Christine le Roux Omnibus 5. Christine le Roux

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 5 - Christine le Roux страница 17

Christine le Roux Omnibus 5 - Christine le Roux

Скачать книгу

skud haar kop. “Net water. Nie tee nie.”

      Hy loop badkamer toe, kry nog water en bring dit vir haar. “Ek is regtig jammer,” sê hy. “Dit lyk my ek kan vanaand niks reg doen nie.”

      Sy antwoord nie, krul haarself net in ’n bondeltjie op, haar knieë opgetrek tot onder haar bors.

      “Is jy nou baie kwaad vir my?” vra hy.

      “Nee.” Sy hoor hoe hy terugloop kombuis toe, hoe goed rondgeskuif word en toe hy terugkom, het hy vir homself vars tee geskink. Hy kyk op sy horlosie. “Die apteek moet nou opskud.”

      “Ry,” sê sy vaak. “Ek wil jou nie ophou nie.”

      “Dis die minste wat ek kan doen.”

      Op daardie oomblik lui die deurklokkie en hy staan op. Sy hoor hom by die deur praat, maar dis asof die stemme baie ver weg is. Sy gee nie meer om wie inkom of wie praat nie. Sy voel net hoe sy weggly in ’n wonderlike rustigheid, ’n droomwêreld waarin sy nie meer verantwoordelik is vir haarself nie, ’n plek waarin iemand anders oorgeneem het.

      “Hier is dit,” hoor sy sy stem weer. “Die instruksies is duidelik daarop geskryf. Elke ses uur. En drink baie water.”

      “H’m,” sê sy sonder om haar oë oop te maak.

      “En vergewe my, juffrou Kruger. Die tee was –”

      “Jy kan nie,” sê sy deur dom lippe. “Nie ná . . . ”

      Hy buig oor haar. “Ek kan nie wát nie?”

      “Juffrou Kruger sê nie. Nie ná vanaand . . . ” Sy lek oor haar lippe. “Nicoline.”

      “Nicoline,” herhaal hy. “En ek is Peter.”

      Sy knik, want sy is al weer terug op die sneeubedekte hange waar Kurt nou met wyd oop oë na haar kyk. Sy is so bly dat hy so na haar kyk dat sy omdraai om te sien of Neil nog daar is sodat sy dit vir hom ook kan wys. Maar hy is nêrens nie, agter en om haar is net die spierwit ruimtes. “Neil,” fluister sy.

      “Nee, Peter.”

      Sy frons effens. “Hy moet sien dat Kurt . . . ” Sy gee die stryd gewonne, dis nou te moeilik om te verduidelik. Sy slaap liewer.

      Hoofstuk 7

      Neil en sy neef sit in die agterplaas van Freek se huis. Die winterson is verrassend warm, rook trek luiweg uit die braaivleiskole en twee skywe biefstuk lê op ’n bord en wag. Daar is nie eintlik bykosse nie, net ’n bord gesnyde tamaties en ’n paar broodrolletjies.

      “Ek wens jy kan my raad gee omtrent daardie meisiekind van my,” sê Neil. “Sy laat my nie eers toe om haar hand vas te hou nie!”

      Sy neef lag. “En jy wil by my raad hê?”

      “Jy’s darem ’n paar jaar ouer as ek,” sê Neil. “Jy het meer ondervinding.”

      “Nie noodwendig nie. Jy weet hoe voel ek oor hulle. Hoekom dink jy is ek nog nie getroud nie?”

      “Jy is tog nie steeds gegrief oor daardie vroumens wat jou so gekul het nie?”

      “Nee. Ek het lankal van haar vergeet. Ek het net nie tyd vir vrouens in die algemeen nie.”

      “Maar as jy dié een kan sien,” sug Neil. “’n Mens kan jouself nie keer nie, jy is verlief voor jy weet wat gebeur het.”

      “Verliefdheid waai wel oor.”

      “Nee, Freek, man, dit kan jy nie sê nie.”

      “Natuurlik kan ek. Komaan, Cor, gee die vleis aan. Ek dink ons kole is reg.”

      Neil staan op en hulle staan albei en afkyk op die sissende vleis. Alhoewel hulle neefs is, is hulle meer soos broers. Hulle huislike agtergrond verskil, maar vandat hulle kinders was, is hulle beste maats. Albei dra familiename, maar om hulle van hulle pa’s en oupas te onderskei, noem die familie hulle op ander name as dié wat hulle vriende en kollegas ken. Neil, wie se eerste naam Cornelius is, word in familieverband sommer kortweg as “Cor” aangespreek.

      “Ek het haar ’n week laas gesien,” gaan Neil voort. “Ek het gedog sy het my dalk ook gemis, maar aikôna. En dit in hierdie tye waarin ons leef. Om ’n meisie te soen, is outyds.”

      “Is dit?” vra sy neef verbaas.

      “Jy weet wat ek bedoel. En ek kan nie eers my arm om haar skouer sit nie of sy word stokstyf.”

      “Los haar dan. Kry iemand anders.”

      Neil lyk geskok. “Sy’s nie die soort meisiekind wat ’n mens sommer los nie.” Hy tel sy bier op en staan eenkant, die rook irriteer sy oë. “Miskien moet ek haar jaloers maak. ’n Slag met iemand anders uitgaan. Miskien is sy te seker van my.”

      “Probeer dit.”

      “Daar is ’n nuwe tikster,” mymer Neil. “Skaam ou dingetjie. Miskien . . . ”

      “Ek dog jy is juis moeg vir die skames?”

      “Nee, nee, sy is nie skaam nie, sy wil net nie hê ek moet aan haar vat nie. As jy haar kon sien!”

      Sy neef lag. “Jy het die skoot hoog deur, maar jy kan nie simpatie van my verwag nie. Ek het nie tyd vir sulke onsin nie.”

      Neil kyk hom ondersoekend aan. “Hoe kry jy dit reg?” vra hy. “Hoe leef jy so sonder vrouens?”

      “Om mee te begin, is ek te besig, en in die tweede plek het ek eenvoudig nie die regte aanslag nie. Ek dink ’n mens moet ’n spesiale talent daarvoor hê. Wat ek ook al probeer, misluk. Dis so eenvoudig soos dit is. Ek is nie die soort wat blomme kan aandra en flikflooi in die hoop dat sy eendag van my gaan hou nie. Ek het myself dus totaal gedistansieer van die hele gedoente.”

      “Ek weet nie of jy dit so maklik sou kon sê as jy haar gesien het nie,” sê Neil somber. “Sy’s die soort wat jou uitboul by die eerste aanblik.”

      “Cor, jy is soos ’n verliefde tiener. Gee ons borde aan, ek dink die vleis is reg. En gaan vra raad by iemand anders. Ek sit nie langs dieselfde vuur as vrouens nie. Met die beste wil in die wêreld kan ek niks reg doen as ek in hulle teenwoordigheid is nie. Skoenmaker, hou jou by jou lees, sê die spreekwoord. Dis wat ek doen.”

      Nicoline sit langs Kurt se bed, eintlik te verstom om te praat. Sy oë is oop, hy kyk na haar met ’n paar grys oë wat haar verleë maak.

      “Ek weet jy het geen benul wie ek is nie,” sê sy. “Miskien herken jy my stem. Ek is die een wat weke lank al met jou praat. Jy is moontlik al moeg vir my stem. En ek is jammer ek was so lanklaas hier. Ek was siek en wou jou nie aansteek nie.” Sy glimlag, vat skamerig aan sy hand. “Nou is ek perdfris en sal ek weer elke dag kom. Wil jy hê ek moet elke dag kom?”

      Hy druk haar hand effens.

      “Dis goed. Jy wonder seker waar ek in die prentjie pas? Wel, jy sien, my broer het langs jou gelê, dis hoe ek jou leer ken het. Jy is so ver weg

Скачать книгу