Klassiek reeks: Na die geliefde land. Karel Schoeman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Klassiek reeks: Na die geliefde land - Karel Schoeman страница 3

Автор:
Серия:
Издательство:
Klassiek reeks: Na die geliefde land - Karel  Schoeman

Скачать книгу

Hugo was een van my beste vriendinne. En Mona Oosthuizen, Mona en Nico?” Sy gaan oorkant hom aan die tafel sit en begin hom uitvra oor die een naam ná die ander, byna vinniger as wat hy kan antwoord: familielede en verwante, skool­vriendinne, medestudente, kennisse en bekendes. Die name wat sy noem, is dié van mense wat vroeër welgesteld was, be­langrik in akademiese kringe, die regte en die politiek, en die meeste daarvan is hom ook bekend. Hy onthou bekendstellings op onthale en by eetmale, die gefluisterde inligting, die ou, ver­geelde etiketjie wat aan elkeen vasgebind is om hom te identifiseer, soos die etikette aan die plante en jong struike in die tuin. “Senator Lindeman …” “Professor Van den Heever …” “Sy was ’n nooi Du Plessis …” “Tog nie Sampie se suster nie?” Die titels het gewoonlik niks meer beteken nie en die hele verwysingsisteem het al lankal uitmekaar geval, maar nog het hulle aan titels en verwysings vasgehou soos aan ’n reling op die steil en donker trap van die werklikheid.

      Mevrou Hattingh sit met haar hande gevou op die tafel voor haar en haal name op uit haar herinnering, glimlaggend van verwondering oor die feit dat George hulle almal ken, sonder om egter te probeer volg wat hy haar alles vertel. “Hy het goed getrou,” val sy hom in die rede, “Erna se pa het ’n vier, vyf plase gehad. Ons was by hulle troue gewees, onthou jy nog, Pappie?” Sy gee haar man egter geen kans om te antwoord nie. “Dit was ’n spoggerige affêre, ek weet nie hóéveel ministers nie, en mense van die Weermag, sewehonderd gaste, glo ek …” Sy wil nie regtig hoor wat daar van hierdie mense geword het nie, besef George: ook vir háár is die verlede met sy herroepte titels en afgeskafte ampte belangriker as die verre en onvoorstelbare hede. Haar mat gesig het skielik kleur gekry en haar oë is helder terwyl die opgedamde woorde voortstroom.

      Hattingh sit en luister na wat George vertel, maar gedurende sy vrou se lang monoloog begin hy rusteloos word, en dan staan hy op. “Ja,” sê hy, “ek moet gaan werk.” Sy aarsel, haar verhaal onderbreek in die middel van ’n woord.

      “Ek moet gaan,” sê George, en hulle kyk hom albei verras aan.

      “Waarheen?” vra Hattingh.

      “Ek moet verder ry, Rietvlei toe, ek moet reëlings tref …”

      “Wat’s jy dan so haastig? Ek sê vir jou, op Rietvlei is daar niks nie, dit staan al jare lank verlate.”

      “Ek sou dit graag weer wil sien.”

      “Daar’s nog genoeg tyd daarvoor. Jy kan nie nou al weer wil weggaan nie, ons het skaars kans gehad om behoorlik te gesels. Daar’s veels te baie dinge wat jy ons nog moet vertel.”

      “Daar’s mense hier in die distrik wat jou sal wil sien,” sê mevrou Hattingh, “mense wat nog vir oom George en tant Lottie geken het, wat jou moeder onthou …”

      “Wanneer het ons laas ’n besoeker gekry?” vra Hattingh. “Mense ry nie meer rond in hierdie deel van die wêreld nie, selfs die bure wat oorgebly het, kom kuier nie meer aldag soos vroeër nie. Jy kan nog ’n paar dae by ons kuier. Vir hoe lank het jy gekom?”

      “Ek het net ’n week verlof geneem,” sê George. “My terugreis is al bespreek.”

      “Is daar nog dinge wat jy hier wil doen behalwe in verband met die plaas?”

      “Ek het geen planne gemaak nie. Ek het gedink dat ek mis­kien ’n bietjie sou kan rondreis, iets van die land sien, moontlik selfs van my ouers se familie opspoor …”

      “Waarvoor sou mens teenswoordig nog rondreis?” vra Hat­tingh. “Niks is meer soos dit was nie, en wat jou familie betref, nee wat, dis beter om nie te baie vrae te vra nie, jy maak net moeilikheid vir jouself en vir ander mense. Bly liewer hier by ons.”

      “Sál jy?” vra sy vrou.

      “Dit is baie vriendelik van u. Ek kan miskien ’n tydjie hier bly as dit nie vir u ongerieflik is nie.”

      “Daar is darem nog so iets soos gasvryheid,” sê Hattingh. “Daar is darem nog tradisies wat gehandhaaf moet word.”

      Die ontbyt is klaar en mevrou Hattingh begin die tafel afdek. George volg Hattingh na buite.

      “Waar lê Rietvlei?” vra hy.

      Hattingh beduie. “Daardie kant uit, so ’n tien myl met die pad. Jy het gisteraand by die regte plek afgedraai, jy moes net aangehou het.” Hy stap al weg na sy werk. “Maar daar’s genoeg tyd om soontoe te gaan, jy kan môre uitry as jy lus voel. Dalk kan my vrou dan ook met jou saamry om vir tant Miemie te gaan kuier. Moedersgift lê net duskant Rietvlei.”

      Hy roep die laaste woorde terug oor sy skouer. George bly staan langs die muur van die huis terwyl die wind oor die werf aanwaai en die bloekombome onrustig dein. Dit is ’n vaal, be­trokke dag – waar is die son? wonder hy, geïrriteer soos gisteraand deur die armoedigheid en kleurloosheid van alles wat hy sien, die verlatenheid van die huis en werf, en die sinkplaat wat in die wind begin klap êrens op die dak van een van die buitegeboue. Daar was tog altyd sonskyn gewees soos op die almanakfoto’s, blou lug en helder wolke; perskes en waatlemoene was daar in oorvloed, laggende inboorlinge in diervelle en krale, wit strande, en leeus in die lang gras. Die wind warrel stof in sy oë.

      Waarom sou hy hier bly, op hierdie afgesonderde plaas by onbekende mense wat hom slegs verwelkom omdat hy die eensaamheid van hul lewe kom onderbreek het? Maar aan die ander kant het dit ook nie veel sin om in die paar dae wat be­skikbaar is krampagtig te probeer om hierdie hele wye land nog te besigtig nie. Hy sal bly, dink hy, hy sal na Rietvlei gaan, en dan verder reis. Dit is tog waarvoor hy gekom het.

      Mevrou Hattingh staan voor die venster en uitkyk. “Dit gaan reën,” sê sy ingedagte. “Ek wou vandag die vensters gewas het, maar ek kan liewer wag. Soms wonder mens ook of dit die moeite werd is.”

      “Kan ek iets vir u doen?” vra hy.

      “Nee, nee; jy kan hier sit en met my gesels as jy wil.” Sy slof in die kombuis heen en weer op afgetrapte viltpantoffels en maak ’n kas oop, bêre iets, soek iets. “Mens bly maar besig met die huiswerk. Ag, en as ek dink dat my skoonmoeder vroeër vyf meide hier in die huis gehad het, en nog meer as sy die dag wil huis skoonmaak. Dan het oom Willem altyd padgegee en by die bure gaan eet.”

      “Bly u lank hier?” vra George.

      “Ons het hier gekom toe Johannes nog ’n baba was – o, ek is self nie ’n plaasmens nie, ons het in die stad gebly, my man het in die stad gewerk, hy het goed verdien.” Sy sprei ’n ou kombers oor die tafel uit. “Maar toe met die moeilikhede het ons gevoel dat dit veiliger is om plaas toe te kom: ons had die twee kleintjies, en alles was so onseker …” Sy gooi ’n laken oor die kombers en stryk dit langsaam glad. Sy wil praat, dink George, net by haarself staan en praat om van alle opgekropte leed en veronregting ontslae te raak, skaars bewus van hom waar sy op die tafel leun. Daar is geen knope meer aan die trui wat sy dra nie, en haar hare is slordig vasgespeld. Net die gesig herinner nog aan ’n vroeëre fynheid en skoonheid.

      “Ek is nie gewoond aan hierdie soort lewe nie,” sê sy dan skerp, asof sy haar teen onuitgesproke kritiek moet verweer. “As meisie was dit vir my nooit nodig om iets in die huis te doen nie, en toe ek getroud is, het ons altyd bediendes gehad. Ek het nooit verwag om eendag só te moet lewe nie, dis op my afgedwing, ek het geleer deur die harde ondervinding. Toe ek klaar was met skool het ek universiteit toe gegaan. My vader wou dat ek moet studeer, en hy het nooit gesien wat daar van al my geleerdheid word nie. Maar dit was ’n mooi tyd,” sê sy, en haar gesig verhelder by die herinnering. “Ons was ’n vrolike jong klomp saam, ons studente – die Marais’s

Скачать книгу