DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme. Lindie Koorts

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme - Lindie Koorts страница 14

DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme - Lindie Koorts

Скачать книгу

nie, dog federasie en ryke verskeidenheid. God se Koninkryk sal só tot vervulling kom, wanneer elke volk homself sal wees en daardeur sy Godgegewe plek en roeping sal vervul. Tog word almal tesame ook saamgebind deur die erkenning van God se Koningskap en lojaliteit aan Hom en Sy diens. Daar is geen ander onverbreekbare band tussen die volke soos dié nie.[100]

      Dekades later, toe Malan die apartheidsbeleid aan sy ondersteuners beskryf het, het hy dié ideaal herroep. Malan se vertolking van die kongres het die NG Kerk se benadering tot sendingwerk weerspieël. Dit het berus op die begrip van ’n “volkskerk”, ’n kerk wat sy lede se taal, kultuur en sosiale gebruike in ag neem. Die kerk het hierdie benadering uitgeleef deur in 1857 aparte eredienste in te stel, en in 1881 is die Sendingkerk vir bruin lidmate gestig. Sodoende het die kerk bygedra tot die samelewingsorde wat Suid-Afrika in die 20ste eeu gekenmerk het.[101]

      Die NG Kerk is beïnvloed deur Duitse sendingorganisasies se stelling dat die nasies van Afrika en Asië die geleentheid moes hê om hul Christenskap binne hul eie kulturele raamwerk uit te leef. Die oorsprong van dié oortuiging, dat aparte volkskerke gestig moes word wat dan hul lede se taal en tradisies respekteer, kan na die invloed van Duitse Romantisisme teruggelei word.[102] Agting vir elke nasie se kulturele uniekheid en die bewaring van die moedertaal was die kenmerk van die Duitse Romantiese filosoof Johann Herder. Malan het nooit spesifiek na Herder verwys nie, maar hy het ’n bewondering gehad vir die werk van Johann Gottlieb Fichte, wat Herder se gedagtes oor taal geëggo het.

      In dié verband is taal nie bloot ’n kommunikasiemiddel nie, maar ’n uiting van die nasionale siel. Dit is beskou as ’n sleutel tot menslike geluk omdat dit diegene wat dit kan verstaan, verenig en sowel die individu as die groep in staat stel om hulle te definieer.[103] Vir Malan het taal dus uiters belangrik geword. Die Britte se kulturele hegemonie en die oorheersing van die Engelse taal het hom gegrief, veral omdat hy vas geglo het dit was daarop gemik om die Afrikaner te versmoor. Die oplossing het vir hom in moedertaalonderrig gelê:

      As ons enigsins ’n kans sal hê om ons nasionaliteit te behou, moet ons onsself allereers besig hou met die onderwyskwessie. Die Engelse spits hulself daarop toe om ons juis op dié punt die genadeslag toe te dien. Hulle sal sorg dat Engels die medium van onderrig in alle staatskole is en Hollands sal slegs as ’n vreemde taal geduld word. Daar is geen sekerder middel om ons te verengels nie. As ons koloniale skole bly voortgaan soos in die verlede, dan sterf ons taal uit, so seker as wat twee maal twee vier is. Die allerbeste wat ons dan nog sal kan wees, is Engelse pro-Afrikaners – en dit wil ons tog nie hê nie. Ons wil Afrikaners hê. Indien Hollands nie die medium van onderrig in Afrikanerregeringskole kan wees nie, het dit hoogtyd geword dat ons skole wegbreek en op hul eie bene gaan staan. Dit sal wel vir ons moeilik wees, maar ons nasionaliteit is dit meer as werd. Sulke Afrikanerskole, los van die Staat, met Hollands as medium van onderrig, is wat die Transvalers wil gaan oprig.[104]

      Malan se oortuiging dat die sleutel tot sy volk se oorlewing in sy taal lê, was ’n weerklank van Fichte se uitgangspunt. Malan se fokus op taal en kultuur is ook tipies van die klassieke nasionalisme omdat die meeste nasionalismes hul ontstaan in kulturele kruistogte het. Dit gebeur nog lank voor die nasionalismes polities word, dit wil sê oor die middele begin beskik om ’n eie regering te vorm.[105]

      Vir Malan het die sleutel tot Afrikaneridentiteit egter nie in die Nederlandse taal gelê nie. Nederlands was voorlopig beter as Engels en Afrikaners kon dit gebruik om hul man te staan, maar die ware toekoms was in Afrikaans. Afrikaans het aan die volk behoort en sy liefde laat opvlam soos geen ander taal nie.[106] Malan het daarop aangedring dat Afrikaans tot ’n nasionale taal verhef moes word, ten spyte van diegene wat dit nie as ’n ware taal beskou het nie en neerhalend daarna verwys het as “Kitchen-Dutch”. In ’n brief aan ’n Nederlandse koerantredakteur het hy geskryf:

      Gee aan Afrikaans die status wat dit toekom, as moedertaal van die volk, die taal wat soos geen ander kan uitdruk wat in die hart van die volk omgaan, die taal waarin die volkskarakter weerspieël word. Leer die volk sy taal, om sy eie taal nie te verag nie, nie as ’n kombuistaal te beskou nie, nie skaam te wees om haar te skryf nie, haar te praat in die kombuis of in die parlement, in die stal of in die voorkamer, haar te waardeer en lief te hê as ’n allerbelangrikste deel van sy nasionale besit.[107]

      In dieselfde brief het Malan ook uitgestippel hoe die verhouding tussen Engelssprekendes en Afrikaners moet wees:

      ’n Mens kan daarop wys dat daar ’n breë basis is – liefde vir S.A. as vaderland, en die handhawing van haar belange bo dié van alle ander lande – waarop Engelse en Afrikaners saam sou kon werk … Ek bedoel dit: die regering moet erken dat S.A. ’n land is wat deur twee blanke nasionaliteite bewoon word, wat selfstandig naas mekaar staan en wat albei vry is sonder dat een oor die ander heers … Afrikaners en Engelse Suid-Afrikaners vorm dan gesamentlik, op die breë basis van “Suid-Afrika my vaderland” ’n Suid-Afrikaanse volk. Die volk bestaan dan egter uit twee seksies, of liewer, twee verskillende volke wat nie teenoor mekaar staan nie, maar selfstandig naas mekaar staan. U sou merk dat ek ’n onderskeid tref tussen Afrikaners en Suid-Afrikaners.[108]

      Hierdie laaste stelling, dat daar ’n verskil tussen Afrikaners en Suid-Afrikaners is, is van groot belang. Malan het die term in ’n eksklusiewe sin gebruik – slegs Afrikaanssprekendes kon Afrikaners genoem word. Die begrip “Suid-Afrikaner” was breër en dit is hier waar Afrikaners en Engelssprekendes kon byeenkom. Daarteenoor het genl. J.B.M. Hertzog, die man wat later die Nasionale Party (NP) gestig het, dikwels verwarring veroorsaak, want daar was nooit enige duidelikheid oor sy gebruik van die term “Afrikaner” nie. Soms het hy dit op só ’n manier gebruik dat dit Engelssprekendes wat lojaal teenoor Suid-Afrika pleks van Brittanje was, kon insluit.[109] Waar Hertzog die woord vaag en dubbelsinnig gebruik het, was Malan se beskrywing van ’n Afrikaner helder en onomwonde.

      Malan het Hertzog – die man onder wie hy later vir ’n groot deel van sy politieke loopbaan gedien het – in daardie stadium nog nie ontmoet nie, maar hulle was reeds verbind deur ’n gemeenskaplike vriend, M.T. Steyn, voormalige president van die Oranje-Vrystaat. Ná die oorlog het Steyn se verswakte gesondheid hom genoop om mediese behandeling in Europa te ontvang. Hy is deur sy gesin vergesel, saam met wie hy die somer van 1903 by Reichenhall in Duitsland deurgebring het. Teen daardie tyd was Malan al aan die worstel met sy tesis en hy het besluit om ’n stil plek te vind waar hy verder daaraan kon werk.[110] Hy het na Reichenhall teruggekeer – waar hy geweet het hy ook die Steyns kon ontmoet.

      Hulle het hom met ope arms ontvang en deel van hul groot, uitgebreide gesin gemaak.[111] Hy was in vervoering met sy eerste besoek en het aan Nettie geskryf: “Ek het President Steyn en sy familie besoek en is baie vriendelik ontvang … Hulle huis is net soos enige ander Afrikaanse huis. Met familielede en vriendekring tel die gesin seker sowat vyftien. Die Pres. het gesê dat ek maar by sy huis moet in- en uitloop op die eg-Afrikaanse manier, sodat ek geen gebrek aan geselskap sal hê nie … Hy is opgewek en vol grappe.”[112]

      ’n Paar dae later skryf hy opgewonde aan sy pa: “Pres. Steyn sien daar heel goed uit. Hy en sy familie is baie vriendelik. Ek kom nogal dikwels by hulle aan huis. Vandag het ek daar geëet. Môre gaan ek (D.V.) saam met sommige van sy huisgenote op ’n uitstappie in die omgewing. Mrs. Steyn is ’n baie vriendelike en ongekunstelde Afrikaanse vrou en die President self is presies soos een van ons tipiese Afrikaanse boere. Daar is so min styfheid by hom as by die eenvoudigste Afrikaner. Dit is heerlik om weer eens ’n Afrikaner-huisgesin te sien. Dit is, glo ek, die eerste sedert ek uit Afrika weg is.”[113]

      Vergeleke met die Nederlanders se strenge sosiale etiket was die informele atmosfeer by die Steyns vir Malan verfrissend en soos ’n bries uit die suide. Gegewe sy geaardheid het Malan sekerlik met die ouer staatsman oor politiek gesels. Steyn was ’n bittereinder, ’n leier wat sy generaals aangespoor het om so lank as moontlik op die slagveld te bly en nie die Boererepublieke se onafhanklikheid prys te gee nie.[114] Die vriendskapsband wat in die somer van 1903 gesmee is, het die res van hul lewens voortgeduur en die Steyns was dwarsdeur sy politieke

Скачать книгу