benadering tot die armblankevraagstuk in Suid-Afrika, wat in die eerste helfte van die 20ste eeu hoog op Suid-Afrika se maatskaplike en politieke agenda was.

      As deel van sy “projek” het Malan die grootste weeshuis in Nederland besoek, sowel as ’n sosialistiese kolonie, wat vir hom eienaardig maar interessant was. “Laasgenoemde is ’n poging om die samelewing te verbeter, deur alle private eiendom af te skaf. Almal in die kolonie werk vir die algemene kas, waaruit elkeen weer kry wat hy nodig het,” het hy in ’n brief aan Nettie verduidelik.[48]

      Dié eksperiment in sosialisme het Malan nie geïnspireer nie, maar hy was daarna goed ingelig daaroor. Jare later het hy ’n lesing oor sosialisme gepubliseer wat sy deeglike begrip van Karl Marx se teorie toon.[49] Die Nederlandse spoorwegstaking van 1903 het hom met afkeer vervul. Hy kon hom geensins met die werkersklas en hul moeilike omstandighede vereenselwig nie, soos blyk uit ’n brief aan Nettie:

      Die spoorwegbeamptes kry skielik sin daarin om hul werk te staak. Die broeines was Amsterdam. Vir ’n paar dae kon geen enkele trein Amsterdam bereik nie. Die regering laat troepe van ander plekke in Amsterdam saamtrek om vir alle gebeurlikhede gereed te wees, dog die spoorwegbeamptes weier rondweg om enige trein te bedien waarin daar ’n soldaat sit. Deur die afsny van alle toevoer was daar ’n geweldige styging in die pryse van alle items, dit was asof die stad beleërd was. So kon dit natuurlik nie langer nie – en die werkers kry hul sin. So asof hulle die mag in hul hande het! So word die werkers langsamerhand die regerende stand in alle Europese lande. Gedurende die laaste paar jaar het die sosialiste in Duitsland verdriedubbel. As die “Kaiser” nie oppas nie, kry hy dit nog op sy kop. Dit op sigself kan nie veel kwaad doen nie, maar ek wil nie graag hê dat dit moet gebeur vóór hy

Скачать книгу