Trompie Omnibus 1. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 1 - Topsy Smith страница 8

Trompie Omnibus 1 - Topsy Smith Trompie

Скачать книгу

hardop. Hy het ’n plan. Snaaks dat hy nog nooit voorheen daaraan gedink het nie! Hy gaan bordkryt eet! Dit laat ’n mens mos bleek en siek lyk. Baie kinders het dit al by die skool gedoen.

      “Baai, Dawie,” skree Trompie en hy hardloop weg om sy plan uit te voer. Hy spring deur sy kamervenster en vroetel in sy skooltas totdat hy ’n stukkie kryt in die hande kry. Hy moet dit nou net onder sy tong sit, dan is hy binne ’n paar minute asvaal. Maar dan dink Trompie aan die koek. Sy ma het mos belowe sy gaan vir hom ’n stuk uit tuin toe bring. Nee, hy sal moet wag met die siekword. Eers die koek eet en dan die kryt onder sy tong sit. Ja-nee, dis baie beter só om. Dan kan hy sommer ook sê dis die koek wat hom siek gemaak het. Trompie bêre die kryt netjies in sy sak.

      In die tuin sit hy lusteloos en onkruid uittrek terwyl hy die kombuisdeur dophou. Wanneer kom sy ma nou met die koek? Die oomblik wat die agterdeur oopgaan, begin hy naarstiglik onkruid uitpluk. Hy werk nou blitsvinnig! Sy ma moet kan vertel hoe hard het hy geswoeg voor hy siek geword het. Hy werk só hard dat hy nie eens opkyk nie. Hy voel hierdie ywerigheid van hom maak ’n groot indruk op sy ma.

      “Dè, Trompie. Hier’s tee en koek vir jou.”

      Die seun kom kreunend regop en vee kamtig die sweet van sy voorkop af terwyl hy mompel: “Sjoe, dis harde werk.”

      Tot sy verbasing sien hy dis nie sy ma wat die tee en koek gebring het nie, maar sy suster, Anna. Sy staan en glimlag. Trompie is dadelik agterdogtig. As sy so vriendelik met hom is, is daar iets fout. Hy is al gewoond daaraan dat sy hom gedurig afjak. Hy is kastig altyd in die pad wanneer haar kêrels kom kuier. Trompie kan nie verstaan wat hulle in haar sien nie. Sy gee hom ’n pyn.

      “Waar’s Ma?” vra hy bot.

      “In die huis. Kom sit hier langs my, Trompie.”

      Die twee gaan sit op die bankie. Trompie smul aan die heerlike homp roomkoek.

      Anna kyk na die seun met die ongekamde bos hare wat onder sy pet uitpeul. Sy sug. Dis moeilik om ’n ou oor te nooi as daar ’n barbaar soos haar boetie by die huis rondhang. Hy maak altyd moleste of sit in hul geselskap en grinnik en gryns. Maak aanmerkings om haar in die verleentheid te stel of skop só ’n lawaai in sy kamer op dat sy en die ou skaars kan gesels, wat nog van mooi woordjies vir mekaar fluister? Trompie maak dinge vir haar so onplesierig moontlik.

      Verlede week – nog net verlede week – het hy daardie mediese student van Johannesburg wat by haar kom kuier het só laat skrik dat hy amper dadelik weer geloop het en haar nou nog nie weer gebel het nie. Trompie moes op een of ander manier buite op die stoep ’n lewendige slak in die ou se baadjiesak gesit het. Later in die sitkamer het die arme student hom boeglam geskrik toe hy sy foto’s wou uithaal en aan die slymerige gedierte vat. Maar teen daardie tyd was Trompie kwansuis doodonskuldig in sy kamer.

      Dis hoekom Anna besluit het – vanmiddag wanneer Dirk de Jongh, die nuwe prokureur, kom kuier, mag Trompie nie hier wees nie. Sy moet hom uit die pad kry.

      Trompie eet lekker. Af en toe loer hy na sy suster wat so diep ingedagte sit. Hy weet daar is iets aan die gang. Hy wonder wat sy wil hê.

      “Trompie?” Anna glimlag vriendelik.

      “Ja?” kom sy stem agterdogtig terwyl hy die laaste bietjies room van sy vinger aflek.

      “Sal jy daarvan hou om ekstra geld te verdien?”

      Trompie se oë blink dadelik. Hy wil net opgewonde sê: “Baie!” toe hy homself bedink. Hy moenie té gretig klink nie.

      “Miskien – miskien nie,” sê hy en probeer ongeërg lyk. Maar sy hart klop vinniger. “Wat moet ek doen?”

      “Gee vanmiddag pad hier, sorg dat jy nie by die huis is nie. Dis al.”

      “Vir wat?”

      “Omdat ek ’n besoeker kry.”

      Trompie dink ernstig hieroor na. Hy vee die bord met sy nat vinger skoon en sit dit dan langs hom neer.

      “Hoekom?”

      “Hoekom wat?” vra Anna.

      “Hoekom moet ek nie hier wees nie?”

      Anna vererg haar vir Trompie se vraery, maar besef sy moet diplomaties te werk gaan.

      “Ek wil graag alleen saam met die persoon kuier,” sê sy sag.

      “Is dit ’n kêrel?” vra Trompie aspris. Anna word rooi.

      “Nee, net ’n goeie vriend.”

      Dis net wat Trompie wou gehad het.

      “So,” sê hy triomfantlik, “dan is dit ’n kêrel, nè!”

      “Moenie laf wees nie!”

      “Jy’s die lawwe een, nie ek nie.” Trompie skuif nader en sit sy vuil hand vertroulik op sy suster s’n. Hy glimlag. Sy ken is vol grond van die paar bossies wat hy uitgetrek het en sy bolip is wit van die roomkoek. Anna kyk liewer weg.

      “Ek sal jou graag wil help, Ousus. Ek is mos jou kleinboet, nie waar nie?”

      Nou is dit Anna wat agterdogtig word. As Trompie só glimlag en spraaksaam raak, voer hy iets in die mou.

      “Wat bedoel jy, jy wil my help?”

      “Ek sal vanmiddag van die huis af wegbly. Jy kan lekker met jou kêrel sit en handjies vashou. Ek sal nie hier wees nie – as jy my dubbeld jou gewone omkoopgeld betaal!”

      Anna is vies, maar sy besef Trompie het die hef in die hand. As sy nie opdok nie, gaan hy sake vanmiddag vir haar ondraaglik maak.

      “Nou goed dan.”

      “Orraait, gee die geld.” Trompie druk sy vuil hand onder haar neus in.

      “O nee, jy kry dit eers vanaand, ás alles goed afgeloop het.” Trompie hou nie hiervan nie, maar besef hy sal maar tevrede moet wees. As hy nou te veel praat, kan Anna miskien van plan verander.

      “Goed,” sê hy, “maar as jy nie betaal nie …” Trompie trek sy mond op ’n tuit en wikkel sy neus op en af. Dit moet vir Anna wys wat gaan gebeur as sy nie opdok nie. In sy verbeelding sien hy al hoe hy haar vang en aan die naaste boom vasmaak. Sy manskappe sal almal by wees. Hulle gaan swart maskers dra. Hy wat Trompie is, sal as leier eers ’n toespraak afsteek. Hy sal verduidelik dat die meisie gevange gehou word omdat sy probeer het om die Boksombende se leier te dwarsboom. Ja-nee, dit moet vir die hele wêreld ’n les wees.

      Anna het Trompie alleen gelaat met sy wraakgedagtes. Sy is in huis toe. Haar boetie sal haar nie vanmiddag lastig val nie. Sy weet hy sal woord hou; hy wil daardie geld te graag hê.

      Trompie sit ingedagte en kyk na die lap bossies wat hy moes uitgetrek het. Dit is seker al tyd dat sy pa van die kantoor af moet kom en hy het nog nie veel uitgerig nie.

      Hy moet die kryt nou onder sy tong sit. Dan sal sy ma hom kamer toe stuur om te gaan rus. Hy sal vir so ’n uur daar lê en kreun. Ja-nee, hy moet kreun. Hy oefen solank en gee ’n lang, uitgerekte kreun. Dit klink soos ’n varkie wat geweldig seer het. Trompie skrik self vir hoe erg dit is. Hy glimlag. Hy hou

Скачать книгу