Trompie Omnibus 1. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 1 - Topsy Smith страница 11

Trompie Omnibus 1 - Topsy Smith Trompie

Скачать книгу

roomkoek op die tafel. Nou is Trompie omgekrap. O so, hulle sit en roomkoek eet terwyl hy in sy kamer op sterwe lê! Hulle bring vir hom niks nie!

      Trompie aarsel vir ’n oomblik. Hy dink aan Anna se beloning, maar dan besluit hy om in te gaan. Hy sal doodstil sit en net na die koek staar. Dan sal sy ma vir hom ’n stukkie gee. Dit weet hy. Hy sal niks sê en g’n moleste maak nie, dan sal Anna nog steeds vir hom sy geld moet gee. Trompie maak die deur oop en loop in. Sy pa kyk na hom en sluk hard. Anna word bloedrooi. Dirk de Jongh wonder wie die sproetgesig skepsel met die ongekamde bos hare, uithanghemp en skurwe kaalvoete is. Sy ma sê sag: “Hoekom het jy opgestaan, seun? Voel jy beter?”

      “Baie beter, Ma.” Trompie se oë rus strak op die koek.

      “Dis… my boetie,” stamel Anna.

      Trompie kyk na Dirk de Jongh en mompel: “Dag.” Dirk sê niks nie.

      Trompie gaan sit op ’n stoel in die hoek. Hy is doodstil, maar daar is ’n uitdrukking van afkeur op sy gesig. Niemand het vir hom koek aangebied nie. Hy gaan bly sit totdat sy ma of suster tee skink. Dan sal hy seker ’n stuk kry. Trompie sit. Hy loer agterdogtig na die kuiergas. Hy besluit hy hou nie van die man nie. Die vent gebruik sulke hoë woorde dat Trompie hom nie kan verstaan nie. En hoekom spreek hy sy woorde so snaaks uit? Hy klink soos iemand wat geleer het hoe om uit die hoogte te praat en dit nou oefen.

      Toe die tee geskink word, sê meneer Toerien met ’n glimlag: “Jy kan natuurlik niks kry nie, Trompie. Jy’s mos siek.”

      “Ek was, Pa – sommer ernstig siek – maar nou is ek weer beter. So ’n stuk koek sal my goed doen.” Hy draai na sy ma en vra: “Dink Mamma nie ook so nie?”

      “Ek is nie so seker nie, Trompie, maar jy kan maar ’n stukkie kry.”

      Trompie lê heerlik weg aan die koek. Wanneer hy klaar is, lek hy sy vingers een vir een af. Elke keer wat hy ’n vinger uit sy mond trek, maak dit so ’n klapgeluid, maar hy’s min gepla.

      Meneer Toerien gesels oor die droogte, rugby en politiek, en toe dit nie vlot nie, maar weer oor die droogte. Hy besluit ook hy hou nie juis van die vent wat so aanstellerig is nie. Een of twee keer kyk hy kwaai na Trompie wat sy vingers so sit en afsuig. Die geluid irriteer meneer Toerien net soveel soos vir die snobistiese jongman, maar hy besluit om Trompie nie daaroor aan te spreek nie. Die seun kan sy vingers maar suig as hy dink daar is nog van die roomkoek aan. Hy glimlag by homself … Hy het die kind se vingers nog nooit so skoon gesien nie!

      Anna is allesbehalwe op haar gemak. Sy sien die geselskap vlot nie en hou ook niks van die ondeunde manier waarop Trompie na Dirk de Jongh loer nie. Haar boetie kan soms so uit sy beurt praat. Sy hoop maar net hy onthou van die beloofde beloning.

      Ná sy tweede koppie tee steek die gas vir hom ’n sigaret aan. Hy kyk na die klavier.

      “Die meeste mense gebruik ’n klavier vir versiering in hulle huise. Dit gebeur selde dat ’n mens goeie klassieke musiek hoor.”

      Hy draai na Anna.

      “Speel jy?”

      “So ’n bietjie,” stamel Anna. Sy voel effens onseker. Hy hét gesê hy hou baie van “Die Blou Donou”, maar sê nou hy beskou dit ook as popmusiek?

      “Sal jy so gaaf wees om vir my iets te speel?”

      Anna knik en gaan sit voor die klavier. Sy sou liewer alleen vir hom wou speel, nie met die hele gesin wat haar so geamuseerd aankyk nie. Maar nou kan dit nie anders nie. Asof dit bloot per toeval is, maak sy die musiekboek by “Die Blou Donou” oop.

      Sy val weg. Foutloos speel sy die hele stuk deur. Die laaste note van heimwee sterf weg. Meneer Toerien wou net sê: “Oefening doen darem wondere” toe hy hom bedink. Sy dogter sal hom dit nooit vergewe nie. “Jy het pragtig gespeel, Anna,” is al wat hy sê.

      “Bravo, ” sê Dirk de Jongh. “Jy het die stuk skitterend en op meesterlike wyse vertolk. Julle is seker bewus van die feit dat my suster gereeld voor groot gehore oral in die land optree. Wel, jou vertolking van hierdie gewilde wals was amper so geslaag as wat haar uitvoering daarvan altyd is.”

      Daar heers doodse stilte in die vertrek. Anna voel nie juis gevlei nie. Hoekom moet hy haar met sy kamtige talentvolle suster vergelyk? Sy besluit sy hou nie meer van Dirk nie. Hy was so anders by die partytjie!

      Skielik verbreek Trompie se skril stemmetjie die stilte: “Ek is bly jy dink Anna speel daai deuntjie amper net so goed soos jou suster, meneer De Jongh. Want sy oefen dit nou al dae lank om jou te beïndruk. Ons is almal al siek daarvoor.”

      Trompie trek skewebek om sy woorde te onderstreep.

      Anna is bloedrooi. Sy wens die berge wil op haar val. Mevrou Toerien gryp Trompie aan die hand en boender hom by die deur uit: “Kamer toe met jou!”

      Anna kyk na haar hande op haar skoot. Sy is te skaam om op te kyk. Meneer Toerien besef hy kan Trompie nie hiervoor straf nie. Dit sal onregverdig wees, want hy het amper self ook so ’n taktlose flater gemaak.

      Dirk de Jongh hoes droog in sy hand. Hy staan op en mompel: “Dit word laat. Ek moet gaan.”

      Meneer Toerien stap saam met die jongman tot by die hekkie. Anna hardloop na haar kamer toe. Die middag was ’n mislukking.

      In Trompie se kamer praat sy ma ernstig met hom. Op sy manier voel Trompie ook nogal sleg oor die hele affêre, maar hoe moes hy geweet het sy onskuldige woorde sal almal so omkrap? Sy ma dring daarop aan dat hy sy suster om verskoning moet gaan vra. Hy sal dit seker maar moet doen. En wie weet, miskien gee sy nog steeds vir hom so ’n ietsie, al is dit nie al die geld nie. Hy het mos mooi stil gesit en niks gedoen nie – tot hy die woorde gesê het wat kastig so verkeerd was. Ja-nee, hy sal maar om verskoning gaan vra. Hy weet nie eintlik hoekom nie, maar anders sal hy mos nooit rus vir sy siel hê nie.

      Anna sit op haar bed voor haar en uitstaar. Sy kyk net een keer op toe Trompie en haar ma binnekom. Meneer Toerien staan agter hulle. Hy stamp Trompie vorentoe.

      Trompie maak ongemaklik keel skoon. “Kan jy my hoor, Ousus?”

      “Ja. Wat is dit?”

      “Ek wil net sê ek’s jammer ek het die verkeerde ding gesê …” en dan voeg hy mompelend by, “maar hy’s darem ’n ou suurknol.” Trompie het sy sê gesê en gee haastig pad uit die kamer. Hy hoop almal is nou tevrede.

      Toe hy uit is, sê Anna sag vir haar ouers: “Trompie is reg. Daai Dirk is ’n verwaande vent. Hy’s gans te hoogdrawend en hy’t g’n sin vir humor nie.”

      “Ek is bly jy dink so, want dis presies hoe ek ook voel,” sê meneer Toerien laggend. Anna lag saam. Maar nie mevrou Toerien nie. Sy sien die trane in haar dogter se oë. Sy besef Anna is nie verlief op die kêrel nie, maar sy weet ook hoe diep gekrenk haar kind is omdat Trompie haar so voor die jongman verneder het. Wat ’n ongelukkige affêre.

      In sy kamer sit Trompie diep en nadink. Hy het al weer opgemors en hy voel sleg oor die hele besigheid. “Sommer baie sleg,” mompel hy by homself. En dis nie oor die geld nie – dis oor Anna. Sy is verlief op die vent en hy wat Trompie is, het hom hier weggejaag.

      Hy skud sy kop radeloos. Wat sien Anna in ’n man wat nie eens Afrikaans praat wat ’n mens kan verstaan nie?

      “Ongemaklik.

Скачать книгу