Trompie Omnibus 1. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 1 - Topsy Smith страница 5

Trompie Omnibus 1 - Topsy Smith Trompie

Скачать книгу

      3

       Trompie en die woer-woer

      Vroeg die Saterdag is Trompie al uit die vere. Hy stap na sy ouers se slaapkamer toe. By die deur roep hy: “Pa?”

      “Ja, Trompie?” kom sy pa se stem vakerig.

      “Ek sal Pa se skoene skoonmaak as Pa wil.”

      “Nee toemaar, Trompie, ek sal dit netnou doen.”

      In die slaapkamer is sy ouers verbaas.

      “Wat het oor sy lewer geloop?” vra meneer Toerien vir sy vrou. Sy begin lag.

      “Jy het gisteraand gesê hy moet vandag vir Jafta in die tuin help. Nou probeer Trompie in jou goeie boekies kom, want hy gaan jou netnou vra om hom maar liewer af te gee.”

      Meneer Toerien lag heerlik.

      “Maar ek gaan hom nie daarmee laat wegkom nie. Vandag help hy vir Jafta. Dis klaar.”

      Mevrou Toerien kyk na haar man en sê sag: “Ag wat, dis Saterdag. Laat hy saam met sy maats in die kloof gaan swem.”

      “Sodat hulle nóg kattekwaad kan aanvang! Het jy van Dominee se bobbejaan vergeet?”

      Die twee kyk na mekaar. Albei dink aan die toneel in die kerksaal: die bobbejaan wat op die vrouens afstorm met die blaffende honde en gillende seuns kort op sy hakke. Hulle glimlag en dan bars hulle weer uit van die lag.

      Trompie drentel in die tuin rond. Hy hoor sy ouers se gelag. Wat is so snaaks? As hulle net ’n greintjie omgee vir hulle seun, hulle eie vlees en bloed, sal hulle nie lag nie, maar vir hom jammer voel. Hulle behoort te weet hoe bitter seer dit hom maak dat hy so onregverdig behandel word. “Dis onmenslik!” Hy sê die laaste sin hardop, mik na een van sy ma se rooi pronkdahlias en trek los! Sy ingeduikte skoenpunt tref die dahlia netjies en die blom trek deur die lug.

      Die seun glimlag. ’n Kolskoot, soos altyd. Hy sweer Rooie kan nie só skop nie. Nee, daar is niemand in die dorp wat soos hy kan skop nie. Aan die onderpunt van die tuin sien hy ou Jafta aangesukkel kom. Hy tel die blom vinnig op en gooi dit oor die heining. Hy wil nie vandag weer in die moeilikheid beland nie. Hy’t niks verkeerd gedoen nie – net mooi gemik, losgetrek en daar vlieg die blom toe. Maar grootmense sal dit nie verstaan nie. Dis beter dat hy die ding weggegooi het.

      Trompie sit moedeloos op die visdam se muurtjie. Hy moet dink. ’n Plan maak. Hy wil nie vandag in die tuin werk nie. Blikkies, Dawie en Rooie gaan swem. Hulle kom hom net ná ontbyt haal. Wat gaan hy vir hulle sê? Of miskien is hulle ook in die moeilikheid oor die bobbejaanstorie. Miskien moet hulle ook by die huis bly. Dit sal ten minste regverdig wees, dink Trompie. As hy nie kan gaan swem nie, kan hulle ook nie. Dis baie beter. En buitendien, as hy nie gaan nie en hulle gaan, sal Rooie hom mos verbeel hy is die Boksombende se Grootkaptein.

      Terwyl hierdie gedagte deur Trompie se kop flits, kyk hy aandagtig na ’n groot geel vis wat lui teen die kant van die visdam beweeg. Dis die vette wat hy nou die dag amper gevang het, toe Jafta vir sy pa gaan vertel het! Sowaar, dis daai einste een! Trompie loer vlugtig rond. Daar’s niemand in die tuin nie. “Vissie, vandag hét ek jou,” fluister hy. Hy leun op sy tone oor die walletjie, sy oë stokstyf in sy kop soos hy die niksvermoedende vis dophou. Hy bring sy hand al nader aan die water se oppervlak. Hy gryp! Dis mis. Hy gryp weer, sommer met altwee hande, en karplaks! val hy oor die walletjie en in die water.

      “Jissou,” sê hy verbaas toe hy papnat oor die muurtjie terugklim, “so ’n ding is darem vinnig.”

      Soos ’n nat hond staan hy homself en afskud. “Nou’s ek weer in die gemors. Ma gaan die horries kry,” dink hy terwyl hy sy hemp se punte opfrommel om dit te probeer droogkry.

      “Wat vang jy aan, Trompie?” hoor hy ’n meisiestem oor die heining. Hy kyk op. Dis Katrien wat net langs hulle bly.

      “Wat dink jy?” mompel Trompie. “Ek swem vir my gesondheid.”

      “Hoekom? Is jy dan siek?” vra sy. Die sproetgesig Trompie met sy ongekamde boskasie is een van haar groot helde. Sy wil graag by die Boksombende aansluit, maar dis glo teen hul reëls om meisies toe te laat. Die klomp hou net van haar as hulle haar nodig het om iets te doen waarmee sy beter as hulle is.

      Trompie trek sy skoene en kouse uit en sit hulle in die sonnetjie neer. Hy staan nader.

      “Jy vra of ek siek is,” sê hy en probeer lyk soos iemand wat nou net uit die doderyk terugkeer. “Kan jy nie sien ek is nie?”

      Katrien kyk aandagtig na die seun. Hy vat-vat en frommel nog steeds aan sy klere om dit droog te kry.

      “Jy lyk nie baie siek nie,” sê sy uiteindelik.

      “Ga,” snork Trompie minagtend, “ek lyk miskien nie baie siek nie! Maar hoe weet jy hoe voel ek – diep binne-in my?”

      Katrien se oë word groot.

      “Hoe – hoe voel jy?”

      Trompie staan effens nader, skud sy kop stadig en sê weemoedig: “Soos iemand wat nie meer lank gaan lewe nie. Maar moenie dink ek kla nie, hoor!” Hy kom regop, stoot sy bors uit en probeer om sy stem te laat tril: “Ek dra my smarte soos ’n man!”

      Katrien sit haar hand op syne. Hy skud dit af.

      “Ek soek nie simpatie nie,” snou hy haar toe en voeg dan bedees by: “Dankie, Katrien, maar ek dra my las soos Napoleon!”

      “Soos Napoleon?”

      “Ja, hy het dieselfde dodelike siekte gehad.”

      “Wat se siekte is dit?”

      Trompie dink vinnig. Hy weet nie of Napoleon ooit aan enige siekte gely het nie. Daar staan nie so iets in daardie geskiedenisboek nie.

      “Jy bedoel jy weet nie?” sê hy met ’n verbaasde uitdrukking.

      “Nee.”

      “Rêrig nie?”

      “Rêrig nie!”

      Trompie aarsel effens. Dan gryp hy sy sy vas en begin kreun.

      “Wat makeer, Trompie?” wil Katrien bekommerd weet.

      “Dis dieselfde siekte waaraan Napoleon gely het. Dis … dis … bromkatjies … Dis wat dit is!”

      Nou is daar trane in Katrien se oë.

      “Hoe lank … hoe lank sal jy nog lewe, Trompie?”

      Hy skud sy skouers mismoedig. “Wie weet? Miskien ’n uur of twee … Miskien, as ek gelukkig is, ’n dag …”

      Impulsief sit Katrien haar handjie weer op syne.

      “Trompie, onthou jy daai hout speelding wat my ma vir my gekoop het? Die een wat so gôr-gôr maak as jy hom swaai …”

      “Ja, ja, my liefste maatjie …” Die seun is die ene ore

Скачать книгу