Trompie Omnibus 1. Topsy Smith

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Trompie Omnibus 1 - Topsy Smith страница 7

Trompie Omnibus 1 - Topsy Smith Trompie

Скачать книгу

een wat jy vanoggend by haar afgevat het!”

      “Ek het nie, Pa.” Nou is Trompie moeilik. “Ek het die woer-woer nie by haar afgevat nie. Ek wou die ding nie rêrig hê nie, maar sy het aangehou ek moet dit vat.”

      “En toe?”

      “Wel, toe het ek dit maar gevat.”

      Katrien begin weer huil en sê snikkend: “Jy’t gesê jy gaan dood.”

      “Miskien en miskien nie,” antwoord Trompie nors.

      “Hét jy so gesê?” vra sy pa.

      Trompie aarsel. Hoekom lol almal so met hom? Hy sal haar woer-woer vir haar teruggee. Die ding beteken tog in elk geval nie veel nie.

      “Ek wag vir ’n antwoord, Trompie!”

      “Wel, Pa, hoe sal ’n mens nou sê? Ek het gesê ek voel half siekerig – bromkatjies, Pa weet – en toe vra sy of ek gaan doodgaan en toe sê ek ’n mens kan seker so sê. En dis maar al, Pa.”

      “Gaan haal Katrien se woer-woer, Trompie.” Meneer Toerien se stem klink sagter.

      “Ja, Pa.”

      In sy kamer haal Trompie die woer-woer onder sy kopkussing uit. Dis jammer hy kan die ding nie hou nie, maar nou ja, hy sal dit moet teruggee. Hierdie hele besigheid is darem baie onregverdig! Katrien het die ding vir hom gegee sonder dat hy eens daarvoor gevra het. Maar grootmense verstaan mos nooit nie.

      Trompie kom die eetkamer binne. Hy gaan staan agter mevrou Gerritse en swaai die woer-woer. “Gôr-gôr,” kreun die ding. Sy wip soos sy skrik.

      “Trompie!”

      “Ek het hom net uitprobeer, Pa. Om te sien of hy nog werk.”

      Mevrou Gerritse, Katrien en die woer-woer is vinnig by die huis uit. Trompie se pa gaan inderhaas werk toe. Hy is reeds laat.

      Trompie sit nou by sy ma in die kombuis.

      “Die lewe is darem onregverdig, Ma,” sê Trompie mismoedig. “Ek doen niks verkeerd nie, maar ek word heeldag net gestraf.”

      Sy ma kyk na hom. Ai, die Trompie tog! Hy is so vol lewenslus en hy het so ’n geweldige verbeelding. Sy sit haar arms om hom.

      “Gaan skoffel nou die onkruid in die tuin uit soos jou pa gesê het, dan bring ek later vir jou ’n lekker stuk koek.”

      “’n Groot stuk, Ma?”

      “Ja, Trompie!”

      “Groot genoeg dat Rooie en Blikkies en Dawie ook daarvan kan kry? Ma sien, as ek vir hulle koek belowe, sal hulle hier bly en my in die tuin help.”

      Mevrou Toerien voel nie so lekker oor hierdie nuwe wending nie. Watter kattekwaad gaan die seuns nie alles in die tuin aanvang nie? Sy sal hulle fyn moet dophou.

      “Goed, ek sal sommer ’n groot stuk uitbring.”

      “Dankie, Ma. Ma is die beste ma in die hele wêreld.” En fluit-fluit, met sy pet windmakerig skeef op sy kop, loop Trompie by die deur uit.

      Buite bekyk hy die onkruid wat hy moet uitskoffel. Hy gaan sit op die tuinbankie. Hy sal maar vir sy maats wag. Hulle kan hom help. Dan is hulle mos gou klaar. En dan? Dan kan hulle na hartelus in die tuin baljaar. Rooihuide, dis wat hulle vandag gaan wees. Hy wat Trompie is, sal Rooihuid die Grote wees! Hy sal sy manne met ’n ysterhand regeer! Vandag sal hy vir Rooie wys wie nou eintlik Rooihuid die Grote is. Ja-nee, hulle gaan kyk wie die langste kan wegkruip sonder dat die ander hom kry. ’n Rooihuid moet homself goed kan versteek en hy wat Trompie is, weet hy sal wen! Die klomp sal nooit daarvan droom om hom in sy ma se hoë bedding dahlias te soek nie. Hy gaan vir hom ’n lekker lêplekkie daar maak. Hulle sal hom nooit kry nie!

      Terwyl Trompie vir sy bendelede wag, vermaak hy homself deur klippies na Jafta wat onder in die tuin werk te gooi. Hy probeer die tuinman nie raakgooi nie, nee, hy wil maar net sien hoe naby aan Jafta hy die klippies kan kry. Dis mos maar al!

Dier%20poot.tif

      4

       Trompie “werk” in die tuin

      Later is Trompie moeg om klippies na Jafta te gooi en hy begin doelloos in die tuin ronddwaal. Hy weet hy sal hard moet werk om van al die onkruid wat sy pa vir hom uitgewys het ontslae te raak, so hy wag liewer vir sy maats. Hulle sal hom help. Wat help dit hy werk hom nou dood en wanneer hulle opdaag, is daar nie meer ’n enkele onkruidbossie oor nie? Nee, hulle moet hom help. Maar wanneer kom hulle dan?

      Trompie begin net bekommerd raak toe hy ’n gefluit agter die heining aan die onderpunt van die tuin hoor. Dis ’n hoë noot wat met ’n lae een afgewissel word. Hy fluit op dieselfde manier terug. Dis die Boksombende se sein. Hy hardloop in die lang tuinpaadjie af.

      By die agterste hekkie staan klein Dawie.

      “Waar’s die ander ouens?” vra Trompie.

      “Hulle is gestraf. Oor daai dekselse bobbejaan,” sê Dawie. “Rooie moet sy pa in die skoenwinkel help en Blikkies spit tuin om.”

      Trompie staan verslae. Wie gaan hom nou met die onkruid help? Hy het al klaar so baie tyd gemors.

      “En jy, hoekom is jy nie ook gestraf nie?”

      Klein Dawie lag.

      “My pa-hulle weet nie ek het ook vir Kees gejaag nie. Hulle praat net van ‘daai Trompie en sy kwajongens’. Ek het toe natuurlik maar tjoepstil gebly,” sê hy.

      Trompie leun fronsend oor die hekkie.

      “Waarvoor wag ons?” vra Dawie. “Kom ons gaan swem.”

      “Ek kan nie,” sê Trompie en dit lyk asof hy die wêreld se moeilikhede op sy skouers dra.

      “Hoekom nie?”

      “Ek is ook gestraf. Ek moet onkruid uitskoffel.” Trompie spoeg met ’n boog om sy misnoeë te kenne te gee.

      Hy kyk na klein Dawie. Sy maat is maar ’n tingerige outjie. Hy sal nie veel in die tuin uitgerig kry nie. Hulle twee sal nooit al die onkruid kan uitkry voor sy pa van die kantoor af kom nie, en dan gaan daar perde wees! Meneer Toerien het hom die dood voor die oë gesweer as hy nie vanoggend in die tuin werk nie.

      Trompie besluit om ’n plan te beraam. Hy sal iets moet doen … en sommer baie gou ook. Die son sit al hoog …

      “Ek weet wat ek gaan doen, Dawie.”

      “Wat, Trompie?”

      “Ek gaan siek raak, sommer baie siek.”

      “Jy’t dit al te veel gedoen. Jou pa-hulle sal jou nie weer glo nie.”

      Trompie kyk mismoedig voor hom uit. Dis waar. Hy het hom al so baie

Скачать книгу