DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme. Lindie Koorts

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme - Lindie Koorts страница 6

DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme - Lindie Koorts

Скачать книгу

Romantisisme het saamgehang met die opkoms van nasionalisme in Europa en omdat die Calvinisme predik dat alles aan God onderwerp moet word, het J.I. Marais patriotisme sonder geloof as waardeloos beskou.[90] By die Stellenbosse kweekskool is teologie dus saam met ’n stewige porsie nasionalisme opgedien.

      Dit was tipies van die tyd. Die laat 19de eeu was die era van nasionalisme, die opkoms van verenigde state soos Duitsland en Italië en van wêreldwye ryksgebiede. Die Kaap, as ’n onderdeel van die Britse Ryk, was nie afgesluit van die waardes en retoriek van die dag nie. Soos ’n mens kan aflei uit die jong Malan se negatiewe kommentaar oor Europese anargiste en sosialiste, was die koerante – wat hy daagliks verslind het – vol nuus en menings uit Europa. Malan was dikwels laat vir ete omdat hy hom só in die koerante verdiep het dat hy tred verloor het van die tyd. Wanneer hy dan uiteindelik aan tafel verskyn het, het hy ewe kalm gaan sit en dit wat hy pas gelees het met sy medestudente begin bespreek.[91]

      Malan het dit geniet om met sy vriende te debatteer. Hy was besonder lief vir filosofiese gesprekke en het graag lang ente gaan stap, veral in die rigting van die Jonkershoekvallei, terwyl hy deurgaans met sy metgeselle oor die filosofie gesels het.[92] Hy het net sy opinie uitgespreek nadat hy dit deeglik oorweeg het en daarvan oortuig was dat hy reg is. Tot sy vriende se groot misnoeë het hulle dit ook gans onmoontlik gevind om hom tot ander insigte te bring as hy eers ’n standpunt ingeneem het.[93]

      Die filosofie wat Malan bestudeer het, is deur die Duitse Idealisme oorheers. Sy MA-tesis, wat nie bewaar gebly het nie, het oor Immanuel Kant gehandel. Van Kant was dit vir hom maar ’n klein sprong tot by Georg Wilhelm Friedrich Hegel en Fichte.[94] Dié filosowe was almal deel van die Idealistiese tradisie, wat in die laaste jare van die 19de eeu die studie van filosofie in Amerika en Brittanje oorheers het. Die kerngedagte agter die Idealisme is dat die realiteit eerstens deur die verstand gevorm word.[95] Dit impliseer dat die realiteit deur geestelike waardes, eerder as deur materiële omstandighede, bepaal word.

      Dié gedagte bied ’n belangrike sleutel tot die verstaan van Malan se denke. Dwarsdeur sy loopbaan het hy daarop aangedring dat beginsels eerste kom en dat hulle nie vir politieke gewin opgeoffer mag word nie.

      Daar was nog ’n belangrike element in hierdie filosowe se denke. Fichte het hom met die Duitse nasionalisme vereenselwig en voortgebou op die standpunt dat taal die uiting van die nasionale siel en die grondslag vir nasionale eenheid is. Hy het dus ’n beroep op die Duitse nasie gedoen om hulle met hul nasionale gees te vereenselwig en om hulle in die nadraai van die Napoleonitiese oorloë van buitelandse verdrukking te bevry.[96]

      Fichte se woorde het ’n snaar aangeroer by ’n jong man aan die suidpunt van Afrika. Dit was naamlik nie net die era van nasionalisme in Europa nie, maar ook die tydperk waarin Afrikaner-nasionalisme begin ontwaak het.[97]

      Die laaste jare van die 19de eeu was ’n moeilike tyd vir koningin Victoria se Afrikaners. Hul vernaamste politieke party, die Afrikaner Bond, was gematig en nie altyd op goeie voet met Paul Kruger se regering in Transvaal nie. Laasgenoemde is onverhoeds betrap deur die ontdekking van goud op dié Boererepubliek se drumpel. Dit het vrese laat ontstaan dat die republiek se onafhanklikheid in die gedrang kon kom en het veroorsaak dat Transvaal nouer ekonomiese bande met die Kaap vermy het.

      Dit het die Afrikaner Bond juis nader aan Transvaal se groot teenstander, die aartsimperialis en mynmagnaat Cecil John Rhodes, gedryf. Rhodes en Onze Jan Hofmeyr, die Afrikaner Bond se leier, het ’n paar jaar lank ’n goeie samewerkingsverhouding gehandhaaf. Die Bond het sy steun toegesê aan Rhodes as eerste minister van die Kaapkolonie, terwyl hy op sy beurt aandag aan hul landboubelange geskenk het. Hy het ook hul verontwaardiging gedeel oor Kruger se hoë spoorwegtariewe, wat die uitvoer van Kaapse landbouprodukte na die Rand se ryk goudvelde gekortwiek het.[98]

      Die Jameson-inval van Desember 1895 het die verhouding tussen Rhodes en die Bond egter vernietig. Rhodes, wat gefrustreerd was deur Kruger se maatreëls om hom en die Uitlanders politieke mag in Transvaal te ontsê, het saamgesweer om ’n Uitlander-opstand in Johannesburg te organiseer en só beheer oor die Boererepubliek te verkry. Rhodes se vriend en bewonderaar dr. Leander Starr Jameson het Transvaal vanuit Betsjoeanaland met behulp van Rhodes se British South Africa Company-troepe ingeval. Die inval het egter in ’n fiasko ontaard nadat hul planne uitgelek het en hulle in ’n lokval gelei en tot oorgawe gedwing is.[99]

      Rhodes was die enigste lid van die Kaapse kabinet wat van die inval geweet het. Hofmeyr het ’n dag later daarvan uitgevind en was woedend dat hy vir die gek gehou is, veral omdat sy ondersteuners nou gemeen het hy het ’n oordeelsfout gemaak deur met Rhodes saam te werk. Hy het hom dadelik van Rhodes gedistansieer. Laasgenoemde was verplig om op 7 Januarie 1896 as eerste minister te bedank.[100] Die inval het die Kaapse Afrikaners verskeur tussen hul lojaliteit teenoor koningin Victoria en hul meelewing met hul stamgenote in Transvaal.

      Dit het Kruger se posisie natuurlik versterk en hy kon hierna ’n beeld van homself voorhou as die regmatige leier van ’n verontregte en bedreigde staat. In die Kaap het die koerant Ons Land begin skryf oor die Afrikaners se behoefte aan ’n geestelike wedergeboorte en die noodsaak om te voorkom dat hulle besmet word deur die gees van materialisme wat uit Europa gevloei het. P.J.G. de Vos, een van Malan se kweekskoolprofessors, het ’n reeks artikels getiteld “Nationale Vraagstukken” in Ons Land gepubliseer. In dié artikels het hy die Jameson-inval bestempel as bewys van die Engelsman se fundamentele minagting vir Afrikaners, en ’n beroep op Afrikaners gedoen om hul selfrespek te herwin, hul taal te koester en na hul Bybel terug te keer.[101]

      In Stellenbosch, waar hy die koerante daagliks verslind het, is die artikels deur die jong Malan opgeslurp. Malan se meelewing met die Afrikaners in Transvaal het toegeneem. As jong seun het hy sy oom aan moederskant op ’n reis na Transvaal vergesel – waar hy Kruger op ’n afstand gesien het. Dit het ’n blywende indruk op hom gelaat.[102]

      Hy het ook die Kanadees-gebore George McCall Theal se geskiedenisboeke gelees.[103] Theal se werk was gewild onder Stellenbosch se studente, want dit het ’n gloeiende resensie in die Stellenbosch Students’ Quarterly ontvang.[104] Dit was beslis ook baie gewild in die twee Boererepublieke, waar dit in Nederlands vertaal en as skoolhandboeke gebruik is.

      Theal was aanvanklik baie krities teenoor die Boere, maar danksy sy argivale navorsing, waaruit hy volume ná volume oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis gepubliseer het, het hy mettertyd ’n “konserwatiewe, pro-wit, en veral pro-Boer, anti-sendeling en anti-swart standpunt” ingeneem.[105] Hy het veral oor die Groot Trek geskryf en die Boere só verheerlik dat hy van anti-imperialisme beskuldig is. Hy het die “gekleurde rasse van Suid-Afrika” uitgebeeld as “wispelturige barbare, geneig tot diefstal en gewetenloos as dit by die vergieting van bloed kom”.[106]

      Theal het die sendelinge en Britse filantrope wat hulle by swart mense geskaar het, bestempel as vyande van wit mense, wat volgens hom besig was met die “edele” taak om die ongetemde binneland vir die beskawing en die Christelike geloof oop te maak.[107] Theal se polariserende beeld van die verlede het Malan se interpretasie van Suid-Afrika se geskiedenis vir die res van sy lewe bepaal.

      In 1896, in die nadraai van die Jameson-inval, het Malan ’n bydrae vir die Unie Debatsvereniging se joernaal geskryf: In “Our Situation” het hy die “bont spul” wat maand vir maand na Suid-Afrika gestroom het, betreur. Hulle het maar net één doel voor oë gehad: om hul eie skatte te kom opgrawe, en saam met hulle het die gees van materialisme sy opwagting gemaak. “We live in a time of transition, a period of danger,” het hy geskryf.[108] Daarom het hy die vraag gestel:

      How are we to be protected from contagion? In answer to this question of so mighty consequence to us, I find but one answer. Let us stand together, let us preserve our nationality and with our nationality our national character. In the preservation of nationality there are two factors which have an overwhelming influence. The first is the study of the history of the nation. No tie binds a nation so firmly to its own traditions as the study of

Скачать книгу