Trompie Omnibus 1. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 1 - Topsy Smith страница 6

Trompie Omnibus 1 - Topsy Smith Trompie

Скачать книгу

toe, Katrientjie, maak gou. Gaan haal dit! Mens weet nooit hoe lank ek nog oor het om te lewe nie …”

      Met ’n “Wag hier!” is Katrien weg. Trompie glimlag van oor tot oor. Hy is lankal agter daardie woer-woer aan, maar Katrien wou dit nie vir hom gee nie. Hy sien al hoe hy stilletjies tot agter sy suster, Anna, kruip en die woer-woer dan swaai sodat sy wip van die skrik, hoe hy ou Jafta die skrik op die lyf ja, hoe hy in die klaskamer …

      Katrien is terug. Trompie gryp die woer-woer en swaai dit vinnig in die rondte. “Gôr-gôr!” skree die speelding soos iemand wat baie seer het.

      “Dankie, Katrien, dankie,” mompel Trompie. “Ek sal sorg dat jy dit weer kry wanneer ek op my sterfbed lê.” Hy wil laat spaander voor sy van plan verander en die ding terugvra, maar ’n siek man kan mos nie hardloop nie. Stadig en kreunend stap hy weg. Hoe verder hy van Katrien af kom, hoe vinniger loop hy. By hul agterdeur raap hy sy skoene en kouse op en glip by die huis in. Gelukkig is daar niemand in die kombuis nie. Trompie gaan reguit kamer toe.

      Die dag het nogal nie te sleg begin nie. Hy het ’n dahlia met die eerste probeerslag raakgeskop, hy het in die visdam geval en hy het ’n woer-woer wat hy lankal begeer in die hande gekry. En dit alles voor ontbyt. Glad nie ’n slegte begin nie.

      Maar ongelukkig gaan die dag nie so aanhou nie! Trompie het sy hemp en broek wat nog klammerig was, uitgetrek en sit nou stil en bedees aan die ontbyttafel. Hy hou sy pa fyn dop. Elke keer wat hy iets vra, gee Trompie dit dadelik vir hom aan. Ná hy suiker oor die pap gestrooi en die suikerpot teruggesit het, sê Trompie met ’n vriendelike stemmetjie: “Nie nog suiker nie, Pappa?”

      “Nee dankie, Trompie.”

      Meneer Toerien kyk na sy vrou en knipoog. Hulle weet hoekom Trompie hom so goed gedra. Hy gaan probeer om die dag se tuinwerk vry te spring.

      Die seun kyk voor hom uit en sug dan diep.

      “Wat makeer, Trompie?” vra sy suster, Anna.

      Hy wens dis liewer sy pa wat hierdie vraag gevra het. Hy is mos nog vies vir Anna oor die nonsens met daai kêrel wat hy kamtig veroorsaak het. Maar hy moet vriendelik antwoord, anders raak sy pa dalk kwaad. En dis die laaste ding wat hy nou wil hê! Sy pa lyk dan vandag in so ’n goeie bui.

      “Nee, Ousus,” sê hy sedig, “ek dink maar net aan al die dingetjies wat ek vandag nog moet doen.” Trompie sug weer en kyk na sy bord asof hy diep ingedagte is. Maar hy loer onderlangs om te sien watter uitwerking hierdie woorde op sy pa het.

      “Wat se dingetjies het jy so danig om te doen, Trompie?” vra meneer Toerien.

      “Sommer ’n paar werkies wat my die heeldag sal besig hou, Pa. Baie huiswerk ook … wiskunde en ’n opstel en geskiedenis en al sulke goeters. As ’n mens hard leer en jou plig wil doen, het jy altyd baie werk, Pa weet.”

      Dis die eerste keer vandat Trompie op skool is dat enigiemand hom hoor praat van huiswerk doen!

      “Wat is dit met jou?” vra Anna laggerig.

      “Niks nie,” sê Trompie. “Kan ’n mens nie ’n nuwe blaadjie omslaan nie? Ek is skielik lus vir werk. Ek wil ’n sukses van my lewe maak. En dis nie ’n grap nie.” Hy draai na sy pa toe. “Dink Pa nie dis ’n uitstekende idee nie?”

      “Ja, Trompie,” glimlag meneer Toerien. “Ek is beïndruk met jou goeie voornemens, maar vandag werk jy in die tuin.”

      “Wel, dis eintlik waaroor ek met Pa wil praat, maar alleen asseblief. Anna se gegiggel irriteer my. Sy dink verniet sy’s snaaks.”

      Anna lag nou hardop en Trompie se ma en pa sukkel self om hulle in te hou.

      “Nou goed, Trompie,” sê sy pa, “stap saam met my tot by die bank, dan kan ons gesels.”

      Die seun slaak ’n sug van verligting. Hy weet sy pa sal hom afgee. Hy gaan nie in die tuin hoef te werk nie. Hy sal ’n rukkie in sy kamer met sy boeke sit en dan – weg is hy – kloof toe om te gaan swem!

      Trompie val nou weg en eet lustig terwyl hy dink aan die sorgvrye, sonnige dag wat hy saam met Rooies, Blikkies en Dawie in die kloof gaan deurbring … en dan het hy nog daardie woer-woer ook! Die ander klomp gaan hom dit beny. Hy wonder of die ding in die water ook gôr-gôr sal maak. Hy moet tog probeer. En vandag gaan hy sommer ook vir Rooie wys wie die meeste kere bollemakiesie van die hoogste duikplek af kan slaan.

      Die seun se dagdrome word onderbreek deur ’n harde geklop aan die voordeur.

      “Gaan kyk gou wie dit is, seun,” vra sy ma.

      “Goed, Ma.” Trompie spring op. Hy wil ’n goeie indruk maak, want as hy vanmiddag wanneer hy van die kloof af kom, bygedam word omdat hy nie in sy kamer geleer het soos hy belowe het nie, wil hy vir haar kan sê: “Maar kyk hoe goed het ek my vanoggend gedra. Ek is eintlik ’n baie soet seun!” Hy twyfel nou wel of dit regtig sal help, maar hy kan ten minste probeer.

      Trompie maak die deur oop. Hy staan daar, sprakeloos. Hy besef skielik dis neusie verby met al sy planne. G’n swemmery vir hom vandag nie! “O jissie,” mompel hy toe hul buurvrou, mevrou Gerritse, hom uit die pad stamp en met die huilende Katrien aan haar hand in die gang af eetkamer toe stap.

      Die seun sluip na sy kamer toe weg. Hy wil liewer nie by wees wanneer Katrien se ma van die woer-woer begin vertel nie. Hy gaan sit op sy bed. Hy hoor hoe mevrou Gerritse met ’n skril stem praat. Hy hoor hoe Katrien al harder huil.

      “Dis nou vir jou ’n ding,” sê Trompie by homself. “Ek moet dink, vinnig dink!” Hy besluit om tot by drie te tel en dan te dink. Hy tel. Hy begin dink. Wat sal hy sê wanneer sy pa hom roep? Sy brein voel pap. Hy moet dink! Hy sal weer tot by drie tel en dan baie ernstig begin dink – sommer sulke groot goeters uitdink wat sy pa en ma sal laat verstaan dat hy niks verkeerds gedoen het nie. Hy begin weer tel …

      “Trompie!” kom meneer Toerien se stem.

      “Ja, Pa, ek kom.”

      Die bed kraak soos hy opstaan.

      In die sitkamer sit mevrou Gerritse met ’n koppie koffie in haar hand. Sy lyk darem nie meer so kwaai soos by die voordeur nie. Katrien huil ook nie meer so hard nie. Sy maak nou net snikgeluide. Trompie se pa gluur vir hom. Sy ma kyk haar seun simpatiek aan. Anna sit en glimlag. Hy staan maar ’n entjie weg van mevrou Gerritse af. Netnou gee sy hom ’n oorveeg. ’n Ma is mos ’n snaakse ding.

      “Trompie?”

      “Ja, Pa?”

      “Het jy vanoggend in die visdam geval?”

      “Ja, Pa.”

      “Wat het jy daar gesoek? Het ek jou nie nou die dag uitgetrap omdat jy die visse gevang het nie?”

      “Maar Pa, ek wou nie visvang nie …”

      “Wat wou jy dan doen?”

      “Ek wou die een vette net bietjie streel. Dis maar al, Pa.”

      Trompie sluk en kyk stip na sy ingeduikte skoenpunt asof dit iets te doen het met die verknorsing waarin hy nou weer is.

      “Waar

Скачать книгу