DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme. Lindie Koorts

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme - Lindie Koorts страница 15

DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme - Lindie Koorts

Скачать книгу

het Malan na Utrecht teruggekeer en sy kamer ontruim. Hy wou ’n paar maande lank in Edinburg gaan werk en kon nie van Valeton verwag om sy kamer vir hom uit te hou nie. Malan het einde September in Edinburg aangekom,[115] waar hy hom in sy werk verdiep het. Die tydperk was nie sonder frustrasies nie. Teen Januarie 1904 het hy by Nettie gekla hy het nog nie ’n enkele woord op papier nie.[116] Teen Maart was hy terug in Utrecht, in ’n nuwe kamer, en teen dié tyd was sy skrywery wel goed op dreef.[117] Die meeste van die werk het hom erg verveel – dit was vir hom “so droog soos ’n kurkprop”,[118] maar daar was darem ook oomblikke wanneer alles vir hom verhelder het en vir hom interessant was.[119]

      Malan se studie het oor die Ierse biskop George Berkeley gehandel. Berkeley se Idealisme – wat ook as Immaterialisme bekend staan – was baie abstrak en moeilik om te verstaan. Sy mees omstrede, en berugte, stelling was dat materie nie bestaan nie. Dit het die kleurryke Britse skrywer Samuel Johnson na ’n klip laat skop onderwyl hy gebulder het: “I refute it thus.”[120] Volgens Berkeley kon ’n mens ’n voorwerp slegs deur jou sintuie waarneem en aangesien jou sintuie deel van jou verstand vorm, is dit onmoontlik om iets waar te neem, of die bestaan daarvan te bepaal, sonder die gebruik van ’n verstand. Alle dinge bestaan dus kragtens die verstand en niks kan buite die verstand bestaan nie. Esse est percipi: Om te wees, is om waargeneem te word, was Berkeley se grondstelling. Dit beteken nie die voorwerp hou op bestaan wanneer ’n mens se verstand dit nie meer waarneem nie – dit is voldoende dat ’n verstand dit waarneem. God se alomteenwoordige waarneming waarborg dus die bestaan van alle voorwerpe.

      God was die middelpunt van Berkeley se filosofie. Dit was ’n tyd waarin vooruitgang in die wetenskap die ateïsme meer aanloklik gemaak het en Berkeley het die wêreld se afhanklikheid van God probeer beklemtoon.[121] Hy het aangevoer alle persepsies en idees het hul oorsprong in God se verstand. Malan het baie van Berkeley se idees aanvaar. Jare later sou hy na God verwys as “’n Oppermagtige Brein”, ’n Groot Ingenieur wat die Afrikanervolk se weg ontwerp het.[122]

      Intussen was Malan oorweldig deur al die leeswerk wat hy moes doen. By Nettie het hy gekla al die “ismes” is genoeg om enigeen dronk te maak – idealisme, realisme, immaterialisme, nominalisme – daar is geen einde aan nie.[123] Hy moes teësinnig maar daarmee vrede maak dat sy verblyf in Nederland langer sou wees as wat hy eers gedink het.[124]

      In teenstelling met sy verhouding met Valeton het Malan nie ’n noue band met sy promotor, prof. Hugo Visscher, gehad nie. Visscher was ’n politieke aanstelling wat in 1904 deur Kuyper op die universiteit se teologiefakulteit afgedwing is.[125] Hy is moontlik kort ná Malan se terugkoms uit Edinburg as sy promotor aangestel, en dus nadat Malan sy onderwerp reeds geformuleer en die meeste van sy navorsing afgehandel het.

      Malan het die skryfproses vermoeiend gevind, en die onderwerp so moeilik en omvangryk dat hy geworstel het om al die los drade bymekaar te hou.[126] In die lenteweer het hy sy vensters so wyd as moontlik oopgehou,[127] maar die vars lug het nie vir meer helder gedagtes gesorg nie. Hy was nooit tevrede met die hoeveelheid werk wat hy verrig het nie en met tye het hy so gesukkel om te konsentreer dat hy skaars iets kon uitrig, wat sake vererger het.[128] Toe die somer aanbreek, het Malan besluit om nêrens heen te gaan nie, maar om deur te druk en sy tesis klaar te maak.[129] Al wat hy wou doen, was om huis toe te gaan.

      Die spanning het sy tol begin eis. Sy handskrif het bykans onleesbaar geword. In ’n brief aan Nettie kon hy skaars ’n behoorlike paragraaf skryf en het hy net ’n lys punte neergepen. Een van die punte het eenvoudig gelees: “Ten vyfde: Dit is warm hier.”[130]

      Sy ouers was bekommerd oor hom, maar hy het probeer om hul kommer te besweer in ’n brief waarin sy letters beduidend swak gevorm is – in teenstelling met sy gebruiklike duidelike handskrif wat ’n plesier was om te lees. Dit moes sy ouers ’n aanduiding van sy gemoedstoestand gegee het:

      U moet nou nie dink dat ek op sterwe na dood is nie. Ek glo dat as ek aan u geskryf het dat ek dodelik siek is, u dadelik sou dink: Nee, nonsens, so erg kan dit nie wees nie; dit is net praatjies. Noudat ek egter skryf dat ek ’n bietjie rus nodig het en ’n behoefte om die lang, moeilike en eentonige werk vir ’n week of wat te vergeet, nou dink u skielik: Die man is byna dood. Nou, daar is gelukkig geen rede om ongerus te wees nie. Ek is, om versigtig te wees, na die dokter en hy het gesê dat daar niks radikaal verkeerd is nie. Die enigste ding is dat my senuweestelsel ’n bietjie uit haak uit is, wat met ’n bietjie sorg en versigtigheid en verandering vanself reg sal kom. Hy het my aangeraai om vir ’n tydjie buite die stad te gaan werk, op ’n plek waar ek tegelykertyd ’n kouewaterkuur kan ondergaan.[131]

      Malan het die dokter se raad gevolg en hom vir ses weke by ’n sanatorium naby Arnhem ingeboek. Hy het geluister na sy oppassers se instruksies om ’n sekere hoeveelheid slaap in te kry en het lang ente in die mooi omgewing gaan stap. Hy is aangesê wat om te eet en is slegs toegelaat om vier uur per dag te werk. Malan het besef sy obsessie om sy proefskrif so gou as moontlik af te handel het hom tot by dié punt gedryf.[132]

      Sy verblyf by die hersteloord het gehelp en teen vroeg Oktober is sy tesis voltooi en na die drukkers gestuur. In ’n brief aan sy ouers, in ’n veel kalmer trant en met sy letters terug na hul ou, leesbare vorm, kon Malan sy nuutgevonde wysheid deel dat “dit veel makliker gaan om te profeteer dat ’n mens ’n dissertasie in soveel tyd sal skryf as om dit werklik te doen”.[133]

      In Utrecht kon Malan uiteindelik voorberei vir die geleentheid waarna hy al meer as vier jaar uitgesien het: sy terugkeer na Suid-Afrika. Sy promosieplegtigheid was op 20 Januarie 1905 en ’n reuse-sukses. Malan het sy professore se vrae kalm en duidelik beantwoord en sy graad cum laude geslaag.[134] Hy en sy vriende is agterna by Valeton aan huis ontvang, wat as ’n buitengewone gebaar beskou is: Dit was ’n aanduiding van die band tussen mentor en protégé.[135]

      Malan het sy terugreis op ’n Duitse skip, die Kroonprinz, bespreek. Pres. Steyn en sy gesin was op dieselfde skip op pad terug huis toe.[136]

      Sy tyd in Nederland het van Malan ’n wel ter tale jong Afrikaner-nasionalis gemaak, die produk van ’n Vastelandse opvoeding. Hy het ’n onafhanklike denker geword wat die opkoms van nasionalisme in Europa voor die vernietiging van die Eerste Wêreldoorlog beleef het. Op dié wyse is sy Afrikaner-nasionalisme deur 19de-eeuse Europese nasionalisme beïnvloed. Terug in Suid-Afrika het dit die voorbeeld geword wat hy nagestreef het.

      * Rassistiese terme is in talle van die oorspronklike dokumentasie gebruik. Hier en elders behou vir historiese akkuraatheid.

      3 (1905-1912)

      Die predikant van Montagu

      Die man wat na Suid-Afrika se somerhitte teruggekeer het, was nou ’n geleerde doktor – in ’n land waar dié titel ontsag wek en predikante aan die spits van hul gemeenskappe leef. Tog was hy steeds onseker van homself. Hy was 30 jaar oud, maar hy was pynlik bewus van sy gebrek aan ervaring en hy was oortuig ander kon dit ook sien, veral sy pa wat half spottend gesug het: “Ja, Danie, jy het nou só lank gestudeer dat jy amper oud genoeg is om af te tree.”[1] Die woorde was goedig bedoel, maar het seergemaak.[2]

      Sy gesinsopset het in sy afwesigheid verander. Sy pa het afgetree en die plaas oorgegee aan Fanie, wat intussen getroud is. Al het hy geweet hy sou nooit ’n boer kon wees nie, het dit nogtans vir Malan gevoel asof die band tussen hom en sy heimat verbreek is. Die gedagte dat hy voortaan slegs ’n besoeker sal wees in die huis waar hy gebore is, het hom weemoedig gemaak.[3]

      Hy moes nou sy eie, onafhanklike treë begin gee. Die vooruitsig om self ’n gemeente te lei, was vir hom steeds te veel – hy wou eerder ’n hulpprediker wees in ’n gemeente waar hy by die senior predikant kon leer.[4] In Mei 1905, nadat hy sy admissie-eksamens geslaag

Скачать книгу